Kapelaan – Nongqai Vol 17 No 6
NONGQAI SE NUWE KAPELAAN: DS JACOBUS VAN TONDER
Hennie Heymans
Ons vorige kapelaan vir baie jare, oud-speurder-sersant Koot Swanepoel, het ons ongelukkig bykans twee maande gelede ontval. En ons het ongelukkig Nongqai gepubliseer sonder ‘n maandbrief van die kapelaan.
Ds Jacobus van Tonder is ‘n emeritus-leraar en woonagtig te Krugersdorp en hy bedien tans die Danville-gemeente hier in Pretoria.
Hy ken die polisieman en soldaat goed. Hy was siviele predikant in die operasionele gebied wat gestrek het van Tsumeb tot by Ruacana. Hy was ook in die veld met Koevoet tydens ’n operasie.
Ds van Tonder het onderneem om elke maand vir ons kort en kragtig ‘n boodskap te bring.
MAANDBRIEF VAN DIE KAPELAAN
Ds Jacobus van Tonder

Lees Genesis 1:1+27 +2:15
In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En God het die mens geskape. Toe het die Here God. die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaar
Ons het gelees van God en mens en tuin.
Watter God? Natuurlik die Almagtige Skepper.
En watter mens? Natuurlik God se mens.
En watter tuin? Natuurlik God se tuin.
Jy, mens is dus God se mens in God se tuin in God se diens. Besef weer. Jy is nie maar net hier nie… Jy is werksaam in God se Skepping en Hy sal uiteindelik van jou jou rekenskap eis. Leef dan in vreugde en dankbaarheid in God se diens.
Gebed: “Here gee ons die verantwoordelikheid om tot U eer te leef. Amen”.
