Nongqai Vol 17 No 10 – (43) Humoristiese nostalgie van die verlede – Anton Wiid

Uittreksel

Humor in Uniform: In hierdie humoristiese herinneringe neem Anton Wiid die leser terug na die Suid-Afrikaanse Polisiemag van vervloë jare

Abstrak

Hierdie artikel, Nostalgie van die verlede (Deel 1 en 2), bestaan uit ‘n versameling persoonlike herinneringe van Anton Wiid oor sy loopbaan in die voormalige Suid-Afrikaanse Polisiemag. Deur humor, anekdotes en nostalgiese terugblikke word die alledaagse lewe van polisiemanne, die kultuur van die tyd, dissipline, kameraadskap en die trots van uniformdraers uitgebeeld. Die verhale wissel tussen komiese situasies en ernstige werksomstandighede en bied waardevolle insigte in die menslike kant van polisiëring. Die bydrae dien as ‘n onderhoudende historiese tydsdokument wat die gees, tradisies en unieke humor van ‘n vervloë polisiële era vasvang.

Sleutelwoorde

Humor in Uniform, nostalgie, Suid-Afrikaanse Polisiemag, Anton Wiid, polisiestaaltjies, polisiekultuur, dissipline, kameraadskap, uniformtrots, Vaaldam, Koppies, fondsinsameling, regsmediese werk, herinneringe, Nongqai, humoristiese anekdotes, geskiedenis, polisiëring.

Nostalgie van die verlede. Deel 1

Anton Wiid

Ek dink baie van ons is in die vertreksaal. Dan begin ‘n ou dink aan sekere goed wat gebeur het. Ek wil dit graag met julle deel. Ek sal verskeie gebeurtenisse herroep en met julle deel.

My eerste polisiestasie was Parys. Ek was ‘n studentkonstabel. Destyds was die lykhuise deur die polisie hanteer vir onnatuurlike doodsgevalle. Die polisie het dan ook die meeste van die snywerk gedoen en die distrikgeneesheer het dan die post mortem verslag voltooi. In die lykhuis het ‘n AO vir jare in die lykhuis gewerk. Hy het dan ook sy toebroodjies in een van die yskaste gesit sodat dit vars bly.

Hierdie AO was mal oor potjiekos en het dit so 2 maal ‘n maand buite die lykhuis sy vuurtjie aangesteek. Hy was baie vrygewig en het altyd die ander uitgenooi om saam te eet. Nodeloos om te sê niemand wou nie?????

Na my kollege-opleiding is ek uitgeplaas na die Vaaldam. Ek was onder andere ‘n bootsman. Ons het polisiëring op die dam gedoen asook om liggame te herwin. Meeste was dronk mense wat nie kon swem nie en tog besluit het om dit te doen. Dit was nie maklik nie. Dit het baie gebeur en was omtrent daagliks.

Oranjeville was ‘n buurstasie en het ook die werk in hulle wyk gedoen in die Vaaldam. Ons gebiede was bepaal van sekere plekke in die dam. My kollega, ‘n sersant ,was in bevel van die boot operasie en hy het besluit wat gedoen moet word.

Ek het later verneem wanneer daar ‘n liggaam in die dam was in ons wyk, het hy die liggaam gevat en die in Oranjeville se wyk in die dam gevat. Hulle moes dan die werk die ondersoek doen. Tot my verassing het ons ‘n oproep gekry dat daar ‘n liggaam in ons wyk is. Dit is dieselfde liggaam wat hy in hulle wyk gesit het. Hulle het die liggaam stilletjies weer teruggebring na ons wyk toe!!

Mense kan sê dat ons onsensitief was maar ‘n polisieman was afgestomp en het geleer om nie emosioneel te wees nie.

Ek is toe verplaas Koppies toe. Ons het dit genoem, die “nagtrein”. Jy moes binne 24 uur by die ander stasie aanmeld as straf. Ek is verplaas omdat ek ‘n ou wat drooggemaak het in die kroeg touwys gemaak het. Die gras sal nooit weer daar groei nie.

