Nongqai Vol 17 No 7 – Admiraal Dieter Felix Gerhardt

Abstract (English)

This article examines the life, espionage activities, and eventual death of Rear Admiral (JG) Dieter Felix Gerhardt, one of the most significant Soviet GRU agents to operate in the Western world during the Cold War. Gerhardt, a highly skilled South African naval officer with access to sensitive strategic information, spied for the Soviet Union from the 1960s until his arrest in 1983. His activities included photographing and transmitting thousands of classified South African Defence Force and Western military documents to his GRU handlers, making him a “mega‑spy” of exceptional value to Moscow.

The article outlines his naval career, his recruitment by the Soviets, the role of his wife Ruth as courier, and the eventual counterintelligence investigation led by senior officers of the South African Police Security Branch. It highlights the ethical stance taken by General‑Major Frans Steenkamp, who insisted Gerhardt be treated lawfully despite pressure for extrajudicial action. After being convicted of high treason and sentenced to life imprisonment, Gerhardt was released in 1992 during South Africa’s political transition and later officially pardoned.

The narrative also includes commentary from intelligence professionals, reflections on security‑clearance failures, and archival material from the SAP Museum. Gerhardt’s legacy remains deeply controversial—seen by some as a traitor and by others as an anti‑apartheid actor motivated by ideology. His death in July 2026 closes the chapter on one of South Africa’s most complex and impactful espionage cases.

Keywords

GRU (Russian Military Intelligence), Dieter Felix Gerhardt, South African Navy, Cold War espionage, Mega‑spy, Soviet Union, Intelligence operations, Security Branch (SAP‑VT), High treason, Counterintelligence, Craig Williamson, Herman Stadler, Ruth Gerhardt, Security clearance, KGB handlers, Simon’s Town Naval Base, Apartheid-era intelligence, Political pardon, Nongqai,

GRU VAN RUSLAND: DIE DOOD VAN SKOUT-ADMIRAAAL (JG) DIETER GERHARDT EEN VAN GRU SE MEGA-SPIOENE

Hennie Heymans (Brig SAP)

Kenteken van die GRU

By vector-images.com – Uploaded by Espfutbol98, Public Domain,

https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=18612842

Die GRU is die buitelandse militêre inligtingsagentskap van die Generale Staf van die Gewapende Magte van die Russiese Federasie. Die agentskap se taak is om militêre inligting te bevorder deur die versameling en ontleding van intelligensie wêreldwyd, asook die uitvoering van geheime en klandestiene operasies. Die GRU beheer die militêre inligtingsdiens en beskik oor sy eie spesiale magte‑eenhede.

Admiraal Dieter Felix Gerhardt (1935–2026)

Familiefoto verskaf deur admiraal Gerhardt

Skout-Admiraal (JG) Dieter Felix Gerhardt, voormalige bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Vlootbasis Simonstad, is op 8 Julie 2026 op die ouderdom van 91 jaar oorlede. Hy was een van die mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis, veral weens sy langdurige en diepgaande betrokkenheid by spioenasie vir die Sowjetunie.

Gerhardt het ’n indrukwekkende loopbaan in die Suid-Afrikaanse Vloot gehad en het tot die rang van kommodoor gevorder. Sy militêre kundigheid, tegniese insig en toegang tot strategiese inligting het hom ’n waardevolle spioen vir die Sowjetunie gemaak.

Gedurende die 1960’s tot sy arrestasie in 1983 het hy as ’n MEGA‑SPIOEN vir die Sowjetse GRU opgetree — ’n rol wat hom internasionaal bekend of berug gemaak het.

Sy spioenasie het hoogs sensitiewe inligting oor vlootbewegings, wapenstelsels en Westerse militêre samewerking aan die Sowjetunie verskaf. Die omvang van sy aktiwiteite het hom een van die mees effektiewe en langdurige Sowjet‑inligtingsbronne in die Westerse wêreld gemaak.

Hy is uiteindelik skuldig bevind aan hoogverraad en tot lewenslange tronkstraf gevonnis, maar is in 1992 vrygelaat as deel van die politieke hervormings van die nuwe Suid-Afrika. Sy misdaadrekord is uitgevee. Hy is weer in ere-herstel as skout-admiraal (JG).

Gerhardt se nalatenskap bly kompleks: aan die een kant ’n bekwame vlootoffisier, aan die ander kant ’n sleutelrolspeler in die globale spioenasie‑spel van die Koue Oorlog. Sy dood bring ’n einde aan die lewe van ’n man wie se dade die internasionale veiligheidslandskap vir dekades beïnvloed het.

Vanuit ons vakgebied nl. strategiese studies kan ons net meld: Hy was immers ‘n hoë vloot-offisier met uitstekende kontakte wat hom natuurlik ‘n MEGA-SPIOEN gemaak het. Dis ‘n baie interessante saak met verskillende invalshoeke.

As lid van die veiligheidstak het ek duisende bron-verslae gelees. Ons eie maj Craig Williamson – ook ‘n top-spioen – het onder dekking honderde verslae gestuur maar ek dink admiraal Gerhardt het hom oortref deur derduisende SAW- en ander verdedigingsdokumente te fotografeer en na sy GRU-hanteerders te stuur.

Wyle genl Herman Stadler SAP(V) was die hoofondersoekbeampte (Foto: Hennie Heymans). Hy het baie staaltjies oor die ondersoek met my gedeel.

