Nongqai Vol 17 No 9 – (32) Studenteprotes van 2014 & 2016

EXCERPT

The article argues that the student uprisings were driven not only by practical grievances but by a profound cultural and ideological clash reshaping South African universities.

ABSTRACT (English)

This paper explores the underlying drivers behind the wave of student protests that swept South African universities between 2014 and 2016, including #RhodesMustFall, #FeesMustFall and related movements. Drawing on cultural analysis, political developments, and ideological shifts, the author argues that the unrest cannot be explained by single causes but emerges from an interwoven set of grievances: financial exclusion, institutional transformation, racial tensions, and—centrally—a clash of cultures between historically white academic environments and incoming black students. The paper highlights the rise of Africanisation, the influence of Black Consciousness and Fanonist thought, the rejection of post‑1994 reconciliation narratives, and the emergence of “whiteness” as a contested concept. It concludes that the protests represent both material demands and a deeper ideological struggle over South Africa’s future societal order.

KEYWORDS (English)

student protests, South Africa, Rhodes Must Fall, Fees Must Fall, Africanisation, campus culture, whiteness, Black Consciousness, Fanon, university transformation, ideological shift, cultural conflict, higher education politics

DIE STUDENTEPROTES VAN 2014 & 2016

Johan Mostert

In vandag se gesprek word beoog om die redes vir die huidige vlaag van studenteprotes in die land te verken. Ons fokus op die vraag: Is daar dieperliggende dryfkragte wat gelei het tot die protesaksies? Wat motiveer en aktiveer verskynsels soos #FeesMustFall, #RhodesMustFall, #OpenStellenbosch, ens.? Weens tydsbeperking sal ek ongelukkig baie moet veralgemeen en ook sekere brandende kwessies, soos die status van Afrikaans op sommige kampusse, nie aanspreek nie.

Sommer met die intrapslag moet ons vir mekaar sê: daar is nie ‘n enkele rede wat ooglopend as die oorsaak van al die onrus uitgelig kan word nie. Daar is ‘n vervlegting van redes. Sommige studente sê hulle het dit teen Afrikaans en wit bevoorregting, ander sê dit gaan oor ‘n gebrek aan transformasie by universiteite, oor onbekostigbare studiegeld en onvoldoende akkommodasie, oor ‘n Westers gesentreerde, neo-koloniale kurrikulum, ens. Anti-wit gesinde (rassistiese) elemente kan ook geïdentifiseer word. ‘n Kwessie soos uitkontraktering van kampuswerk het ook later ‘n belangrike brandpunt geword.

Ek wil die huidige gebeure gaan haal by die bohaai wat ontstaan het oor die sogenaamde Nazi-saluut op die Potchefstroom kampus in Februarie 2014. Myns insiens ‘n laagtepunt in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse joernalistiek toe sekere insidente sensasiewekkend aan die wêreld uit basuin is. In sy kommentaar op die gebeure sê die bekende kommentator Max du Preez: “Dit [die universiteit] is nie ’n korporasie of ’n onderneming nie. Dis ’n terrein waar intellektuele stimulering en navorsing moet gebeur. ’n Ontgroeningskultuur hoort nie by ’n wêreldklas-universiteit nie.” En: “Ek wil die Puk nie graag as ’n kulturele instelling sien nie, maar as wêreldklas-universiteit waar idees uitgeruil word en navorsing gedoen word.”

Twee aspekte is hier van belang: Een: die indruk wat geskep word dat kultuur en die gedagte dat ‘n universiteit ‘n plek is waar idees uitgeruil word en navorsing gedoen word, uitsluitend is. Dit is ‘n drogredenasie. Twee: Die verwysing na kultuur in Du Preez se verwysing na ‘ontgroeningskultuur’.

