NUUSBRIEF NO 4
04/2025
15 Junie 2025
Kontakbesonderhede
Voorsitter: +27 82 324 6636
Onder-Voorsitter: +27 83 212 6778
Beskermheer: +27 82 411 7836
Strategies: +27 83 469 7969
Projekte: +27 82 862 1046
Bestuur
Voorsitter: Hein Crocker
Onder-Voorsitter: Philip Schutte
Beskermheer: Andre Olivier
Strategies: Fanie Booysen
Projekte: Chris Botha
Bestuur
Voorsitter: Hein Crocker
Onder-Voorsitter: Philip Schutte
Beskermheer: Andre Olivier
Lid: Fanie Booysen
Kopiereg
Kopiereg van die titel, teks, tabelle, kaarte, foto’s en geskandeerde voorwerpe bly die eiendom van die Bestuur van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag Assosiasie.
Alle regte word voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, in ‘n herwinbare sisteem gestoor, of in enige vorm of op enige wyse gekommunikeer word, hetsy elektronies, meganies, deur middel van fotokopieë, opname of andersins, sonder die voorafverkreë skriftelike goedkeuring van die kopiereg-eienaar nie.
INHOUDSOPGAWE
| NO | ARTIKEL | SKRYWER | BLADSY |
| 1 | Terugvoer oor die eerste paar nuusbriewe | JF Lotriet | 3 |
| 2 | Operasie Kamet, Deel 1, Kaping van Air India | Frans Bedford | 4 |
| 3 | Operasie Kamet, Deel 2, Kaping van Air India | AE Olivier | 7 |
| 4 | Operasie Nkomati-Verdrag | JF Lotriet | 17 |
| 5 | Samewerking met SAPS Eenheid 6, Hein Kilian | JF Lotriet | 21 |
| 6 | Samewerking met Spesiale Magte | JF Lotriet | 23 |
| 7 | Opleiding by die Yamam, Israel | AE Olivier | 35 |
| 8 | Samewerking met die SA Vloot | AE Olivier | 38 |
| 9 | Verjaarsdae en Sterfgevalle | JF Lotriet | 45 |
| 10 | Uitstalling by die Museum | JF Lotriet | 45 |
| 11 | Besprekingspunte vir die volgende uitgawe | JF Lotriet | 45 |
Voorwoord
Deur
Johan F Lotriet: OOB
1. TERUGVOER OOR DIE DAARSTEL VAN ’N NUUSBRIEF

Hierdie is die vierde (4) nuusbrief in n reeks van vele wat gaan volg. Die artikels word meer interessant met elke publikasie, en baie artikels het reeds die opsteller bereik vir toekomstige plasing.
Dit kan ook bevestig word dat – met goedkeuring van die bestuur van die Assosiasie – Johan Lotriet tot verdere kennisgewing die opsteller en redakteur van die nuusbrief sal bly.
Alle insette vir plasing op die nuusbrief moet dus direk aan hom gestuur word en wel voor, of op, die 15de van elke maand by e-posadres jflotriet3@gmail.com.
Die nuusbrief stel dit ten doel om die volgende beginsels te handhaaf:
Kommunikasie: om n gereelde kommunikasie-platform daar te stel ten einde lede ingelig te hou oor die aktiwiteite, gebeurtenisse en verwikkelinge binne die Assosiasie.
Betrokkenheid: om lede te betrek en betrokke te hou deur die deel van belangrike inligting, historiese gebeure en belangrike gebeure.
Eenvormigheid: om n platform te skep vir die gereelde kommunikasie en bewegings, kennisgewings van byeenkomste, verjaarsdae en afsterwes. ‘n Nuusbrief skep ‘n gevoel van deelwees (“belonging”) onder die lede. Niemand word uitgesluit nie.
Frekwensie van die nuusbrief : daar word aanbeveel dat die nuusbrief op ‘n gereelde basis aan lede uitgestuur sal word om sodoende deurlopende kontak onderling tussen lede te behou. Dit sal afhang van die volume informasie wat gekommunikeer moet word, en kan maandeliks – maar nie langer as twee (2) maande uitmekaar nie – wees.
2. OPERASIE KAMET : DEEL 1 : KAPING VAN AIR INDIA, VLUG 224 OP 25 NOVEMBER 1981 : SEYCHELLES:
(Opgestel deur Frans Bedford-Visser.)



3. OPERASIE KAMET : DEEL 2 : KAPING VAN AIR INDIA, VLUG 224 OP 25 NOVEMBER 1981 : SEYCHELLES
(Opgestel deur Andre Olivier : Beskermheer van die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag Vereniging)
3.1. Inleiding:
Baie is oor hierdie onderwerp geskryf en opgeneem op virtuele media, soos Facebook-bladsye en YouTube.
In ons Taakmag-nuusbriewe verskyn ‘n artikel onder die onderwerp: “Die Seychelles-saak”, Operasie Kamet Deel Een. Hierdie artikel handel – en met reg – oor die onderhandelingskant, veral Kolonel Mouton en uittreksels uit verklarings wat deur die Kommissaris van die SA Spoorwegpolisie (SASP), Luitenant-Generaal J H Visagie, gemaak is.
Andre Olivier is ook vanuit Londen ondervra op die “Fighting men of Rhodesia” YouTube-kanaal. Vir meer inligting, Google gerus “Fighting men of Rhodesia ep248 / Col Andre Olivier / The coup in the Seychelles / Part 1”, of gaan na https://www.youtube.com/watch?v=AGQ8EX4BAa8
3.2. Kamet, die operasie:
Die Boeing 707 wat op 25 November 1981 oppad vanaf die Seychelles na die Durban Internasionale Lughawe gekaap is, destyds bekend as Louis Botha Internasionale Lughawe, het die naam Kamet gehad.

Berg Kamet in Indië
Kamet is die tweede hoogste berg in die Garhwal-streek van Uttarakhand, Indië, ná Nanda Devi. Dit is die 29ste hoogste berg in die wêreld en lê in die Chamoli-distrik van Uttarakhand. Wat voorkoms aanbetref, lyk dit soos ‘n reuse-piramide met ‘n plat kruin en twee pieke.
Na afloop van die operasie het die vlugkaptein sy vlerke aan die Spesiale Taakmag gegee as ‘n herinnering aan die operasie. Hierdie vlerke is op ‘n houtskild gemonteer en met trots by die Spesiale Taakmagbasis vertoon.
3.3. Vanuit die operateur se oogpunt:
Soos reeds genoem, is daar baie oor hierdie onderwerp aangeteken en die doel van hierdie artikel is om vanuit die operateur se oogpunt en ervaring te fokus, daarom is dit deel twee.
Dit was November 1981 en die enigste moontlike wyses van aktivering was per pager-stelsel of per landlyn. Pagers was klein, battery-aangedrewe toestelle wat gebruik is om kort boodskappe of waarskuwings te ontvang en te vertoon. Hulle was nogal gewild in die pre-selfoonera en is veral gebruik deur professionele persone wat geredelik bereikbaar moes wees, byvoorbeeld dokters, polisielede of ander individue, wanneer hulle op roep was. Pagers het gebruikers deur middel van ‘n piep, ‘n vibrasie of die vertoon van ‘n numeriese of alfanumeriese boodskap, bereik

’n Tipiese pager in gebruik deur die Taakmag
Die Spesiale Taakmag het baie geskeduleerde en nie-geskeduleerde (verrassings) noodaktiveringsoefeninge uitgevoer. Dit is onder meer gedoen om die reaksietyd te meet, vas te stel of daar bottelnekke was en ten einde te bepaal hoe reaksietyd verbeter kon word. Die uitroepprosedure het op ‘n kaskadestelsel gewerk. Andre Olivier sou as bevelvoerder gekontak word, wat die vlak onder hom sou aktiveer, en so aan.
Elke operateur het ’n trommel met sy eie toerusting, wapens, ammunisie, kommunikasiehelm, koeëlvaste baadjie, en dies meer, gehad. Verder het die Spesiale Taakmag oor ‘n stoorkamer beskik waar al die belangrikste spesiale toerusting gestoor en onderhou is, byvoorbeeld gespesialiseerde traplere om gekaapte vliegtuie mee binne te dring.

