Hijgende Hert der Jacht Ontkomen – Henning van Aswegen: uit die kinderboek ‘Vrystaatstories, uitgegee deur Naledi Uitgwers

Hijgende Hert der Jact Ontkomen!

“Geronkie, my ou maat, daar is iets wat my nou al lankal pla en ek voel ek moet my hart teenoor jou uitpraat. My hartjie is vol en my mossiebekkie loop oor!”

Mossieman gesels met sy boesemvriend, Geronkie die Donkie onder ʼn groot ou populierboom met sy takke diep in die waters van die magtige Sandrivier. Langs Geronkie lê ʼn flukse groen likkewaan luilekker in die son en bak, sy sonbril skuins agterop sy kop tussen sy twee ore. So nou en dan kom die groen likkewaan se blou tong uit sy bek tevoorskyn om die lug te ruik en ʼn sonbesie te gaps vir ontbyt.

“Wat pla, Mossieman,” sug Geronkie gemoedelik, terwyl hy nog ʼn bietjie sonbrandolie agter sy nat ore smeer. “Vertel my maar, moet niks uitlaat nie. Wees eerlik.”

“Waarom sê jy altyd ‘hijgend hert, der jacht onkomen!’ wil Mossieman weet. “Elke keer wanneer jy bang is, of ontsteld is of as ietsie jou skrikmaak,” sê jy ‘hijgend hert, der jacht ontkomen!’ Het jy dan Hollandse voorouers gehad? is jou broers en susters en familie Nederlanders? Eet hulle baie kaas?”

“Natuurlik het ek Hollandse voorouers gehad, Mossieman! Hulle het my leer Afrikaans praat en ek het hulle leer Hollands praat.”

‘Hijgend hert, der jacht onkomen’ is so ʼn vreemde ding om te sê. Dit is snaaks as jy my vra, effens absurd in die oortreffende trap.”

“Volksvreemd,” brom die lui groen likkewaan en rol op sy rug, sodat die Vrystaatse sonnetjie sy maag lekker warm kan brand. Sy sonbril is effens in die pad, maar dié skuif hy tot bo-op sy kop, om beter te kan sien wat Mossieman alles kwytraak.

“Eerstens,” sê Geronkie luiters terwyl hy nog sonbrandolie aan sy agterpote smeer, “ek is ʼn Vrystaatse donkie. ʼn Gebore en getoë Vrystater en getroue Cheetah ondersteuner. Ons skrik vir niemand nie, ons word nie senuweeagtig nie, ons verloor nooit ons selfvertroue nie. Ons stres nie en ons word nooit bang nie. Inteendeel, ons veroorsaak stres en ons maak mense bang. Maak nie saak of jy vet of dun of slim of dom of groot of klein is nie, Mossieman, wanneer jy by ʼn muur kom, kan jy bo-oor hom klim of om hom loop. Ons Vrystaters loop nie om mure of miere nie, ons loop sommer regdeur!”

“Heh-heh-heg,” lag Mossieman kliphard dat jy net mossietande sien. “Ek het al gesien hoe skrik mense vir jou en dan hardloop hulle weg. Veral as hulle daardie tamaai ore van jou raaksien. Maar waarom ‘hijygend hert, der jacht ontkomen,’ Geronkie, wat beteken dit tog? Wat is ʼn hijgende hert?

“Julle weet dat ek ʼn donkie is, nê, ʼn aantreklike Vrystaatse donkie… Slim ook.”

“Ja, ons weet dit, Geronkie, ons weet dat jy ʼn donkie is. Julle donkies is mos leliker as perde, maar slimmer as muile. Daarom noem hulle julle donkies partykeer eseltjies.”

“En jy weet mos, Mossieman, alhoewel ons Vrystaatse donkies nie altyd fluks is nie, is ons nooit ooit lui nie. Ons is net partykeer minder gemotiveerd om dinge te doen. Veral na ontbyt.”

“Ek weet, Geronkie” sug Mossieman verveeld, “Kom nou by die hijgende hert uit.”

“Ek sê ‘hijgende hert, der jacht ontkomen,’ omdat my oupagrootjie ʼn hert was.”

“ʼn Hert! ʼn Hert!’ Agge-nee, man, Geronkie! Was jou oupagrootjie ʼn takbok?”

“Natuurlik,” beaam Geronkie en smeer so ʼn bietjie sonbrandolie op likkewaan langs hom se rug. “Sy naam was Moose. My ouma was ʼn hus en sy het lang ore gehad. Sy was een van die oorspronklike husse met lang ore in die Vrystaat.”

Mossieman val amper uit die populierbome uit soos hy lag. “Moose!” kwetter hy, “Moose! Geronkie, jy ʼn Vrystaatse donkie, man, nie ʼn takbok van Groenland af nie.”

“Hy lyk vir my baie na ʼn eseltjie,” gaap die lui groen likkewaan langs Geronkie en draai sy op sy maag sodat die sonnetjie sy rug bietjie warmer kan maak. Statig en elegant skuif hy weer sy sonbril oor sy oë om Mossieman en Geronkie beter te kan hoor.

“Ek ken my familiegeskiedenis, julle twee,” brom Geronkie vies. “Ek weet my oupagrooitjie Moose het met my ouma getrou omdat sy ʼn aanvallige hussie was. Miskien was ʼn paar van my ooms muile en my een tante ʼn beroemde resiesperd, maar die maak nie van my of my nefies esels nie!”

“Toemaar, Geronkie, toemaar,” troos Mossieman sy boesemvriend. “Ons weet dat jy ʼn Vrystaatse donkie met ʼn beroemde stamboek en familiegeskiedenis is. En dat jy baie spesiaal is. Jy is inderdaad ʼn gerekende en hoogaangeskrewe donkie, selfs beroemd in sekere streke en dit is waarom jy vir die jagters weggehardloop het.”

“Het die hert in die jag omgekom? Ai, foeitog,” kerm Geronkie benoud en loer bekommerd om hom rond om te kyk of daar nie miskien jagters in sy onmiddellike omgewing is nie.

“Ontkom, Geronkie,” troos Mossieman groothartig, “nie omgekom nie. Die hert het die jag oorleef, sodat hy later die storie vir al julle ander donkies kon vertel.”

“Hoe weet jy dit, Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig, sy ore penorent. Hy hou daarvan om te hoor dat hy beroemd is en dat een van sy voorouers uit ʼn gevaarlike jagsituasie ontsnap het.

“Want ‘n donkie is ʼn wonderlike ding, Geronkie. Elke donkie. Veral Vrystaatse donkies en hul families.”

“Hijgend hert, der jacht ontkomen!” balk Geronkie genoegsaam en draai sy boude na die sonnetjie se kant toe. “Dit het ek nou nie geweet nie, Mossieman.  Maar ek weet dit is dit min of meer die reine waarheid kan wees.”

“Dankie, Mossieman. Ek waardeer dit. Partykeer voel dit vir my of ek vir die verkeerde boom blaf, maar ek waardeer jou opmerking. Dit laat my trots voel om ‘n Vrystaatse donkie te wees.”

“Waarom?”

“Wat ons is die beste soort donkies wat daar is, Mossieman!”