Dit is die konsep van kultuur wat ek graag verder aan die orde wil stel. Du Preez wil wegdoen met die konsep van kultuur, maar dit is juis dít wat grondliggend is tot wat swart studente in die algemeen aanvoor as rede vir hulle ongelukkigheid. Toe hulle by die “wit” universiteite aankom, is hulle gekonfronteer deur ‘n vreemde kultuur, sê hulle. Hulle het uitgesluit gevoel. En dit is hierdie gevoel, dié van uitsluiting, gebrek aan toegang (“access”), wat sedert die stof opskoppery by Potchefstroom gaandeweg momentum gekry het. (Vir geen oomblik word beweer dat die kwessie by Potch die oorsaak van die ongelukkigheid op ander kampusse was nie, maar dit het daartoe bygedra dat landwyd veral Afrikaanse universiteite in ‘n uiters ongunstige lig gestel is. Dit het die beeld van Afrikaanse universiteite besoedel.)

In Afrikaanse geledere het daar meer geluide as net dié van Max du Preez opgegaan oor kultuur. Stemme uit die dampkring van die sogenaamde Seunse Weenkoor en mense soos professor Jonathan Jansen het gesê ‘n student is ‘n student en die universiteit ‘n instelling waar bloot geleer en nagevors behoort te word. Watse gesanik is dit oor kultuur, verstaan as identiteit, op kampus? Hierdie is die tipiese klassiek liberale siening. Mense is mense en het hulle menswees as gemeenskaplike binding; verskille is toevallig. Mense moet net op hulle menswees (“humanity”) beoordeel word.

Universiteitsbesture se verbintenis tot hierdie siening het teruggekom om hulle te byt. Die mens is nie maar ‘n blote abstraksie van menswees wat in teoretiese ivoortorings bestaan nie, maar is ‘n mens met gees en liggaam wat vierkantig in die hier en nou konkreet aanwesig is. Wat hy of sy ook al doen, is kultuurskeppend. In die proses van menswees skep hulle ‘n paradigma of denkraamwerk waarvolgens hulle lewens gerig word – die mens is essensieel ‘n kulturele wese.

Swart studente besef dit, vandaar die aandrang op die Afrikanisering van Suid-Afrikaanse universiteite. Dit is niks anders nie as ‘n kreet om hulle eie kultuur uit te lewe nie. Ironies genoeg, as Afrikaanse studente presies dieselfde versugting het, word hulle, ook in sommige Afrikaanse kringe, verguis en dikwels uitgebeeld as mense wat terug hunker na apartheid.

Ek wil hierdie stelling maak: Die huidige stryd op kampusse is essensieel ‘n botsing van kulture. Die swart studente sê dit self. Ja, die ongelukkigheid oor diensleweringsaspekte soos gelde en akkommodasie sowel as rassisme is belangrike snellerfaktore, maar kultuurverskille sal in die toekoms steeds ‘n sleutelfaktor wees wat, as dit nie behoorlik bestuur word nie, tot groot ontevredenheid en selfs voortgesette botsings lei. Dit gaan nie in die eerste plek oor rassisme nie, nie oor swart en wit nie, dit gaan oor kultuurverskille wat op die lange duur deurslaggewend sal wees. Maar die volgende moet ook in gedagte gehou word: indien wit studente volgens kwota tot die minimum beperk word, sal wittes en hulle kultuur nie meer ‘n faktor wees waaraan swart studente hulle hoef te steur nie. Potensiële konflik is, vir hulle, daarmee uit die weg geruim of tot die minimum beperk.

Ek wil nie hierdie scenario as onvermydelik aanbied nie. Dit kan gebeur dat namate swart studente se materiële behoeftes bevredig raak en hulle aan meer universele invloede blootgestel word, hulle aandrang op Afrikanisering kan afplat. Wat nie voorsien kan word nie, is dat die aandrang op Afrikanisering, gesien as transformasie (veral ‘n swart dosentekorps), nie sal verminder nie. Inteendeel.

