R Nel – Nongqai Vol 17 Vol 4
RIANA NEL – LOOPBAAN – SAP EN SAPD – 1978-01-10 TOT 2016-11-30
Via Ida Steyn
English Abstract
This biographical narrative traces the 38‑year career of Colonel Riana Nel in the South African Police (SAP/SAPS) from 1978 to 2016. Beginning with her graduation as a constable — “dedication and pride became part of my equipment” — the account follows her progression through a male‑dominated police structure during a period marked by political unrest, operational pressure, and limited promotional opportunities for women. Despite these constraints, she pursued continuous professional development, completing the National Certificates in Police Administration and later a BA in Police Science.
Her career is distinguished by extensive contributions to police training and institutional development. After early operational experience in Lichtenburg and Potchefstroom, she transitioned to major training environments, including Koeberg and later the Oudtshoorn Police Academy. At Oudtshoorn she played a central role in establishing and managing the academy’s administrative, academic, and support structures. As Commandant from 2000, she oversaw major infrastructure upgrades, including a R125‑million redevelopment project and the establishment of the first role‑play training centre in a police academy. Under her leadership, the academy achieved SASSETA accreditation and was awarded “Centre of Excellence” status.
Her work extended to international collaboration, notably with Swedish police training institutions, and to community outreach programmes supporting schools, vulnerable groups, and water‑safety initiatives. She received multiple awards for leadership and excellence, including recognition as the top Commandant among 26 academies.
A profound personal turning point occurred in 2010 with the death of her husband, Colonel Frank Nel — “our family’s anchor and rock was suddenly gone” — after which she continued her service through resilience, faith, and renewed purpose. The narrative concludes with her achievements in sports, community involvement, and lifelong learning, underscoring the foundational role of police discipline, service ethos, and spiritual conviction in her life.
Opsomming
Hierdie biografiese oorsig dokumenteer die 38‑jarige loopbaan van Kol. Riana Nel in die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP/SAPD) vanaf 1978 tot 2016. Die narratief volg haar ontwikkeling vanaf konstabel ná uitpassering in Pretoria — “So word ek ’n konstabel – toewyding en trots word deel van my wapenuitrusting” — tot haar uiteindelike aanstelling as Bevelvoerder van die Oudtshoorn Polisie‑akademie. Die teks beskryf die uitdagings van vroeë diensjare te midde van politieke onrus, die beperkings op vroulike bevordering, en haar volgehoue akademiese opgradering wat lei tot die voltooiing van die BA (Polisiekunde) en verskeie spesialisopleidings.
’n Kernfokus is haar rol in opleidingsbestuur, insluitend die oprigting en administrasie van staatsmenasies, die ontwikkeling van opleidingsprosesse, en die transformasie van die Oudtshoorn Akademie tot ’n geakkrediteerde opleidingsinstansie wat die SASSETA se standaarde oortref. Die dokument beskryf groot infrastruktuurprojekte — onder meer ’n R125 miljoen opgradering en die eerste rollespelsentrum — asook internasionale samewerking met Sweedse opleidingsinstansies. Die loopbaan word verder gekenmerk deur toekennings vir leierskap en uitnemendheid, sowel as gemeenskapsbetrokkenheid en die opleiding van duisende studente.
’n Belangrike persoonlike dimensie is die verlies van haar eggenoot, Kol. Frank Nel, in 2010 — “Ons gesin se anker en rots was eensklaps weg” — en die wyse waarop sy deur geloof, dissipline en nuwe doelwitte herstel. Die verhaal sluit af met haar prestasies in sport, haar voortdurende diensgerigtheid, en die erkenning dat die waardes van polisiedissipline die grondslag van haar lewe en werk gevorm het.
Sleutelwoorde
• Riana Nel
• Suid-Afrikaanse Polisie / SAPD
• Polisiekunde
• Opleiding en Akademies
• Leierskap in wetstoepassing
• Vroue in polisiëring
• Oudtshoorn Polisie‑akademie
• Professionele ontwikkeling
• SASSETA‑akkreditasie
• Internasionale opleidingsamewerking
• Loopbaanbiografie
• Gemeenskapsbetrokkenheid
English Keywords
• Riana Nel
• South African Police Service (SAPS)
• Police training and development
• Police leadership
• Women in law enforcement
• Police academies
• Oudtshoorn SAPS Academy
• Professional advancement
• SASSETA accreditation
• International training collaboration
• Police administration
• Career biography
• Community outreach
1978- Die winter van 14 Julie, Dit is nie net ‘n fliek wat in al die teaters draai nie, dit is ook die belangrikste dag in elke student wat vir 6 maande in die Pretoria Kollege, opleiding ondergaan het – Die dag van hul uitpassering, en ek is onder die menige studente.
