Soppie en en die sount of music

SOPPIE EN THE SOUND OF MUSIC

Vlenters Visser en Sarie van Niekerk

 

Tot vandag toe is daar ‘n merk op my regterknie omdat ek nie na Soppie geluister het nie en in ‘n klomp gebreekte glas geval het en ‘n winkelhaak oopgesny het.

Oom Cerneels en Ant Baby het vir Pa, Ma en vir my dié Vrydagaand vir braaivleis genooi en Soppie en ek moes die braaiplek skoonmaak. Ek klim toe op ‘n muurtjie om te help, maar Soppie sê ek gaan afval en myself seermaak. Brawe ek steur my nie aan hom nie en tuimel van die muurtjie af en sny my knie aan flarde. Maar was Soppie nie de duiwel in vir my nie!

Net bokant die braaiplek was Soppie se tuinwoonstel. Daar het ek menige kere vir hom gaan kuier en het hy vir my uit Die Jongspan en The School Friend voorgelees of vir my op sy banjo of trekklavier gespeel.

Om een of ander rede was sy bene baie swak en daarom kon hy nooit harde werk doen nie, maar vir die Humans was Joseph September maar net Soppie en deel van hul gesin. En so het hy ook deel van die woonbuurt en almal se vriend geword.

Wanneer Soppie die dag frikkadelle gemaak het, het Ant Baby hom gehelp om my met die slingerfoon te bel. Dan het Ma geantwoord en vir my gesê: “Vir jou…” Ek het elke keer geweet dis Soppie: “Kom jy saam met ons frikkadelle eet?”

Ai tog, het ek maar net destyds sy resep gevra, want frikkadelle het nog nooit weer dieselfde geruik en gesmaak nie!

Een van Soppie se byvoordele was ‘n fliekkaartjie vir elke Saterdagaand.

In daardie dae het die wit mense onder in die bioskoop gesit en die bruin mense op die galery. Sondagmiddae het ek afgesit na Soppie toe en dan het ons die vorige aand se fliek bespreek. Vir maande nadat dit vertoon is, het hy nog oor The Sound of Music gepraat.

Soppie se verjaarsdag het nader gestaan. Ant Baby het hom gevra om dorp toe te gaan om vir homself ‘n geskenk uit te soek. Hy kom toe terug met ‘n pragtige paar skoene. “Dis baie mooi” het Ant Baby gesê, “maar dis té duur!” Soppie het hom nie laat afsit nie: “Dan kan ek maar die een skoen vir my verjaarsdag kry en die ander een vir Krismis?.” Nodeloos om te sê, maar Soppie het toe beide skoene vir sy verjaarsdag gekry.

Maar toe beland Soppie in die moeilikheid. ‘n Fiets is gesteel en ‘n jong polisiemannetjie sien vir Soppie op die sogenaamde fiets en arresteer hom net daar. Toe Oom Cerneels daarvan hoor, is hy sommer reguit polisiestasie toe. Dis toe al die tyd Soppie se eie fiets waarvoor hy gevang is.

Nou kyk, onder normale omstandighede kon Oom Cerneels hoog praat. Ek wens ek was daardie dag ‘n vlieg teen die muur van die aanklagtekantoor, maar mens kan jouself maar net voorstel!

Soppie is onmiddellik vrygelaat en die polisiemannetjie is nooit weer gesien nie.

Soppie se gesondheid het vinnig agteruit gegaan en die Humans het vir hom ‘n spesiale byvertrek op hul plaas aangebou en hom versorg en aan hom

Een van Soppie se gunsteling musiek van die liedere uit Sound of Music.

kos voorsien. Gedurende 1978 het my destydse meisie, en nog steeds my vrou, en ek vir Soppie gaan sien, ‘n bietjie met hom gesels en vir hom ‘n gebed gedoen. Dit was ons laaste saamwees, want kort daarna het sy Sounds of Music stilgeword.