Siviele dominee in Ops Gebied – Nongqai Vol 17 No 5
GISTER ONTHOU
Ds Jacobus van Tonder (Gereformeerde Kerk)

DIE BEROEP
Ek was predikant van Ficksburg Gereformeerde Kerk op ʼn Kapelaans-kursus in Pretoria 1984 toe ek beroep is na Tsumeb gemeente SWA, wat strek van Tsumeb tot Ruacana in die weste. In die oorweging van ja of nee, gesels ek met ʼn kaptein van Grootfontein wat by die Kollege op kursus was. Sy opmerking was dadelik, “Jy is nie beroep nie maar word gestuur. Jy kan nie weier nie. Ek sal vanaand vir jou vertel van die omstandighede daar”.
Die aand na ete vertel hy van die plaas aanvalle in die blanke gebied. Hulle volg ʼn redelike vaste roete uit Angola en Ovamboland. Gewoonlik in reëntyd of net daarna want dan is daar genoeg water in die veld. Vanaf die eerste kontak met SWAPO in1966, is Suidwes in militêre sektors ingedeel. As jy Oshakati en Ruacana bedien dan is jy in sektor 10.
Vanaf ʼn hek by Oshivello is Ovamboland, Rooi-gebied. Hier opereer militêre eenhede en die polisie. As siviele predikant sal jy die oorlog van ʼn ander sy beleef as die militêre manne. Dit kan soms spanningstye wees wanneer jy met ʼn hol rug ry. Ek aanvaar die beroep en ons vertrek na die “spanningsvolle avontuur” Hoe spanningsvol dit sou wees sou ons wel later beleef.
Die eerste kennis maak met die gevolge van die oorlog was twee dae na ons aankoms op Tsumeb, 10 Oktober, met ʼn kranslegging by ʼn monument op die dorp vir persone in die distrik wat deur terroriste aanvalle dood is.
Daar word ek aan tannie Pompie voorgestel as een van die helde van die oorlog. “Van haar sal jy nog veel hoor” word my gesê. Daar is later ʼn boek oor haar geskryf “Tannie Pompie se Oorlog.”
Daar hoor ek van terroriste wat die vorige week op iemand se plaas was. Meel op sy stoor se vloer uitgegooi het en daarin geskryf het “ Warmgat was hier Ek kom weer.” Later sou elke besoek aan die plaas my met ʼn hol rug laat ry.
In die straat kom ʼn Buffel met troepe stadig verby.
“MOET EN MOET NIE”
Tsumeb gemeente sluit in Otavi, Ondangwa, Oshakati en Ruacana. Die Rooi-gebied. Een maal per maand moet ek op Oshakati preek. Drie honderd kilometer van Tsumeb af. Ek sluit aan by die Area Mag Eenheid (Die Kommando) as troepie.
As die Offisier sê sit dan sit ek. As hy sê staan dan staan ek. So wil ek dit hê. Hulle het in elk geval ʼn kapelaan. By die AME kantoor word ek aangesê om ʼn R4 geweer te gaan trek. Ek mag nie die Rooi-gebied inry sonder die wapen nie.
Later sou ek vir ʼn tyd ʼn Uzi kry, wat ek in dele in die motor bêre omdat dit nie so veilig betroubare stuk yster was nie.
Aan my word verduidelik sononder sluit die hek by Oshivello tot die pad die volgende oggend “gevee” is. Jy moet tussen sonop en sononder klaar ry. Die konvooi motors ry sal deur Buffel voertuie begelei word. Ek self het altyd gesorg dat ek nie in ʼn konvooi ry nie. Dan kan ek so vinnig moontlik ry. Jy mag nie stop langs die pad nie behalwe by ʼn basis. As daar ʼn groterige hoop mis op die pad is, ry wyd om dit. Dit kan ʼn landmyn wees. So ook as daar ʼn hopie takkies of gras lê. As daar beeste oor die pad gejaag word stop so ver moontlik, en as jy kan, reïtereer. Die terroris loop tussen die beeste, as jy ʼn plaaspad ry en die hek wat normaalweg oop is, is toe, draai om die terroris wag vir jou daar. As dit lyk of daar gekrap of geskuur is op die grondpad, ry wyd om dit, dit mag ʼn myn wees. Spring myne (pomzet) kan met ʼn dun draad oor die pad gestel wees. Dit kan jy nie maklik raak sien nie. Die plaas huise is agter hoë draad heinings met ʼn hek wat toegesluit sal wees. Toeter. Wag ʼn tydjie. As niemand uitkom nie, moenie daar wag nie, gee pad. Jy kan ʼn teiken wees. Die mense is waarskynlik nie tuis nie. As daar meer as twee Casspirs op die pad is, draai om. Hulle is opsoek na insypelaars.