‘n Dag wat ge-ets word in elke toegewyde polisiepersoon se geheue. Ouers en familie sit trots op die pawiljoene terwyl maande se voorbereiding deur studente (families se kinders, kleinkinders, nefies, niggies) in drilvertonings, fisiese vertonings, ens. Voor hul afspeel met presisie.
So, word ek ‘n konstabel – toewyding en trots word deel van my wapenuitrusting en natuurlik geloof in God, waarsonder my pad te hard en moeilik sou wees.
Ek beland terug by my ouerhuis in Lichtenburg, my eerste stasie en Kapt. G. Mostert, aka “Vloekmossie” is my eerste stasiebevelvoerder. Sers. Van Vuuren aka “Fires” my skofbevelvoerder.
Ervare mense wat my van die begin af die regte grondslag vir polisiewerk gee, en ons skof funksioneer soos ‘n goed geoliede masjien. Studies vir bevordering word een van my prioriteite en ek skryf dadelik in vir die Nasionale Diploma (Polisie-Administrasie). In hierdie moeilike tye waar die land gekenmerk word deur ernstige politieke onrus en vele meer, is dit ook moeilik om studies in te pas. Tydens stil oomblikke op nagskof, rusdae ens, pas ek dit in. Al die vakke moet gelyktydig geslaag word, en dis nogal ‘n lywige klomp werk. In 1979 op Lichtenburg in die destydse Noord-Wes, smaak ek die eerste sukses van my studies, die Nasionale Sertifikaat (Pol-Admin) wat later ook ‘n kultuur van lewenslange leer sal skep.
Alhoewel die eerste hekkie vir bevordering deur is, is die dames op aparte postestruktuur en bevorderingsposte bottelnek boontoe. Ek moet drie jaar wag voordat ek bevordering kan kry.
Dit het tot gevolg dat ek die volgende eksamen saam met die Sersante in die eksamenklas sit, vir die bevorderingseksamens waar ek die Nasionale Hoër Sertifikaat (Pol-Admin) slaag. Elke dag doen ek ook polisiewerk ondervinding op en leer baie by my seniors. Dit sou my ook voorberei vir later jare en ek verrig ‘n verskeidenheid polisiepligte.
Ek word verplaas na Potchefstroom in 1980 waar ek onder die bevel van Majoor Hennie Steyn dien. Hy is ‘n meer charismatiese persoon, met ‘n wonderlike sin vir humor en goeie leierskap kom van hom. Ek word kort hierna bevorder sersant toe, en nou moet ek weer die tyd laat uitloop vir die volgende hekkie na bevordering. Die laaste eksamen volg vir die Polisiediploma in Pol.-Admin en tydens hierdie tydperk, raak dit al moeiliker om te studeer. Padblokkades, ekstra dienste, onluste, mynoproer is aan die orde van die dag. Ek word in 1981 bevorder na Adjudant-Offisier en die tydperke vir bevordering word verander. Ek ontmoet ook in die tyd my man, Francis Benjamin Bertram Nel (Frank) wat ‘n Luitenant op die stasie is en tweede in Bevel.
‘n Formidabele intelligente mens met ‘n wonderlike sin vir humor wat geliefd is by almal. Hy word my mentor. Beide van ons is lief vir sport, lag en harde werk. Ons trou op 3 Sept 1983 en ons is twee weke getroud, toe moet ek op Offisierskursus gaan vir drie maande in Pretoria. Destyds moes ons voor die keurraad verskyn voordat ons toegelaat is om op offisierskursus te gaan.
‘n Baie senutergende en formele proses waarvoor jy na Pretoria moes gaan. So naïef soos mens maar kan wees op 23 jarige ouderdom, vra ek nog vir die voorsitter van die keurraad, Genl. J.B. Stevens of ek dalk kan uitstel kry vir die kursus omdat ek daardie tyd sou trou en meeste van my reëlings getref was. Die antwoord wat ek gekry het, is “of jy trou, of jy kom op kursus”. So toe verander ek maar die datum en doen sommer altwee.
Ek word die jongste offisier in my “skool” op 23 jarige ouderdom. Na offisierskursus word ek by die destydse Afdelingshoofkantoor op Potchefstroom geplaas as Junior Stafoffisier van die destydse Afdelingskommissaris van Noord-Wes en dien onder bevel van Genl. J.G. le Roux Stemmet, groot geeste soos Genl. Maj. J. de Waal, Kol. Jan Marè en Januarie 1986 word my seun Frank gebore.
