MOLESTE DAAR DOER BO

Herman Toerien

Deesdae hoor ‘n mens op verskeie radio-stasies en op die bietjie Afrikaanse programme op TV dat gepraat word van dokumente wat “Hoogs Geheim” is. In my dae, meestal in die vorige millennium, het ek met alle klassifikasie-dokumente gewerk waarvan ek geweet het, naamlik Beperk (weermag-dokumente). Vertroulik. Geheim en Uiters Geheim (gewoonlik dokumente wat met kabinetsake verband gehou het). Van hoogs geheim hoor ek nou eers, al ‘n hele ent weg in die volgende millennium in. Ek twyfel of die nuwe goewerment sou bodder om uiters geheim met hoogs geheim (ek het ook al ander variasies gehoor) sou vervang, want hulle is Engels be%^$sem. Ek dink die “nuwe” benaming is op voetsoolvlak in junior mediageledere, uit onkunde, geskep. Ek het in die HAT gaan kyk. Ek doen dit meer gereeld vandat ek uitgevind het die woorde in alfabeties. Ek kry wel nie “uiters geheim ‘ nie, maar ook nie “hoogs geheim” nie. Wel met Google waar gesê word “hoogs geheim” is die Afrikaanse vertaling van die Engelse “top secret.” Se alie, “top” is die hoogste vorm – daar is bv nie iets soos “toppest” nie. Die woord “uiters” se beskrywing dui die hoogste vorm aan. Wie dus op “hoogs” as die Afrikaans van “top” besluit het kan nie baie wakker wees nie. As ‘n mens dalk nog een van ons ou dokumente in die hande sou kon kry wat elke klasifikasie beskryf, sou ‘n mens sien dat “Geheim” met soveerl ers bejeën is as wat “hoogs geheim” sou impliseer. Uiters geheim was iets uitsonderlik, tot die uiterste toe.

Buitendien, om nou de novo-vertalings te gaan doen kan erge verleenthede veroorsaak. Toe die Hoogland-waterskema gebou is, het die Asrivier se Afrikaanse naam nie gedeug nie, en dit met “Ash River” gaan vertaal. Maar die “as” van Asrivier het met as soos verbrande hout niks te make nie. Histories het die Voortrekkers by ‘n drif oor die riviere getrek, en heelwat waens se aste het daar in die slag gebly. Ja, dis aan die Wateroordragowerheid verduidelik maar hulle het met hul onkunde volhard, en vandag is daar ook ‘n Ash River Lodge, en ander dinge. Wat alles die ware geskiedenis uitwis.

Ons kan darem nog help walgooi teen die onding van Nasionale Kruger Park agter die slaafse Engels aan. Amptelik bestaan daar blykbaar nie meer ‘n Kruger-wildtuin, of selfs Nasionale Krugerwildtuin nie, maar dit kan ons mos nie keer om die naam waarmee ons en ons ouers en grootouers grootgeword het sommer te gebruik nie.Dus hoef ons nie ook die Engelse slaaf na te volf en diere in die “wild” te gaan vrylaat nie. Om hulle in ie natuur te gaan vrylaat is taalkundig en in die praktyk tog korrek.

En nou die eintlike storie.

‘n Kollega by Nasionale Intelligensiediens en sy gesin het pas na ‘n diplomatieke skof uit Taiwan teruggekeer en by die Nasionale Intelligensiediens aangesluit, en wel by die afdeling waar ek was. Ons noem hom Ben, en Ben was ‘n groot man met ‘n prominente baard. Hy het na skool medies begin studeer voor hy na regte oorgeslaan en ‘n LlB verwerf het.Hy het ‘n groot bariton-stem en kon stories vrtel op ‘n manier wat Jan Spies en Tolla vd Merwe na beginners sou laat lyk.

Nietemin, met hul terugkeer uit Taiwan vertel hy om die teetafel , is hy, sy vrou en hul driejarige dogtertjie aan boord van ‘n Jumbo. Hulle sit in die drie sitplekke langs die een kant. Anderkant die paadjie is die middelste ry wat heelwat meer sitplekke het. Om die waarheid te sê, as die vlug leeg is kan ‘n gelukkige passasier alleen lankuit op sy ry sitplekke gaan lê. Daardie ry oorkant Ben-hulle het egter twee passasiers, ‘n regte grootbek Amerikaner en sy vrou. Alles wat daar gebeur, word so hard in woorde omgesit, ‘n groot deel van hul reisgenote kon duidelik hoor wat daai Yank sê en wat hy sê oor wat hy waarneem en dink.