Lt-genl Andre Beukes rapporteer op 9 Januarie 2010 onder meer soos volg:

“Tov Dieter Gerhardt;

  • Herman Stadler,
  • Hannes Gloy,
  • Deon Greyling was ondersoekers; Herman senior.

Daar is video oor die saak gamaak met al die bewysstukke en die plekke in Kaapstad waar die KGB hanteerder die info by die DLB’s kollekteer het. Van die bewysstukke het na die saak soekgeraak. “

Spesiale Uitgawe van die Nongqai

'n Foto wat teks, person, hoed, persoon bevat Beskrywing outomaties gegenereer

(Ons het gedurende 2024 ‘n spesiale Nongqai oor admiraal Dieter Gerhardt publiseer, sien: https://www.nongqai.org/nongqai-dieter-gerhardt-spy-case-special-edition/ ).

Gertina van der Merwe voorheen van AMI (DTI) skryf op Facebook:

“… die Dame wat sy sekerheidsklaring gedoen het in 1978 het veral sy finansiële en flambojante leefstyl asook sy talle oorsese besoeke uitgewys as rooiligte vir moontlike spioenasie maar agv sy hoë profiel en gladde mond is dit so effe onder die mat ingevee as ek dit so kan stel.

Hy het geen lojaliteit teenoor enige iemand gehad nie, hy het vir finansiële gewin gewerk. Hy het tydens opleiding in die VK homself by die Russiese Ambassade gaan aanmeld. Hy was eers met ‘n Britse vrou getroud en sy het hom geskei en is terug na die VK toe sy uitgevind het waarmee hy besig was.

Ruth was sy tweede vrou, ’n Switserse vrou en het ook opgetree as koerier.

Hy het in die vloot beland agv sy pa se verbintenis met n vorige baie bekende Admiraal, dit was agv van die moontlikheid van tronkstraf. Eers in die tagtiger jare is daar meer kennis geneem van sekerheidsklarings en is baie klem gelê op die persoonlikheid en die risikofaktore wat kon bydra tor voorvalle van spioenasie”.

(Volgens Henning van Aswegen het drie offisiere met sy keuring gewerk.)

‘n Foto van mnr Gerhardt senior

Admiraal Gerhardt het bevestig dat die persoon op die foto sy Vader is – ek het hom van ‘n kopie voorsien.

Kommentaar deur dr WP Steenkamp (Oud-NI en seun van genl FMA Steenkamp – destyds hoof van die veiligheidstak)

Genl-maj FMA Steenkamp

Die destydse SAP-VT se hantering van hierdie sensitiewe saak was lofwaardig. Dit was gebaseer op regmatigheid en moraliteit, soos by afskop al geïllustreer deur ‘n minder-bekende insident.

Die VSA het die Suid-Afrikaanse owerhede vooruit gekontak om te waarsku dat Gerhardt onder FBI begeleiding op ‘n vliegtuig na Johannesburg geplaas sou word, vir oorhandiging aan die SAP (as enigste entiteit met arres-bevoegdheid).

Sou Gerhardt se verraad aan die publiek bekend word by wyse van sy verskyning in ope hof, sou dit duidelik ernstige verleentheid skep vir PW Botha en die SAW. Daar was dus mense in top-kringe wat hard gedruk het dat Gerhardt, by aankoms, summier op ekstra-geregtelike wyse hanteer moes word, om só die noodsaak vir ‘n hofsaak uit te skakel en daardeur negatiewe publisiteit te vermy.

Generaal-majoor Frans Steenkamp, toe bevelvoerder van die SAP-VT, het egter sterk standpunt ingeneem hierteen en het vas gestaan op die beginsel dat – al mag Gerhardt ‘n verraaier wees – hy steeds geregtig was op die reg op lewe en behoorlike regsproses.

Om seker te maak dat niks onvanpas met Gerhardt gebeur nie, het generaal Steenkamp van sy mees senior offisiere na die lughawe gestuur om Gerhardt persoonlik op die vliegtuig in bewaring te gaan neem en hom dan na ‘n SAP-VT aanhouding-fasiliteit te begelei waar hy veilig sou wees teen enige pogings om die loop van die reg voor te spring…

Die SAP-museum

Daar was ‘n enorme hoeveelheid inligting beskikbaar in die ou SAP-museum oor admiraal Gerhardt se bedrywighede. Hier is ‘n foto wat ek destyds geneem het:

Samevatting

Dieter Gerhardt was ’n briljante maar omstrede vlootoffisier wat vir meer as twee dekades vir die Sowjetunie gespioeneer het. Hy het enorme hoeveelhede geheime aan Moskou verskaf, is uiteindelik ontmasker, gevonnis en later volle amnestie ontvang en sy kriminele oortredings is uitgevee maw hy het ‘n skoon rekord.

Tot sy dood het hy volgehou dat hy nie ’n verraaier was nie, maar ’n anti-apartheid stryder wat volgens sy gewete opgetree het.

Sy lewe bly ’n mengsel van idealisme, bedrog, tragedie en politieke kompleksiteit. Alle erkenning aan die SA Polisie se veiligheidstak wat seker gemaak het dat Dieter Gerhardt sy dag in die hof kon hê.

Vrywaring

As Nongqai is ons verbind om oor die verlede te skryf sonder om in die verlede te leef. Ons bied nasionale veiligheidsgeskiedenis aan sonder kwaadwilligheid, en ons sal nooit die name van inligtingsbronne verklap of inligting verstrek wat tot nadeel van veterane kan wees nie.