DIE AANGEWESE POLISIEMINISTER, FIROZ CACHALIA, HET ‘N OBSESSIE ONTWIKKEL
Brig Fanie Bouwer
Sy uitsprake sovêr was net gerig op Lt.-generaal Mkwanazi van KZN se perskonferensie, wat hy duidelik dink buite protokol-prosedure was en, tweedens, sinspeel hy op die doodskietery van gewapende kriminele in KZN – iets wat die generaal in die openbaar al sterk verdedig het.
Cachalia reken dat ‘Shoot to Kill’ nié die antwoord nie. Hy sê in ‘n onderhoud dit is ‘skiet-skop-en-donder’ taktiek. Dis natuurlik bog.
Verder sê hy om die polisie ‘n ‘lisensie te gee om dood te maak’, is nie die antwoord op misdaad nie. Ek beskou hierdie as ‘n belaglike uitspraak. Ook so dat “polisiëring moet wettig en effektief wees”. Dit is niksseggende akademiese jargon.
My standpunt is dat ek op beide aspekte die provinsiale kommissaris ondersteun .
Cachalia was die voorsitter van ‘n groep of komitee wat korrupsie binne die SAPD ondersoek het met die doel om dit te bestry. ‘n Verslag is na die president gestuur, waar dit intussen net stof vergader. My voorstel is dat Cachalia sý kopie weer lees en dít eerder implementeer as hy amptelik minister word op 1 Augustus. Sy fokus is tans misplaas.
Ek dink Mkhwanazi perskonferensie was gedwonge weens uitsonderlike omstandighede, wat veral deur Senso Mchunu se gedrag teweeg gebring was. Net dít.
Ek wil ondertoe meer in die algemeen oor op die skiet van gewapende kriminele fokus.
Ek wil nie te diep ingaan op die ‘reg tot lewe’ ingevolge die grondwet of oor ‘noodweer’ nie. Meeste van u ken dit.
Moet ’n polisiebeampte wag om eerste gewond of doodgeskiet te word voordat hy of sy terugvuur?
Dié vraag is nie bloot hipoteties nie. Dit speel daagliks af in woonbuurte, strate, townships en landelike gebiede regoor Suid-Afrika.
Gewapende rooftogte, bendegeweld en georganiseerde misdaad het ’n vlak bereik waar polisielede doelbewus geteiken word, hul voertuie met AK47’s bestook word en hul lewens daagliks aan ’n draadjie hang.
In die lig hiervan is die reg op lewe nie ’n selfmoord-klousule vir polisiemanne nie.
Polisielede is nie kanonvoer nie. Hulle is nie daar om vir die samelewing te sterf nie; hulle is daar om dit te beskerm en hulle verdien self beskerming – en nie belaglike Cachalia-uitsprake nie.
Kriminele het geen onnodige vrese vir gevolge wat hulle in ag moet neem nie. Hulle skiet om dood te maak, nie om te waarsku nie. Die werklikheid is: ’n polisieman wat huiwer om terug te skiet, mag nooit weer huis toe gaan nie.
Ons samelewing is in oorlogsmodus en kan vredestyd-reëls nie vir die polisie afgedwing word nie.
Ek kritiseer die SAPD andersins tereg, maar wat die skiet-onderonsies met gewapende kriminele betref, is ek onapologeties aan die polisielede se kant. Hulle verdien nie net ons ondersteuning nie; hulle verdien die wettige reg om hulself te beskerm, sonder dat hulle agterna as skurke behandel word.
Cachalia gaan gou agterkom wat die burgery se gevoel hieroor is. En ek hoop die generaals maak hulle rûens styf teen hom.
As daai man ‘n AK of ‘n 9mm uithaal skiet jy hom deur sy kop voor hy jou kan teiken. Dis hoe dit werk. En mens gebruik nie ‘n rubber patroon nie want die bliksem gooi nie tennis balle nie. Klaar.