Slaaptyd gaan lê die man lankuit, met sy voete op sy vrou se skoot, wat op die punt van die ry sit.. Sy voete was darem in kouse geklee – die kouse wat hy die dag gedra het.

Die nag was Ben en sy vrou salig aan die slaap toe hul dogtertjie hulle opgewonde wakker maak. Sy was toilet toe en het sommer alles self gedoen, verkondig sy selfvoldaan . Ben en vroulief skrik hulle asvaal, want die stukkies gebruikte toiletpapier in kleinding se hare, en wat elders aan haar jammies kleef, vertel ‘n heel ander verhaal. Eers spuit hulle al wat lekkerruik-spuitgoed waarop hulle hul hande kon lê rondom hul sitplekke. En toe pak hulle die gangetjie na die toilet aan terwyl hulle die kleintjie so langarm as moontlik dra. En ja, die gebruikte toilet vertel sy eie verhaal. Hulle ruim die vloer so goed as wat hulle kon met toiletpapier op. En toe met al wat snesie en wattetjie wat hulle by hulle gehad het, en goed bespuit is met al wat reukmiddel is. Die mure volg. Die kleintjie se jammies word versigtig uitgetrek en in ‘n plastiese sak binne ‘n plastiese sak geplaas en STYF toegeknoop. Toe is sy weer in haar vorige dag se kleertjies toegewikkel. Toe hulle buite in die gangetjie kom, spuit hulle weer goed reukweerder in die vertrekkie in. En terwyl ek nou hier tik, dink ek daaraan dat die gewone spuitgoed op vlugte verbied word tensy mens van daais het wat ‘n mens so met die hand kon pomp.

Toe sluip hulle terug na hul sitplek toe. En ook net betyds. Skaars hulle sitte so gerieflik as moontlik gesit gekry, toe rek die Yank hom behaaglik en luidrugtig uit. “Aah, now I have a massive p%s!”

Hy kom in die gangetjie regop, rek hom steeds luidrugtig uit, en kies koers in die gangetie op na die longdrop toe.
Na ‘n ruk kom hy terug by sy sitplek aan en verkondig luid hoe verlig hy nou voel. En hy gaan lê weer lankuit en met sy voete op sy vrou, steeds diep slapend, se skoot. Ben-hulle hou asem op.

En toe word die vrou wakker, haar oë so groot soos pierings. “By George! Where have you been?!”

George is op slag wawyd wakker: “Now what’s the matter?!” vra hy verward. “Your feet!” They STINK!”

George pluk sy een voet op en druk sy neus tot amper teen die sokkie, maar sy kop ruk verwoed weg. George kry net een kreet uit: “&#@*$””

Ons het nooit die einde van dié verhaal gehoor nie soos ons gelag het.

Moleste Daar Doer Bo

Herman Toerien

Herman Toerien het sy beroepsloopbaan by Nasionale Intelligensie in 1978 begin toe genl Hendrik vd Berg die sekretaris van die Buro vir Staatsveiligheid was.  Hy het oor ‘n Honneurs in Staatsleer (nou politieke wetenskap, aan Kovsies beskik.  Met die aanstelling van dr. Niel Barnard as DG, was dit sy derde departementshoof. Hy het sy werkstyd by NI baie geniet en beskou dit as voorreg om in ‘n hoogs professionele omgewing te kon werk, en kundigheid te kon opdoen wat hy baie waardevol in ander werksomgewings kon benut. Weens huislike omstandighede voortspruitend uit sy pa se dood kort voor sy diensaanvaarding, keer hy as verslaggewer by Volksblad terug Bloemfontein toe, en kon so later sy vyftig jaar as Vrystater voltooi, Hy het vier jaar gelede saam met sy vrou Joan, en outistiese jongste, in die Paarl gaan “aftree”. Hy word die afgelope elf jaar vir verskeie kankers behandel.