DIE TERAARDEBESTELLING VAN ADOONS (E.N.M.)

Sarie van Niekerk (Redakteur Nongqai : Vroue/Female).

Voor ek die teraardebestelling van Adoons skryf, moet ek darem net bietjie iets oor hierdie beroemde Adoons vertel, voordat almal dalk dink nou maar wat soek ‘n Adoons storie op ons blog. Adoons is met volle eerbetoon in die Kloof begraafplaas in Heidelberg, Transvaal, as ‘n sersant begrawe.

Ek het hierdie baie interessante verhaal eendag per pos in my posbus ontvang sonder om te weet wie dit vir my gestuur het. Maar navorsing het later aan die dag gebring dat hierdie voorval werklik gebeur het. En toe het ek ook vasgestel wie dit geskryf het, maar hy was toe ongelukkig reeds oorlede.

Geniet hierdie pragtige verhaal. Dit is nie ‘n storie wat iemand somer uitgedink en op papier gesit het nie, inteendeel dit is ‘n ware gebeurtenis wat dateer uit die destydse Tweede Vryheidsoorlog.

Ek het hierdie stukkie geskryf presies soos ek dit ontvang het met Nederlandse spelling hier en daar en die manier van hoe die taal destyds gebruik is.

HIER VOLG DIE TERAARDEBESTELLING VAN ADOONS

Soms was daar ‘n ligter kant aan die Anglo-Boereoorlog. Soos die verhaal van die Skotse soldaat wat in Heidelberg, aan die voet van die Suikerbosrand, in twee grafte langs mekaar begrawe lê. Sarie van Niekerk het die raaisel van die twee grafte nagespeur.Daar is in die Engelse begraafplaas, of die Kloof begraafplaas soos dit ook bekend staan – wat uit die tweede Vryheidsoorlog dateer – hier in Heidelberg ogenskynllik ‘n besondere en unieke eer ‘n Engelse soldaat aangedoen : hy is tweemaal begrawe. Hy lê drie tree van mekaar. (Dit klink onlogies maar dit is moeilik om dit anders uit te druk) : Twee grafstene (een die gewone militêre kruis, die ander ‘n gebeitelde klip) met dieselfde naam, nommer, regiment en dieselfde datum waarop die oorledene sou gesneuwel het.

Dis ‘n makabere verhaal, dié van die gesneuwelde soldaat en Adoons. Die naam op albei grafstene is dié van sers. W. Woodward. Op 8 Augustus 1900 het hy For King and Empire gesneuwel, soos ‘n mens duidelik lees op die een graf met die silwer militêre kruis. Die verweerde grafsteen op die ander graf daar neffens is van gebeitelde klip. Die geheim van die eienaardige eerbewys, is deur twee getuies opgehelder, en dit is miskien in die belang van die toekomstige geskiedkunde van Suid-Afrika om die storie aan die vergetelheid te ontruk. Een getuie, ‘n Engelse dokter, wat in die diens van die Engelse besetting van Heidelberg was, die ander ‘n Afrikaner – aan ons kant – wie se lewe vir lange tyd in die ergste gevaar verkeer het, venwege die dubbele dood van sersj. Woodward. Ons landgenoot (gelukkig vir hom!) het tot die vrede in die veld gebly.

Hier volg dan in kort die storie soos dit ons by die graf vertel is deur die twee getuie in bysyn van die “klein dominee” en Tant Sannie Kloppers. Woodward was net voordat die Britte Heidelberg beset het, verbonde aan ‘n Skotse regiment wat in die omgewing verkenningswerk gedoen het. Sy verhaal word vertel in ‘n dokument wat deel vorm van die nalatenskap van mnr. Jurie Swart, wat in die jare veertig ‘n onderwyser in Kroonstad was.

