Nongqai Vol 17 No 7 – Dr I de Vries
Abstract (English)
This article by Dr Ian De Vries examines how persistent political interference has weakened the South African Police Service (SAPS) and contributed to decades of organisational dysfunction. Drawing on historical examples, structural analysis, and current crises highlighted before the Madlanga Commission, De Vries argues that SAPS’s bloated rank system, promotion-for-pay culture, and erosion of experienced officers have severely undermined policing effectiveness. He contends that political meddling—from ministers influencing operational decisions to long‑standing tensions between commissioners and cabinet members—has become a systemic obstacle to professional policing. De Vries proposes a radical restructuring: abolishing the position of Minister of Police, depoliticising SAPS leadership, and placing accountability under a multi‑party parliamentary policing committee. This, he argues, would curb unethical political influence, retain expertise, and restore public trust in law enforcement.
Keywords (English)
SAPS reform; political interference; police governance; rank structure; Madlanga Commission; South African policing; depoliticisation; organisational restructuring; police minister; accountability; public trust; law enforcement management.
SKRAP DIE MINISTER VAN POLISIE SE POS EN HERSTRUKTUREER DIE SAPD
Dr. Ian De Vries

Politieke inmenging het die Suid-Afrikaanse Polisiediens op sy knieë. Die parlementêre ad hoc-komitee begin nou sy verslag saamstel en die Madlanga-kommissie van ondersoek se sperdatum is pas deur pres. Cyril Ramaphosa tot 16 November verleng. Suid-Afrikaners is keelvol vir slim praatjies en valse beloftes deur politici. Die tyd is oorryp vir die SAPD om ‘n skoon blaadjie om te slaan. Maar hoe sal dit lyk?
Die uitdrukking “‘n vis vrot van sy kop af” is ongelukkig nou op die geskorste minister van polisie en sy departement, die SAPD van toepassing. Vertroue in die SAPD moet gebou word en dit gaan nie vanself gebeur nie. Ten spyte van al die skokkende onthullings voor die Madlanga-kommissie en krisisse in die polisiediens se topstruktuur, hoor ons nog nie van enige nuwe planne wat die erns van die situasie aanspreek nie.
Dit was 6 Julie presies ‘n jaar sedert KwaZulu-Natal se provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, in sy media-inligtingsessie na politieke inmenging in die SAPD en korrupsie in die strafregstelsel verwys het as die twee groot probleem areas. Na meer as 31 jaar se mislukkings gemeet aan misdaadstatistiek en met dieselfde polisiëringstrategie asook dieselfde organisatoriese struktuur, is grootskaalse verandering nodig. Alle SAPD-poste behoort heroorweeg en geherstruktureer te word, terwyl sommige poste soos minister Senzo Mchunu se pos eenvoudig moet verdwyn vir doeltreffende polisiëring.
Behou ervaring
Hoekom is ‘n nuwe struktuur nodig?
Die geldgierigheid van sommige skelm polisiebeamptes word aangehelp deurdat die polisiediens as staatsdepartement nie minder as 12 rang- of posvlakke (volgens sekere ou web-bladsye selfs 16 posvlakke) het nie, naamlik die onderoffisierskader – konstabel, sersant, adjudant-offisier asook die junior tot top-bestuurskader van luitenant, kaptein, majoor, luitenant-kolonel, kolonel, brigadier, generaal-majoor, luitenant-generaal en een vol generaal met posbenaming nasionale polisiekommissaris (Naskom) heel bo, tans die geskorste generaal Fannie Masemola. Vergelyk dit waar jy ‘n 30 jaar-loopbaan by ‘n universiteit kan bou met vyf posvlakke van junior lektor, lektor, senior lektor, mede-professor en professor.
Die probleem in die polisie lê vir jare in bevordering ter wille van geld, maar dan tref die massa onderoffisiere ‘n plafon.
In 1999 was die situasie uitgewys dat weens ondermeer vakbond en regstellende druk, konstabels bevorder was tot sersante en daarna het 60 000 sersante toe 18 000 konstabels bestuur, ‘n lagwekkende situasie.