Die Kommando-kantoor laat gewoonlik die gemeenskap weet as daar insypelaars oor die kaplyn gegaan het. As daar kennis is van insypelaars moenie iewers langs enige pad stil hou nie. Hou maar die nood in. Moet dan ook nie in die aand buite die dorp ry nie. Indien jy figure oor die pad sien hardloop, draai om na die naaste plaas en laat hulle per Marnet die Kommando kantoor kontak.
BEDIENING IN DRIE
Bediening in die dorp was soos enige normale gemeente. Meeste inwoners was verbonde aan die Tsumeb-myn TCL (Tsumeb Corporation Limited).
Die Staande Mag lede van Oshivello en Omatia (61 MEG) met hulle gesinne het in die dorp gewoon. So ook op Otavi waar die SWASPES kamp buite die dorp was.
Bediening van die soldate was gewoonlik deur die Eenheid-kapelaan waargeneem. Ek het my nie ingedring in hulle werk nie, maar het by eenhede, soos Omatia (61) Okatopi Miershoop en Ombalanto, langs die pad gestop en met die wagte en soms die bevelvoerder gesels.
Sersant Majoor Joe Lombaard was vir die Gereformeerdes ʼn ouderling by 61 MEG. Hy het soms gereël dat ek ʼn nuwe inname se lidmate kan besoek en selfs daar nagmaal bedien. Of ander kerke enige reëlings gehad het , is ek nie van bewus nie.
Bediening op Ondangwa en Oshakati was besoek aan lidmate wat daar was. Hier was Staandemag- en Polisie-gesinne en ander siviele persone soos Waterwese, Tandarts, Elektriese (SWAWEK) en andere.
Daar was Eenhede kampe in die dorp maar ook hier het ek my nie ingedring in die Eenheid kapelane se plek nie. By lidmate (Gereformeerd) het ek gewone huisbesoek gedoen en eredienste en sakramente bedien. ʼn Huis was ingerig as kerk. As daar ʼn diensplig kapelaan was, het hy en gesin in die kerk gewoon.
Vir huisbesoek aan Ondangwa moet jy oorslaap plek reël en voor 18:00 daarheen ry. Na sononder kan jy nie op die pad wees nie. Geen pad beweging is toegelaat nie.
Buitengewone omstandighede vra ook buitengewone optrede. Dit was nie vreemd dat lidmate van ander kerke vra om saam nagmaal te gebruik nie want more vertrek hulle veld toe, na iewers. Inligting manne praat nie tuis oor wat hulle weet of beplan nie, en in sommige gevalle laat weet hy net huis toe, ek kom nie vanaand huis toe nie. So persoon kan ʼn paar dae weg wees. Die vrou moet instaan vir alles wat die kinders behels. Besoeke kan dan soms spanningsvol of afgestomp verloop, omdat die man nie juis wil gesels nie.
Bediening aan Koevoet-lede vra ook ʼn ander gesprek want hierdie mans gaan Maandag veld toe en kom meestal Saterdag terug. Die gesin is alleen en ma moet vir alles sorg en dink, met die spanning kom my man terug. Die man leef elke dag in die skadu van die dood. Menige een kom terug en vertel van die besondere bewaring deur aanvalle en gebeure, maar ook met hartseer as ʼn kollega of spoorsnyer dood is. Sommige sal met jou daaroor praat terwyl ander dit uitsny en praat nie daaroor nie. Vrou en kinders moet in die atmosfeer saamleef. Huwelik spanning kon tot misverstand en ongelukkigheid lei.
Van die swart Koevoet-lede het op ʼn stadium kom vra of ons “Wit kerke” nie ʼn Koevoet-gemeente kan stig nie, want meeste is nie welkom in hulle eie kerke nie. Dit het egter nie gerealiseer nie om verskeie redes.
