An American falls on his back in the SA Police College
‘N AMERIKANER VAL OP SY RUG
(Chris Botha)
Ek besef eers wat gebeur het toe Hermann Göppel (foto onder) afbuig, die Amerikaner op die grond se hand vat, en hom optrek totdat hy op sy eie bene kan staan. Ek het nooit voor dit, en nooit daarna, so iets gesien nie.
En terwyl ek nou hier sit en skryf, besef ek dat ek eintlik niks gesien het nie want alles het heeltemal te vinnig gebeur …
Hermann Göppel* was ‘n instrukteur in liggaamlike opvoeding by die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria-Wes (in die gewone verbygaan na verwys as ‘Polkol’). Met hierdie instelling het ek in Julie 1972 kennis gemaak toe ek die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) se basiese opleiding ondergaan het. Polkol sou ‘n belangrike rol in my lewe speel, en gebeure van daardie tyd is nou nog vir my rigtinggewend. Hermann het vir ons peloton selfverdediging aangebied. Ek het toe al ‘n voorsmakie gekry van sy vermoëns, alhoewel ek eers baie later sou besef waartoe hy eintlik in staat was.
Dit was sy Duitse aksent wat my eerste getref het. Nogal kenmerkend, het ek gedink, en my verbeel dat dit was hoe ‘n vroeëre kollega van my pa, meneer Hans Ehrenstrasser, moes geklink het. Pa het altyd die mooiste stories van meneer Ehrenstrasser vertel, van sy bekwaamheid as ‘n loodgieter (wat my pa se beroep ook was), sy noukeurigheid, sy respek vir ander mense en, natuurlik, sy aksent. By hierdie kollega van hom het my pa geleer om Duits te praat. Pa se stories van hom en meneer Ehrenstrasser in die Kalahari was deurspek met Duitse aanhalings. Dwarsdeur hierdie stories was daar ‘n goue draad van bekwaamheid, strenge dissipline in die uitvoering van die taak, ‘n soeke na innoverende oplossings vir uitdagings in werksverband en ‘n gehoorsaamheid aan hoër gesag. Dit is juis hierdie kenmerke wat ek van my pa onthou. Wanneer ek my oë toemaak en aan my pa se Kalahari-stories dink, hoor ek dikwels vir Hermann saampraat.
Ewenwel, iewers tussen ‘chest v armlock from the rear’ en ‘full Nelson break’ (gevolg deur ‘n ‘class … go!’ as die uitvoerende deel van sy bevel) het ek die waarde van hierdie mens se bydrae tot my lewe begin besef. Natuurlik het dit baie te doen gehad met selfverdediging: ek was eintlik nie lank genoeg vir die 1972-indiensnemingsvoorskrifte van die SAP nie (my matrieksertifikaat het blykbaar as kondonasie gedien vir my toelating tot die beroep, het die werwingsoffisier my later vertel) en was maar dikwels ‘n teiken vir boelies. ‘n Paar beproefde stoeigrepe wat my pa my geleer het, het my van kleintyd gehelp om nogal heel goed en relatief heelhuids aan die ander kant van boelie-aspirasies uit te kom. Met Hermann se opleiding kon ek meer gedugte aanslae afweer.
Die man was ook ‘n liggaamsbouer wat (in 1962*) die titel “South Africa’s Most Muscular Man” (in die kortman-afdeling, sou hy glimlaggend aan my verduidelik) verower het, ‘n stukkie onthou wat aan my bevestig is deur Theo Swart, voormalige kollega van Hermann by die Gimnasium. Daarom sou hy graag vir enige personeellid ‘n oefenprogram uitwerk nadat hy ‘n behoorlike evaluasie van die mens en sy gewoontes gedoen het. So vertel my vriend en voetdril-kollega Daan (‘Barrie’) Badenhorst my van die keer toe hy vir Hermann genader het vir ‘n gimnasium-oefenprogram. Hermann stap na ‘n sluitkas, haal ‘n pakkie sigarette uit en bied vir Barrie aan. Toe Barrie die aanbod vriendelik van die hand wys (hy was nie ‘n roker nie) het Hermann ingestem om sy program uit te werk. Later sou Barrie weet dat dit ‘n stokoue sigaretpakkie was, slegs vir die doel van uitskakeling in Hermann se kas gebêre. (Terloops, sy liggaamsboustrewe was die gevolg van ‘n ongeluk in ‘n Suid-Afrikaanse goudmyn, waartydens sy rug gebreek is en hy vir meer as ses maande in ‘n hospitaal was*).
