Nongqai Vol 17 No 10 – (53) Leierskap in die polisie
SAP – ‘n Rang was toegeken; Leierskap is geërf
Deur ‘n Veteraan

Ek skryf hier uit eie ervaring, sonder nostalgie. Ek gaan geen oud-offisier by naam noem of as voorbeeld voorhou nie.
Oor die dekades heen het die Suid-Afrikaanse Polisie talle voorbeelde opgelewer van offisiere met hoë rang maar beperkte leierskap, asook van betreklik junior lede wat deur hul optrede die respek van kollegas afgedwing het.
In my jare in die SAP het ek geleer dat rang en leierskap twee verskillende begrippe is. Rang word deur ’n organisasie toegeken; leierskap weer word deur mense erken en verdien. Die twee kan saamval, maar dit gebeur nie noodwendig nie.
As jong polisieman het ek outomaties respek gehad vir hoër range. Eers later het ek besef dat die een nie die ander waarborg nie. Rang is maklik herkenbaar aan die kentekens op die skouers. Leierskap is subtieler. Dit kom nie outomaties met ’n bevordering nie, en dit verdwyn ook nie wanneer iemand geen formele gesag het nie.
Namate ek self as offisier diens gedoen het, het die onderskeid duideliker geword. Sommige posbekleërs put hul gesag slegs uit hul rang en posisie. Hulle kan bekwame administrateurs en streng dissiplinêre figure wees sonder om natuurlike leiers te wees. Ander verdien daarteenoor die vertroue en respek van hul ondergeskiktes.
’n Goeie leier-offisier gebruik sy posisie om die organisasie en sy mense te dien, eerder as om sy eie status te beskerm. Vir ander was persoonlike aansien soms belangriker as die verantwoordelikhede van die rang.
Was die gewone, bekwame outokratiese bevelvoerder werklik so anders as die gebore leier-offisier? Nie noodwendig nie. Albei moes leiding neem, maar waar die een hoofsaaklik op rang, gesag en dissipline gesteun het, het die ander se leierskap dikwels uit sy persoonlikheid, insig en natuurlike vermoë om mense te lei, voortgevloei.
Die SAP se sterk hiërargiese struktuur was noodsaaklik in ’n dissipline-gedrewe organisasie. Tog het dit ook ruimte geskep vir mense met beperkte leierskapsvermoë om knus in moeilike hoë poste te sit, wetende dat hy ondergeskiktes gehad het wat gesorg het dat die boot selfs in rowwe waters veilig sou vaar.
Daar is ’n wesenlike verskil tussen ’n offisier wat gehoorsaamheid afdwing omdat hy die rang het, en een wat dit verkry omdat sy mense hom vertrou. Eersgenoemde kan op kort termyn resultate lewer. Laasgenoemde bou ’n span wat selfs onder druk gemotiveerd bly.
Natuurlike leiers beklee nie altyd die hoogste rang nie. Dit kon ’n sersant of adjudant-offisier gewees het wat deur kennis, ervaring en gesonde oordeel respek verdien het. In moeilike situasies het mense vanself na só iemand opgekyk, ongeag die kentekens op sy skouers.
Ware leierskap bestaan nie daarin om voortdurend te herinner wie die baas is nie. Dit gaan oor verantwoordelikheid aanvaar, leiding gee wanneer nodig, en self die gevolge van besluite dra.
Dit beteken nie dat rang, opleiding of dissipline onbelangrik was nie. ’n Polisiemag kan nie sonder behoorlike bevelvoering funksioneer nie. Die probleem ontstaan wanneer ’n posisie met werklike leierskap verwar word, of wanneer persoonlike aansien swaarder weeg as die belange van die mag.
Die doeltreffendheid van ’n polisiemag hang nie net van regulasies en bevelstrukture af nie. Dit hang ook af van die gehalte van die mense wat leiding gee en die vertroue wat hulle inboesem.
Dit bring ’n ongemaklike vraag na vore: Het die SAP altyd daarin geslaag om natuurlike leiers te herken by bevorderings? Of het senioriteit, persoonlike voorkeure en ander oorwegings soms swaarder geweeg?
Geen organisasie is immuun teen menslike tekortkominge of verkeerde bevorderings nie. Senioriteit en kwalifikasies is belangrik, maar geen waarborg van goeie oordeel, integriteit of die vermoë om mense te lei nie.
Talle offisiere het bykomende akademiese kwalifikasies verwerf. Die hoofrede daarvoor was, myns insiens, waarskynlik ‘n poging om hul bevorderingskanse te verbeter en hul bevordering te bespoedig. Of hierdie kwalifikasies hulle noodwendig bekwamer offisiere gemaak het, is egter debatteerbaar, aangesien polisiebestuur en die uitvoering van polisiepligte in die praktyk grootliks op praktiese kennis, ervaring en vaardighede berus het. Ek kon verstaan waarom ‘n speurder byvoorbeeld ‘n regsgraad wou verwerf.
By elke bevordering behoort die vrae dus verder te strek as diensrekord en formaliteite: Kan hy mense lei? Dink hy nugter onder druk? Behandel hy sy mense billik? Aanvaar hy verantwoordelikheid wanneer dinge skeefloop, of soek hy iemand laer om die skuld te dra?
Hierdie vrae is nie net histories nie. Hulle raak die kern van leierskap in enige polisiediens. Integriteit, bekwaamheid, billikheid en die vermoë om mense te inspireer bly noodsaaklik. Geen bestel kan dit verwaarloos sonder dat die organisasie en die publiek daaronder ly nie.
Die les is eenvoudig: geen organisasie kan bekostig om rang met leierskap te verwar nie.
’n Rang kan op ’n skouer aangebring word. ’n Pos kan deur ’n aanstelling gevul word. Maar die gesag wat uit vertroue en respek voortspruit, kan nie in ’n diensorder afgekondig word nie.
So terloops: ek vra nou die dag vir ‘n oud-kollega wat jare saam met my in ons provinsie gedien het, wie die ware leier(s) onder die afdeling/streekkommissarisse was in ons tyd? Hy noem toe net een, waarmee ek heel toevallig saamgestem het.
Om af te sluit, laat ek u met enkele gedagtes ter oorweging, veral vir die wat moontlik nog in diens is:
- Rang gee die formele gesag om bevel te voer.
- Ware leierskap bepaal of ondergeskiktes met oortuiging sal volg.
