Nongqai Vol 17 No 7 – Kriptografie

Abstract

This article recounts the professional journey of Ida Steyn, who began working at the SAP/SAPS Security Branch in Potchefstroom in 1986 and later qualified as a cryptographer through the highly classified SAKSA training programme. She describes the demanding nature of cryptographic work, strict security protocols, and the responsibility of safeguarding confidential, secret, and top‑secret police communications. Steyn outlines the operational environment, including controlled access facilities, inspections, key‑card management, and the introduction of modern encrypted communication systems such as the Data 6. Her later appointment as crypto controller for the former Wes‑Transvaal province illustrates the high level of trust, discipline, and integrity required in police cryptographic operations. The article preserves an important part of South Africa’s policing and intelligence heritage.

“Kriptografiese toerusting is gespesialiseerde kommunikasietoerusting… om Vertroulike, Geheime en Uiters Geheime inligting veilig te versend en te ontvang.”

“Dit was ’n posisie wat groot verantwoordelikheid, absolute integriteit en onwrikbare dissipline vereis het.”

Keywords

cryptography, SAP, SAPS, Security Branch, Potchefstroom, SAKSA, classified communication, key‑cards, encrypted police communication, Data 6, Crime Intelligence, crypto controller, secure communication systems, policing heritage, South African intelligence history

KRIPTOGRAFIE – ’N GROOT VERANTWOORDELIKHEID

Ida Steyn

Gedurende 1986 begin ek by die Veiligheidstak se Provinsiale Kantore in Potchefstroom werk. Nadat ek lank in uniform gewerk het, was alles vir my vreemd en nuut. Ek was skaars drie maande by die Veiligheidstak toe ek na Pretoria gestuur is om ’n Kriptografiese Kursus by SAKSA (Suid-Afrikaanse Kommunikasie-Sekerheidsagentskap) by te woon. Ons was twee jong sersante van Potchefstroom wat vir die kursus genomineer is.

Die kursus was uiters veeleisend en het onder streng geheime omstandighede plaasgevind. Slegs sewentien lede is tot die kursus toegelaat. Ons het praktiese en teoretiese opleiding ontvang, gereeld toetse geskryf en baie hard gestudeer.

Niks van die opleidingsmateriaal mog die kantore verlaat nie. Alles moes in jou geheue vasgelê word, aangesien geen handleidings huis toe geneem kon word nie. Elke oggend is die handleidings aan ons uitgereik en rekord daarvan gehou. Teen 16:00 moes alles weer ingehandig word. Die slaagpunt was 90%, en indien ’n student meer as een toets gedruip het, is hy of sy onmiddellik aan die kursus onttrek.

Gedurende die kursus het ons onder andere die volgende geleer:

  • Kriptografiese toerusting is gespesialiseerde kommunikasietoerusting wat gebruik word om Vertroulike, Geheime en Uiters Geheime inligting veilig te versend en te ontvang. Die hoofdoel daarvan is om radio- en ander kommunikasie te enkripteer sodat ongemagtigde persone nie operasionele boodskappe kan afluister of verstaan nie.
  • Die kursus het ons toegerus met die kennis om sensitiewe polisiekommunikasie te beskerm en te verseker dat operasionele inligting veilig tussen eenhede oorgedra word.
  • Ons het die werking van sleutelkaarte bestudeer. Hierdie kaarte het die enkripsiesleutels bevat en is streng beheer. Hulle moes volgens vaste veiligheidsprosedures gehanteer word en was slegs vir gemagtigde personeel toeganklik.
  • Ons is opgelei in die korrekte hantering, gebruik en bewaring van alle kriptografiese toerusting.
  • Ons het die definisies en klassifikasies van Vertroulik, Geheim en Uiters Geheim deeglik bestudeer.

Ek en sersant Schoonhoven het die kursus suksesvol voltooi en is daarna by die telekskantoor in Potchefstroom aangestel, waar ons saam met die dames in die telekskantoor gewerk het.

Op daardie stadium was daar reeds twee ervare kriptograwe, oom Ben Beukman en oom Stan van der Merwe.

Ons is op bystandsdiens ingedeel. Die toerusting is in ’n instapkluis geberg, waar streng toegangsbeheer toegepas is. Binne die groot kluis was daar nog ’n kleiner kluis waarin die sleutelkaarte en handleidings bewaar is. Die instapkluis het geen vensters gehad nie en was toegerus met ’n Chubb-deur en ’n kombinasieslot.