Sy seun, mnr. Koos Swart van Somerset-Wes, het so in my soeke na die waarheid, destyds gesê ná sy pa se dood in 1978 het hy op die handgeskrewe stukkie geskiedenis afgekom. Die aanduidings is dat Swart sr. die gegewens op 20 Januarie 1949 neergeskryf het,

Sersj. Woodward was van ‘n Skotse regiment gedetasjeerd vir verkenningsdiens, kort voordag die Engelse Heidelberg bereik het. Een dag, toe hy uitgestuur was op sy gevaarlike werk, het hy sy afdeling nie weer bereik nie; en in lewe het geen mense-oog  sersj. Woodward ooit weer gesien nie! Heinde en ver het die Engelse navraag en ondersoek ingestel, maar van die verlore sersj. kon hulle g’n taal of tyding kry nie. Vir maande het die vrugtelose soek geduur en toe word eendag berig van ‘n Engelse afdeling ontvang, dat hulle die geraamte van sersj. Woodward in die veld gekry het. Die identifikasie was te alle twyfel verhewe want die papiere van die gesneuwelde sersj. was nog leesbaar. Die stoflike oorskot is na Heidelberg oorgebring, en met militêre eerbewys ter aarde bestel en ook (in) grafregister is die toe nog naamlose graf aangeteken as die van sersj. Woordward met die (waarskynlike datum van sy dood).

Sers. W. Woodward se twee grafte feitlik langs mekaar in die Kloof begraafplaas in Heidelberg. Regs die normale militêre ysterkruis en links die verweerde gebytelde kopstuk. Foto uit: Anecdates of the Anglo Boer War deur Rob Milne.

In ‘n geheel ander gedeelde van die distrik Heidelberg was ‘n ander verkenningskolonne werksaam. Van die werklike ontdekking van die bene van sersj.. Woodward het die tweede kolonne niks geweet nie, en maande nadat hy reeds veilig begrawe was, was hulle nog besig om elke boeregevangene en elke plaaswerker te ondervra omtrent die verdwene soldaat. Uiteindelik kom hulle (soos hulle waan) op die spoor. Hul kamp eendag by ‘n klein boereplasie – hoog teen die rand geleë. Die plaas was natuurlik verlate. Die plaaswerkers was nog in hul stat. Dadelik word ondersoek ingestel omtrent sersj. Woodward en onmiddellik vertel die werkers hul storie wat (soos hulle dag) die hele saak ophelder. Een aand (so verklaar hulle plegtig en eenstemmig die werkers) toe die Boere-eienaars nog op die plaas was, het hulle gesien hoe twee Boere net langs die huis ‘n Engelse soldaat met ‘n byl en ‘n piksteel respektiewelik vermoor. Hulle moes hom vreeslik stukkend gekap en geslaan het, want die moord het lang geduur. Nadat hy dood was het die twee Boere die lyk op ‘n stukkie sak of ‘n bokseil die rand ingedra, waarskynlik om hom te begrawe. Die werkers was toe bang om na die moord naby die plaas te gaan. Hulle wou natuurlik nie die Boere laat weet dat hulle ooggetuie van die moord was nie Meer as ‘n jaar daarna, toe die kommandes die gedeelte van Heidelberg verlaat het en toe die Engelse aan’t komme was, het hul vir die eerste eer gaan kyk. En dit het hul nie lang geneem om die bene van die vermoorde Engelse soldaat in die rand te kry nie. Hy was in die dryfsand van ‘n droë berglopie begrawe en deur storm en water was die bene gedeeltelik blootgelê en taamlik verspoel. Die werker getuie bied aan om die offisiere van die kolonne die geraamte te gaan wys.

‘n Lykskouing (van taamlik ver af) word gehou, en dadelik ‘n rapportganger na Heidelberg gestuur om aan die Engelse bevelvoerder daar bekend te maak dat die geraamte van die verlore sersj. Woodward gekry is, en om te versoek dat ‘n begrafnisafdeling met ‘n doodwaentjie en ‘n doodkis uitgestuur word om die gebeente na Heidelberg te vervoer.

(Die boonste het Jurie Swart in Julie 1946 geskryf)

Dit het intussen gebeur dat daar ‘n nuwe Engelse garnisoen in Heidelberg aangekom het, wat niks wis van die vroeëre en werklike begrafnis van die man. Onder die troepe was egter ‘n afdeling van die Skotse Hooglanders waaraan (?) die man behoort het, en aan hulle word die plegtige teraardebestelling van hul vermoorde landsgenoot en kameraad toevertrou

Tien Skotse manskappe met skopgrawe het die waentjie en doodskis vergesel, en diep onder die indruk van die treurspel verkerende, en met aansienlike afgryse, het hulle die bene met sand en al opgeskep en in die kis gegooi. Ooreenkomstig met ‘n Skotse bygeloof is ‘n Skotse mondering en doedelsak saam met die bene in die kis geplaas. (Sersj. Woodward was ‘n vermaarde doedelsakspeler). Die onderliggende gedagte is natuurlik dat die oorledene by die opstanding behoorlik geklee en toegerus sal verskyn. En dit Van bewys, wat ek altyd beweer het, dat die Skotte nieteenstaande die algemene, teenoorgestelde vermoeding in werklikheid die ligsinnigste optimiste is. Van die mondering niks gesê nie, maar om die hoop te koester dat die Skotse doedelsak deel sal uitmaak van enige denkbare orkes hiernamaals, wel!

