'n Foto wat teks bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

'n Foto wat teks, skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

ENGELS IN DIE MAG (ENGLISH AS SHE IS SPOKEN IN THE FORCE)

Brig HB Heymans

Ons Afrikaner-seuns se gebruik van Engels was hoofsaaklik beperk tot Engelse-periodes op skool of so nou en dan ‘n Cowboy-fliek. Ek het in Durban groot geword en ons Durbaniete kon basiese Engels en isiZulu redelik vlot praat – veral in selfverdediging. Tog is daar honderde Engelse woorde en Engelse regsterme (om nie eens van Latynse regsterme te praat nie!) wat mens nie geken het nie. Eers later in die SA Polisie leer mens die woorde in indiensopleiding.

Maj Solomon as jong man – hy is in die agterste ry

In die SAP-kollege het maj Solomon en sers Wright ons Polisie-Engels aangebied. Die majoor was in die kollege aangewend omdat hy feitlik blind was. Hy het ons geleer hoe om Engelse verklarings te maak en af te neem. Hy het eenmaal in die klas gesê: “A Policeman is not above the Law but subject to the Law like any other citizen”.

Ons beredemanne het ‘n Engelse boekie “Horse en Stable management” deur ‘n majoor Morton gehad. Daar was baie Engelse terme in die boekie, ek weet nou nog nie wat ‘n “fetlock” is nie.

Ons het lekker gedril en toe kom die bevele eendag in Engels: “Slooooooooope Arms! En: ”Oderrrrr Arms! Ek het nie geweet wat “slope arms of order arms” beteken het nie en was maar ‘n sekonde of twee laat want ek het na my buurman gekyk, wat hy maak.

Pas uit die kollege en baie teësinnig ontwikkel ek pampoentjies terwyl ek een middag aan diens is. My gesig en keel swel en ek sukkel om te praat. Ek word toe twee weke ‘afgeboek’ om te herstel. As mens ‘n jong polisieman is wil jy nie afsiek gaan nie – jy is bang jy mis iets.

Toe ek terug kom na my siekteverlof staan daar in my sakboekie: “This detail is off sick. Sgt Keulder”. Ek het altyd gedink in die SAP is mens net ‘n nommer maar nou is ek ‘n “detail” genoem. Gelukkig nie ‘n ducktail nie!

In Durban en omstreke het ons Afrikaans gepraat maar in Engels geskryf. Alle registers is maar in die Rooi-taal geskryf.

‘n Jong konstabel ken nie al die “amptelike” Engelse woorde nie. Elke weeksdag het die stasiebevelvoerder in die voorvalleboek geskryf: “OB and Registers perused”. Ek kom een dag by die stasie aan en vra die aanklagtekantoorsersant of die stasiebevelvoerder al die voorvalleboek en registers “pursued” het?

‘n Jong konstabel het maar altyd ‘n skuldige gewete want soms het jy onbewustelik ‘n foutjie gemaak en foutjies was net nie toegelaat nie. Laggend vertel die hulle my toe die woord is “perused” en dit beteken nasien.

Eendag vra ‘n lid van die publiek vir die konstabel (ook vars uit die kollege) waar die sersant is? Kom die antwoord: “Hies-out wif da wah”. (Hy is uit met die wa.)

Ons stasiebevelvoerder het van “Jew-ropians” (Europeans) in Engels gepraat as hy blankes bedoel het.

In die dae voor die bos-oorlog het ons sommer enige letter gebruik om oor die lug te spel. So sê een lid oor die lug: “”C” soos in Sydenham”.

Ek het maar onbekende Engelse woorde agter in my sakboekie neergeskryf en daarna uitgevind wat dit beteken het. So onthou ek die woorde “coercion” (dwang) en “pugnacious” (veglustig) – so leer mens maar.

Dit is waar dat elke beroep sy eie vaktaal en sub-kultuur het. Ons was ‘n veelrassige, veeltalige mag met ‘n eie-subkultuur en ons het byvoorbeeld gepraat van:

  • ”AG” (Admission of guilt) – erkenning van skuld,
  • “van” – (patrolliewa),
  • “Ou-bee” (OB) – voorvalleboek (VB),
  • “Ar-see-Eye” (RCI) – register van ondersoek van misdaad (ROM),
  • “Ar-see-Aye” (RCA) – register van aanklagte aangeneem (RAA)
  • “Trespass” – betreding
  • Ysterbaadjie – lid van die uniformtak
  • Bobbejaanpak – tafeltenue
  • Tjo-tjo – omkoopgeld
  • Mafokkie – speurder (ook “lapbaadjies” genoem).
  • Daroo – drank (Indies)
  • Dalal – omkoopgeld (Indies)
  • Impimpi – beriggewer
  • Mielieraad – die offisierskeurraad
  • Makoue – makoue waggel en dis glo hoe kandidaat-offisiere marsjeer
  • Haas – lid van die publiek
  • Likkewaan – tronkbewaarder
  • Magal – voetman (Ek het die word nageslaan en die word “magal” is ‘n Voortrekker naam vir ‘n renoster.)
  • Bosluis – beredeman
  • “Kay-bee” – afkorting vir brousel
  • Peg/pek – departementeel aankla
  • Die beroemde “F” woord is baie keer gebruik om “niks of geen” aan te dui
  • Skud – soos in skud hom: deursoek hom….

Ek bemerk toe ons stasie-polisiemanne het ‘n eie soort turbo-taal ontwikkel. So merk ek ook later op dat die ganse uniform-, speur- en veiligheidstakke hul eie unieke vaktaal ontwikkel het. (Ja, veiligheid het ‘n enkele woord gebruik om ‘n hele begrip of operasie weer te gee, bv “Jy moet more die Sanhedrin bywoon”. Sanhedrin is die oggendkonferensie vir senior offisiere. )

Later werk ek saam met die SAP se teen-insurgensie-eenheid en ek sien toe hulle het ook ‘n eie turbo-taal gehad bv ‘n “Romeo-Victor”. As ‘n insident bv plaasgevind het wou hulle die ruitverwysing (Romeo-Victor) weet.

Ek was baie aan die SA Weermag blootgestel en by die staatsveiligheidsraad het ons die weermag se skryfstyl gebruik. Daar is ‘n hele handleiding en ek het dit deurgelees en nogal interessant gevind. Die weermag het altyd van die “vyand” gepraat.

Om op tye som: Die polisie, die weermag en die intelligensie-gemeenskap het elk sy eie subkultuur gehad en saam het die drie instellings ‘n eie nasionale veiligheidstaal en subkultuur ontwikkel.

'n Foto wat teks, skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.