FARM MURDERS IN SOUTH AFRICA: AN ADDITIONAL PERSPECTIVE

PLAASMOORDE IN SUID-AFRIKA: ’N BYKOMENDE PERSPEKTIEF

'n Foto wat buite, lug, boom, gras bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Kort, inleidende opsomming van artikel:

Die artikel bied ’n kritiese perspektief op die hantering en publieke diskoers rondom plaasmoorde in Suid-Afrika. Die skrywer argumenteer dat plaasmoorde nie net as gewone misdaad afgemaak kan word nie, aangesien die wreedheid, modus operandi en impak op die landbougemeenskap en voedselsekuriteit unieke faktore inhou. Hoewel daar geen bewyse is vir volksmoord nie, moet die regering, soos in ander ernstige misdaadsituasie, spesiale eenhede en maatreëls instel om plaasaanvalle daadwerklik te bekamp. Die artikel bepleit ’n gebalanseerde en sensitiewe benadering wat alle gemeenskappe se lyding erken sonder politieke of ideologiese verdraaiing.

Sleutelwoorde:

  • Anti-Bende Eenheid
  • BBP-beskerming
  • Emosionele impak
  • GBV (Geslaggebaseerde geweld)
  • Gemeenskapsveiligheid
  • Geweldsmisdaad
  • Landelike veiligheid
  • Misdaadbestryding
  • Misdaadstatistiek
  • Misdaadvoorkoming
  • Modus operandi
  • Plaasaanvalle
  • Plaasgemeenskappe
  • Plaasmoorde
  • Politieke moorde
  • Regeringsverantwoordelikheid
  • Regverdige optrede.
  • SAPD prioriteite
  • Simboliese betekenis
  • Voedselsekuriteit

Deur brig Fanie Bouwer (SAP – Afgetree)

'n Foto wat persoon, klere, person, kraag bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Ek wil graag die kwessie van plaasmoorde en -aanvalle aanraak, waar statistieke van hierdie moorde dikwels vergelyk word met byvoorbeeld bendeverwante moorde op die Kaapse Vlakte en elders.

Hierdie vergelyking word gebruik om die voorkoms en erns van plaasmoorde en -aanvalle te minimaliseer. Dit word dan die aanvaarde narratief, wat die ware, feitelike situasie onkrities vertroebel.

Ek voer verder aan dat die vergelyking van moordstatistieke ’n lomp, ondeurdagte en kortsigtige instrument is wat nie die menslike dimensie in ag neem nie. Die werklike verskil lê in die modus operandi tydens die pleging van hierdie misdade, wat ek hieronder sal bespreek.

As voormalige hoofkoördineerder van misdaadvoorkoming en sigbare polisiëring in die Wes-Kaap, bly ek besonder geïnteresseerd in en volg ek steeds hierdie aangeleenthede nougeset.

Eerstens wil ek die bewering van volksmoord in Suid-Afrika aanspreek. Alhoewel dodelik ernstig, glo ek daar is konsensus dat, met betrekking tot plaasmoorde, daar geen sprake van so iets in ons land tans is nie. Hierdie idee word, na my mening, deesdae meestal uit pure onkunde vanuit Amerika versprei.

Ek kon ook geen bewyse vind dat enige senior lid van AfriForum al ooit ’n bewering van volksmoord gemaak het nie.

Plaasmoorde, sowel as moorde op die Kaapse Vlakte en in ander gebiede, wek om verstaanbare redes sterk emosies op by hul onderskeie gemeenskappe, en dit moet gerespekteer word. Die aantal moorde op die Kaapse Vlakte, waar mense meesal deur skietvoorvalle vermoor word, is ernstig – ek sou dit selfs as ’n krisis beskryf. In teenstelling hiermee is plaasmoorde statisties deel van die breër misdaadkrisis in Suid-Afrika, maar met ’n bepaalde klem.

Die onmenslike wreedheid toon ’n unieke graad van wreedheid wat nie in gewone moordstatistieke weerspieël kan word nie. Terloops, moet ook nie die buitengewone hoë moordsyfer in die townships vergeet nie.

Ek het navorsing gedoen oor die modus operandi, of eerder die metodes en maniere waarop aanvallers tydens plaasaanvalle en -moorde hul slagoffers doodmaak of ernstig martel. Nie net dit nie, maar ook wat in sekere gevalle aan vroue en kinders gedoen word. Ek het ’n lang lys van hierdie dade saamgestel. Hulle is egter so afgryslik en wreed van aard dat ek nie die moed gehad het om dit hier in enige vorm te lys nie.

In hierdie verband het Ian Cameron, die voorsitter van die parlementêre polisiekomitee, onlangs die volgende gesê: “Ek het ’n dekade daaraan bestee om bloedbevlekte huise binne te stap, oorlewendes te troos (as daar enige was), en langs treurende families te staan. Sommige plaasaanvalstonele lyk meer soos ’n slagpale as ’n misdaadtoneel. Jy sien dit nie net nie. Jy vergeet nie die reuk nie. Jy dra dit altyd saam.”