Takies in opleiding Spesiale traplere word gebruik
3.4. Konteks:
Vliegtuigkapings was aan die toeneem en die volgende paar voorvalle gee konteks aan die heersende geopolitieke landskap van destyds. Net ‘n verbygaande nota: ‘n SAM 7 is Suid-Afrika binnegesmokkel en was gereed om ‘n SAL-vliegtuig naby die Hartbeespoortdam neer te skiet. Hieronder volg ‘n paar verdere voorbeelde:
Air Rhodesia Vlug 825 was ‘n geskeduleerde passasiersvlug wat op 3 September 1978 tydens die Rhodesiese bosoorlog deur die Zimbabwe People’s Revolutionary Army (ZIPRA) neergeskiet is. Die betrokke vliegtuig, met die naam Hunyani, het die laaste been van Air Rhodesia se gereelde geskeduleerde diens vanaf die Victoria-waterval na die hoofstad Salisbury, via die oorddorp Kariba, gevlieg. Daar was baie Suid-Afrikaners aan boord.
Air Rhodesia Vlug 827, ‘n Vickers Viscount VP-YND, Umniati, was ‘n geskeduleerde burgerlike vlug tussen Kariba en die hoofstad, Salisbury, (nou Harare, Zimbabwe), wat kort na sy opstyging op 12 Februarie 1979 deur die Zimbabwe People’s Revolutionary Army (ZIPRA) met ‘n Strela 2-missiel neergeskiet is. Weereens was daar Suid-Afrikaners aan boord.
Op 24 Mei 1972 het die eerste kaping van ‘n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) plaasgevind toe twee mans gewapen met kommersiële springstof ‘n SAL Boeing 727- driestraler, die Letaba, op pad van Durban na Johannesburg en Salisbury gekaap het. Hierdie kaping is deur Fred Kamiel uitgevoer en het later jare daartoe gelei dat die Taakmag antikapingsdienste op alle Suid-Afrikaanse Lugdiens vlugte verrig het. Meer hieroor volg later.

3.5. Kamet, die operasie:


”Die dag van die kaping het Andre om ongeveer 05h00 ’n oproep ontvang. Andre het van die begin af verstaan dat dit nie ‘n blote oefening was nie, maar die regte ding. Hy het dus die ingeoefende uitroepprosedures in plek gestel en duidelik met hul RV-punt, die polisiestasie by die destydse Jan Smuts Internasionale Lughawe, gekommunikeer dat dit die regte ding was en nie ‘n ongeskeduleerde oefening nie.
Die kommissaris van die SA-Spoorwegpolisie, Luitenant-Generaal Visagie, en ander senior offisiere het hulle op die lughawe ontmoet. Die posbevelvoerder op daardie stadium was Majoor Gawie Greyling wat later saam met Andre in die hooggeregshof in Pietermaritzburg getuienis oor die kaping gelewer het.

‘n SA-Lugdiens Boeing 737 is gereedgemaak om die spesiale toerusting, vuurwapens, ammunisie, kommunikasietoerusting en dies meer Durban toe te vlieg. Een van die lesse wat hieruit geleer is, was die tyd wat daar gewag moes word vir die laaimeester van die SA-Lugdiens om die vrag te beveilig. Dit het in werklikheid die vertrek na Durban effens vertraag en ook daartoe gelei dat die Spesiale Taakmag later goedkeuring van die Tesourie gekry het om SA-Lugmagvliegtuie te kon taak.
Van die eerste oproep tot en met die landing op Durban-lughawe, het alles binne twee en ’n half uur gebeur. Omstreeks 07h20, het die lede in Durban geland en na die SA-Lugmagbasis op die Durbanse lughawe met die SA-Lugdiens vliegtuig ”getaxi”. Tydens die vlug het die kommissaris van die SA-Spoorwegpolisie en lede van die Spesiale Taakmag gereelde opdaterings ontvang van kolonel Mouton van die SA-Spoorwegpolisie-veiligheidstak wat in beheer was van die onderhandelinge in Durban. Duffy, ’n oud Spesiale Magte operateur en een van die kapers, het namens die kapers gepraat.
Skerpskutters is as waarnemingsposte rondom die vliegtuig ontplooi om inligting, en beskrywings in te samel en kommunikasie met kolonel Mouton op te stel ten einde aktiwiteite te koördineer. Die onderhandelinge het die hele tyd voortgeduur.

Skerpskutters ontplooi
Danksy die onderhandelinge is al die passasiers uiteindelik vrygelaat, deursoek en daarna in busse na die terminale gebou begelei.
Daar is met die kapers ooreengekom dat al die wapens in ‘n hoop in die gang van die vliegtuig geplaas sou word. Die kapers het afgeklim, is deursoek, gearresteer en op ‘n SA-Lugmag C130-vliegtuig gelaai onder toesig van die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag.
Daar is 38 AK47’s, waarvan 12 elk ’n rondte in die kamer gehad het, 2,435 AK-rondtes ammunisie en 3 Chinese stokgranate wat afgehaal en beveilig is. Lede van die Spesiale Taagmag het ook die lyk van Johan Fritz uit die vragruim verwyder. Die ondersoek het bewys dat die Stockholm-sindroom wel onder die passasiers en die kapers posgevat het.