Ek kom terug na die liberale ingesteldheid van universiteitsbesture. Van die universiteite wat hoog opgegee het oor hulle liberale tradisie, moes skerp deurloop oor die stadige pas van “transformasie”. Die dosente is steeds oorwegend wit en die leerplanne “praat” nie met die swart studente nie. Oor die Afrikanisering van die akademie is daar vraagtekens. Om die natuurwetenskappe te ver-Afrikaniseer skyn problematies te wees. Mens kan dink aan iets soos inheemse medisyne by die fakulteite van geneeskunde, maar of dit ware wetenskap is, is ‘n ope vraag. Wat die mens– en sosiale wetenskappe betref, kan voorsien word dat daar heelwat ruimte is om te maneuvreer. Geskiedenis kan byvoorbeeld herskryf word, by filosofie kan alternatiewe denkers aangebied word (studente het juis gekla dat hulle nie meer wil leer oor wat dooie wit mans gedink het nie, hulle wil hoor wat denkers uit Afrika te sê gehad het het), in die politieke wetenskap kan die fokus geplaas word op Afrika sosialisme (maak nie saak hoeveel keer dit misluk het nie), ens. Wat die ekonomie betref, kan ‘n heel ander ideologiese benadering gevolg word (sosialisme). Wat die liberale nie wil erken nie, is dat dit ‘n paradigma skuif weg van die klassieke Westerse liberalisme is – ‘n verskuiwing na ‘n ander denkkultuur. Dit is nie meer Westers gerig nie, maar Afrika-sentries. Dit is Afrika waardes wat as norm sal geld. Universiteite kan mettertyd ‘n heel ander, en vreemde, akademiese ideologiese kultuur adem.

Terloops, dit is die primêre rede waarom ek ‘n voorstander is van ‘n universiteit wat die tradisionele Joods-Griekse-Christelike waardes voorop stel. Dit is wie ek is en ‘n universiteit moet aan my nageslag ‘n geestelike heenkome bied. Dit gaan nie oor uitsluiting van ander nie, trouens, ander sal baie welkom wees, maar dit gaan oor die uitbouing van daardie geestelike waardes wat ek as die hoogste goed ag. Die uitbouing van liberale Westerse waardes was nog altyd hoog op die agenda van Westerse universiteite. Vanwaar die bewering dat universiteite nie ‘n kultuurtaak het nie?

Maar die universiteite is ook deur hulle toelatings aan die hakskeen gebyt. Neem die voorbeeld van die universiteit van Stellenbosch. Omdat dit as ‘n Afrikaanse universiteit ordelik daaraan toegegaan het, het steeds meer Engelssprekende studente ingeskryf. Hulle getalle het toegeneem en die gedagte het ook toegeneem dat Engels ook ‘n staanplek as doseertaal daar moet kry. Dit het baie tolerant gelyk. Maar met die aandrang van regeringskant op groter getalle “anderskleurige” studente, het die universiteit links en regs potensiële swart studente begin werf. Hulle is belowe hulle kan aan een van die top universiteite in die land studeer.

Daar aangeland kom hulle tot ‘n reuse ontnugtering: klasse is in Afrikaans; dosente is oorwegend wit mans; die universiteitsbestuur is oorwegend wit; die tradisies en voertaal in koshuise is Afrikaans; ‘n oorwegend Westerse akademiese benadering word gevolg. Die studente self sê dat hulle uiters ontuis gevoel het. Hulle sê niemand het hulle vir hierdie kultuurskok voorberei nie. Die vraag is: waarom het die universiteit dit gedoen? Waarom nie werwing toespits op mense wat meer tuis sou voel nie? Die universiteit is immers in die hartland van die bruin mense. En hulle praat Afrikaans. Hulle is nie kultuur vreemd nie. Inteendeel. Maar, gedienstigheid aan eksterne druk om swart Afrikane, vir wie die kultuur vreemd is, te lok en die liberale houding van kultuur tel mos nie, het die universiteit in ‘n yslike dilemma laat beland. Open Stellenbosch het nie ooghare vir liberalisme nie.