Na die basiese opleiding, as ‘n pelotonsersant, het ek gereeld my peloton vergesèl na spesifieke gedeeltes van hulle opleiding. Ek kon dus sien hoe die manne vaar by ander plekke, soos by vuurwapenvaardigheid, in die regsklasse en ook by die gimnasiums met hul fisiese opleidingsleerplan. Nou kon ek Hermann se deurlopende invloed raaksien. Op een sò ‘n dag roep Hermann die pelotonleier vorentoe vir ‘n demonstrasie. Hermann het meestal die grootste manne gebruik vir sy demonstrasies, en die keuse om die pelotonleier te gebruik was gevolglik geen uitsondering nie: die man was ‘n swaargewig amateurstoeier, reeds ‘n kampioen van die een-of-ander kompetisie, indrukwekkend groot en humeurig daarby. Binne die peloton het niemand met hom skoor gesoek nie. Hermann roep die man vorentoe, die kêrel troon bokant Hermann uit, en lê die volgende oomblik plat op sy rug – op sy gesig so ‘n stom-verbaasde uitdrukking. En toe maak die pelotonleier ‘n fout: hy vererg homself en besluit om vir Hermann aan te vat. Dit was ‘n fout maar die man wou nie ophou nie. En vir ruim driekwart van ‘n periode is ek en die res van die peloton toeskouers van die een foutlose beweging op die ander, die mees volmaakte aanhoudende afslaan van bedreiging op bedreiging, met verduidelikings tussen-in oor wat hier gebeur het of nou gaan gebeur. Ek onthou die doodse stilte in die groot ou gimnasium, slegs verbreek deur die geluid van ‘n swaar menslike liggaam wat aanmekaar op die mat in die kryt neerplof. En Hermann se stem tussenin, sonder om asem te soek, wat kalm verduidelik wat hy hier gebruik het of daar gedoen het. ‘Kyk, nou kom sy linkerarm vorentoe, en ek vat hom daar, en ek stap met my regtervoet hiernatoe en hup! … daar gaan hy!’ En dan gaan die man …
Waar my eie waarnemings van Hermann Göppel saggies deur my draf terwyl ek hier skryf, het ek ook die herinneringe van ander om op staat te maak. So praat Andrè du Plessis, ‘n voormalige bevelvoerder van Hermann by die Gimnasium, van hom in terme soos gedissiplineerdheid, respek vir mense in die algemeen en rangmeerderes in die besonder (Andrè was baie jonger as Hermann), dat hy selfs op aandag sou staan as hy met ‘n rangmeerdere oor die telefoon sou gesels en sy spesialiskennis van selfverdediging. Laasgenoemde word deur my vriend en oud-kollega van Hermann, Chris Krause, beaam: volgens Chris het nie een van ons werklik besef waartoe Hermann in staat was op sy spesialisgebied nie. Ons het waarskynlik net ‘n gedeelte van sy ware kennis en vaardigheid gesien.
