The General and (older) music artists – Die generaal en die (ouer) musieksterre
Abstract
This article offers a vivid, personal recollection of life within the South African Police (SAP) during the late twentieth century, focusing on the leadership style and influence of Lieutenant-General H.G. (“Hennie”) de Witt. Through anecdotal detail, the narrative captures the tension, discipline, and humour that characterized interactions with senior officers, while also highlighting the cultural and diplomatic significance of ceremonial parades and police orchestras and bands. The author reflects on the subtle pressures of protocol, the symbolic gestures of authority, and the unexpected career shifts imposed by senior command. Particular attention is given to the recruitment of prominent musicians such as Nico Carstens and Manie Bodenstein, illustrating how the SAP’s orchestras functioned not only as entertainment but as instruments of public relations and national identity. The text situates these experiences within broader themes of hierarchy, tradition, and the blending of military-police culture with South African society. Ultimately, the article underscores how personal memory and institutional history intertwine, offering insight into the lived realities of service, discipline, and cultural diplomacy in the SAP.
Keywords
• South African Police (SAP)
• Lieutenant-General H.G. de Witt
• Police orchestras and music culture
• Institutional hierarchy and protocol
• Ceremonial parades and diplomacy
• Nico Carstens, Manie Bodenstein
• Personal memory and policing history
• Authority, discipline, and humour in SAP
DIE GENERAAL EN DIE (OUER) MUSIEKSTERRE*
(Chris Botha)

“Dan wil ek ook met jou praat oor die indiensneming van Nico Carstens. Maar, kom ons begin eers met die gastelys vir die Desember-uitpaseringsparade”.
My keel trek so saggies toe. Ou polisiemanne ken hierdie keeltoetrekding. Ons was maar altyd ietwat bekommerd. Is alles reg gedoen? Het ek iewers iets vergeet? (Dis immers ‘n generaal die, jy weet?). Dis soos wanneer ‘n onsigbare ysterhand jou aan jou strot beetkry, net onderkant die adamsappel, en dan boontoe vryf sonder om sy greep te verslap. Dit voel of die adamsappel se appel boontoe en agtertoe gedruk word met die doel om dit net onder die kleinbrein na buite toe te laat bars. Waarskynlik met ‘n knal wat ou grensvegters sal laat verlang na ‘n donderbuis. ‘n Regte een – soos die donderbuis wat die veggeneraal** van die polisie op ‘n stadium (geen naam nie, dus geen strafgrensdiensbeurt nie) se hand amper in die hemelruim ingeblaas het. Sonder die veggeneraal.
Terwyl luitenant-generaal HG (‘Hennie’) de Witt (later met SSA, SOO, SOE agter sy naam***), senior hoof-adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaans Polisie (die SAP) op sy lysie afgaan, hou ek hom stip dop.
Generaal De Witt was vir my ‘n uitsonderlike mens wat boonop oor ‘n skerp humorsin beskik het. Ek was oortuig dat daar niks in polisiëring en verwante omgewings kon bestaan waarvan hy nie geweet het nie. Inderdaad, het ek soms gedink, het hy waarskynlik die voorskrifte self ontwerp, iewers in ‘n lang en roemryke loopbaan. ‘n Langer loopbaan as die meeste polisiemanne, sou ek by hom hoor met sy aanstelling as Suid-Afrika se Kommissaris van Polisie (in die polisie-volksmond na verwys as ‘Kompol’), ‘n jaar of wat later. Ek sien hom nou nog, daar in die offisiersklub van Polkol se Gousgebou, sigaret tussen die vingers en ‘n bier (uit die voorskrifte van die Duitse Reinheitsgebot) in die hand, onnutsige ogies op skrefies getrek, en ‘n verwysing na “outliving them all”, of iets in dier voege …).
