Nongqai Vol 17 No 10 – (17) Plaasmoorde: Debatte oor Wit Kruise

PLAASMOORDE: DIE STORIES EN DIE DEBATTE AGTER DIE WIT KRUISE

Brig Fanie Bouwer

Excerpt (English)

Bouwer argues that farm murders reflect a long‑standing pattern of rural violence shaped by history, politics, weak state capacity, and conflicting national narratives.

Abstract (English)

This article by Brigadier Fanie Bouwer examines the complex and contentious issue of farm murders in South Africa, arguing that the phenomenon cannot be reduced to simple criminality. Drawing on historical patterns of political violence, Bouwer explains how farm attacks emerged from the unrest of the 1980s and early 1990s. He highlights the lack of a unified national database, which contributes to polarized narratives about whether white farmers are specifically targeted. Bouwer explores the internationalization of the issue, particularly through the White Cross Project in Washington, and contrasts the South African government’s diplomatic stance with civil society’s efforts to raise global awareness. He also analyses the legal and political controversy surrounding the chant “Kill the Boer,” noting that judicial rulings on hate speech do not erase the harmful impact of such rhetoric. The article concludes by reaffirming the constitutional principle that all citizens deserve equal protection and warns that societal desensitization to rural violence threatens this foundational promise.

Keywords (English, comma‑separated)

farm murders, rural violence, South Africa, political history, APLA, PAC, James Myburgh, White Cross Project, Washington diplomacy, racial tension, crime classification, land security, Kill the Boer, hate speech debate, constitutional rights, state protection, rural communities, international relations, Afrikaner organisations, policing capacity

Plaasmoorde is tans ’n nuuswaardige en aktuele onderwerp wat internasionaal, en veral in die VSA, aanklank gevind het, met kommentators wat lynreg teenoor mekaar staan in hul onderskeie sienings daaroor.

In hierdie verband het ek nou verskeie artikels van skrywers onder oë gehad, elkeen met sy eie invalshoek.

So ook dié van Ronald Lamola, die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, namens sy departement in die RNE-regering én sy party, die ANC. Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, het die afgelope tyd ook heelwat te sê gehad oor plaasmoorde en die sing van die liedjie “Kill the Boer”.

Ek wil daarby aansluit. My eie gedagtes hieroor is gegrond op my eerstehandse ervaring oor dekades as polisieman. Dit gee my ’n goeie begrip van, enersyds, die huidige Ek wil daarby aansluit landskap en, andersyds, die misdaadsituasie in die algemeen in Suid-Afrika.

VSA-dispuut

Die liedjie “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste geskilpunte met die VSA.

As ’n mens die hele kwessie van plaasmoorde aan ’n onkundige moet verduidelik, met ander woorde iemand wat niks van Suid-Afrika se geskiedenis, politiek, rasseverhoudinge of huidige spanning weet nie, sou ek begin deur te sê: hier gaan dit  eintlik oor veel meer as net plaasmoorde.

Die plaasmoorde is die sigbaarste en mees emosioneel gelaaide deel van ’n veel groter Suid-Afrikaanse probleem: geweld, swak staatsvermoë, historiese politieke retoriek, rassespanning, grond- en eiendomsreg, die veiligheid van mense wat afgesonder woon, en die vraag of die staat alle Suid-Afrikaners met dieselfde erns beskerm.

Tans is daar in Suid-Afrika ’n hibried van twee benaderings of sienings. Die een kant sien dit min of meer soos in die vorige paragraaf uiteengesit, terwyl die ander groep dit bloot as misdaad sien en aanvoer dat boere ook maar net slagoffers is, soos mense in stede en townships oral oor Suid-Afrika.

Die eerste ding wat die onkundige moet verstaan, is dat die plaasmoordverskynsel nie ’n nuwe politieke uitvinding van 2026 is nie. Dr. James Myburgh het juis in sy geskiedkundige uiteensetting in Washington probeer aantoon hoe ver terug die probleem strek.

Myburgh plaas die begin van die moderne plaasaanvalverskynsel in die politieke geweld van die 1980’s en die tydperk rondom die einde van apartheid. Sy navorsing wys onder meer op die gewapende stryd, politieke propaganda en aanvalle op mense wat op geïsoleerde plase gewoon het. Hy wys ook op die rol wat APLA en die PAC in die vroeë 1990’s gespeel het.

Dit beteken egter nie dat elke plaasmoord sedertdien ’n politieke moord was nie. Ek wys op ’n belangrike onderskeid: daar is gewone roofmoorde, plaasaanvalle waar buit die hoofmotief is, persoonlike konflik en gevalle waar politieke of rasse-retoriek moontlik ’n rol gespeel het.