Ál die moorde wat hierbo beskryf is, is hoogs kompleks en emosioneel gelaai en word dit vir politieke uitgebuit. Dit vereis derhalwe ’n gebalanseerde en sensitiewe benadering. Dit volg dus logies dat ek dink dat daar eerder slegs verwys word na die “landbougemeenskap,” wat segregasie in politieke diskoers en die potensiële risiko van identiteitkonflik, politieke polarisasie en begunstiging kan vermy.

Uit ’n statistiese en prioriteits-perspektief kan is daar diegene wat kan aanvoer dat oormatige fokus op plaasmoorde dalk die groter prentjie van gewelddadige misdaad oorskadu. Wat hierdie gewelddadige misdade teen boere verder onderskei, is nie net hul wreedheid nie, maar ook die gevoel van verwaarlosing deur die owerhede – veral die Suid-Afrikaanse regering en sy polisie.

Die oplossingsyfer van plaasmoorde is ook uiters laag – 10%-13%. Jare gelede het die regering belowe om spesiale eenhede te stig as alternatiewe meganismes vir landelike veiligheid. Daardie belofte is nooit nagekom nie.

Ek wil nou vier gevalle noem waar die regering wél die nodige gedoen het in terme van misdaadvoorkoming in sekere omstandighede.

Wat bende-aktiwiteite betref, wat tot ’n buitengewoon hoë moordsyfer lei, het die regering (die polisie) spesifiek ’n Anti-Bende Eenheid tot stand gebring om bendegeweld aan te spreek.

In die geval van KwaZulu-Natal se (KZN) politieke moorde ’n paar jaar gelede, het die regering nie gehuiwer om in 2018 ’n groot moord-taakeenheid beskikbaar te stel om polities gemotiveerde moorde in daardie provinsie hok te slaan nie.

Nog ’n saak van groot kommer vir alle Suid-Afrikaners, is die baie ernstige kwessie van geslaggebaseerde geweld (GBV). Die voortdurende regeringsgesteunde veldtog fokus op vroue en kinders en is hoofsaaklik daarop gemik om hulle teen geweld en misbruik te beskerm. Dit is deel van ’n breër poging om hierdie euwel te beveg. Die bekendste aspek van hierdie veldtog is die “16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders,” wat jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaasvind. Ek het nog nooit gehoor dat iemand op hierdie veldtog of die misdade teen vroue en kinders gereageer het deur eenvoudig te sê: “hulle is ook maar net slagoffers van misdaad nie.”

Dan, laastens: in die 2024/25-boekjaar het die begrotingstoekenning vir die kabinetsminister se BBP-beskerming – hul bloulig-voertuie en personeel – R2.18 miljard beloop. Hierdie spesiale misdaadvoorkomingsbesteding het baie negatiewe openbare debat ontlok. Daar is kommer uitgespreek oor die prioritisering van politieke elite se veiligheid bo dié van gewone burgers.

Wat kan die regering dan doen aan plaasmoorde en -aanvalle?

Voordat hierdie vraag beantwoord word, is dit nodig om daarop te wys dat plaasmoorde unieke sosiale en ekonomiese implikasies het. Dit raak voedselsekuriteit, landelike stabiliteit, en dra ’n besondere simboliese gewig – deels as gevolg van Suid-Afrika se geskiedenis. Boere werk dikwels in afgeleë gebiede met min beskerming, en die wreedheid van sommige aanvalle skep intense vrees en wantroue.

Die debat rondom plaasmoorde moet daarom nie gesmoor word nie, maar verbreed word. Daar moet erkenning gegee word dat alle gewelddadige misdade – of dit nou plaasmoorde, bendegeweld of dié in stedelike townships is – ewe ernstig is en dat almal spesiale aandag verdien. Daar kan nie gesê word – soos wat alreeds gebeur het – dat plaasmoorde en/of -aanvalle bloot ’n geval is van hulle wat ook maar net “slagoffers van geweld soos enige ander” in Suid-Afrika is nie.

Wrede en brutale marteling gevolg deur teregstellings, soms sonder om selfs iets te steel, kan nie as “normale misdaad” beskou word nie. Daarom voer ek aan dat die regering – soos met bendeverwante moorde op die Kaapse Vlakte, die politieke moorde in KZN, beveiliging van baie belangrike persone (BBP’s) en geslaggebaseerde geweld – nou ook spesiale maatreëls moet tref in reaksie op die langdurige versoeke om plaasmoorde as prioriteitsmisdaad te verklaar en om geïntegreerde landelike kommando’s te stig. Waarom is die regering so stadig en toondoof vir hierdie redelike, regverdigbare versoeke? Die boere kan die geblameer word as hulle die regering van ‘n vyandiggesindheid teenoor hulle beskuldig nie.

Ek glo dat, indien die voorgestelde stappe geïmplementeer word, die onnodig emosioneel gelaaide debatte ook tot ’n einde sal kom.

Intussen is dit ook van kardinale belang dat politieke en media-uitsprake gebalanseerd bly, sonder om enige gemeenskap se lyding te ontken of te minimaliseer. Dít grens aan medepligtigheid.

'n Foto wat skermskoot bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.