Die 45 beskuldigdes is na die Zonderwater-gevangenis geneem. Een van die kapers – Dukes – was gewond en het behandeling ontvang.
3.6. Die hofsaak en jurisdiksie:
Die uiteindelike hofsaak het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg plaasgevind waar Andre Olivier ook getuienis gelewer het as bevelvoerder van die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag. Die getuienis het gehandel oor die ontplooiing, asook die wapens, ammunisie, plofstof, en dies meer wat aan boord van die vliegtuig gevind is.
Groot aanpassings moes in die hofsaal gemaak word om die 45 beskuldigdes te akkommodeer. Twee van die beskuldigdes het staatsgetuies geword, naamlik dr. Theo van Huysteen en ’n sekere De Wet. Regter Neville James was die voorsitter.
In die aanloop tot die hofsaak in Suid-Afrika was daar baie faktore wat in ag geneem is:
- Die jurisdiksie van die Suid-Afrikaanse howe
- Watter verklarings en getuienis in die Seychelles en Indië gelei kon word en watter in Suid-Afrika
- Wie van die beskuldigdes aangekla moes word en uiteindelik gevonnis moes word en op watter aanklagte.
3.7. Hofsaak in Seychelles:
Aan die ander kant was daar die gewonde en gevange mans in die Seychelles en wat daar verhoor is. Vier van hulle het die doodstraf gekry, een het 20 jaar gekry en Susan Ingle is gedeporteer.
Tydens die Waarheids- en Versoeningsproses in Suid-Afrika het dit aan die lig gekom dat Suid-Afrika tussen 3 en 6 miljoen U$D betaal het vir die vrylating van die vyf in die Seychelles. Lede van die SA-Weermag onder wyle generaal-majoor Martin Nel, het gerugte ondersoek dat die AK 47’s en dies meer deur eenhede van die SAW verskaf is.
Die 45 beskuldigdes wat in Suid-Afrika skuldig bevind is, is almal baie vroeër vrygelaat as wat hul skuldigbevinding en vonnistydperke bepaal het.
3.8. Interessante feite:
Op hierdie stadium is dit belangrik om te noem dat die Royal Swazi-Fokker Friendship vliegtuig op die laaiblad geparkeer was waarmee sommige van die “kapers” na die Seychelles gevlieg het. Hierdie vliegtuig is erg op geskiet en beskadig en is selfs met ‘n RPG 7 deur die romp geskiet. Dieselfde vliegtuig is in Julie 1993 van Mosambiek na Jan Smuts gekaap, waartydens Andre Olivier as opgeleide gyselaarsonderhandelaar die onderhandelinge waargeneem het. ‘n Aanprysingsbrief van die Provinsiale Kommissaris is na die voorval aan Andre Olivier gestuur.
Maritz van Zyl, ‘n opgeleide SA-Spoorwegpolisie Taakmag-operateur wat na samesmelting by die SA-Polisie Spesiale Taakmag aangesluit het, is by die vliegtuig ontplooi. Andre Olivier het vir hom aangedui dat die kaper in die kajuit was en dat hulle kon penetreer. Hy het die kaper in die kop geskiet, maar nie noodlottig nie.
Kaptein Charlie Naude, ‘n opgeleide SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag operateur wat ook die vliegtuigbrandstofopleiding gedoen het, is onder die gekaapte vliegtuig ontplooi. Andre was deurlopend met hom in kommunikasie vanuit die lugverkeersbeheertoring waar hyself ontplooi is.
In Burgerlugvaart is daar ‘n paar kommunikasiestrategieë wat die vlugkaptein vanaf die kajuit kan stuur sonder dat iemand dit agterkom, veral as die kapers in die kajuit is en ‘n mate van kennis van vlugbeheer het. Hierdie kommunikasiemetodes sal die posisie van die kleppe na landing insluit, die gebruik van die responder wat sekere noodfrekwensies uitstuur, ensomeer.
Sekere inligting is nodig vir ‘n suksesvolle operasie, indien enigsins moontlik, K.N.O.W.:
- Kind – of terrorist
- Number – how many
- Objective – to determine their profile and goals
- Weapons – knives, side weapons, explosives, etc.
Gevolgtrekking:
Die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag was goed opgelei en toegerus om enige hoë risiko-operasie suksesvol te kon uitvoer, en Operasie Kamet is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.
Datum: 27 Mei 2025
4. OPERASIE NKOMATI-VERDRAG, KOMATIPOORT : 16/3/1984
(Opgestel deur JF Lotriet : OOB)
4.1. Inleiding
Die Verdrag van Nkomati wat op 16 Maart 1984 deur mnr PW Botha, Eerste Minister van die Republiek van Suid-Afrika, en President Samora Moisés Machel van die Volksrepubliek, Mosambiek, by die gemeenskaplike grens op die oewer van die Komatirivier onderteken is, is allerweë verwelkom as ’n belangrike stap in die rigting van vrede, stabiliteit en internasionale samewerking in Suider-Afrika
Die Verdrag is voorafgegaan deur deeglike en omvattende onderhandelinge tussen die twee regerings. Kontak tussen die regerings dateer sedert 1974 toe Frelimo onder leiding van maarskalk Samora Machel die beheer van Mosambiek na ’n wapenstryd van sowat tien jaar van Portugal oorgeneem het.
In reaksie op die omwentelinge in Mosambiek het die destydse Eerste Minister van die Republiek, mnr BJ Vorster, in die Parlement gesê dat al wat Suid-Afrika graag in daardie land wou sien, stabiele en goeie regering was. In die loop van die volgende paar jaar was daar af en toe kontak oor verskeie sake tussen die twee regerings, maar die doelgerigte pogings om ’n blywende en omvattende vredesooreenkoms te sluit, het minder as twee jaar voor die ondertekening van die Nkomati – Verdrag momentum gekry.
4.2. Die Verdrag van Nkomati
ERKEN die beginsels van strenge eerbied vir die soewereiniteit en gebiedsintegriteit, soewereine gelykheid, politieke onafhanklikheid en die onskendbaarheid van die grense van alle state;
HERBEVESTIG die beginsel van nie-inmenging in die huishoudelike aangeleenthede van ander state;
NEEM KENNIS van die internasionale erkende beginsel van gelyke regte vir alle volkere:
NEEM KENNIS van die verpligting van alle state om in hul internasionale betrekkinge, hulle te weerhou van dreigemente of die werklike aanwending van geweld teen die gebiedsintegriteit of politieke onafhanklikheid van ander state;
NEEM KENNIS van die verpligting van state om konflikte deur die aanwending van vreedsame metodes te besleg, en sodoende internasionale vrede en veiligheid asook geregtigheid te verseker;
ERKEN die verantwoordelikheid van state om nie toe te laat dat hul gebied gebruik word vir dade van oorlog, aggressie of geweld teen ander state nie;
NEEM KENNIS van die behoefte aan die bevordering van die verhouding van goeie buurskap gebaseer op die beginsels van gelyke regte en wedersydse voordeel;
IS OORTUIG dat die verhouding van goeie buurskap tussen die Hoë Kontrakterende Partye sal bydra tot vrede, veiligheid, stabiliteit en voorspoed in Suider-Afrika, die Kontinent en die Wêreld.
4.3. Beskerming
In die voorafgaande week is ’n groot gebied, binne die Niemandsland tussen Suid-Afrika en Mosambiek, spesiaal skoon- en gelykgemaak. In die middel van hierdie gebied was ’n klein pawiljoen gebou waarin die Verdrag onderteken sou word ten aanskoue van etlike honderde hoë gaste wat deur die Suid-Afrikaanse en Mosambiekse regerings genooi is om die waterskeidinggebeure op ‘n warm laat somerdag op die wal van die Komatirivier te belewe. Tydelike sitplekke is vir hierdie gaste aan weerskante van die pawiljoen gebou.
Die Spesiale Taakmag se opdrag was om die spoorlyne vanaf Malelane tot binne die Niemandsland te patrolleer asook die rytuie, wat die Presidensiële wit rytuig ingesluit het. Vir 24/7 het lede van die Spesiale Taakmag ’n spooktrein beman en gepatrolleer om te verseker dat die spoorlyne te alle tye gedomineer en veilig was.
Lede het in die SA-Spoorweghostel te Komatipoort tuisgegaan, waar hulle skofte gewerk en mekaar afgelos het.
Die opdrag was ook om die trein, waarin van die verrigtinge sou plaasvind, voor, tydens en ná die Seremonie te beveilig.
Johan Lotriet het dan ook geklee in volle kamoefleerdrag, gewapen met ’n pistool, die ingang na die wit Presidensiële rytuig, voor, tydens en ná die verrigtinge beveilig.
4.4. Seremonie
Die reëlings en verrigtinge vir die ondertekening van die Verdrag van Nkomati, was die historiese geleentheid in alle opsigte waardig.
Voor die pawiljoen en gaste is erewagte opgestel wat bestaan het uit lede van die weermagte van Suid-Afrika en Mosambiek. Die twee erewagte het hul posisies aan weerskante van die seremoniële tent ingeneem. ’n Entjie verder het die trein bestaande uit Mosambiekse en Suid-Afrikaanse passasierswaens, insluitende die konferensiewa van die bekende presidensiële Wit Trein, gestaan.

