Nongqai Vol 17 No 9: 1974: Potch-bom-ontploffing (I Steyn 2)
DIE POTCHEFSTROOMSE BOMONTPLOFFING VAN 17 MEI 1974
Via Ida Steyn
Abstract (English)
This article recounts one of Potchefstroom’s most traumatic local tragedies: the bomb explosion at the temporary magistrate’s court on 17 May 1974. Shortly after being convicted for a traffic offence and fined R50, Alec Victor detonated a homemade device concealed in a shoebox‑sized parcel. The blast killed Victor and well‑known attorney Henk Kloppers instantly, while property agent Gerrit Schoonhoven later succumbed to his injuries. Approximately 38 people were wounded, several requiring transfer to hospitals in Klerksdorp and Johannesburg.
Beyond the factual record, the article preserves the vivid personal testimony of Anne‑Marie Ronquest, then a 19‑year‑old administrative clerk stationed about 400 metres from the scene. Her recollection captures the shock, confusion, and human suffering that followed — from injured prosecutors fleeing the building, to emergency hospital trips, to the arrival of the Bomb Squad by helicopter. The narrative illustrates how a single violent act left a lasting psychological imprint on individuals and the wider Potchefstroom community.
Her words — “the chaos, the blood, the destruction, and Victor’s face in the newspaper” — underscore the enduring emotional weight of an event often remembered only as a date in local history.
Opsomming:
’n Persoonlike herinnering aan ’n donker dag
Op Vrydag 17 Mei 1974 het een van die mees traumatiese gebeure in die geskiedenis van Potchefstroom plaasgevind toe ’n selfgemaakte bom in ’n tydelike hofgebou by die Potchefstroomse Landdroshof ontplof het.
Die ontploffing het omstreeks 11:00 plaasgevind. Alec Victor, wat kort tevore in die hof skuldig bevind en tot ’n boete van R50 of 25 dae gevangenisstraf gevonnis is, het ’n selfgemaakte bom laat ontplof. Victor en die bekende Potchefstroomse prokureur Henk Kloppers is in die ontploffing dood. Gerrit Schoonhoven, ’n plaaslike eiendomsagent, is later aan sy beserings oorlede. Ongeveer 38 mense is beseer en verskeie slagoffers moes mediese behandeling ontvang.
Hierdie artikel kombineer die historiese feite rondom die bomontploffing met die persoonlike herinnering van Anne-Marie Ronquest, wat die gebeure as ’n 19-jarige jong administratiewe klerk van ongeveer 400 meter van die toneel beleef het.
Haar herinnering gee ’n besonder menslike perspektief op ’n gebeurtenis wat maklik bloot as ’n historiese datum en statistiek onthou kan word.
“Jare later bly die geluide, die chaos, die beseerdes, die bloed, die verwoesting en veral die gesig van Victor op die koerantfoto steeds deel van daardie herinnering.”
Sleutelwoorde
Potchefstroom; 17 Mei 1974; bomontploffing; Landdroshof; Alec Victor; Henk Kloppers; Gerrit Schoonhoven; SAP; polisiegeskiedenis; Anne-Marie Ronquest; persoonlike herinnering; Suid-Afrikaanse geskiedenis.

DIE GEBEURE VAN 17 MEI 1974
Die Potchefstroomse Landdroshof het op 17 Mei 1974 ’n gewone hofdag beleef toe Alec Victor voor landdros J.H. Steyn verskyn het op ’n spoedoortreding.
Volgens historiese berigte was Victor baie ontsteld nadat hy skuldig bevind is. Hy is met ’n boete van R50 of 25 dae gevangenisstraf gestraf. Kort daarna het hy ’n pakkie, wat volgens oorlewendes ongeveer die grootte van ’n skoendoos was, laat val. Rook is uit die pakkie waargeneem voordat ’n geweldige ontploffing gevolg het.
Die bomontploffing het die tydelike hofgebou ernstig beskadig en chaos onder die mense in en rondom die hof veroorsaak.
Henk Kloppers, ’n bekende Potchefstroomse prokureur wat naby Victor gesit het, is in die ontploffing dood. Victor self het ook gesterf. Gerrit Schoonhoven, ’n plaaslike eiendomsagent wat in die hof was, is ernstig beseer en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Ongeveer 38 mense is beseer. Die beseerdes is aanvanklik by Potchefstroom Hospitaal behandel, terwyl sommige later na hospitale in Klerksdorp en Johannesburg oorgeplaas is.
Die ontploffing het dus nie slegs die mense binne die hof geraak nie. Dit het ’n diep merk op die hele Potchefstroom-gemeenskap gelaat.