Ek en my man Frank word in 1986 na Koeberg Opleidingsentrum verplaas op Melkbosstrand en dien by Koeberg opleidingsentrum onder bevel van Kol. G.B. Smith.
Hier word spesiale konstabels opgelei en Kol. GB soos hy bekend staan, plaas my by
die staatsmenasie, waar daar vir 2000 mense elke dag drie maaltye voorsien moet word. Nodeloos om te sê, wat weet iemand wat uit die funksionele stroom kom van ‘n staatsmenasie. Die reëls is skaars, en ek en AO. A.G. Smit wat by my geplaas word, skep maar ons eie prosesse om dinge glad te laat verloop. Die belangrikste wat die hoofde in daai tyd wou weet, is dat die groen vorm van voorraad, wat ons sommer die pampoenvorm genoem het, maandeliks voltooi word. Hier leer ek baie van die administratiewe gedeelte en organisering van ‘n opleidingsinstansie wat vir my later jare baie vrugte sou afwerp en in 1988 moet ek ongelukkig my ontslag neem, want op Melkbosstrand was destyds min of geen voorsiening gemaak vir die versorging van klein kindertjies en was dit op daardie stadium ‘n groter prioriteit in ons lewens om ons kind goed versorg te kon hê.
Ek mis my werk soos ‘n stukkie brood en pas moeilik aan as huisvrou omdat ek maar altyd loopbaangerig was. Ek besluit studies is die enigste opsie en begin stelselmatig werk aan die BA (Polisiekunde) graad deur Unisa. Gelukkig ken ek mense by Unisa wat lektore is en akademici soos Prof. Koen Marais, Toffie van Vuuren en Chris Botha wat help met raad oor die take en besprekingsgroepe.
In 1991 besluit Opleidingshoofkantoor dat daar ‘n opleidingskollege in Oudtshoorn tot stand gebring gaan word. My eggenote, Frank Nel, word aangestel as eerste Bevelvoerder. Ek het nog ‘n klein dogtertjie Yolandi, wat in 1990 gebore is, maar die omstandighede vir dagversorging van kinders, is beter in Oudtshoorn en ek besluit omdat daar her-indiensnemings is, om terug te keer werk wêreld toe, en op 1991-11-11 word ek herindiens geneem. Net voor dit, word die Kollege op Oudtshoorn geopen en ek word by die menasie geplaas om die staatsmenasie op die been te bring.
Hier begin my pad na Bevel met Frank se hulp en ondersteuning en ek kry meer en groter verantwoordelikhede. Ek behaal die BA(Polisiekunde) graad aan Unisa en werk onder andere in die kollege as die hoof van die Akademiese afdeling en later ook die hoof van ondersteuningsdienste.
Ek fokus ook op ‘n verskeidenheid kursusse om myself te bemagtig ten einde op te gaan in die bevelskader.
In 2000 besluit Frank om die skoene op te hang en neem ‘n pakket wat vir die offisiere beskikbaar gemaak word. Die Bevelvoerders pos op Oudtshoorn Akademie, word geadverteer, ek doen aansoek en op 1 Junie 2000 word ek aangestel as Bevelvoerder.
Rangsveranderinge was in hierdie tydperk ook aan die orde van die dag, ek dra op ‘n stadium die benaming Snr. Supt. Totdat die benaming nie meer byval vind nie, en ons word weer Kolonels.
Ek sit dadelik skouer aan die wiel omdat die geboue in die akademie baie oud is, en kry ‘n 10.8 miljoen rand projek vir die eerste fase van die opgradering om die fasiliteite en leefareas meer vriendelik vir leer te maak. My direkte bevelvoerder is Brig, E. Adlam, iemand wat ek so baie van geleer het oor toegewydheid. Ons is vandag nog goeie vriendinne. My hoof van Opleiding is Genl. Maj. Mike Lombard, ‘n baie goeie fietsryer, en ek en Frank word deur die fietsrygogga gebyt. Ons was nog altyd beide lief vir sport en het dit altyd saam beoefen, ons ry vir jare aktief fiets.
Die Akademie op Oudtshoorn het onder andere 400 Namibiese Polisiebeamptes opgelei, Qua-Qua polisie, en ook baie Suid-Afrikaanse basiese opleidingstudente. In 1994 lei ons, ons laaste basiese studente op en word Pretoria Kollege geoormerk as enigste basiese opleidings kollege.