Die ondertekening van die Verdrag van Nkomati
Vyf minute later het die Eerste Minister, PW Botha en sy afvaardiging voor die konferensiewa op die platform stelling ingeneem waar hy President Machel ontmoet en hom genooi het om samesprekings in die konferensiewa te voer.
Verteenwoordigers van die media, met inbegrip van persfotograwe en televisiekameramanne, is ‘n kort rukkie in die wa toegelaat.
Vervolgens is elke bladsy van die Verdrag van Nkomati deur die Suid-Afrikaanse Minister van Buitelandse Sake, mnr RF Botha, en generaal Jacinto S Veloso van die Mosambiekse regering, geparafeer.
Nadat die Verdrag van Nkomati onderteken is, het die twee leiers afskrifte aan mekaar oorhandig, asook die goue penne waarmee die Verdrag onderteken is.

Voor vlnr: Minister RF Botha, Premier PW Botha, President Samora Machel, ander lede onbekend

Die tent binne niemandsland, waar die seremonie plaasgevind het
5. SAMEWERKING TUSSEN DIE SPESIALE TAAKMAG EN EENHEID 6 VAN DIE SUID-AFRIKAANSE POLISIE SE ONLUSEENHEID.
(Opgestel deur Hein Kilian)
Die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag was gedurende 1985 te Kemptonparkstasie gestasioneer, gerieflik naby aan die destydse Jan Smuts-lughawe vir vinnige ontplooiing na enige bestemming binne die grense van Suid-Afrika.
Hein Kilian beskryf hoe hy eendag by die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag se basis te Kemptonparkstasie opgedaag het met sy kamoefleerdrag, boshoedjie en geel Ford Sierra V6:
Johan het koffie in hul kroeg gedrink. Hein het homself voorgestel en die moontlikheid van gesamentlike opleiding bespreek. Johan het onmiddellik ingestem en gemeld dat twee mediese dokters van 7 Mediese Bataljon reeds voltyds by die eenheid ontplooi was.
Verder het Johan vir Hein ingelig oor hul samewerking met die SA-Weermag se Spesiale Magte, veral Kolonel Andre Bestbier, toe Bevelvoerder van 1 Verkennings Regiment; Kolonel Kinghorn, wat op daardie stadium in beheer van opleiding was, en Kaptein Jack Greeff, ’n operateur by 1 Verkennings Regiment.
Johan het Hein meegedeel dat hy vir Jack Greeff gehelp het om hul stedelike oorlogvoeringsmodule te ontwerp, en dat hy ook die eerste stedelike kursus, saam met Hein Crocker en Bertram Buchler, suksesvol deurloop het.
Eenheid 6 en die Spesiale Taakmag het oor ’n lang tydperk ’n gesonde verhouding met gesamentlike opleiding opgebou. Snelinbraaktegnieke, vinnige neerlating (fast roping), touwerk en helikopteraanwending op ’n weeklikse basis was aan die orde van die dag.

Helikopteraanwending met die Puma en Alouette helikopters
Wapenhantering en die identifisering van ’n hele reeks vreemde wapens is met mekaar gedeel, asook opleiding in gyselaaronderhandeling.

Chris van Zyl besig met instruksie op Vreemde Wapens
Joe Grant-Grierson, een van die stigterslede van die Hunters en later ook die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag, het ook gehelp met opleiding. Die opleiding het grotendeels selfverdediging en vuurwapenhantering behels.
Hein het nie net ’n professionele verhouding met Johan gehad nie, maar ook op ’n persoonlike vlak totdat Johan in 1986 bedank en by die Nasionale Intelligensiediens aangesluit het. Hulle het weer baie jare later kontak bewerkstellig en sien mekaar nog op ’n gereelde basis.
5. SAMEWERKING TUSSEN DIE SA-WEERMAG SE SPESIALE MAGTE EN DIE SA-SPOORWEGPOLISIE SE SPESIALE TAAKMAG
(Opgestel deur JF Lotriet : OOB)
5.1. Aanvanklike kontak
Gedurende 1984, het die Bevelvoerder van 1 Verkennings Regiment, Kolonel Andre Bestbier, vir Majoor Jack Greeff, in beheer van die opleidingsvleuel verantwoordelik vir Spesiale Tegnieke, ingeroep en opdrag gegee om ’n opleidingsmodule in Stedelike Oorlogsvoering te ontwikkel.
Tot op daardie stadium was Spesiale Magte meerendeels gewikkel in landelike oorlogsvoering, maar het nou meer in stedelike oorlogvoering met die ANC betrokke geraak.
Jack Greef het die Bevelvoerder van die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag, Johan Lotriet, telefonies genader, en gevra of hy nie vir hom in Durban by 1 Verkennings Regiment wou kom kuier nie. Jack was bewus daarvan dat die Spesiale Taakmag opleiding by die Israeliese Yamam en die Duitse GSG9 deurloop het, en dat hulle by die ervaring van die Spesiale Taakmag kon baat vind.
5.2. Samewerking
Johan het gedurende 1984, nadat hy die moontlikheid van samewerking met Spesiale Magte met Brigadier Erlank bespreek en magtiging verkry het, vir Jack Greeff en sersant Jakes Richter in Durban besoek. Jack het sy opdrag ten opsigte van stedelike oorlogvoering met Johan bespreek, waarna tegnieke soos vinnige neerdaling (fast roping), touwerk, vinnige ontplooiing (fast trooping), snelinbraaktegnieke, en kleinspan tegnieke, bespreek is.
Jack Greeff het later in dieselfde jaar ’n werkswinkel tussen 1 Verkenningskommando, die SA-Polisie Spesiale Taakmag en die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag te Durban gereël. Hierdie samekoms was geskiedkundig, aangesien dit die eerste keer was waar Spesiale Magte van 1 Verkennings Kommando, SA-Polisie Spesiale Taakmag en die SA- Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag gesamentlik aan ’n werkswinkel deelgeneem en tegnieke en toerusting gedeel het.
Demonstrasies van vinnige neerlating (fast roping), snelinbraaktegnieke en kleinspanne is deur die verskillende eenhede uitgestal. Die beginsel van vinnige neerdaling (fast roping), vinnige ontplooiing (fast trooping) en snelinbraaktegnieke is vir die eerste keer binne die Suid-Afrikaanse konteks deur Johan Lotriet aan die eenhede bekendgestel. Hierdie tegnieke sou daarna standaard operasionele prosedure word vir die verskillende Spesiale Magte binne Suid-Afrika.
Later dieselfde jaar het lede van die Britse SAS 22 Regiment Johan en die Spesiale Taakmag besoek om tegnieke soos ”killing house” en toerusting te bespreek. Hierdie besoek was die gevolg van ’n uitnodiging en besoek deur Johan aan Hereford, Engeland, waar die SAS gebaseer was. Johan het vir Jack Greeff en van sy instrukteurs uitgenooi na die skietbaan te Esselenpark, waar die gewese lede van die SAS ’n demonstrasie oor die ontsetting van gyselaars en die aanwending van skerpskutters aangebied het.