’n PERSOONLIKE HERINNERING
Anne-Marie Ronquest
[Uit die hart en pen van Anne-Marie Ronquest]
Dit was Meimaand, ek het toe net by die Polisie as Admin Klerk begin werk, ek was 19 jaar oud.
Ek onthou daar was so ‘n motreëntjie. Ek het by Thea van der Walt, sy was toe tikster, gestaan en gesels.
Ons het ‘n slag gehoor en geskrik toe die staalplaat, wat voor die kaggel was, val.
Ons sien hoe mense van die gebou af wegbeweeg, arms oor hulle koppe vir beskerming.
Ek het uitgegaan om te kyk wat gebeur het en daar was chaos…
- Dawn Spies [swanger aanklaer] kom uit die gebou met bloed wat oor haar gesig stroom,
- Agter haar nog ‘n aanklaer, wie se naam ek nie kan onthou – sy toga was flenters,
- Neville Thoms kry my en sê ek moet saam met hom ry, daar was ‘n bom ontploffing en ‘n swart vrou is besig om in kraam te gaan.
- Ons ry [jaag] Potch hospitaal toe en laai haar daar af.
Piet Griesel het ‘n patrolliehond gehad wat in ‘n hok op die perseel was. Hy en Frikkie het nagskof gewerk. Toe die lawaai begin, het hy soos ‘n mal ding daai trappe afgehardloop om te kyk of sy hond ok en gelukkig was hy.
Skaars terug op die toneel moes ons weer hospitaal toe jaag met landdros van der Westhuizen.
Dit was ‘n helse deurmekaar spul.
Die Bomb Squad het van Pretoria af gekom met ‘n helikopter en op die Hervormde Kerk se grond geland. Ons was aangesê om toebroodjies en drinkgoed vir hulle te maak.
Ek was op daardie stadium oraait, het op en af hardloop. Op pad huis toe, het ek gehoor dat oom Henk Klopper, wat daar was vir ‘n saak, dood is.
Dit het toe begin insink wat gebeur het. Ek het by die huis aan gekom en in skok gegaan.
As ek daarna ‘n plastieksak of ‘n box gesien het, het ek paniekerig geraak, ek was ‘n blote kind.
Die koerant is die volgende oggend, [Saterdag] uit, met foto’s van Victor. Ek sal sy gesig nooit in my lewe vergeet, en dit vir ‘n verkeersoortreding.
Ek sal nooit vergeet hoe Kapt. Frans Joubert [reeds oorlede] se splinternuwe bruin Volksie se ruite almal gebreek was. Hy het net van die grens af teruggekeer en die Volksie kontant met sy grens geld gekoop.
Hy het die Volksie laat regmaak en selfs laat “respray”
My ma was in ‘n toestand, iemand het vir haar gesê dat daar ‘n bomontploffing by die polisiestasie was.
Sy bel toe my pa, Kol. Dippenaar, wat op daardie stadium oorkant die polisiestasie, in die Johannes Dreyer Gebou gewerk het. Hy stel haar toe gerus dat ek ok is, hy het die slag gehoor en is dadelik statsie toe.
Dit was geweldig traumaties. Oom Henk Klopper en sy vrou was huisvriende van my ouers.


Wat ‘n ervaring…..en ironies Kerkstraatbom 20 Mei…
Baie mooi vasgepen. Dankie. Sterkte vir jou.