Hy was egter ook streng en het geen foute sonder meer geduld nie (mens moes ‘n baie goeie verskoning hê). In die linker-bosak van sy uniform het hy ‘n wit sakdoek gedra wat hy heel gereeld gebruik het om tyd te wen tydens ‘n gesprek. Of wanneer hy ‘n jong kaptein wou laat voel hoe ‘n mens se adamsappel stadig na bo en agtertoe gedruk word, dink ek …
[Daar was in my tyd gerugte oor ‘n generaal wat so graag ‘n polisieman wou word dat hy sy identiteitsdokument vervals het sodat hy as ‘n sogenaamde ‘sestienjarige’ – die minimum ouderdom om by die SAP aan te sluit in sy grootwordjare – in diens geneem kon word. Ek noem nie ‘n naam nie want ek kon niemand vind om die gerugte te bevestig nie. Die generaal van wie ek gehoor het, het na bewering op ‘n stadium in sy loopbaan ‘n volledige bekentenis oor hierdie insident aan die Prokureur-Generaal (PG) van die Transvaal voorgelê. Welke PG geweier het om te vervolg, en die saak as afgehandel beskou is. Ek kan natuurlik nie onomwonde sê dat hierdie generaal dalk generaal De Witt was nie. Maar as dit hy was, dan kan ek verstaan dat generaal De Witt ‘n langer loopbaan as die meeste polisiemanne kon gehad het].
Terstond bespreek ons die gastelys van die Desember-uitpassering. Die generaal het hieraan besondere aandag verleen. Die gewoonte was om ook buitelandse verteenwoordigers in Suid-Afrika na hierdie parades te nooi. Dit was deel van die regering se strategie om goeie bande te kweek en te behou, na gelang van de geval, en vir sover dit moontlik sou wees. Die staatsregtelike verhoudingslewe in Pretoria kon ‘n ernstige knou kry indien mens hier op diplomatieke tone sou trap. Een van die mense wat dan in die slag sou kon bly, was ek, die junior stafoffisier van die Bevelvoerende Offisier van die SA Polisiekollege in Pretoria (die BO van Polkol, soos hierdie ampsbekleër bekend gestaan het) en de facto sowel as de jure in beheer van die protokol vir die parade en die noenmaal daarna. Dit was gevolglik in my voordeel om op te let vir die duidelike en soms subtiele voorskrifte van die senior hoof-adjunkkommissaris van die SAP.
[Terloops, ‘n ruk na hierdie voorval het generaal De Witt my ‘laat kom’ (lees nou weer die stukkie oor my adamsappel en die keeltoetrekding hierbo) want hy wou my ‘spreek’. By hierdie geleentheid het die generaal my ingelig dat hy my verplaas na die SAP Museums en Argiewe. Stomgeslaan stotter ek toe iets van my honneursgraad in die Polisiekunde, dat ek baie van geskiedenis hou maar geen idee het hoe mens ‘n museum- en argiefstelsel moes bestuur nie. Waarop die generaal toe die wit sakdoekie uithaal, daarin proes, die sakdoekie terugplaas in die boonste linkerkantste sak van sy uniform en kalm vir my inlig dat hy ook ‘n pos ‘iewers in Soweto’ vir my beskikbaar het. Ek het dus die opdrag, om kurator van die SAP Museums en Argiewe te word, sonder verdere teëstribbeling aanvaar. Op die dag van diensaanvaarding bel die generaal my toe om vir my te sê dat hy my eintlik by die museum geplaas het sodat ek die protokolfunksie nasionaal daarvandaan kon hanteer, waar ek nader aan sy kantoor sou wees. Generaal De Witt het egter net nie daarby uitgekom om die Senior Stafoffisier op Hoofkantoor van hierdie reëling te vertel nie. Ongeveer ‘n jaar later het hierdie ding in groot moeilikheid ontwikkel …]
Uiteindelik kom ons uit by die musieksterre op die generaal se lysie.