Die groter historiese punt is eerder dat geweld teen mense op afgeleë plase ’n werklike, langdurige Suid-Afrikaanse verskynsel is wat nie eenvoudig as “gewone misdaad” beskou kan word nie.

Myburgh se historiese uiteensetting sluit hierby aan.

Daar is vervolgens ’n tweede belangrike waarhede: die mense wat op plase vermoor word, is nie almal wit nie. Die Suid-Afrikaanse regering en ander navorsers het dit herhaaldelik beklemtoon.

In die vierde kwartaal van die 2024/25-boekjaar het die SAPD ses moorde in landbougemeenskappe aangeteken; die slagoffers het onder meer plaaswerkers, ’n plaasbewoner en boere ingesluit.

Die regering se standpunt is dat die beskikbare statistiek nie ’n bewese patroon toon van ’n georganiseerde rasseveldtog om wit mense uit te wis nie. Dit moet erken word, want die werklikheid word nie beter gedien wanneer elke plaasmoord outomaties as ’n politieke moord verklaar word nie.

Dít gesê, is die teenoorgestelde egter ook waar: die bestaan van swart slagoffers maak die veiligheidsprobleem nie minder ernstig nie, en dit maak die besonder kwesbare posisie van wit boere en ander mense wat afgesonder op plase woon, ook nie vanself onwaar nie.

AfriForum se eie databasis het byvoorbeeld 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde vir 2025 aangeteken en beklemtoon die besondere erge brutaliteit van sommige van hierdie aanvalle.

Die kernvraag is dus: Waaraan is hierdie besondere brutaliteit en wreedheid toe te skryf?

Ander landbou-organisasies rapporteer ook aanvalle wat nie noodwendig in dieselfde tydperk of volgens dieselfde definisies as die SAPD aangeteken word nie. Daarom ontstaan daar ’n tweede probleem: die land beskik nie oor een algemeen aanvaarde, onbetwiste databasis wat elke plaasaanval op presies dieselfde manier klassifiseer nie.

En dit is waar die debat begin skeefloop.

Die een kant sê: “Daar is geen wit volksmoord nie; dit is gewone Suid-Afrikaanse misdaad.”

Die ander kant sê: “Die staat ontken plaasmoorde omdat hy nie wil erken dat wit boere geteiken word nie.”

Albei stellings kan te maklik groter word as die feite waarop hulle gebaseer is.

Die beter vrae is: Wie word aangeval? Waarom word hulle aangeval? Hoe gereeld gebeur dit? Hoe gewelddadig is die aanvalle? Hoe goed ondersoek die staat dit? Hoeveel sake lei tot vervolging en skuldigbevinding? En wat doen die staat om dit te voorkom?

Die staat kan homself nie sover kry om plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar nie, wat bykomende optrede van die polisie sou verg. Tog sal die regering byvoorbeeld gereeld die weermag inspan om bendegeweld te bekamp – iets wat ook al dekades duur.

Dan kom ek by Washington

Die 3 000 wit kruise op die National Mall was nie bloot ’n statistiese aanbieding nie. Dit was ’n poging om die argument van die abstrakte na die menslike te verskuif.

Heidi Taljaard se verhaal maak dit duidelik. Vir haar is drie van die kruise nie “drie gevalle” nie. Hulle is haar pa, Dan; haar ma, Breggie; en haar suster, Elzabie.

Sy het probeer verduidelik dat wanneer iemand vermoor word, nie net een mens sterf nie; ’n hele toekomstige lewe, ’n familie en ’n netwerk van mense word saam verander.

Die White Cross Project het juis hierdie persoonlike element na Washington geneem en ongeveer 3 000 kruise gebruik om die individuele mens agter die statistiek sigbaar te maak. Daar is ook grafte vir elkeen van hulle hier in Suid-Afrika as bewys daarvan.

Dit is waarskynlik die sterkste argument vir die kruise: ’n mens kan met statistiek stry; dit is moeiliker om na duisende name en kruise te kyk en te vergeet dat elkeen ’n mens was.

Washington het as’t ware die kwessie terselfdertyd uit die terrein van misdaad en landelike veiligheid na die terrein van internasionale politiek verskuif.

Die Amerikaanse regering het reeds lank ’n besondere belangstelling in Suid-Afrika se landelike veiligheid, rasbeleid, grondbeleid en die behandeling van minderhede getoon.

Amerikaanse amptenare het plaasmoorde en landelike geweld uitdruklik genoem as een van die kwessies wat die verhouding tussen Washington en Pretoria beïnvloed.