Koppies het ook ‘n lykhuis gehad. Op daai stadium was daar nie ‘n lid wat daar gewerk het nie. Ek het besluit om dit te doen want daar was ‘n toelaag vir R30 ‘n maand. Ek moes ook dan my ander werk ook doen. Ek het dan ook gekwalifiseer as ‘n regsmediese-assistent. Dit was nie maklik nie maar later gewoond geraak.

Een nag het ek gepatrolleer maar verkies dat ek alleen is. Ek het soms die voertuig geparkeer en kon dan beter sien wat aangaan en soms dan begin loop het en baie sukses gehad want ‘n krimineel het nie verwag dat ‘n polisieman sal loop nie in plaas van om net rond te ry.

Die een aand het ek gepatrolleer en gesien daar is ‘n voertuig wat agter die paviljoen geparkeer het. Jy moes mooi kyk om dit te kan sien. Ek het nader gestap en gesien dat die voertuig se vensters opgewasem was. Ek het die deur oopgemaak en ‘n man en vrou gesien wat in ‘n ongemaklike posisie was. Ek het beide herken maar hulle was beide getroud maar nie met mekaar nie. Hulle was bekende boere. Ek het toemaar gesê dat dit gevaarlik is om daar met mekaar te gesels.

Aan einde van die jaar het elke polisieman ‘n vorm gekry om geld in te samel vir die Weduwee en Weesfonds. ‘n Blink gedagte het by my opgekom oor die mense se wel en wee op die betrokke aand. Ek het besluit om na die partye te gaan vir ‘n bydrae. Hulle het mildelik bygedra. Dit was so baie dat ek besluit het om nie na andere te gaan vir ‘n skenking nie. Ek het nogal die prys gewen van die beste polisieman wat ingesamel het!!. Ek moet sê ek het hulle op ‘n latere gaan sien om ‘n skaap by te dra vir ‘n stasie-funksie. Weereens het ander my gesien as die nek van die plek en dat ek kon “organise”. Ek was nie eintlik slim nie maar kon ‘n gap sien wanneer nodig.

Daar was ‘n stasiebevelvoerder met die naam AO Carel Niemann. Hy was ‘n moeilike perd maar was seker een van die beste stasiebevelvoerders wat ek geken het. Ek was altyd versigtig vir hom en ook toe ek ‘n senior-offisier was. Ek het soms die moed om met hom vandag te praat. Hy het baie afgekoel. In daardie tye was stasiebevelvoerders ‘n AO. Deesdae is kolonelle en brigadiers daai bevelvoerders.

Hierdie AO het sy eie maniere gehad om dissipline toe te pas. As jy droog gemaak het kon jy kies om dissiplinêr verhoor te word of sy doktrine van 6 houe met ‘n rottang. Die ouens het eerder maar die houe gevat as om verhoor te word. Sy sukses syfer was meer as 100%

Een dag het ‘n polisieman dronk op diens gekom. Die AO het ‘n blink plan gehad. Die lid moes privaat klere aantrek waarna hy moes hardloop. Die AO het ‘n Volla gehad en het agter hom gery…vir kilometers. Sy binneste het vele klere uitgekom asook baie kilogramme verloor. Nooit weer het ‘n lid dronk opgedaag nie.

Daar is soms goeie dinge. As iemand lyfstraf moet kry is daar ‘n lasbrief uitgereik wie die lyfstraf moet doen. Ek was die een wie se plig dit was. Jy was geleer om dit te doen. Dit was ‘n kuns. Op die betrokke dag het ek ‘n lasbrief gekry om 6 houe met ‘n ligte rottang. Die ou moes eers na die DG toe gaan vir ‘n mediese ondersoek of hy geskik is.

Voor my was ‘n boerseun wat ‘n radio in ‘n kar gevat het. Ek het die outjie ‘n bietjie jammer gekry omdat hy dit moeilik gevat het maar dit was gedoen. 20 jaar daarna kom ‘n man na my toe in ‘n winkel sentrum. Hy vra toe vir my of ek ‘n sersant op Koppies was. Ek het hom gevra hoekom. Hy het my toe gesê dat ek sy broer lyfstraf gegee het. Hy het sy lewe omgedraai. Hy is vandag ‘n ‘CA’.