Hy praat oor die bekendheid van die polisieorkeste, en die positiewe terugvoer wat hy uit die breëre gemeenskap kry. Die groot orkes met sy uitvoerings in die Staatsteater en ander plekke, die militêre orkes (soos die marsorkes bekend gestaan het) wat tydens parades uitstekende kommentaar ontlok, die kamer-orkes, die dansorkeste, en so gaan die generaal voort. Hy herinner my daaraan dat dit polisie-orkeste was wat een jaar beide die senior, sowel as die junior boereorkeskompetisies gewen het. Ons praat oor jong Willie Botha, die konsertinaspeler, wat vir die junior boereorkes konsertina speel. Ons stem saam dat die jong man baie gelukkig kan wees dat hy vir oom Manie Bodenstein in sy omgewing kan hê. Die jonge Botha het die doyen van konsertinaspelers (so het sommige mense oor oom Manie in die pers geskryf) in die senior boereorkes as ‘n rolmodel, iemand wat hy kan bestudeer en mee kan praat. Iemand wat aan hom die fynere kunsies sou kon oordra …
Die polisieorkes, soos daar maar in die algemeen na die verskillende orkeste bymekaar in die orkeskamers verwys is, was ‘n aanwins, sê ons vir mekaar, ek en die generaal. Die administratiewe personeel van die Polkol het ook sommige van die administratiewe aspekte van die orkes hanteer, en ek as die junior stafoffisier van die BO het sommige van hierdie pligte op my pligstaat gehad, soos die korrespondensie rondom indiensnemings. Wanneer brigadier Sam Holmes (die Direkteur van Musiek) en sy personeel iemand vir die orkes wou werf, het hulle die papierwerk gevolglik saam met die BO se personeel afgehandel. Ek was dan meermale die handtekening-persoon. Soos met die indiensnemingsprosesse van verskeie uitstekende musikante. Vir doeleindes van ons gesprek egter verwys die generaal na die indiensneming van ouer ligte-musiekmeesters, soos oom Manie Bodenstein.
“Brigadier Holmes en jou BO het darem erg by my gekerm oor hierdie ou manne”, haak die generaal af. “Mens sou jou kon verbeel dat die einde van die wêreld sou aanbreek indien ons hulle nie in diens neem nie. Veral nou weer, met Nico Carstens”. Die trekklavierkoning sou by die polisieorkes aansluit, sy papierwerk is gedoen en goedkeuring word afgewag.
Generaal De Witt stoot ‘n dokument oor sy tafel na my kant toe. “Hier is Nico Carstens se brief”, sê hy, “al die dokumente is geteken. Julle kan hom nou maar inkry vir die insweerproses. Ek glo hy sal ‘n besondere bydrae maak tot ons orkes”.
Toe leun hy so ‘n bietjie agtertoe, gebruik die wit sakdoekie, prop dit terug in die linker boonste sak van sy uniform, bekyk die sigaretjie tussen sy vingers en sê saggies: “ons kan seker donners bly wees ou Jurie Ferreira en ou Al Debbo is alreeds deur die Weermag gevat…”.
oOo
*Vir die inligting vervat in hierdie storie is ek in geheel afhanklik van my geheue, wat waarskynlik ook darem al ‘n krakie of twee opgetel het. Ek het immers al ‘n hele paar stukkies stofpad gery. Indien alles wat ek hier skryf nie oral heeltemal klop met die geheue van ander mense wat van die tema iets weet nie, vra ek om verskoning. En vind ek ‘n wegkruipplekkie daarin dat mens daarteen moet waak om ‘n lekkerlees-storie aan te veel detail te onderwerp. Of so iets …
**Daar was nooit sò ‘n rang nie, maar baby boomer – polisiemense sal weet wat hier bedoel word.
***Die nanaamse letters vir die volgende dekorasies: Ster van Suid-Afrika (SSA); Suid-Afrikaanse Polisiester vir Voortreflike Diens (SOO, vir Stella Officii Optimi); Suid-Afrikaanse Polisiester vir Uitmuntende Diens (SOE, vir Stella Officii Egregii).

Dankie vir hierdie lekkerlees storie, Chris!
Ja, ons was waarlik bevoorreg om naby-aan generaal Hennie de Witt te kon werk. Ek sal altyd die vier jaar wat ek sy stafoffisier was, as een van diehoogtepunte van my loopbaan onthou.