Bozell, die Amerikaanse ambassadeur, het byvoorbeeld gesê Washington fokus onder meer op landelike geweld en plaasmoorde, ekonomiese struikelblokke en Suid-Afrika se buitelandse beleid.

Toe gebeur iets baie ongewoons: ’n Suid-Afrikaanse binnelandse veiligheidskwessie word ’n internasionale diplomasie-kwessie.

Daarom het die reaksie van Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Washington, Roelf Meyer, soveel aandag getrek. Meyer het die bewering dat wit boere polities vervolg word, verwerp en gewaarsku dat die voorstelling van Suid-Afrika as ’n land waar wit boere geteiken word, die verhouding tussen die twee lande kan benadeel.

Dit is egter ’n uitspraak wat ooreenstem met dié van sy politieke base, maar dit ontken die groter prentjie én ander gebeure wat met plaasmoorde verband hou.

Hier ontstaan dus ’n besondere ironie – ’n Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington se taak is om Suid-Afrika se belange in Amerika te verduidelik teenoor

Afrikaner-organisasies en plaasveiligheidsaktiviste wat Washington toe gaan, probeer juis tereg om Amerika te oortuig dat Suid-Afrika se regering nie die probleem voldoende erken of aanspreek nie.

Hiermee stem ek saam.

Dieselfde land – Suid-Afrika – het dus twee boodskappe in Washington gehad. Die een boodskap was in wese: “Suid-Afrika het ernstige misdaadprobleme, maar daar is nie bewys van ’n wit volksmoord of georganiseerde rassevervolging nie.”

Die ander boodskap was: “Kyk na hierdie kruise. Kyk na hierdie families. Kyk na hierdie geskiedenis. Kyk na die aanvalle. Kyk na die politieke retoriek. Ons sê nie dat elke misdaad ’n politieke moord is nie; ons sê die probleem is ernstig genoeg dat die wêreld dit nie moet ignoreer nie.”

Die spanning tussen hierdie twee boodskappe verduidelik baie van wat tans gebeur.

Dit is ook belangrik om te verstaan waarom sommige Afrikaners en Afrikaner-organisasies voel dat hulle geen ander opsie het as om die saak internasionaal te neem nie.

Vanuit hulle perspektief is die argument eenvoudig: as die plaasaanvalle binne Suid-Afrika nie voldoende aandag kry nie, moet hulle die probleem daar buite gaan wys.

Vanuit die regering se perspektief kan dieselfde optrede egter lyk soos ’n poging om Suid-Afrika internasionaal as ’n rassistiese of volksmoordstaat voor te stel.

Dít sou na my mening ’n siniese en selfs oneerlike argument wees.

Dan kom die belangrike derde element: die Amerikaanse hulp

Wanneer Washington sê dat dit oor Suid-Afrika se landelike geweld bekommerd is, beteken dit nie noodwendig dat Amerika aanbied om Suid-Afrika se polisie oor te neem of boere te kom beskerm nie.

Amerikaanse druk kan bestaan uit diplomatieke druk, gesprekke, openbare verklarings, visumbeleid, vlugtelingbeleid, ekonomiese invloed en die gebruik van Amerika se internasionale posisie om aandag aan ’n saak te gee. Dit is dus belangrik om nie die woord “help” te groot te maak nie.

Maar dit is ewe belangrik om nie die Amerikaanse belangstelling bloot as vyandige inmenging af te maak nie.

Want hier is die vreemde situasie: ’n Suid-Afrikaner wat kla dat sy eie staat hom nie voldoende beskerm nie, kyk na ’n buitelandse regering wat sê dat dit bekommerd is – en dan word die buitelandse regering self deel van die probleem.

Daar lê een van die grootste ironieë van die hele debat.

“Kill the Boer”

Die volgende skakel is die dreunsang “Kill the Boer, Kill the Farmer”.

Hier moet ’n mens besonder versigtig wees.

Die Suid-Afrikaanse howe het nie eenvoudig gesê dat elke gebruik van die historiese struggle song ’n direkte bevel is om wit boere te vermoor nie. Die huidige regsposisie is baie meer genuanseerd.

In 2022 het die Gelykheidshof bevind dat die gebruik van die lied in die betrokke konteks nie aan die vereistes vir haatspraak voldoen het nie.

Die Hoërhof van Appèl het dié benadering in 2024 bevestig, en die Grondwethof het AfriForum se poging om verder te appelleer, in 2025 van die hand gewys.

Die howe het beklemtoon dat konteks van belang is en dat die redelike, ingeligte waarnemer die lied binne daardie politieke konteks sou verstaan.

