AWAKENING IN THE CRIMINAL LAW CLASS

Abstract: Humour in Uniform.

Keywords

  • Botha, Chris (Maj Gen)
  • Mens rea
  • Smit, Ben (Prof)
  • South African Police College

ONTWAKING IN DIE STRAFREGKLAS*

Genl-maj Chris Botha (Afgetree)

Eers was daar ‘n doodse stilte.

Toe begin die leier van troep 8, die student-orkestroep, proes. Hy was ‘n groot man, basdromspelende, tierveldraende swaargewigstoeier, met ‘n bulderende stem. En die proes word ‘n lag. Daarna bars die hele klas los, en hulle skreeu van die lag. In die klas langsaan, waar kaptein Eddie Snyman se studente toets skryf, duik die manne vir dekking grond toe, van skrik oor die helse lawaai wat die Polisiekollege in Pretoria-Wes getref het.

Die hele ding gaan oor strafreg, en dit het met ‘n weddenskap begin.

Troep 8 was deel van die groep onder oleiding wat die jaarlange program gevolg het. Hierdie manne het nie die vorrreg gehad om matriek in die gewone skoolstelsel te voltooi nie. Die opleidingsprogram van die polisie-studente van daardie tyd, laat sestigs en begin sewentigs, was so saamgestel dat die studente ‘n matrieksertifikaat kon verwerf as deel van hul opleiding. Hierdie matrieksertifikaat was nasionaal aangebied (deur die departement van Nasionale Opvoeding) en dus nie deur een van die destydse vier provinsiale opvoedingsdepartemente van die Suid-Afrika van daardie tyd nie. Benewens die verpligte tale (Afrikaans en Engels) kon die studente dan ‘n beroepsgerigte nasionale senior sertifikaat verdien vir hulle opleiding in polisiewerk met suksesvolle afhandeling van die vakke Inleiding tot Kriminologie en Volkekunde, Suid-Afrikaanse Strafreg, Strafproses- en Bewysreg, en Wettereg. Hierdie nasionale senior sertifikaat het vinnig in die polisie-subkultuurtaal as die ‘regsmatriek’ bekend geword. Matrikulante het die laaste ses maande van dieselfde opleidingskursus bygewoon en het ook die ‘regsmatriek’ geskryf met die uitsondering van Afrikaans en Engels wat erken was vanaf hul skooleindsertifikate van welke provinsie ookal.

Vir die regsmatriek het troep 8 egter ‘n kollektiewe probleem gehad, en dit was die strafreg. Hulle kon nog redelik die mas opkom met kriminologie en met volkekundige gesprekke. Laasgenoemde was met insig aangebied deur ‘n gesekondeerde onderwyser, en meneer Steenekamp het ook gou ‘n gewaardeerde dosent vir almal geword (en sekerlik ook die sagter, nie-paramilitêre oor vir die onder-druk-polisiestudente). Wettereg, die wette van die Parlement, was ook nie vir hulle te moeilik om te verstaan nie. Die enigste probleem was dat dit nogal baie leerwerk beteken het. Hulle moes definisies en ‘n klomp ander goed in die statute letterlik uit die kop uit leer. Dit het die troep ook goed hanteer met die hulp van hul troepsersant. Laasgenoemde het gou besef dat hy eintlik die persoon is wat op die dun lyn loop: die orkestroep moes gereeld oefen en optredes doen wat hul studietyd beperk het. Die optredes sou egter nie die troepsersant se vel red wanneer die troep swak doen in die eksamens nie. Sersant ‘Joep’ Joubert het gevolglik ‘n snoekermaat van hom, kenner van Oom Lasie se studiemetodes, met heel goeie gevolge ingespan. Dis nou behalwe vir Simbaal Stander, wat op ‘n stadium tot die ingeligte besluit gekom het dat ‘n aanrandingverdagte wat baie dun arms gehad het, gearresteer sou kon word vir messteek.

