Wachthuis-Pretoria Nongqai Vol 17 No 5
WACHTHUIS–POLLEYS-DEURLOOP
Hennie Heymans

Min lede van die ou Suid-Afrikaanse Polisiemag weet nie van Wachthuis nie. Dit is sedert 1959 ons SAP-hoofkantoor.
Wachthuis het gestrek van Pretoriusstraat tot Schoemanstraat: aan die Pretorius-kant was die SAP-hoofkantoor, en aan die Schoeman-kant die Veiligheidstak.
Ek het in 1970 vir die eerste keer met Wachthuis kennis gemaak. Vanuit Durban, langs die bruisende Indiese Oseaan, land ek in die winter van 1970 by die Veiligheidspolisie se hoofkantoor vir ’n veiligheidskursus. Skaars in die Veiligheidstak, sukkel ek nog met genoeg toepaslike burgerdrag — ek was immers ’n uniformman en het my uniforms weggegee. Dit was ‘n koue winter en in Durban het ons safaripakke gedra. Destyds moes ons ons eie uniforms én burgerdrag koop. Ek arriveer in Pretoria met net ’n paar safaripakke en een ordentlike pak klere.
Ek het die Hoofkantoor-“Johnnies” dopgehou en gedink: Hier sal ek nooit wil werk nie! ’n Jaar later is ek ’n luitenant — en wraggies, die polisie-owerhede plaas my toe by Hoofkantoor.
Wachthuis het eens aan die SAP Weduwee- en Weesfonds behoort. My ou troepmaat, Desmond Blignaut, se vader het vir die SAP-voorsieningsfonds gewerk en vertel dat ’n klein hokkie waarin bruidsdrag geadverteer is, destyds R600 per maand se huur ingebring het. (Die weesfonds het na bewering later die gebou verkoop vir R4M…..)
Langs Wachthuis was die Navarre-gebou, waar die VSA-ambassade gesetel was. Ek het dikwels gewonder of die Amerikaners nie ons boodskappe onderskep het nie — in Berlyn het hulle immers alles onderskep wat hulle kon.
Toe ek by Wachthuis begin het, kon enige persoon by Polisiehoofkantoor instap, selfs tot by die Kommissaris se kantoor. Ek het eens ’n verslag ingedien dat daar geen veiligheidsmaatreëls was nie — nie eens op die tiende vloer waar die Kompol gesit het nie. Selfs die Uniegebou was destyds “oop”.
Snaaks as mens terugdink is polisiehoofkantoor en John Vorsterplein sagte teikens gewees. Ons is dankbaar dat die geboue nooit aangeval was nie.

Tydens etenstye het ek deur Polleys-arkade geloop na Pretoriusstraat, die menigte boekwinkels besoek, en soms weggesluip om ontbyt by Uniewinkels te geniet. Dit was ook die dae van die distriksgeneesheer: jy stap DG toe, wag jou beurt af — en hoe hoër jou rang, hoe vinniger word jy gehelp. By die restaurant by die trappe – destyds genoem “Pebbles” het die spioene altyd koffie gedrink ….
Hier is ’n paar foto’s uit die dae toe Oom Paul Kruger nog aan bewind was. Ek glo u sal saamstem: die wêreld het sedert die laat 1800’s ingrypend verander.

Kol Logan Govender vertel my hy was die eerste offisier van Indiese afkoms om in Wachthuis te werk. Genl Mulder van Eyck heet hom in 1989 na hoofkantoor verplaas. Brig Winston Cunningham vertel my nou die dag, hy was die eerste bruin offisier te hoofkantoor.

Polley’s Transvaal Hotel, Pretorius-straat in Pretoria, die eerste weergawe van die hotel was in die laat 1880’s reeds gevestig.


Veiligheidshoofkantoor – Schoemanstraat – reg voor die Anglikaanse-kerk. (Morne van Zyl)