Jack Greeff se boek, waarin hy erkenning gee aan die SA-Spoorwegpolisie, Spesiale Taakmag vir hul bydrae met die vorming van 1 Verkennings Regiment se stedelike oorlogvoeringsmodule
(met toestemming aangehaal)

‘n Uittreksel uit Jack se boek oor die aanvanklike kontak tussen 1 Verkennings Regiment en die SA-Spoorwegpolisie, Spesiale Magte en die uitnodiging om ’n demonstrasie deur voormalige SAS-lede in Kemptonpark by te woon.
5.3. Gesamentlike opleiding
Johan Lotriet, Hein Crocker en Bertram Buchler het gedurende 1986, die eerste stedelike oorlogvoeringskursus, Spes Magte 704, 8601, te Durban suksesvol deurloop. Gesamentlik het 32 operateurs, bestaande uit 3 groepe, die kursus deurloop. Johan was ook spanleier van een van die spanne vir die duur van die opleiding.
Al drie lede van die Spesiale Taakmag het onder die eerste 10 lede van die kursus geëindig. Die lede se skietkuns en wapenhantering, klein taktieke, het veral uitgestaan, en sowel lede van die Spesiale Taakmag as 1 Verkennings Regiment het baie baat by die kursus gevind.
Die bekendstelling van tegnieke soos vinnige neerdaling (fast roping), klein spanne en wapenhantering, het groot byval by die Spesiale Magte operateurs gevind.
Die stedelike kursus het dan ook die baan geopen vir verdere opleiding tussen die Spesiale Taakmag en 1 Verkennings Regiment, waaronder demolisie en skerpskutopleiding. Verder het lede van 1 Verkennings Regiment ook van die Spesiale Taakmag se opleiding te Kemptonpark deurloop.
Dekbrief waarin aangedui word dat Kaptein JF Lotriet, Adjudant-Offisier H Crocker en Sersant B Buchler die eerste stedelike kursus 704 STEDEOP 8601 suksesvol deurloop het.

Uittreksel uit Jack Greeff se boek waar hy aandui dat drie lede van SA-Spoorwegpolisie, Spesiale Taakmag die eerste Stedelike Oorlogvoeringskursus te Durban suksesvol deurloop het.

’n Uittreksel met foto’s uit Alexander Strachan se boek 1 Recce 2, waar daar verwys word na die SA-Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag, met Kaptein Lotriet, foto bo, as spanleier saam met sy span.




Foto’s tydens die stedelike kursus
5.4. Samewerking
Oor die jare is wedersydse respek en samewerking bewerkstellig tussen die Spesiale Taakmag en Spesiale Magte as ’n geheel. Persoonlike vriendskappe is gesmee wat tot vandag toe nog geld.
Van die samewerking het ondermeer die volgende behels:
- Aanwending van SA-Lugmag helikopters
Met die terugkeer van Johan Lotriet en Louis Botha na hul opleiding by die GSG9 in Duitsland, wou hulle die tegnieke soos vinnige neerdaling (fast roping), vinnige ontplooiing (fast trooping) en touwerk, binne die Spesiale Taakmag vestig.
Die probleem was dat die Spesiale Taakmag spesifieke toerusting moes kry en aan standaard operasionele prosedures (SOP’s)sou moes voldoen, alvorens die SA-Lugmag helikopters aangewend kon word.
Puma helikopter. Met die hulp van Majoor Densil White, van SA- Lugmag Hoofkwartier en sersant-majoor Frans van Dyk, wat later die Bevelvoerder van 1 Verkennings Kommando geword het, is daar ’n demonstrasie by 19 Eskader, die Pumas se basis, gehou.
Die gebruik van die H-raam, wat binne en onder die ratkas van die Puma helikopter geïnstalleer is met die oog op touwerk, is aan Johan verduidelik. Die H-raam het drie lusse aan beide kante gehad waar drie operateurs per kant, gelyktydig geheg kon word.
Die gebruik van beensakke waarin die touwerktou opgerol word, is ook uiteengesit as ’n vereiste om te verhoed dat die tou in die lemme verstrengel raak.
Voor elke opleidingsoefening en/of operasie, is die operateurs behoorlik voorgelig oor die prosedures, drills en gebeurlikheidsbeplanning tydens die aanwending van SA-Lugmag helikopters.
Danksy Spesiale Magte se Sersant-Majoor Frans van Dyk, kon die Spesiale Taakmag hul toerusting en standaard operasionele prosedures (SOP’s) deur die SA-Lugmag Hoofkwartier goedgekeur kry. Dit het ook die gebruik van ’n aantal kernmanteltoue wat aanmekaar gebind is vir die doeleindes van vinnige neerlating (fast roping), ingesluit.

Foto waar die H-raam sigbaar is met twee fast roping-toue, een aan elke kant, met operateurs aan die tou besig met vinnge neerdaling
- Vreemde wapens