Strafprosesreg was aangebied deur die nimlike sersant Chris Barnard, ‘n ouer ware heer wat die studente in die klas aangespreek het as ‘gentlemen’ en ‘here’. Om die beurt, in Engels en in Afrikaans, kon hierdie dosent die prosesreg met behulp van stories vertel. (Die latere ‘oom Barries’ of ‘oom Chrisjan’ vir so baie van ons, het later ook vir ‘n ander rede bekendheid by ons verwerf, maar daaroor meer op ‘n later geleentheid). Ek weet van niemand wat by oom Barries klas gehad het wat ooit met die strafprosesreg gesukkel het nie. Geïgnoreer het sommiges dalk, maar dat hulle nie geweet het nie kan ek nie glo nie. Met bewysreg het die moeilikheid al begin. Gelukkig vir die polisiestudente op senior sertifikaatvlak was hierdie vak ‘n deelvak met strafprosesreg, het dit selfs ‘n bietjie aan die agterspeen gesuig wat intensiteit betref, en kon die manne die storie heel suksesvol baasraak.

Maar strafreg was ‘n ander saak.

Troep 8 se strafregdosent bekla op ‘n dag sy lot in die dosente se teekamer. Troep 8, sê hy, het geen idee nie, geen konsep nie, hulle verstaan nie. Die troep sit daar, al 36 van hulle, en kyk vir hom met gordyntjies oor die oë. Hulle konsentreer so dat hy kon sweer hulle haal nie asem nie. Hulle kom nog reg met acteus reus want hulle verbind die handeling in misdaadpleging maklik met die ‘wie-het-dit-gedoen-konsep’. Maar dis met mens rea waar hulle nie die kloutjie by die oor kan bring nie. Dit is juis met die bestudering van mens rea waar die groot regs-filosofiese diskoerse hulle heeltemaal te bowe gaan. Hulle kan geensins die denke, die gewete, die gedagte van die mens in kriminaliteit bymekaar kry nie. Op ‘n manier kom hulle nog by opset uit, waarskynlik omdat dit soos met die handeling vir hulle makliker sigbaar in hul gedagtes kan vorm. Maar hoe kan mens weet dat dit wat jy doen verkeerd is, as jy net nalatig is? Daarby saam is die Latynse terme wat so gemaklik deur hom (dis nou die dosent, ‘n BProc LLB van Tukkies) gebesig word, vir troep 8 Grieks. Met dolus directus en dolus indirectus het hy hulle nog spreekwoordelik in die palms van sy hande. Maar laat hy nou net, selfs saggies, begin praat oor dolus eventualis…. En sò gaan die dosent voort, ad nauseam.

Dis waar kaptein Ben Smit (en die weddenskap) op die toneel verskyn. Kaptein Smit, vermaarde dosent met ‘n meestersgraad, staan op en verduidelik dat hy graag hierdie probleem sou wou aanspreek. Gee hom drie periodes met troep 8, sê kaptein Smit, en hulle slaag enige vraag oor mens rea, die hele troep 8. En as ons nie keer nie, maan die kaptein sy kollegas, dan gaan ons nog moet verduidelik hoe ons soveel onderskeidings vir strafreg uit een troep studente gekry het …

En om darem net sy erns te beklemtoon, wed hy sy kollegas vir twee kaste bier, in kwarte. [Hier moet ek ietwat verduidelik: ‘n kwart bier daardie tyd was eintlik ‘a quarter gallon’ in die Amerikaanse maat, vandaar die ‘quart’ wat vertaal is na ‘kwart’ by ons. In vandag se terme sou mens dit kon verreken na 750 ml bier per bottel. Dus: 12 bottels per kas, maal twee kaste, maal 750 ml bier per bottel, kom hier op die spel. Die prys van die bier kan ek nie onthou nie, maar ek dink dis gemene saak dat dit astronomies sou kon wees teen ‘n polisiebeampte se salaris indertyd – selfs ‘n kaptein s’n].