Word vervolg….

Nostalgie in die verlede ( deel 2)

Ek weet nie hoekom uniforms vandag in my gedagtes is nie maar nou ja.

In die verlede was dit ‘n trots om na die uniformdraende dienaars te kyk. Dit was perfek en wat daarmee gedra was het geblink. Verskeie magte het mekaar gerespekteer, ek dink so. As jy in die straat geloop het, het jy die verskillende offisiere gesalueer.  Jy het dit met trots en respek gedoen en ja ordentlik. Ek het nie die vlootmanne se range geken nie daarom het ek maar almal gesalueer .

Die girls het gedink die vlootouens het die mooiste gelyk. Ek het nie daarvan gelike nie want daar was ‘n bietjie jaloesie. Ek het beter gevoel as ek na die lugmag se uniforms gekyk het. Hulle het maar vaal gelyk. Dan het ek weer die polisie uniform waardeer. Hulle sê mos as jy ondankbaar was, gaan na Weskoppies en sal weer dankbaar wees. Dit was die geval hier. Hulle was donners lelik maar hulle het goeie werk gedoen. Ek hoop nie my vriend kolonel Ian Van Vuuren sien die post nie. Hy was soos ‘n broer in die tronk. Ek het geweet hy was my broer maar het nooit daarvan gepraat nie. In elk geval was hy baie skerp gewees.

Die Polisie (“pote”) Gevangenisdiens (“likkewane”) en Weermag (“skiet piette”) was maar die bekendste gewees. So tussen hakkies die spoorwegpolisie was die “blompotte”. Hulle sou later ons broers geword het in die Suid Afrikaanse Polisie. O, vergeet ek daar was ook die Salvation Army. Ek het nooit die perde gesalueer nie want hulle was altyd besig in ‘n orkes. So hulle sou my nooit gesien het nie, gelukkig.

Daar was ook die vlakke van gewildheid  teenoor hierdie uniforms. Ou PW het ons gehaat. Die rede weet ek nie, maar wanneer iemand ‘n polisieman haat, moet jy weet daar is fout. Wetsgehoorsames het van die polisieman gehou?

Hulle het altyd gesê  weermag was die staat se eie kinders, die gevangenis diens die stiefkinders en die polisie; die staat se speelkinders.   Die woord klink soos iemand wat baie suip en daarna geëet het voordat daar gebid is.

Maar nou ja ou PW was opgepas deur die polisie en hy en tannie Elize het ‘n eie beskermingspan gehad. Ek dink daar was ‘n kolonel Kellerman, ek dink hy lewe nog, wat die hoof was van die eenheid. Hierdie storie is aan my oorvertel deur ‘n bron. Eendag, na bewering, het hy by tannie Elize gestaan toe sy blommetjie gepluk het. Sy was maar ‘n stewige tannie. Die kolonel het net daar gestaan en ongemaklik gevoel omdat niemand gepraat het nie. Hy het die stilte verbreek om te sê: “mevrou sweet darem nou lekker”. Ek weet nie wat daarna gebeur het nie. Ek kan maar net sê,”shame”.

So gepraat van Kellerman, daar was 2 kolonel Kellerman in die Kaap, ek dink so. Ek onthou deesdae nie meer so goed nie, sorry! Ek was op daardie stadium die persoonlike stafoffisier van die kommissaris,  generaal de Witt. Hy was ‘n moeilike ou gewees maar hy bly my hero. Die beste mens wat ek in my lewe geken het. Nietemin het hy my gevra hy wou na een of ander plek vlieg. Ek dink dit was Robben Eiland. Een van die Kellermanne het met die lugvleuel  gewerk. Goedsmoeds sit ek die verkeerde Kellerman deur na hom. Ek hoor toe dat die generaal baie ongeduldig was en moes alles herhaal met die Kolonel. Dit het geklink of dié kolonel niks verstaan nie. Die volgende hoor ek in ‘n harde stem” bliksem, dit is die verkeerde Kellerman!” Die generaal het 10 minute met die verkeerde Kellerman gepraat. Mense hy was ontsteld maar het vinnig weer goed geword.