Met die hulp van Spesiale Magte Hoofkwartier, is ’n volledige stel vreemde wapens aan die Spesiale Taakmag uitgereik vir die doeleindes van opleiding.
- Sentrarand
Spesiale Magte het die Spesiale Taakmag gekontak met die versoek dat die Spoorwegpolisie hulle behulpsaam sou wees met die aanlê van spoorlyne en die beskikbaarstelling van rytuie vir die inoefening van bepaalde sabotasietegnieke met die oog op ’n operasie wat in Angola beplan was.
Kaptein Herman Buckingham, wat saam met Brigadier Erlank by Teen-insurgensie werksaam was, het in opdrag met Sentrarand gereël vir die aanlê van spoorlyne en die beskikbaarstelling van rytuie wat afgeskryf kon word.
Herman het ook met Koedoespoort gereël vir ’n voorligtingsessie wat deur homself, Johan Lotriet en lede van Spesiale Magte wat die sabotasie sou uitvoer, bygewoon is.
Die voorligtingsessie is opgevolg met demonstrasies van verskillende toerusting om treine te laat ontspoor en/of buite aksie te stel.
- Militêre Psigologiese Instituut (MPI)
Die Bevelselement van die Spesiale Taakmag, Andre Olivier en Johan Lotriet, het besef dat ’n onderhandelingselement noodsaaklik was vir enige suksesvolle operasie. Die Protter-Foxstraat geval, met die gebrek aan sodanige vermoë, en die Lufthansa LH181-insident met die suksesvolle aanwending van ’n opgeleide onderhandelaar, het hulle genoop om na so ’n oplossing te werk.
Die kontak met Kolonel (Dr) Wouter Basson, toe hoof van 7 Mediese Bataljon, het gelei na ’n sekere mediese dokter by 7 Mediese Bataljon, wat die bevelvoerders op sy beurt na Militêre Psigologiese Instituut (MPI) se Majoor Jansen verwys het.
Op daardie stadium het Suid-Afrika nog nie oor ’n kort-, medium- en langtermyn onderhandelingsvermoë beskik nie. In samewerking met Spesiale Magte, Kolonel (Dr) Wouter Basson, Militêre Psigologiese Instituut en Majoor Jansen, is daar gou opleidingsmodules ontwikkel vir die voer van onderhandelings tydens gyselaarsituasies.
Lede van die Spesiale Taakmag, Eenheid 6 van die SAP Onluste Eenheid en Nasionale Intelligensie is opgelei in die beginsels van onderhandelings.
Dit het ook aanleiding gegee tot die skep van ’n vliegtuigkapingssimulasie op die voormalige Jan Smuts-lughawe, waar al die beginsels van onderhandelings, toerusting, en dies meer, getoets is, en wat uiteindelik gelei het tot die suksesvolle ontsetting van die gekaapte vliegtuig.
Hoë gaste soos Generaal Earp, Hoof van die SA-Lugmag, Generaal Knobbel, Hoof van Geneeskundige Dienste, Kolonel (Dr) Wouter Basson en Brigadier Erlank het die oefening bygewoon.
Tydens nabetragting is die oefening as ’n reuse sukses bestempel, waar alle funksies getoets en as geslaagd beskou was. Generaal Knobbel het ook ’n bedrag van R 500,000 goedgekeur vir ’n houer wat ingerig kon word as ’n beheersentrum, en wat agter in ’n C130 kon pas.
- 7 Mediese Bataljon (Geneeshere)
Tydens een van die vele vergaderings wat die Eenheid met Kolonel (Dr) Wouter Basson gehad het, is die behoefte aan geneeshere vanuit die 7 Mediese Bataljon, geopper.
Kolonel (Dr) Basson het na aanleiding van die gesprek drie geneeshere van 7 Mediese Bataljon, elkeen met Spesiale Magte-opleiding, op ’n rotasie- grondslag beskikbaar gestel.
Die mediese ondersteuning het dan ook uitgebrei na die voorsiening van volledige mediese sakke en toerusting (persoonlik en groep), wat tydens hoë risiko-insidente aangewend kon word.
Operateurs moes ook opgelei en gesertifiseer word om mediese gevalle te kon hanteer en stabiliseer tot tyd en wyl beseerdes afgevoer kon word. Toestemming is aan gekwalifiseerde operateurs verleen om oor naweke in die ongevalle-afdelings van sekere hospitale te werk.

Aanstellingsbrief van Aubrey Gilpin om as ‘n gekwalifiseerde mediese operateur in die ongevalle-afdeling te werk.
6. OPLEIDING BY DIE YAMAM IN ISRAEL
(Opgestel deur: Andre Olivier, Beskermheer van die Spesiale Taakmag)
6.1. Inleiding
Die Yamam, Israel se Nasionale Teen-terrorisme Eenheid, is een van vier spesiale eenhede in die Israeliese Grenspolisie. Die eenheid is verantwoordelik vir gyselaarreddingsoperasies en die offensiewe oorname van terreurteikens in stedelike gebiede. Benewens sy militêre en teen-terreur funksies, verrig die Yamam – wat uit sowat 200 operateurs bestaan – ook geheime polisiewerk en taktiese optredes.
Die Yamam het in 1974 tot stand gekom ná die tragiese Ma’alot-slagting waarin 21 skoolkinders dood is tydens ’n mislukte reddingsoperasie deur die Sayeret Matkal-kommando-eenheid van die Israeliese weermag.
6..2. Keuring en Opleiding
Yamam werf slegs veterane van gevegseenhede in die Israeliese Weermag (IDF) of die Israeliese Grenspolisie. Aansoekers moes dus reeds aktiewe diens in ‘n gewone gevegseenheid, ‘n spesiale magte-eenheid of die grenspolisie verrig het en ‘n bevelvoerderskursus voltooi het. Die opleiding duur sewe maande: drie maande van basiese anti-terreuropleiding, gevolg deur vier maande van gevorderde opleiding.
Die opleiding dek ‘n wye spektrum van vaardighede soos die betreding en penetrasie van geboue, vliegtuie, bote en voertuie, rappel, skerpskut, honde-eenhede, valskerms, plofstofhantering en geheime operasies. Hierdie omvattende opleiding stel die eenheid in staat om vinnig en onafhanklik op bedreigings te reageer.
Die Yamam word as een van die top anti-terreur eenhede in die wêreld beskou, soortgelyk aan die Amerikaanse Navy SEALs en die Britse SAS.
6.3. Die Ma’alot-slagting: 14–15 Mei 1974
Drie gewapende lede van die Demokratiese Front vir die Bevryding van Palestina het Israel vanaf Lebanon binnegedring, verskeie aanvalle uitgevoer, en ondermeer 100 leerders aan die Netiv Meir Laerskool in Ma’alot as gyselaars geneem.
‘n Reddingspoging deur die Sayeret Matkal het tragies geëindig en 25 gyselaars, waaronder 22 kinders, is gedood terwyl 68 beseer is.
6.4. Opleiding van Kaptein Ali Jooste en Luitenant Andre Olivier in Israel (1980)
Ná die voltooiing van ses weke se TIN-opleiding op Maleoskop, is kaptein Jooste en luitenant Olivier na Israel gestuur vir verdere spesialisopleiding by die Yamam. Hulle het Israel as eersteklas-passasiers op SAL bereik – ‘n welkome verligting ná ‘n week van primitiewe toestande in die bos.
Hulle is volledig in die Yamam geïntegreer en het die eenheid se uniforms, toerusting en wapens gebruik. Een merkwaardige verandering was die oorskakeling na ligter taktiese stewels wat meer geskik was vir stedelike operasies in geboue en vervoer.
Die opleiding was intens en het wapenvaardigheid, teikenidentifikasie en stedelike oorlewingstegnieke behels. Olivier, reeds ‘n 3de Dan swartgordel en selfverdedigingsinstrukteur, het erkenning gekry vir sy vaardighede in hand-tot-hand-gevegte, terwyl die fokus veral op wapens, toerusting en taktiek geval het.
Die opleiding het behels dat daar onder streng tydsdruk op ’n hoë standaard presteer word deur, byvoorbeeld, ‘n versteekte pistool binne 1 tot 2 sekondes, uit te trek, te span en ‘n teiken op 10 meter raak te skiet. Mislukkings is uitgewys met die skerp woorde “Lo toff!” (Hebreeus vir “nie goed nie”).
Fisiese opleiding het dag en nag aspekte soos geboupenetrasie, (Monkey teams) opklim teen waterpype en afdaal in hysbakskagte ingesluit. Oefeninge is uitgevoer vanaf Eilat in die suide tot by Masada en Jerusalem in die noorde, asook Ashdod vir maritieme opleiding.