Terug na die Amerikaner waarmee ek hierdie storie begin het. Een van my (later-jare) take as ‘n Kompaniebevelvoerder in Polkol was om besoekers op ‘n toer deur die Kollege te neem en aan hulle te wys wat ons doen. Die Gimnasium was natuurlik een van die besoekpunte en ek het altyd probeer om vir Hermann in te sluit. Op ‘n dag neem ek dus twee senior persone van die FBI uit die VSA** op die toer. Die twee manne was nie juis polities-krities oor ons opleiding nie, maar het ‘n uitermatige hoogwaardige houding aan hulle gehad. Veral die een kêrel, die senior van die twee, was nogal vasbeslote oortuig daarvan dat geen land in Afrika regtig ‘n Amerikaner kan beïndruk nie, al sou ons graag wou. Die fout wat hy egter gemaak het, was om vir Hermann te sê dat sy (Hermann se) selfverdedigingsmetodiek antiek en nutteloos was, en dat hy op hom (dis nou op Hermann) die nuutste sou wou demonstreer met die hoop dat Hermann dan iets by hom van die uitstaande Amerikaanse tegnieke sou kon leer.
Ek onthou dit was ‘n baie respekvolle Hermann wat sy hand uitgesteek het om die man van die grond af op te help …
Wat is die oorsprong van Hermann se uniekheid? Waar kom hierdie rare kombinasie van uitsonderlike bekwaamheid aan die een kant, en nederigheid aan die ander kant, vandaan? Ek en hy het dit nooit bespreek nie, maar ek meen tog dat konteks ‘n interessante rol hier sou kon speel. Hermann is op 24 November 1933 in Duitsland gebore. Van my pa en meneer Ehrenstrasser se verhouding lei ek af dat die Duitsers waarskynlik oor die algemeen bekwame mense was, oor ‘n hoë werksetiek beskik het en doelwitgerig was. Met Hitler as die aggressor egter, woed die Tweede Wêreldoorlog tussen 1 September 1939 en 2 September 1945. Hermann is dus ‘n baie jong seun* toe hierdie oorlog die wêreld verwoes. As kind was hy verplig* om deel te wees van die Deutsches Jungvolk in der Hitler Jugend, waar absolute gehoorsaamheid afgedwing was. Die oorlog self moes seergemaak het – en ek onthou dat hy nooit vir my vertel het waarom en hoe hy in Suid-Afrika beland het nie. Mevrou Ina Göppel vertel egter dat Hermann ‘n gekwalifiseerde drukker* was. Sy plan was om tydelik in Suid-Afrika se goudmyne te kom werk (waar die salaris meer was as wat selfs ‘n bankbestuurder in sy heimat kon verdien) sodat hy sy eie drukkery in Duitsland kon begin. Hy het wel vir my gesê dat hy voor sy indiensneming deel was van koverte polisie-operasies, dat hy na hierdie operasies by die SAP aangesluit het (gedurende April 1963)* en in Polkol beland het. Ek het hom hieroor nie uitgevra nie.
Maar ek wonder baie oor ons, wit Afrikaanse baby boomers (gebore 1946 tot 1964), wat ons eie jeugbelewenis gehad het (met ‘n hele klomp van ons uit ‘n Dietse agtergrond) en ons eie oorlog beleef het. Wat kan ons leer by Hermann Göppel? Miskien moet ons net weer ‘n slag dink oor sy spesialiskennis, dat hy altyd met ander sy kennis gedeel het, sy egte sin vir respek en sy gesonde lewenstyl.
Solank as wat ek die vermoë het, sal ek sy grootliks onbesonge unieke en spesiale menswees as ‘n baken op my lewenspad onthou …
*Met dank aan mevrou Ina Göppel vir vanoggend se mooi, entoesiastiese en insiggewende gesprek oor hierdie besondere man.
**Die Federal Bureau of Investigation in die Verenigde State van Amerika.
(Hartenbos, 25 Augustus 2025.
Generaal ,Baie dankie vir die hoogs insiggewende stories oor Majoor Goppel ,dit bring baie herrineringe terug van die tyd toe ek saam hom gewerk het.Mooi dag en dv sien ons mekaar in 2027 .
Hernann Göppel! n Rolmodel vir baie. Hermann, my swaer!❤️
Uitstekend, soos altyd, generaal.