Dit is al dekades so dat die paar range van onderoffisiere soos konstabel tot die junior bestuurskader van kaptein, die grootste werksmag van meer as 85% uitmaak van die SAPD, met relatief lae salarisskale. ‘n Adjudant-offisier (AO) wat al 25 jaar van sy lewe sy kant gebring het van konstabel tot AO in die polisiediens, kyk in 2026 na ‘n jaarlikse salaris van ongeveer R400 000. ‘n Senior lektor wat ook onder begin het, kry jaarliks na 25 jaar diens by ‘n universiteit minstes twee keer soveel.
Verlore kundigheid
Net ná die totstandkoming van die SAPD in Januarie 1995, was die SAPD-getalle na amalgamasie van die SAP, TBVC-state en Apartheid-tuislande se elf polisieagentskappe in 1997, op bestuursvlak vir die range kaptein tot by die nasionale polisiekommissaris, 10 475 . Die onderoffisierskader (studente-konstabel tot adjudant-offisier) was afgerond, 119 000, of 92% van die totale werksmag. Kragtens die SAPD 2024/25 jaarverslag voor die parlement was die bestuurskader in Maart 2025, 19 894. Onderoffisiere in terme van die Polisiewet was volgens dieselfde SAPD-jaarverslag, 135 337 in getal of genoemde 85% . Die sersante tot kapteins het nie eintlik ‘n ander finansiële keuse as om met al daardie kennis en ervaring na die privaatsektor te kyk nie, met onmiddellike negatiewe effek op SAPD-dienslewering. Ons sien dit in die 31 jaar se misdaadstatistiek.
Ervaring moet behou word en ‘n goeie polisielid moet nie net na ‘n volgende “vlak van onbevoegdheid” bevorder word omdat die lid meer geld nodig het nie, al was hy of sy ‘n goeie bestuurder. Dit lei na baie bestuurders, maar minder ervare polisielede. ‘n Lid moet byvoorbeeld ná 30 jaar as ‘n gelukkige, suksesvolle en gewaardeerde adjudant-offisier of kaptein te kan aftree met ‘n brigadier se salaris.
Sinvolle posvlak herstrukturering moet deur kundiges bekyk word om versoeking om te bedank teen te werk en dienslewering te bevorder. Ons soek ‘n ervare konstabel.
Politieke inmenging
‘n Polisielid is nie jou gewone staatsamptenaar nie. As ‘n magtige, geldgierige polisie sersant of onetiese generaal soveel skade kan aanrig soos ons tans van kennis neem met onder meer, die Madlanga kommissie, moet nuwe idees om die magtige ministers van polisie te beteuel ook nie agterweë bly nie.
Die polisiëring- en verdedigings portefeuljes is die enigste twee in ‘n regering en sy amptenare, wat mag in sy volle spektrum, naamlik fisiese krag, die dreigement daarmee en ander wettige beïnvloedingsmetodes kan gebruik.
Die minister se rol is velerlei van aard. As hooffunksie is hy of sy die skakel tussen die staatspresident met die politieke party of partye wat hulle verteenwoordig en word veral die beleidsprioriteite aan die nasionale kommissaris, wat ook rekenpligtige beampte van die SAPD is, verduidelik of opgeklaar soos nodig. Dit kan prioriteite soos hedendaagse sienings oor ferm of minder ferm optrede teen immigrante behels en ekstra mannekrag ontplooiings na gebiede, veral voor verkiesings om te wys die regering gee om oor misdaad.
Telkens word ons egter herinner dat mag korrupteer en die advies gaan soms heelwat verder soos taakspan ontbindings wat eintlik ‘n operasionele funksie in die SAPD is.
‘n Minister van Polisie is ‘n grys figuur in ‘n grys gebied waar baie werklike mag rondlê. Die nasionale kommissaris as rekenpligte beampte word meer gekontroleer deur ander wetgewing en regulasies, hoewel ook magtig.
Fivaz en Mufamadi
Die huidige Senzo Mchunu versus Masemola-cum-Mkhwanazi geskil oor politieke inmenging rakende die taakspan teen politieke moorde, kom eintlik oor ‘n langer tyd. Polisie ministers meng voortdurend in.
