Piet du Toit

Van goed wat weg is sonder dat jy dit verloor het

As jy ouer word, kom ek nou agter, verloor jy goed. Goed raak weg. En jy soek. Die goed wat weggeraak het en die goed wat jy verloor het. En partykeer sommer goed wat jy nie eens verloor het of wat weg is nie. Jy soek. Groot deel van jou dag gaan in soek.

Goeters kry die manier om sommer so vanselwers te beweeg. “Mind over matter” sê die slim mense. Net, dis nie my mind wat die matter skuif nie. Hulle skuif vanself. Want hoeveel keer al hoor ek ander mense sê: “Ek het nou-net die ding hier neergesit, en waar’s hy nou?” Ek hoor nie eintlik as ek dit self sê nie. Mens hoor nie dom goed wat jy self sê nie. Net dom goed wat ander mense sê. Selektiewe doofheid, sê die slim mense.

Doofheid is selektief

My doofheid is ook selektief. Ek hoor sekere stemtone mos gladnie. En party woorde het die eienaardige effek om my gehoor geheel en al af te skakel. Soos: “Wanneer gaan jy … “ of “Het jy al …” of “Het jy onthou om …”. Dit laat my in ‘n onverklaarbare doofheid verval. Eintlik ook nie so onverklaarbaar nie. Eintlik meer in ‘n selfverdedigende doofheid. Want, jou antwoord op ‘n sin wat só begin, is soos ‘n lepel vol warm sop in die mond. Wat ookal jy volgende gaan doen (of sê, in hierdie geval), gaan verkeerd wees. Maar dit is ‘n ander soort verloor as dit waaroor ek eintlik wil skrywe. Die verloor van ‘n argument wat oënskynlik heel onskuldig begin, in selektiewe doofheid verval, en met “Dit help ook nie mens praat met jou nie” eindig. Dit is ‘n verloor wat jy liewer as verlore los. Jy soek hom nie. Nee wat. Hy kry jóú!

Om nou die storie van die begin af te vertel, moet ek bieg dat ek ‘n onverstaanbare en onweerstaanbare liefde het vir ‘n pen. Ek voel verlore en half-geklee as ek nie ‘n pen by my het nie. ‘n Goeie pen. Een wat lekker skryf, want dis mos waarvoor penne gemaak word. Om te skryf! Hoekom sal mens dan nou ‘n pen saam met jou dra wat elke kort-kort ‘n ink-klont op jou skryfsel los? Of halfpad deur jou handtekening skielik in onsigbare skrif skryf? (Het jy al probeer om ‘n deel van jou handtekening wat nie geskryf is nie, reg te maak? Dit werk nie!) So, ek dra ‘n pen. En ek bêre hom nêrens anders as in my hemp se bosak nie. (Die dat ek nie van ‘n T-hemp hou nie. Die goed het nie bo-sakke nie!)

Maar as jy my ontsteld en in ‘n verwoede soek-bui wil sien, laat my pen weg wees! Ek hou nie op soek tot ek hom kry nie. Baadjiesakke, hempsakke in my kas. Dop die wasgoed-mandjie om en deursoek al die hempsakke wat wag om gewas te word, tot ek hom kry. En snaaks genoeg, kry ek altyd my pen. Op ‘n plek waar ek hom beslis nie neergesit het nie. Daar waar hy homself heen ge-mind-over-matter het. En dan is ‘n groot deel van my dag daarmee heen! Want ek het my pen gesoek. Nie oor hy weg was nie, want ek het hom gekry en ‘n weg-ding is mos weg! Hy kan nie gekry word nie. En ooknie omdat ek hom verloor het nie, want ‘n verloor-ding is óók weg. Ook nie omdat ek dit verlê het nie, want ek het hom beslis nie gesit waar ek hom op die ou end gekry het nie.

Maar ek het gesoek. En ek het gekry. Al het ek nie verloor nie, en al het ek nie weggegooi nie.

  • Piet du Toit