Ek was ook ‘n paar keer op Robbeneiland saam met die generaal. Die gevangenis diens het ‘n nice menasie gehad. Daar was ‘n brigadier in bevel. Ons het maar ook ‘n paar melkskommels gehad wanneer ons daar was. Eendag het ek my verbeel ek drink ‘n melkskommel maar dit was inderwaarheid polisie koffie. Ek weet nie hoe ek so deurmekaar was nie. Ek het baie van die koffies gedrink en dit goed gedink om so ‘n bietjie te gaan rondloop.  Daar was baie mooi bokkies op die eiland. Ek praat nie van girls, nie maar van regte bokke. Ek het die uitstappie terdeë geniet maar later besef dat ek verdwaal het op die eiland. Alles het skielik vreemd gelyk en gevoel dat ek nie meer op die eiland was nie. Ek het later verneem dat mense my wel opgespoor het, so beweer hulle maar ek het hulle toe die  voordeel gegee.

In die kantoor in Pretoria het die generaal ‘n kluis gehad maar waar weggesteek in ‘n mooi hout kas. Aan die bokant van die kas het die generaal baie sigarette gehad. Ek het nie dieselfde flavour gerook nie maar besef dat dit meer ekonomies sal wees om my brand te verander. Ek het dit klandestien gedoen. Eendag kom daar ‘n ou by my kantoor en gevra hy Kompol kan sien. Ek dink sy naam was Anton Harrold gewees. Ek het toe die generaal gesê die ou het wou hom sien. Die generaal sê toe vir my dat hy kan inkom maar ek moet saam inkom. Ek besef toe dat dit die sigaret verteenwoordiger was wat die generaal se  voorraad aangevul het. Die generaal sê toe vir hom om 7 kartonne te gee maar ‘n ekstra 2 kartonne want ek steel sy sigarette.  Ek was totaal oorbluf dat ek van sigaret diefstal beskuldig was maar het besluit om myself te inkrimineer nie aangesien dit ‘n reg in ons regstel gehad was. Die voordeel was dat ek nooit weer sigarette gekoop het nie. Soos hulle sê moet nooit ‘n goeie storie verydel deur die waarheid nie.

Ek het nou heeltemal af gedwaal met hierdie lang eksposisie. Wat ek eintlik in die begin wou gesê het dat jy nie vet mag gewees het in uniform nie. As jy was moes jy in gewone klere wees en dan ‘n tyd gegee was om jouself weer waardig te maak. As jy nie dit gedoen het nie moes jy die haas wêreld betree. Om die storie nou kort te maak stap ek en die generaal in die hysbak geklim. Die generaal het ‘n pak aangehad. Baie lede het nie verwag dat kompol in die hysbak sal wees nie en sommige het hom nie herken nie maar daar was ‘n atmosfeer dat hierdie persoon iemand groot was. Hy het blou oë gehad en na iemand gekyk of hy deur jou kyk. Ou generaal HPM de Villiers het ook sulke oë gehad. Hoe dit ookal sy het hy na ‘n lid gekyk wat ‘n redelike maag gehad het. Die generaal vra hom hoekom het hy so ‘n maag. Die ou het verskeie redes gegee. As ek mooi onthou mediese redes ook.  Die generaal het hom net daar stil gemaak en gevra: “het jy al ‘n vet mens in ‘n konsentrasie kamp gesien”? Die ou het hom net so vaag aangekyk.

Voordat ek vergeet.  Ek en die generaal het elke middag wanneer ons in die Kaap was, in die menasie gaan eet op die derde vloer in die Verwoerd gebou. Die dag het ons na die menasie toe geloop.  ‘n Vrou het op ‘n stadium na my  gekyk waarskynlik omdat ek  geblink het en om geen ander rede nie. Hy sien dit toe  en toe gesê: “as die koerant teen jou vaswaai moet jy dit lees. Tot vandag  verstaan ek nie wat  hy bedoel het nie!

Maar nou ja, dit is die lewe.