KERNKRAGOOREENKOMS MET SJINA LAASTE SPYKER IN NUWE SUID-AFRIKA SE DOODSKIS

Henning van Aswegen: 11 April 2025

Abstrak: Die ondertekening in Beijing van ‘n kernkrag-samewerkingsooreenkoms tussen met Sjina, is die laaste spyker in die nuwe Suid-Afrika se doodskis. Dié kontroversiële ondertekeningseremonie met kommunistiese Sjina se National Nuclear Corporation [CNNC] het op 8 April 2025 in Beijing plaasgevind. Ter agtergrond moet onthou word dat Mao Tse Tung (Zedong) en die Sjinese Kommunistiese Party reeds sedert 1965 ‘n direkte bilaterale vehouding met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het, en geld aan die SAKP voorsien het.

Staatsentriese Sosialisme

Suid-Afrika se staatsentriese Sosialistiese regering is internasionaal berug vir sy pro-Sjinese en Russiese stemrekord in die Verenigde Nasies, maar met hierdie nuwe kernkrag-samewerkingsoorkeenkoms is ‘n uitdagende middelvinger aan Suid-Afrika se voormalige Westerse bondgenote. Die ooreenkoms dui ook direk op ‘n verdere gewigsverskuiwing van Suid-Afrika pro-Hamas en antisimitiese regering in die rigting van die Brics-aksis, wat Rusland en Shina insluit.

Alliansies en magsblokke in die internasionale stategemeenskap is sedert die stigting van die Verenigde Volke Organisasie (VVO) in 1919 niks nuuts nie, maar in die internasionale stategemeenskap word jy geken aan jou vriende. Suid-Afrika het met hierdie honende gebaar finaal aan die Weste gesê: ons het julle nie nodig nie. “Ons is nou vriende met Rusland, Sjina, Noord-Korea en Kuba.” Suid-Afrika se aandele by Westerse lande en veral die VSA is tans op ‘n ongekende laagtepunt nadat die African National Congress besluit het om die Israeliese regeting vir menseregteskendings by die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland aan te kla. Dat die ANC-SAKP nie voorsien het dat Suid-Afrika se eie rasgedrewe menseregteskendings teen minderhede en veral plaasboere saam aan die groot klok gehang gaan word nie, spreek van stompsinnigheid.

Ten opsigte van hierdie kortsigtigheid, en die Suid-Afrikaanse regering se grondonteiening sonder vergoedings-beleid, ken die Amerikaners se argwaan geen perke nie. Hiervoor gaan Suid-Afrika se regering ‘n duur prys betaal, spesifiek wat internasionale hulpverlening aan die land betref. Die onlangs-uitgeskopte Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington Abraham Rasool, het daarvoor gesorg dat ons bilaterale betrekkinge met die Amerikaners op sy laagste punt in die geskiedenis is. Trump en die Amerikaanse Republikeinse Party se vyaniggesindheid teenoor Suid-Afika is baie duidelik te sien in die streng maatreëls wat onglangs teen die ANC-regering ingestel is. Dit is duidelik dat die ANC hierdie wuiwende rooi vlae nie raaksien nie, en daarom sy internasionale posisie so totaal misreken. Die ANC-SAKP sit met hierdie saak eenvoudig die pot mis.

Die ANC se Sosialistiese ideologiese ingesteldheid versoorsaak dat die land struikel wanneer dit by handelsbesluite kom, omdat die regering probeer om sy geopolitieke gevegte op ekonomiese-, finansiële en handelsterreine te probeer beslis. Die ANC probeer hiermee om ‘n waterpolowedsryd op ‘n rugbyveld te speel – die goed pas nie bymekaar nie.

Die ANC se roekelose buitelandse beleid is die direkte oorsaak van die VSA se onwilligheid om AGOA (die African Growth and Opportunity Act) met Suid-Afrika te hernu. AGOA, wat lewensbelangrik vir Suid-Afrika is, is die gunstige Amerikaanse Sub-Sahara handelsprogram wat Suid-Afrika toelaat om ‘n aantal produkte belastingvry na die VSA uit te voer. Suid-Afrika is sedert die jaar 2000 een van die begunstigdes van dié program. Donald Trump self het die ANC se onsinnige grondonteiening sonder vergoedingsbeleid as die hoofrede vir die opheffing van die AGOA-ooreenkoms uitgewys.

Suid-Afrika se kernwapenvermoë

Teen die einde van 1988 en in 1989 het die speelterrein van internasionale stategemeenskap, met inbegrip van Suid-Afrika onomkeerbaar en dramaties verander. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Party-regering het op 22 Desember 1988 ‘n ooreenkoms met Kuba en Angola onderteken wat voorsiening gemaak het vir Suidwes-Afrika (Namibië) se onafhanklikheid, en die terugtrekking van 50 000 Kubaanse soldate uit Angola. Die Koue Oorlog is in 1989 beëindig met die ineenstorting van Kommunisme in die voormalige Sowjet-Unie en Oos-Europa. Suid-Afrika se kernvermoë was nog altyd ‘n kontroversiële saak, en teen 1993 het dit nie meer sin gemaak om die land se duur kernkrag- en wapenvermoë te behou en verder te ontwikkel nie.

Hoewel hierdie kernwapenontwikkelingsprogram Suid-Afrika in staat gestel het om self kernbrandstof aan sy kernkragsentrale by Koeberg en die SAFARI-navorsingsreaktor by Pelindaba te voorsien, was dit ‘n reuse uitgawe wat die land nie werklik kon bekostig nie. Suid-Afrika se kernwapenontwikkelingsprogram is in sy beginjare met die hulp van Israel se kundigheid en Amerikaanse kennis ontwikkel, en die oorspronklike handleidings was van hierdie twee ‘vriendelike’ Westerse lande afkomstig. Die ontwikkelingsprogram was egter later ‘n sleutelpunt van konfrontasie met die internasionale stategemeenskap en het ongetwyfled bygedra tot die land se internasionale isolasie.

Die Nasionale Party-kabinet het reeds aan die begin van 1990 opdrag gegee dat die Atoom Energiekorporasie (AEK) se loodsverrykingsaanleg by Pelindaba buite diens gestel word, en dat die kerntoestelle vernietig en afgetakel word. Nầ hierdie dramatiese besluit, is Suid-Afrika in 1991 toegelaat om lid te word van die internasionale Kernsperverdrag. Pelindaba, Velindaba, Vastrap en al Suid-Afrika se kernfasiliteite is oopgestel vir gereelde inspeksie deur die Internasionale Atoomenergie-agentskap [IAA).

Die aftakeling van die land se kernkragvermoë was ‘n bitter prys wat Suid-Afrika vir apartheid en sanksies moes betaal, maar die institusionele kundigheid en vermoë het ten spyte daarvan behoue gebly. Dit is hierdie Westerse tegnologie en kundigheid wat Suid-Afrika se ANC-SAKP regering nou so lukraak met kommunistiese Sjina deel.

*