Alle kantore van die Veiligheidstak moes aan streng veiligheidsvereistes voldoen. Vensters en deure is met traliewerk beveilig en toegangsbeheer is toegepas soos voorgeskryf deur SAKSA. Toegang tot die kriptografiese kantoor was uitsluitlik tot gemagtigde kriptografiese personeel beperk. Selfs bevelvoerders het nie sonder magtiging toegang gehad nie.

Elke dag het sy eie uitdagings gebied. Veiligheidstak Hoofkantoor in Pretoria het gereeld inspeksies by die kriptografiese kantore in die onderskeie provinsies uitgevoer. Die toerusting, sleutelkaarte, slotkombinasies en ander veiligheidsaspekte is deeglik nagegaan. Daarna is verslae aan die onderskeie bevelvoerders sowel as aan SAKSA voorgelê.

Met verloop van tyd is moderner toerusting, bekend as die Data 6, in gebruik geneem. Hierdie apparaat is aan ’n faksmasjien gekoppel en alle kommunikasie is steeds volgens die streng voorskrifte van SAKSA hanteer. Die Data 6-toerusting is deur Veiligheidstak Hoofkantoor in Pretoria uitgereik.

Hierdie toerusting is by ons kantoor sowel as by takkantore in elke provinsie geïnstalleer. Dit het kommunikasie aansienlik vergemaklik. Geklassifiseerde inligting kon nou direk van een kantoor na ’n ander versend word, steeds in ’n volledig geënkripteerde vorm.

Voordat toerusting geïnstalleer is, is elke kantoor deeglik geïnspekteer om te verseker dat dit aan alle veiligheidsvoorskrifte voldoen.

Later is ek as kriptobewaarder vir die destydse Wes-Transvaal, vandag Noordwes, aangestel. Hierdie aanstelling het ’n baie groter verantwoordelikheid meegebring.

Die pligte van ’n kriptobewaarder het onder andere die beheer, beskerming, inspeksie en instandhouding van alle kriptografiese toerusting in die provinsie ingesluit. Gereelde terugvoering is aan Hoofkantoor gegee, waarna hulle weer aan SAKSA gerapporteer het.

Ons samewerking met Hoofkantoor was besonder goed. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek kolonel Ben Meyer en sy personeel goed leer ken het. Ons het Hoofkantoor gereeld besoek en ook gereelde werkswinkels bygewoon.

Wanneer ons enige kriptografiese toerusting vervoer het, moes ons te alle tye gewapen wees.

Gedurende hierdie tydperk het ek die paaie van Noordwes soos die palm van my hand leer ken. Ons het dikwels reeds om 04:00 vertrek na afgeleë kantore, byvoorbeeld Pudimoe, wat teen die Noord-Kaap grens en ongeveer 40 km vanaf Hartswater geleë is.

Ander dae het ons roetes ons na Vryburg, Mmabatho, Zeerust, Lehurutshe en Lichtenburg geneem. Gereeld het ons ook na Brits en Rustenburg gereis.

Kriptografiese toerusting is onder andere by die volgende eenhede gebruik:

  • Alle Misdaadintelligensie-kantore in die provinsie.
  • Die Provinsiale Kommissaris.
  • SSA.
  • Koverte persele.
  • Goud- en Diamanttakke.
  • Die BBP-eenheid in Mafikeng.
  • Georganiseerde Eenhede.

Omstreeks 2010 is die Data 6-faksstelsel vervang deur rekenaarsekerheidstelsels vir veilige kommunikasie binne Crime Intelligence en ander spesialiseenhede.

Wanneer ek vandag terugkyk, besef ek watter besondere voorreg dit was om as kriptobewaarder aangestel te word. Dit was ’n posisie wat groot verantwoordelikheid, absolute integriteit en onwrikbare dissipline vereis het. Ek bly dankbaar vir die vertroue wat in my gestel is.

My opregte dank gaan aan al my kollegas in die dorpe van Noordwes met wie ek die voorreg gehad het om saam te werk. Bo alles is ek my Hemelse Vader dankbaar dat Hy ons deur al die jare beskerm, behoed en bewaar het.

Groete

Ida Steyn