Waar het die huidige vlaag van opstande begin? Op 9 Maart 2015 keer ‘n aktivis ‘n emmer rioolvuil om op die standbeeld van Cecil Rhodes by die Universiteit van Kaapstad. By ‘n bymekaarkom van studente kort daarna begin ‘n ritmiese dreunsang “Rhodes must fall”, en so begin ‘n protesbeweging wat mettertyd in verskillende gedaantes landwyd uitkring in allerlei gedaantes.

Die beweging by UK was egter nie eendragtig nie. Van die faksies wat onderskei kon word, was die volgende: a) ‘n leiersgroep wat onrus vir eie gewin aangepor het; b) LGBT aktiviste wat probeer het om die leierskap oor te neem; c) lede van die Pan Africanist Student Movement of Azania (PASMA) wat die strydkreet “Kill the Boer” gebruik het; en d) ‘n groep anargiste wat agter die skerms vandalistiese optrede probeer aanpor het. By ander byeenkomste in die land kan van hierdie soort faksies ook onderskei word.

Op al die voorheen “wit” kampusse het variante van hierdie beweging ontstaan waarvan die #FeesMustFall wat by Wits begin het, die belangrikste was. Dit was hierdie beweging wat die harde realiteit van die gebeure, wat hulle tot dusver grootliks op ‘n afstand hanteer het, by die ANC tuisgebring het. Skielik was die regering landwyd onder druk. Dit was nogal interessant om te sien hoe die ANC gespook het om te verduidelik dat gratis tersiêre onderwys eintlik nog al die tyd op sy agenda was. Uiteindelik is hulle onder soveel druk geplaas dat hulle moes toegee aan die eise van die studente.

Volgens professor Jonathan Jansen was daar ook boewe (“gangsters”) onder die oproeriges wat hulle as politieke aktiviste voorgedoen het. ‘n Belangrike waarneming van Jansen, was die klemverskuiwing van rolmodelle. Dit was nie die gematigde leiers soos Martin Luther King, Ghandi en Mandela wat as helde gesien is nie, maar eerder meer militantes soos Steve Biko en Franz Fanon. Inderwaarheid was daar ‘n sterk anti-Mandela gevoel merkbaar en word hy en sy geslag as “sell outs” gesien. Hierdie was vir Jansen een van die belangrikste karakteristieke van die onrus gebeure.

Die verskuiwing na groter militantheid is ook deur ander waarnemers opgemerk. Die akademikus Achille Mbembe sê hy het gedurende die afgelope jaar by ‘n groot aantal universiteite aangedoen en dit was vir hom opvallend hoeveel van hulle Fanon se werke bestudeer het. Wie was Fanon? Hierdie uitspraak bied ‘n illustrasie: “Violence is a cleansing force. It frees the native from his inferiority complex and from his despair and inaction; it makes him fearless and restores his self respect.”

Die akademikus en skrywer Xolela Mancu wys op die toenemende invloed van Swart Bewussyn (BCM) wat in die retoriek van die protes beweging ingesluip het. Dit het ‘n groter militantheid tot gevolg.

Soos Jansen, sien Mbembe ook ‘n beduidende nuwe element in die denkhoudings van die oproerige studente. Sy waarneming is: “We have a generation of young people who are no longer willing to accept the national narrative as it has been constructed since 1994, meaning around key values of racial reconciliation, market economy, non-racialism and so forth. It’s ageneration of people who are more and more convinced that they have been sold a lie.” Hy beskryf verder die verskuiwing van houdings en sê: “And that shift, that cultural shift it seems to me is much more important than anything else, and signals a new form of politics, at least on campuses.”

‘n Kenmerk van die opstande was die gebruik van die elektroniese media om byeenkomste te organiseer en die afwesigheid van leier-organisasies in baie gevalle. Die onlangse vergadering van vise-kanseliers het wel gesê dat ‘n ontwrigtende leier-element bespeur kon word, maar het nie name genoem nie. Algemeen word bespiegel dat die EFF ‘n beduidende rol gespeel het. Dit wil egter voorkom asof die “sukses” van die optredes nie aan ‘n enkele organisasie toegeskryf kan word nie.