Intussen is die manne van die twee moordenaars (deur die werkers bekendgemaak) wyd en syd deur die Engelse gesaghebbers uitgesaai, met die bevele dat indien hulle gevang word hulle dadelik na Heidelberg onder ‘n sterk wag vir teregstelling moet gestuur word.

Om die geskiedkundige loop van sake in sy verband te hou, moet nou vertel word dat die vermoorde glad nie sersj. Woodward was nie. Dit is naamlik ‘n groot mak mannetjiesbobbejaan, wat die eienaar van die Suikerbosrandse plasie die aand tot die dood veroordeel het. Toe hulle besluit het, by nadering van die Engelse, om die plaas te verlaat, het die vraagstuk ontstaan wat met Adoons gedaan? Om hom vry te laat, was om die vernietiging self uit te lok. Hy sou die dak in stukke pluk en al die vrugtebome verwoes (min wis hul dat ‘n erger verwoester as Adoons aan nadere was!) Besluit word toe om die ongelukkige bobbejaan dood te slaan. Jammerhartig en met groot weersien (want hy was hulle ou grapmaker) is Adoons deur twee jongkêrels doodgekap en geslaan en in die berglopie gegooi, presies soos die werkrs beskryf het.

Intussen word in Heidelberg deur die Skotte uitgebreide voorbereidsels gemaak vir die plegtige teraardebestelling van ons ongelukkige landgenoot uit die hooggebergtes, gesneuwel op die slagveld van eer.

Dit spyt my om te moet erken dat Adoons nie ortodoks was nie. Onder die naam van sersj, Woodward was hy in die Engelse argiewe aangeteken en as Rooms Katoliek, en dit was onder die gemoedsroerende formulier van daardie kerkgenootskap wat sy bene op die laaste rusplek besorg was.

Selde het Heidelberg ‘n meer ontroerende plegtigheid deurleef. Al die troepe en die gehele Engelse en Skotse burgerlike bevolking was in groot getalle by die kerkhof geskaar om die laaste eer te bewys aan die oorledene. Die bene van Adoons was eerbiediglik op’n kanon vas en die doodskis in die Engelse vlag gehul. Almal was diep onder die indruk van die gruwelike wyse waarop sersj. Woodward aan sy einde gekom het. Om en voor die doodswa was ‘n lyfwag van Skotse Hooglanders met omgekeerde geweers. Voor hulle was ses doedelsakspelers en heel voor in gewyde gewaad die Roomse priester. Dit is ‘n bekende feit sterkgespierde manne dikwels trane stort by die aanhore van dansmusiek op ‘n doedelsak gespeel. Om egter die dieptes van menslike ellende en smart te ondervind, moet ‘n mens ‘n doedelsak treurlied hoor. In die groot skare was g’n enkele oog droog. Gesê word dat die gehuil van die vroue die getjank van die musiek by wyle oortref het.

En so is Adoons met wywater onder reukwater en die uiterste militêre eerbewyse na sy rusplaas gedra in die stille kerkhof van Heidelberg.

Seker het so iets nog nooit vantevore een van ons landgenote van die krans te beurt geval nie.

Tant Sannie Kloppers (van wie vroeër melding gemaak word) het die geskiedenis aandagtig aangehoor. Hier het sy reeds drie ontslape eggenote te ruste gelê en sy het waarskynlik die metafisieke synde in die saak dikwels en diep oorpeins. Na ‘n lang stilte sê sy met ‘n sekere mate van vertwyfeling : “Ek het altyd gesê dit gaan ’n deurmekaarspul afgee”. En toe vra sy ernstig aan die dominee  : “En wat gaan nou gebeur as die bobbejaan op die laaste dag op die basuingeskal tussen die Engels troepe verskyn?”

(Hierdie laaste stukkie het Jurie op 20 Januarie 1949 geskryf)