BH

HULDEBLYK VIR GENERAAL-MAJOOR BAREND HERMANUS (BARRY) HENN

Genl.maj. (dr.) Mulder van Eyk

Barry is op Donderdag 30 April 1936 gebore.

Op Saterdag 31 Oktober 1959 is hy getroud met Christina van der Merwe. Uit die huwelik is een dogter (Susan) en twee seuns, Woensdrieght en Herman gebore.

As mens Barry se naam noem, sê dié wat hom ken: “Wat ‘n absolute “Gentleman”. So het ek hom ook leer ken. Altyd voorbeeldig, eerlik, opreg, bedagsaam. Ek sal altyd aangename herinneringe koester van ons etes by ons huis.

Genl.maj. Barry Henn

30.04.1936- 18.03.2026

Genl.maj. Barry Henn

Barry het op Vrydag 14 Oktober 1955 by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit. Hy was die grootste gedeelte van sy loopbaan ‘n formidabele speurder en was deur misdadigers gevrees.

Hy het al die voorgeskrewe bevorderings-eksamens suksesvol afgelê en is gereeld bevorder.

Benewens sy normale pligte het hy ook by meer as een geleentheid grensdiens verrig in die destydse Rhodesië.

Hy het verskeie medaljes verwerf, wat onder andere insluit: naamlik

Die SA Polisiemedalje vir Troue Diens

Die SA Polisiester vir Troue Diens

Die SA Polisiester vir Verdienste

Die SA Polisie 75-jaar Herdenkingsmedalje

Die SA Polisiemedalje vir die Bekamping van Terrorisme.

Die SA Polisiester vir Uitmuntende Diens (SOE) – Stella Officii Egregii

Bevordering het ook verplasings meegebring en hy het onder andere gewerk in Mountain Rise, Highflats, Ladysmith, Camperdown, Pietermaritzburg, Dundee en Durban in Natal, Port Elizabeth in die Oos-Kaap, Witwatersrand en Transvaal.

Nadat hy in al die range gedien het, het hy op Maandag 30 November 1992, na 37 jaar en 48 dae diens, as ‘n generaal-majoor afgetree. Hy was aktief betrokke by die Bond van oud-Polisiebeamptes en die SAP Generaalsklub.

Ek en my kollega, generaal Sharon Schutte, het onlangs die voorreg gehad om hom in die hospitaal te besoek en ‘n blyk van waardering namens die SAP Generaalsklub aan hom te oorhandig.

Namens die Generaalsklub is dit my voorreg om hierdie huldeblyk te bring aan ‘n Generaal en ware heer, ‘n gewaardeerde en gerespekteerde kollega en vriend, Barry Henn.

Aan sy geliefdes betuig ons ons innige meegevoel en bid u die seën en vertroosting van ons Hemelse Vader toe. Julle kan met reg trots wees op julle pa.

Hy is op 18 Maart 2026 na ‘n lang siekbed oorlede.

Ons salueer ‘n groot man.

Baie dankie

Genl.maj. (dr.) Mulder van Eyk

Pretoria

28 Maart 2026