Goofy Vetten – Nongqai Vol 17 No 6

UIT VERGANGE SE DAE: GOOFY VETTEN: SAP KING’S REST

Hennie Heymans

 

Goofy Vetten

Vanoggend gesels ek met ‘n oud-speurder, Govert “Goofy” Vetten. Hy is so twee-drie jaar ouer as ek. Hy herstel van ‘n siekbed. Op my ouderdom van 80-jaar kom ek elke dag agter dat gesondheid ‘n ware skat is. Sonder gesondheid kan ons nie behoorlik lewe nie!

Ons gesels oor King’s Rest waar ons saam gestasioneer was. Ons praat oor die brood en melk wat ons op nagdiens gekry het en dan met die hande verdeel het waarna ons almal dit saam genuttig het.

Ons onthou die inbrekers wat ons gevang het. Inbrekers vang ons net in die nag voor of na hul ingebreek het. Ons het partymaal die patrolliewa geparkeer en nader gesluip waar die honde geblaf het. Honde het nie vir “niks” geblaf nie. Dit het ons die moeite geloon op soms te voet te loop. (Het vandag se polisiemanne voete?)

Ek onthou hoe arm ek was en dat die “Boys Meat” wat ek geëet het, die beste braaivleis is wat ek ooit geëet het! (Ek was arm – ons het net R90-00 per maand verdien en dan was daar aftrekkings en ons moes ons uniforms koop. Een nag vang ek ‘n klomp prostitute in die hawe en een dame vra hoeveel ek per maand verdien. Ek vertel haar en sy sit R92-00 op die tafel neer en sê: “Dit is wat ek vannag verdien het, is dit genoeg?”)

Baie oggende as ek die bandiete by Durban Tronk afgehaal het, het konstabel Njawo, ‘n groot Zulu-konstabel assegaai in die hand met drie bandiete, gesê: “Kosaan as ons by Bluff Butchery kom, hou asseblief stil ek wil vleis koop”. Dan gee ek hom 25c om vir my ook “Boys Meat” te koop. As ons die slaghuis nader, tik hy met die assegaai agter op die patrolliewa se vloer asof ek sou vergeet.

So 11:00 wanneer dit stil is en die bandiete die kamp skoongemaak het, dan braai konstabel Njawo die vleis in die agterplaas onder die groot bome en dan eet die bandiete hulle kamboemmielies en konst Njawo bring op die bruin slaghuispapier vir my die vlamgebraaide beesvleis – in repe met sy Okapi-mes gesny en met growwe sout daarop gestrooi. Die vleisies lê in ‘n heerlike natuurlike sousie. Net die Zulu’s kan so braai – sjhisa innyama! (Ek wonder hoeveel mense is in Suider-Afrika met ‘n Okapi-mes vermoor? Elke SAP 13-stoor het ‘n paar gehad.)

Ek was in baie plekke op die aardbol maar dit was die lekkerste gebraaide vleis ooit en ons was so arm! En tog so ryk! Ou Salomo het nie so lekker in sy paleis geëet nie! In Nederland weer is Haring baie lekker en in Thailand het ek rou garnale geëet – dit was baie lekker en het my aan haring laat dink.

Nee, gee my braaivleis enige tyd!(Met pap en sous!) Snaaks mens onthou goed van 60 en 70 jaar gelede en soms vergeet ek wat ek in die kombuis soek!

(6 Junie 2026)