Die het beteken dat ons vinnig die Kollege moes her-organiseer om die voortbestaan te regverdig en het ons vir ‘n lang tydperk ‘n groot verskeidenheid gespesialiseerde kursusse aangebied. Ons het in daardie stadium 10496 lede in 35 verskillende opleidingsintervensies waaronder ‘n volledige K53 sentrum en NATIS stelsel, verskeidenheid finansiële kursusse soos Semi-offisiële instansies, Polfin, Persal, Persap, speurders kursusse en nog vele meer aangebied.
In 2006 word die Akademie weer teruggeskakel na Basiese Opleiding en word ons ook getaak om saam met die Basiese Opleiding ook die Nasionale Sertifikaat- Polisiëring aan te bied. Indien ‘n student nou klaarmaak met sy opleidingstydperk, het hy ook ‘n NQF kwalifikasie wat aan Nasionale Standaarde van die SASSETA voldoen. Dit was myns insiens een van die beter ontwikkelings wat in die opleidingsarena plaasgevind het, maar het ook groot aanpassings vir opleidingsinstansies meegebring. Ander opleidingsmetodologie moes ook gebruik word as die verouderde “talk en chalk” metodes.
In 2004 kry ek die geleentheid om ’n studiebesoek saam met opleidingskollegas in Swede by te woon wat hierdie opleidingsmetodes sou verfyn. Ons kaskedeer opleidingsinformasie en opleidingsmetodologie van daar in die Sweedse Polisieakademie in Stockholm en ook Veldopleiding in Uppsala, asook ander waardevolle polisiëringinligting.
SIDA en mense soos Tommy Bringholm van die Sweedse omgewing lewer baie groot bydraes mbt opleidingsverbetering en standaarde.
Die opgradering van die Akademie vind in hierdie tyd plaas vanaf 2008 tot 2012 word R125 miljoen rand bestuur vir die totale opgradering van die akademie en ook vir die bou van die eerste rollespelsentrum in ‘n akademie. ‘n Verdere R26 miljoen rand word bestee vir die totale opgradering van geakkrediteerde skietbane en swembad. Die Akademie voldoen nou aan die standaarde wat die SASSETA stel vir geakkrediteerde instellings, en in 2008 ontvang die Akademie die toekenning van hierdie instansie vir die “Centre of Excellence”. Hierdie toekenning word op ‘n spoggeleentheid aan die Akademie personeel oorhandig.
Saam met die opleiding, raak ons ook betrokke by gemeenskapsprojekte soos skole, inrigtings vir gestremdes en die gemeenskap kry vertroue in die werk wat die akademie verrig, ons leer ook skoolkinders swem want daar is baie kanale in Oudtshoorn waar kinders soms verdrink. Ons hou gereelde dae by voorheen benadeelde skole waar ons vir kinders benodigdhede skenk wat noodsaaklik is vir hul akademiese vooruitgang.
In 2009 ontvang ek die toekenning as twee beste Bevelvoerder tussen 26 Akademies, in Afdeling Opleiding. In 2010 en 2012 ontvang ek die toekenning as Beste Bevelvoerder tussen die 26 Akademies en in hierdie tydperk ontvang ek ook ‘n eksterne toekenning vir Leierskap vanaf die Intelligence Transfer Centre vir “Women in Law Enforcement”.
Saam met hierdie toekennings gebeur ook die donkerste dag van my bestaan. My man Frank (oud-kolonel) en het op die oggend van 8 Maart 2010 op sy 60 ste verjaarsdag saam met 12 fietsryers op die Calitzdorppad gaan fietsry, en hy en 2 ander ryers, word die oggend op hul fietse doodgery.
Hierna sou niks weer dieselfde weer nie. Ons gesin se anker en rots was eensklaps weg. Ons rig vir ‘n “National Certificate in Early Childhood development” wat ek al my vakke met onderskeiding slaag en ‘n toekenning van my opleidingsinstansie as topstudent ontvang. En toe in 2016 byt die rolbalgogga my, en glo my, hy byt my behoorlik.
In 2019 verteenwoordig ek die Eden distrik by die Loerie toernooi in Swellendam waar ons dames die toernooi wen. In 2023 verteenwoordig ek met volledige Eden Kleure die distrik by die interdistrikte toernooi in Johannesburg en in 2023 wen ek en my span die Bowl trofee in die finale van die All Cape toernooi waar 80 spanne deelneem.
Hierdie alles sou ek nie kon doen sonder die Hemelse Vader en Sy genade nie.
Die dissipline wat ek as polisievrou geleer het, het ook die grondslag gelê vir alles wat ek daarna gedoen en bereik het, en mense waarmee ek my omring het, was die beste mense. Ek gee eer aan God vir alles.