Die Amerikaanse ambassadeur het president Cyril Ramaphosa gekritiseer. In ’n eksklusiewe onderhoud met Fox News Digital het hy dit reguit gestel: Suid-Afrika het ’n president wat weier om ’n aanhitsing om te moor te veroordeel.

Dit is na my mening ’n geldige beskuldiging.

Waarom kan Ramaphosa hom nie self sover kry om dit te doen nie?

Sy verskoning? ’n Hof het gesê dit is nie haatspraak nie.

Bozell se antwoord: As dit nie haatspraak is nie, wat is dit dan anders? Om mense aan te spoor om te moor, is om mense tot moord aan te hits.

Veroordeel die gesang.

Maak landelike misdaad ’n prioriteitsmisdaad, met ’n ware plan – nie nog ’n toespraak nie.

Maar hier is die onderskeid wat in die openbare debat dikwels verlore gaan:

Dat ’n hof bevind dat ’n bepaalde gebruik van die lied nie juridies haatspraak is nie, beteken nie dat die woorde vir almal onskadelik, verstandig of aanvaarbaar is nie.

Daar is ook ’n ander ironie wat ek dink besonder belangrik is. Die mense wat vandag die hardste oor plaasmoorde praat, word in sekere kringe maklik as “regs”, “konserwatief” of selfs ekstremisties beskryf.

Maar kyk na die geskiedenis van die saak. Daar was tye toe mense uit liberale, menseregte- en vryemarkkringe juis daarop aangedring het dat ’n mens nie moord en geweld moet verskoon omdat die slagoffer tot ’n groep behoort wat histories bevoordeel is nie.

Dit is ’n regs- en menseregte-argument wat nie noodwendig van enige spesifieke politieke party afkomstig hoef te wees nie.

En dít is miskien die grootste ironie van alles: ’n saak wat vroeër maklik as ’n “regse” Afrikaner-klagte afgemaak kon word, word nou ook deur mense uit regs-, liberale, vryemark- en menseregtekringe bespreek omdat die onderliggende beginsel universeel is:

’n Mens behoort nie minder beskerming van die staat te ontvang omdat die persoon aan ’n ongewilde of histories bevoorregte groep behoort nie.

Dit beteken nie dat almal wat die plaasmoordkwessie beklemtoon, noodwendig korrek is oor die oorsaak daarvan nie. Dit beteken ook nie dat elke bewering van “volksmoord” of “politieke vervolging” deur die feite bewys word nie.

Dit beteken eenvoudig dat die vraag verdien om ernstig ondersoek te word sonder om die mense wat dit opper, vooraf van die tafel af te vee.

En hier kom James Myburgh se bydrae weer terug. Sy belangrikste bydrae is nie noodwendig dat elkeen van sy politieke gevolgtrekkings aanvaar moet word nie. Die belangrikste is dat hy probeer om die huidige debat uit die onmiddellike Twitter/X-oorlog te haal en dit binne ’n historiese raamwerk te plaas.

Hy vra in wese: Hoe het Suid-Afrika by ’n punt gekom waar geweld teen mense op afgeleë plase so genormaliseer geraak het dat die samelewing soms skaars meer reageer?

Dit is ’n baie groter vraag as: “Is die ANC skuldig?” of “Is AfriForum reg?”

Dit is die vraag:

Wat gebeur met ’n samelewing wanneer politieke geweld van die verlede oorgaan in algemene misdaad, die staat se vermoë verswak, mense hulself begin beskerm, gemeenskappe mekaar nie meer vertrou nie, en politieke taal al hoe meer ontmenslikend word?

Dan is “Kill the Boer” nie noodwendig die volledige verklaring vir plaasmoorde nie.

Maar dit is ook nie verstandig om te maak asof sulke woorde geen betekenis het in ’n land met Suid-Afrika se geskiedenis nie.

Slotgedagtes

Die Grondwet het Suid-Afrika op ’n nuwe fondament geplaas: menswaardigheid, gelykheid, vryheid, die oppergesag van die reg en die beskerming van almal.

En miskien is dit uiteindelik wat die wit kruise ons kom herinner: agter elke kruis was ’n mens wie se lewe vir iemand kosbaar was – en die waarde van daardie lewe behoort nie deur ras, politiek of geskiedenis bepaal te word nie, maar deur die grondwet.

Dit het nie gesê: ‘Ons sal sommige groepe beskerm en ander groepe se vrese ignoreer omdat hulle histories bevoorreg was nie. Inteendeel.

Die groot belofte van 1994 was juis dat Suid-Afrika ’n land sou word waarin die staat nie vra wie jy is voordat hy besluit hoeveel jou lewe werd is nie.