6.5. Spesiale Taakmag ”Monkey Teams”
Foto’s en aantekeninge van die opleiding is gebruik in die ontwikkeling van die opleidingstelsel vir die Suid-Afrikaanse Spesiale Taakmag, later bekend as die “Takies”.
Voedsel was ’n uitdaging vir die twee Suid-Afrikaners: vleis was skaars, en groente en vrugte het die dieet oorheers. Een dag het hulle ’n hele salami in een sitting geëet – ‘n storie wat generaal Zvi Bar laat glimlag het. As gevolg hiervan het die eenheid ‘n “braai” op die strand van Tel Aviv gereël – met sand en al!
6.6. Samehorigheid en Terugkeer na Suid-Afrika
Die samehorigheid in die Yamam was uitstaande. Elke lid het 100% op die ander lede staatgemaak. Die operasies was uiters riskant en het deurlopende fokus vereis.
By hul terugkeer, is luitenant Olivier met die stigting van die Spesiale Taakmag van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie getaak. Basisse is in Esselenpark en later ook Kemptonpark gevestig. Opleiding is gebaseer op Yamam-standaarde, insluitende streng sielkundige keuring – met ’n hoë uitvalsyfer.
Weens sanksies teen Suid-Afrika het Krygkor, Spesiale Verkrygings, ’n sekere Mnr Don Willmot gehelp met die invoer van spesiale toerusting.
Generaal André Horak en brigadier Gustav Erlank het kritieke ondersteuning verskaf en was gerespekteerde leiers wat die sukses van die Spesiale Taakmag verseker het.
6.7. Slotgedagte:
Volgens Olivier hoef niemand wat in ’n elite-eenheid opgelei is, enigsins iets te bewys nie. Die doel van hierdie geskiedenis is eenvoudig om feite en ervaring vir die rekord te bewaar.
Datum uitgereik: 26 Mei 2025
7. SAMEWERKING MET DIE VLOOT
(Opgestel deur Andre Olivier, Beskermheer van die Spesiale Taakmag)
7.1. Inleiding:
In die 1970’s het Suid-Afrika toenemende bedreigings tot interne stabiliteit in die gesig gestaar, sowel van binne as buite ons grense. Destyds het die Suid-Afrikaanse Spoorweë die ruggraat van die nasionale ekonomie gevorm en spoor-, pad-, lug- en maritieme vervoerstelsels ingesluit.
Met erkenning aan die strategiese belangrikheid en kwesbaarheid van die vervoersektor, het die Staatsveiligheidsraad (SVR) opkomende bedreigings wat teen daardie tyd van landelike opstand na stedelike konflik verskuif het, in heroënskou geneem. Hierdie neiging het wêreldwye ontwikkelings weerspieël, aangesien baie lande nou met stedelik-gebaseerde veiligheidsuitdagings soos vliegtuigkapings, passasierskipoornames, seerowery en die kaping van busse, geworstel het.
In reaksie hierop, het die Staatsveiligheidsraad (SVR) die SA-Spoorwegpolisie opdrag gegee om die kapasiteit te ontwikkel om sulke vervoerverwante bedreigings teë te werk. In 1980, onder die opdrag van die Kommissaris van die SA-Spoorwegpolisie, wat ‘n ondertekenaar van hierdie mandaat was, is nuwe verantwoordelikhede op die gebied van terrorismebestryding geformaliseer.
7.2. Maritieme bedreigings:
Wêreldwyd was daar twee hooftipes bedreigings vir maritieme bedrywighede, naamlik seerowery en die kaping van passasierskepe soos die Achille Lauro, ‘n Italiaanse passasierskip.
Soos met enige ander terreurdaad, byvoorbeeld vliegtuigkapings, is die motief om druk op die regering te plaas om een of ander omstrede besluit te neem.
7.3. Seerowery:
Seerowery is al eeue lank ‘n bedreiging en is steeds algemeen in verskeie dele van die wêreld. As ons na net een geografiese gebiedsnaam kyk, byvoorbeeld Indonesië, sien ons dat dit die land met die meeste seeroweraanvalle is. 2,133 voorvalle is reeds in die afgelope 30 jaar aangeteken. Die buurland, Maleisië, volg met 775 aanvalle.

‘n Voorbeeld van seerowery-insidente in die wêreld
7.4. Die Achille Lauro-voorval:
Die Achille Lauro is op 7 Oktober 1985 deur vier mans van die Palestynse Bevrydingsfront (PLF) gekaap. Die skip het aan die kus van Egipte geseil, terwyl sy van Alexandrië na Ashdod, Israel, op pad was. ‘n 69-jarige Joods- Amerikaanse man in ‘n rolstoel, Leon Klinghoffer, is deur die kapers vermoor en oorboord gegooi.

Die Achille Lauro
7.5. Suid-Afrikaanse Maritieme Voorvalle:
Hoewel daar sedert die ontstaan van die Spesiale Taakmag geen voorvalle van seerowery of noemenswaardige voorvalle in Suid-Afrikaanse waters was nie, het die SVR besef dat dit ‘n internasionale terrorisme-aktiwiteit is en dat teenmaatreëls ontwikkel en ingeoefen moes word.
Verskeie moontlike scenario’s is geïdentifiseer wat maritieme voorvalle aanbetref, naamlik:
- ‘n Vaartuig op die oop see onder dwang van terroriste
- ‘n Vaartuig wat die ingang na ‘n Suid-Afrikaanse hawe versper wat onder dwang is, en
- ‘n Vaartuig in die hawe onder dwang
Enige van hierdie voorvalle sou onnodige druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas en die SA-Spoorwegpolisie se Spesiale Taakmag het die taak gehad om taktiese teenmaatreëls te ontwikkel.
7.6. Moontlike intervensiestrategieë:
Om aan boord van ‘n vaartuig te gaan, het beperkte opsies gehad:
- Valskermspring op die vaartuig
- Rappel vanaf ‘n helikopter op die vaartuig
- Die gebruik van snelbote om die vaartuig te bestyg (soortgelyk aan die Somaliese seerowers)
Opsie een – valskermspring – het ‘n beperkte sukses gehad en is nooit beoefen nie.
7.7. 4 Verkennings Regiment:
4 Verkennings Regiment is gebaseer in Langebaan, Saldanhabaai, aan die Weskus, noord van Kaapstad en is in 1978 gestig. Die regiment bestaan uit drie operasionele kommando’s sowel as die “Special Forces Amphibious and Urban School”.
Andre Olivier het 4 Spesiale Magte Regiment in Langebaan besoek om hul seevaart-opsies, soos hoë-aangedrewe bote en hul toerusting en ontplooiingsmoontlikhede, te bespreek. Daar is ook na die kajakke gekyk vir stil-ontplooiing, en die Barracuda, ‘n stewige rompboot.