Kaptein Smit spring aan die werk. Hy spandeer tyd in die regsafdeling van die biblioteek, hy soek na pedagogiese en andragogiese oplossings vir die aanbieding van strafreg op die vlak van die nasionale sertifikaat, hy berei voor soos hy nog nooit tevore voorberei het nie. By die Openbare Betrekkingeseksie van Polisiehoofkantoor kry hy ‘n kunstenaar geleen. Dìe maak vir hom transparante vir die oorhoofse projektor, die gelyke waarvan nog nooit tevore in die Polisiekollege gesien is nie. Op die dag trek hy nie net sy uniformhemp, das en langbroek met ranggtekens en medaljelint aan nie, maar die hele uniform – amptelike uniformbaadjie en al.

So skop kaptein Smit sy drie periodes af.

Dit gaan met rukke en stote, op en af, goed en minder goed, soms gaan die ligte aan, soms is geen ligte aan nie. Maar kaptein Smit beur dapper voort. So nou en dan gee hy die manne ‘n kort rookbreuk en ‘n kans om ‘n draai te loop. Dan gaan die klas weer aan, met toenemende angstigheid soos wat die tyd verby tik.

Iewers lyk dit of die manne begin verstaan. Daar kom selfs ‘n paar goeie vrae, en ‘n paar verligte verbale aanduidings van verstaan kom oor ‘n paar manne se lippe. Kaptein Smit skep sommer baie moed, iets is beslis aan die werk.

Maar hier reg voor hom, heel voor, in die middel van die klas, sit ‘n man. Daar was nog geen lig sigbaar by hierdie man nie. Hy konsentreer, hy hou elke beweging van die kaptein dop, sy oë beweeg nie van die kaptein se gesig af nie al hardloop die kaptein se hande tussen transparante, bordskryf en gebare rond. Hy hou die kaptein stip dop, maar toon geen sprankie hoop van ‘n strafreg-ontwaking aan die uitgeputte dosent nie.

En toe gebeur dit.

Student-reg-voor-in-die-middel spring regop, albei hande in die lug, wydoop oë vol van onmeetbare blydskap, en hy skree: ‘ek het dit, ek het dit…!’

Kaptein Smit gaan sit, sy bene kan hom nie dra nie. Die hele klas, van die troepleier af tot by die jongste lid, hou asem op, en kyk, en wag.

En student-reg-voor-in-die-middel vra: ‘kaptein, kaptein, kaptein het nie dalk familie in Witbank nie kaptein?’

Na die stilte, die gelag, die dekkingsoeke van kaptein Eddie Snyman se klas langsaan en die relatiewe besef van verloor, pak kaptein Ben Smit maar sy goedjies wat hy so sorgvuldig vir daardie klas (en vir daardie weddenskap) voorberei het.

En gaan koop twee kaste bier, in kwarte.

 

*Ek het hierdie storie met professor Ben Smit, hoogleraar emeritus in Strafregspleging en Navorsingsmetodologie (primêr) aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), uitgeklaar. Dit is immers ‘prof Ben’ wat die kern van die storie gedeel het met ons, sy kollegas en vriende van Unisa, sovele jare gelede al (dit was voor 2 Februarie 1990). Op ‘n stadium was meeste van ons wat die vak Polisiekunde in die departement Kriminologie aan Unisa doseer het voormalige kommissie-offisiere van die Suid-Afrikaanse Polisie (die SAP) en voormalige dosente van die Polisiekollege in Pretoria-Wes (nou die Suid-Afrikaanse Polisiediens- akademie, Tshwane). Prof Ben en ek het ooreengekom dat my weergawe van hierdie storie nie noodwendig die hele waarheid is nie, maar hy het vriendelik ingestem om my verbeelding te akkommodeer. Dalk laat dit iewers ‘n baby boomer – polisiebeampte glimlag …

oOo

cjb13052025

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.