In 1997 het George Fivaz, die eerste Naskom van die demokratiese Suid-Afrika, minister Sydney Mufamadi openlik beskuldig van politieke inmenging in die polisie wat toe deel was van die Departement van Veiligheid en Sekuriteit. President Mandela het al twee gelas om te versoen. Veiligheid en Sekuriteit Minister Steve Tshwete het weer juis nié ingemeng teenoor sy partypolitieke genoot, Naskom Jackie Selebi nie, wat sommer “finish-en-klaar” openlik vriendskap verklaar het met veroordeelde dwelmsmous, Glenn Agliotti. Sedertdien is wyle en oud-ministers Nathi Mthetwa en Bheki Cele se name ook in die hoed vir ondersoeke oor beweringe van onbehoorlike beïnvloeding. Dit bly ‘n konstante tema dat politiek uit die polisie geweer moet word, gewoonlik bedoelende partypolitiek.
Depolitiseer
Een manier sou wees om die minister se pos heeltemal af te skaf en net ‘n nasionale polisiekommissaris in beheer te hê, met ander woorde, de-politiseer die polisie. Die inherente probleem van politieke inmenging is dat politiek orals in die lewe voorkom. Daar is nie ‘n “verhewe” politiek soos “ministeriële-” versus propagandistiese partypolitiek nie. Politiek is politiek. Een van die mees gebruikte definisies sedert die 1950’s is dié van die Kanadees-Amerikaanse professor David Easton, wat in sy handboeke oor die politieke stelsel, politiek in kort as “… die gesagvolle toekenning van waardes” gedefinieer het.
Afdwingbare beleid soos wette vir ‘n spesifieke gemeenskap op spesifieke grondgebied, kan oor enige saak wat van waarde is, gemaak word. Dit beklemtoon die mag wat die politieke gesag of maghebber, wat in staatsverband ‘n regering genoem word, het om te kies en te besluit oor iets van belang.
Die probleem met politici uit te skakel, beteken egter dat iemand anders, soos byvoorbeeld ekonome, wetgewing vir ‘n gemeenskap oor byvoorbeeld belasting moet maak. Op daardie oomblik vervul daardie persoon dan ‘n politieke funksie per definisie, en word die ekonoom ’n politikus. Om ontslae te raak van ‘n politieke Polisie-minister en sy pos gaan dus nie genoeg wees om politieke inmenging te voorkom nie. Die Nasionale kommissaris word dan die politikus.
Mag en onetiese politieke inmenging oor die polisie moet dalk anders gestruktureer word deur dit op te los in ‘n uitgebreide demokratiese mengsel. Die Nasionale kommissaris van die SAPD (Naskom) behoort sonder ‘n minister daagliks aan te gaan met wetstoepassing en misdaadvoorkoming en net nou en dan rapporteer en verslag doen aan ‘n meer objektiewe liggaam soos die veelparty polisiërings parlementêre komitee, so drie keer ‘n jaar. Dáár kan verteenwoordigers van verskeie politieke partye die polisiekommissaris laat kennis neem van alle partypolitieke voorkeure.
Verder moet hy of sy net die ander wette en eie wettige polisie strategieë toepas sonder enkel-gedomineerde partypolitieke interpretasies.
Dit kan verwag word dat geen regering of alliansie die pos van polisieminister sal wil verloor nie, want dit is ‘n werklike magsmiddel en die hoofkonsep van politiek is mag. Maar miskien het die tyd aangebreek vir drastiese verandering waar so ‘n veelpartykomitee ‘n groot rol kan speel. Saam met die staatspresident kan die aanstelling en afdanking van ‘n nasionale polisiekommissaris gedoen word. Skaf die pos van die minister van polisie af en so kan daar vernuwing kom waar daar tans geen planne blyk te wees nie. Of hou op kla oor politieke inmenging.
Dr. Ian De Vries is ‘n voormalige dosent in Staatsleer by RAU, voormalige Brigadier en Direkteur in die SAP en SAPD en afgetrede professor in Veiligheid en Sekuriteitsbestuur van Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT).
- Ons dank aan lt-genl J Ferreira wat die artikel onder ons aandag gebring het en daarna die artikel by dr De Vries bekom het. Ook dankie aan aan lt-genl Chris Serfontein wat ook die artikel tot ons aandag gebring het. Ons dank die drie here vir hul belangstelling in hierdie belangrike onderwerp – Redaksie.