Daar moet nie vergeet word nie dat baie van die ontevredenheid bona fide oorsake het en dat dit nie veel geverg het om studente wat gevoel het hulle is tekort gedoen of gemarginaliseer, te mobiliseer nie. Ek het in voorgaande eensydig die klem laat val op die kulturele dimensie, maar dit moet in gedagte gehou word dat die onrus en onlus ook ‘n manifestasie is van die studente se ontevredenheid met die regering en die ANC; die regering se gebrek aan dienslewering. Sommige waarnemers meen dat die ANC bewe vir die dag wanneer die protesteerders in die townships en ontevrede studente mekaar vind.

Tyd ontbreek om die prent volledig in te klee, maar daar moet egter kortliks gelet word op een verskynsel wat in die jongste tyd saam met die opstande geloop het maar ook reeds voor die tyd ‘n lewe van sy eie gehad het. Hier verwys ek na die verskynsel van “witheid” as ‘n konsep. Sterk stemme vanuit die protesgeledere sê dat hulle nie teen witmense gekant is nie, net teen witheid. Wat is dit? Mbembe antwoord: “By whiteness they understand the privileges that are structurally attached to the fact of being white, that to be white becomes like a property endowed with things people of other races do not have. That’s what they mean by whiteness – a structure of property and a structure of privilege. Privilege that is institutionalised and enacted in everyday encounters, even the law, through culture, education and so on.”

Hierdie konsep van wat witheid beteken, word ook deur sommige wit dosente gepropageer en dit word vermoed dat van hulle ook belangrike instigeerders van protes teen sogenaamde witheid op kampusse is. Dit hang saam met die bevordering van die gedagte dat swart mense pyn ervaar, dat hulle slagoffers is, wanneer hulle deur die wit kultuur gekonfronteer word wat minderwaardigheid op hulle afdwing; hulle minderwaardig laat voel. Hierdie gevoelspolitiek – in teenstelling met rasionele politiek – word verwoord deur deur ‘n segsman van die #Unsilence_UFS-veldtog, Kgosi Siko, wat volgens Volksblad gesê het hulle (swart studente) word nie net geviktimiseer nie, maar voel verdruk en geïntimideer. Hierdie gevoelspolitiek van politieke korrektheid is nie uniek aan SA nie en figureer sterk op kampusse in veral die VSA en Brittanje. Die wortels van hierdie beweging lê in die post-modernisme met sy kritiese konstruktivisme (“critical studies”) wat die waarheid relativeer.

Ten slotte. Die problematiek van die huidige vlaag van protes val vir my in twee breë strome, wat soms oorvleuel, uiteen.

• Die eerste is die praktiese griewe, werklik sowel as vermeend, wat studente het en waarvoor die regering, die ANC, universiteitsbesture en diverse andere beskuldig word. Hulle betoog om ‘n verbetering van hulle materiële omstandighede te bewerkstellig. Hulle sê protesaksie is die enigste manier waarop hulle daarin kan slaag om die owerhede na hulle te laat luister. Dit lê op die weg van die besture by universiteite en die regering om te kyk in hoeverre hulle daarin kan slaag om dit aan te spreek.

• Die tweede is vir my die protes teen die strukturele ordening van die huidige samelewing en die vervanging daarvan deur ‘n heeltemal nuwe (sosialistiese of Afrika-sentriese) bestel. Dit word gerig teen sogenaamde witheid en teen die “uitverkoop” aan die Weste en aan witmense deur die ANC/regering. Hierdie debat onder die studente het die potensiaal om oor te spoel na die breër openbare debat in Suid-Afrika. Hoe gaan dit hanteer word?

Die huidige protesbeweging moet vir ons as wekroep dien om betyds te begin besin oor die pad vorentoe.

Johan Mostert

Gelewer by die NG Kerk, Valleisig, Pretoria

3 Maart 2016