Geen formele opleiding is met 4 Spesiale Magte Regiment gedoen nie.
7.8. Suid-Afrikaanse vloot:
Slagboom – tydens die operasionele gereedheidsdemonstrasie aan die Minister en die Kommissaris by Slagboom, het die Spesiale Taakmag ook Zodiac-rubberbote met buiteboordmotors van die SA-Vloot in Port Elizabeth geleen. (Meer hieroor in ‘n latere artikel oor Slagboom).

Wateraanwending by Slagboom-opleidingsentrum
Daar was ‘n baie goeie werksverhouding tussen die SA-Vloot en die SA-Spoorwegpolisie. Een van die redes hiervoor was die hawens waar sowel die SA-Vloot as die SA-Spoorwegpolisie vaartuie gehad het en gereelde seewaartse patrollies en polisiëringsoperasies uitgevoer het.

SA Vloot Namacurra hawepatrollieboot
As kaptein in die SA-Spoorwegpolisie in Oos-Londen het Andre Olivier gereeld saam met die SA-Vloot en hul duikers in die Oos-Kaap gewerk. Die Suid-Afrikaanse Mariene Korps is eers in 1951 tot 1955 as ‘n subtak van die SA-Vloot gestig en daarna in 1979 tot 1990 hervorm, albei kere met die primêre doel om die land se hawens te beskerm.
Daar is egter besluit dat daar geoefen sou word met rappell / vinnige neerlating (fast roping) ontplooiing op ‘n vaartuig vanaf ‘n helikopter. Staande voorafgoedkeuring is van die Tesourie gekry om die SA-Lugmag op te taak vir die gebruik van hul vliegtuie. Die knooppuntkontak was majoor Densil White. (Meer oor die samewerking met die SA-Lugmag in ‘n latere artikel).
Brigadier Erlank het met die admiraal van die SA-Vloot gereël om ‘n aanvalsvaartuig vir die oefening in die see en vir die duur van die oefening, beskikbaar te stel.

SA Vloot aanvalsvaartuig
‘n Puma-helikopter en ‘n Skymaster-vliegtuig is deur die Spesiale Taakmag via majoor Densil White aan die SA-Lugmag gestuur. Die admiraal sou ‘n sein aan die vlootbasis in Durban stuur waar die SA-Vloot mariniers gestasioneer was.
7.9. Vlootbasis Salisbury Island – Durban:
Met Andre en Johan se aankoms by die vlootbasis in Durban het hulle by die basisbevelvoerder aangemeld wat ‘n vlootkaptein was – gelykstaande aan ‘n volle kolonel in rang. Hulle het hom ingelig wie hulle is en wat die doel van hul opleidingsending en doelwitte was. Op hierdie stadium het hy nog nie die sein van die vloothoofkwartier in Pretoria ontvang nie.
Die basisbevelvoerder het die bevelvoerder van die mariniers ingeroep. Toe hy hoor wat ons wou doen, was sy antwoord: “Jy wil wat doen?”
Andre het die basisbevelvoerder gevra of hy sy landlyn op sy lessenaar kan gebruik (dit was jare voor die internet en selfone). Hy het toe brigadier Erlank gebel en die situasie verduidelik en dat die sein nog nie op die vlootkaptein se lessenaar aangekom het nie. Brigadier Erlank het vir Andre gesê om ‘n opvolgoproep te verwag. ‘n Rukkie later het die hoof van die SA-vloot gebel en die basisbevelvoerder opdrag gegee om ‘n aanvalsvaartuig op see beskikbaar te stel vir die duur van die oefeninge.
7.10 Die streng waarskuwings en ontplooiing:
Beide die basis bevelvoerder en die mariene bevelvoerder het Andre en Johan ingelig oor die gevare verbonde aan die uitvoering van hierdie opleidingsoperasie.
Eerstens is die heersende seetoestande, aan hulle beskryf. Dit sluit die toestand van die seeoppervlak in, met die fokus op golfeienskappe soos hoogte, tydperk en rigting. Hierdie toestande word deur wind beïnvloed en kan wissel van kalm met minimale golfaktiwiteit tot baie rof met beduidende golwe en spuit.
Die wind, golfhoogte, golfperiode en golfrigting is bespreek. Die seestaat op die dag was matig: ligte tot matige golwe, met ‘n paar witperde moontlik. Dit kan gesien word op die werklike foto’s wat op die betrokke dag geneem is.

Spesiale Taakmag operateurs besig met ontplooiing op ‘n bewegende aanvalsvaartuig tydens gesamentlike operasie tussen die Spesiale Taakmag, die SA-lugmag en Suid-Afrikaanse Vloot
Tweedens die feit dat die vaartuig op en af in die water beweeg, van links na regs en van agterstewe na boeg rol. As operateurs die einde van die tou bereik en hulle is nie oor die vaartuig is nie, gaan hulle in die see beland. Die ander groot bedreiging was as die tou van die helikopter in die water beland en deur die twee skroewe van die aanvalsvaartuig vasgevang word.
7.11. Gevolgtrekking:
Een van die vele baanbrekende voorbeelde van samewerking tussen die verskillende statutêre magte om die gegewe taak om enige bedreiging te oorwin en daar voor te berei, te oortref. Wel gedaan, Takies.
Datum: 26 Mei 2025
8. VERJAARSDAE EN STERFGEVALLE
Verjaarsdaglyste en kennisgewings van afsterwe, oor die afgelope rapporteringstydperk:
8.1. Verjaarsdae
- Geen
8.2 Kennisgewing van afsterwe:
- Geen
9. UITSTALLING BY DIE MUSEUM, VOORTREKKER MONUMENT
9.1. Die bestuur van die museum het vir al die Magte, insluitende die voormalige SA-Spoorwegpolisie, ruimte geskep waar hulle uitstallings kan voorberei om die geskiedenis vir die nageslag te bewaar.
9.2. Fanie Booysen het Johan Lotriet versoek om hom na die museum te vergesel en met voorstelle te kom oor die moontlike uitstalling.
9.3. Johan Lotriet se voorstel was dat al die afdelings van die Mag, insluitende die Spesiale Taakmag, deur middel van foto’s en geskrifte uitgebeeld sal word.
9.4. Johan Lotriet sal die voorstel met die Bevelvoerdersgroep en die bestuur van die Assosiasie uitklaar.
10. BESPREKINGSPUNTE VIR DIE VOLGENDE UITGAWE
10.1. Alle lede word uitgenooi om maandeliks insette te lewer met die deel van stories, gebeurtenisse en idees.
10.2. Daar word versoek dat insette vroegtydig aan Johan Lotriet gestuur word by e-posadres: jflotriet3@gmail.com of WhatsApp: +27 82 769 1505, maar nie later as die 15de van elke maand nie.
10.3. Vliegtuigkaping ’n werklikheid
10.4. Anti-kapingseenheid
10.5. Die Bom Lorry
10.6. Die Ford bakkie
10.7 Die wit VW kewer
10.8. Die Kerkstraatbom – Deel 2



Nota: Die nodige toestemming om uit die boek aan te haal is deur mnr Lotriet by mnr Greef bekom – namens Redaksie Nongqai.