Cape Police – Nongqai Vol 17 No 5

1900 CAPE POLICE

John Thomas Freeman (oom Jack) Green

OOSTELIKE KAAP

Cradock

Dit is nie aldag dat ‘n mens nog een van die lede van die ou Cape Police raakloop nie. Om die waarheid te se, ek het al baie van die ou C.M.R. gehoor, maar ek het nie eens geweet dat daar nog die Cape Police ook was nie. Kapt MG Human, het die ander dag ‘n baie interessante geselsie met John Thomas Freeman (oom Jack) Green, tans bestuurder van die Cradock Klub, gehad.

Oom Jack, wat nog so penregop en aktief is as wat ‘n mens maar kan verlang, is op 14 Augustus 1881, in Londen gebore. Hy is in 1900, saam met vyftig ander, in Londen, vir die ou Cape Police gewerf. Die rekrute het in 1900, met die Saxon in Oos-Londen vasgemeer, en is daarvandaan na die “C.M.R. and Cape Police Depot” op King William’s Town.

Oom Jack vertel dat die “Second Berkshire Regiment” toentertyd ook op King William’s Town gestasioneer was. Nadat hy vir drie of vier maande opgelei is, is hy as berede konstabel op King William’s Town gepos. King William’s Town was destyds glo distrik no. 1 en Kimberley was distrik no. 2.

Op 5 November 1902, is konst. Green en twintig van sy makkers na Uitenhage verplaas. Daar moes hulle glo patrollie ry dat dit ‘n naarheid was. Oom Jack vertel dat hulle van Uitenhage so ver as Steytlerville en Klipplaat moes ry. So ‘n patrollie het minstens drie tot vier dae in beslag geneem.

Op Uitenhage het die jonge Green meer met die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners in aanraking gekom en dit was ook nie lank nie of hy trou met ‘n volbloed Boernooi, mej. A. van Vuuren.

In 1905, koop konst. Green sy ontslag en vestig hy en sy gesin hulle op Uitenhage. Daar het hulle vir vyftig jaar gewoon voordat hy na Cradock verhuis het.

Oom Jack meen dat daar maar nog baie min van sy makkers Iewe. Kol. Trigger wat later met pensioen uit die Suid-Afrikaanse Polisie getree het, het glo saam met oom Jack gedien.

Oom Jack is ‘n groot vriend van die Suid-Afrikaanse Polisie.

– MENK.[1]

  1. Nongqai 1960-06 PP 44 en 45