Nongqai Vol 17 No 9 – (H3) Filosofie: Die inbreek van Perde met Caritas?

OM ‘N PERD IN TE BREEK (OFTEWEL, WAT DAN VAN CARITAS?)

(Chris Botha)

“Om ‘n perd in te breek kan net sowel die afbreek van die perd beteken. Die breek van die perd se wil”. So vertel Salie my, my ou Wes-Transvaalse genoot, ‘n vriendskap van meer as ‘n halfeeu tussen ons, perdeman van formaat.

Ek weet nie veel van perde, perdesport en ander perde-dinge nie (tipies magal*) maar ek het vir Salie en ‘n klompie ander “baby boomer” berede manne en -vroue uit Suid-Afrikaanse polisiegeledere in my lewe. (Die pre-“baby boomers” is nou al oorlede, maar ons onthou hulle nog steeds). Ongelooflike mense, kundig, toegewyd en tot oorlopens toe vol van liefde vir die dier. Ek het hierdie mense dopgehou van vroeg in ons polisietyd af, toe pensteek nog gimkana was, en almal van ons Oom Paul se foto van daardie skousprong geken het. Ek het hulle sien suksesse behaal, sportkleure ontvang, innoverend optree, ek besit ‘n kopie van hulle gedenkalbum – dit staan op ‘n spesiale plek in my studeerkamer. Uiteindelik het ek hulle gesien waar hulle probeer red het wat te redde was.

Ek mag dalk nie veel van perde weet nie, maar ek het perdemensvriende, bewondering in my gees, en ‘n goeie verbeelding …

In my geestesoog, tydens my gesprek met Salie oor die inbreek van die perd, sien ek ‘n verslane dier. ‘n Kop wat hang, natgeswete lyf, dowwe oё, hortende asem. Al die krag, spoed, ratsheid en instinkte van ‘n fantastiese kragtige spiermassa met ‘n intuïtiewe verstaan van die wêreld, ‘n gevoel waarvoor min mense die perd krediet gee, verneder tot ‘n tweedehandse skepsel onder dwang. Net sodat ‘n mens (wat eintlik tot fantastiese liefde in staat is) sy of haar mag oor die dier kan bewys. ‘n Oorheersingsdrang, ver groter en dieper en hoёr as wat deur die Skepper bedoel is. Die gevolg van ‘n oordrewe selfbeskouing (en ‘n gepaardgaande devaluasie van die ander) of ‘n onhanteerde minderwaardigheidskompleks (wat met die hulp van ‘n meerderwaardigheidsbeskouing kragvoer moet kry).

Dit hoef nie so te wees nie. Gewoonlik kan mens met ‘n perd begin werk, saggies en liefdevol, vanaf geboorte al. Mens kan die vul saamvat op die pad van ‘n toekomstige vennootskap waarin die mens-vennoot sorg en liefhê en die perd-vennoot aan die mens sy hele perd-wees skenk, onvoorwaardelik en met vrywillige oorgawe (wat tog ook liefde is. Liefde is dus nie net tot die mens beperk nie). Dis dalk so ‘n perd, een wat deur hierdie lewenspad geloop het, wat eendag liefdevol en rustig en binne ‘n kort tydjie ‘n saal op die rug aanvaar. Sodat die perd vir die persoon op sy rug kan gee wat net die perd kan gee: diens, werk, sport, plesier, fantastiese vermoёns, die beeldskone voorkoms…

Sommige perde word groot sonder die vanaf-geboorte-af voorbereiding. Salie vertel my van die koppelperd-metode: die perd wat nog nooit ‘n mens op sy rug gehad het nie word gekoppel aan ‘n perd wat al hieraan gewoond is. Die mens en die koppelperd werk saam, en stelselmatig word die nuwe perd geleer om iemand op die rug toe te laat. Sommige perde is natuurlike leermeesters. Sommige mense is natuurlike perd-fluisteraars.

Ander perde is weer natuurlike terapeute. Daar is baie stories van perde wat aangewend word om die wêreld ‘n beter plek te maak vir siek mense, sê Salie. Dit is asof die perd net eenvoudig verstaan wat aan die gang is en saam met die mens voel. Dis asof die perd weet dat hier meer aandag, sorg, liefde nodig is. Dis asof caritas, as begrip, deur die perd se wese verstaan word, beter as wat so baie mense verstaan.

Salie laat my dink. Ek dink die perd is inherent goed, en weet instinktief wat die mens dink. Ek dink die perd weet wanneer die mens vals is, wanneer die mens onderdanigheid wil afdwing, wanneer die mens se inherente boosheid op die punt staan om uit te dop. Ek dink die perd weet wanneer die mens lieg, wanneer die mens se aggressie begin opkook, dat die mens eerder “baas” as “vennoot” wil wees. Ek dink die perd weet wanneer hy slegs maar moet maak of hy die mens aanvaar, sodat die dier die tyd kan afwag om van die mens af weg te hardloop…

Mens moet liefs nie ‘n perd “inbreek” nie, dink ek. Mens moet liefs nie die perd oordonder nie, mishandel nie, verwaarloos nie. Dit sal beter wees om so met die perd te werk dat die dier die mens vanself sal aanvaar, en alles sal gee wat die dier vir die mens kan gee.

Maar dan moet die mens self ‘n liefdevolle, eerlike, reguit en openlike pad met die dier loop. Die perd sal dit aanvoel.

‘n Caritaspad.

Ek dink Suid-Afrika se ANC-in-regering kan uit hierdie mens-perdstorie iets leer. Indien Suid-Afrika se ANC-in-regering wil, natuurlik …

*In ou polisietaal is ‘n “magal” ‘n voetpolisiebeampte, teenoor ‘n beredepolisiebeampte (‘n “bosluis”).

(Hartenbos, 29092023)

FB 29102023