Een van my groot lekkertes is om uit te eet. Nie uit ‘n blikkie uit nie, nee, by ‘n gewone alledaagse brêkvis bedienende restaurant uit-eet. Dis lekker. Dis gesellig. Dis presies dieselfde kos as wat ek by die huis kan kry, en vroulief maak dit boonop soos ék dit wil hê. Dis nou as jy by die huis eet, meen ek. Maar dit smaak anders by ‘n uit-eet-plek.

Deesdae kry mens ook mos daardie uit-eet plekke waar jy te veel betaal vir te min. En dit glo omdat een of ander ou met ‘n Mitchellin iets (altyd gedink dis ‘n soort motor-band), al op TV kos gemaak het. Iemand wat voordoen dat hy alles van kos en smaak en voorberei en opdien weet. En omdat die Chev nou glo jou groot bord met die bietjie kossies in die middel en die oorloop straaltjie sous buite-om voorberei het, betaal jy. Betáál, meen ek. En dan sit hulle jou bord voor jou neer met ‘n selfvoldane “Bon Appetit”! asof dit Frans is vir geniet die ete! Dit is nie. Dis Xhosa se “bona” wat “kyk” beteken en Frans se “petit” wat klein beteken. In gewone Afrikaans: “Kyk hoe klein”!

Maar dit is nie die soort restaurant wat ek van hou nie. Ek praat van ‘n brêkvis-restaurant. Waar jy by ‘n gewone tafeltjie met gewone stoele, ‘n gewone koppie koffie en ‘n gewone ontbyt met roosterbrood, toegedraaide bottertjie en ‘n bakkie of twee konfyt kry.  Destyds het ons dit ‘n Kêffie genoem.

En ek hou daarvan om te wag tussen die bedien van my koffie en die bedien van my ontbyt. Want dit gee my tyd om te kyk. Die mense wat kom eet bekyk. Die kelners bekyk. Nogal interressant hoe die keuse van kelners gewoonlik so is dat hulle almal dieselfde lyk, of dieselfde liggaamsbou het. Party heel aansienlik. Party dieselfde haarstyl. Ander weer regte “Weight”resse! Laasgenoemde seker deur die kok aangestel. Iemand het mos eendag gesê: “Never trust a skinny chef!”

Of bekyk die mense. Die besigheidsman (soms net die besigheidsman-“pose”) wat sy skootrekenaar uithaal nog voor sy koffie bedien word. Of die paartjie wat geselsende op hulle selfone instap, spyskaart lees, bestel en verder gesels sonder om ‘n woord met mekaar te praat. Seker alles vir mekaar gesê wat gesê kan word. Seker al moeg vir mekaar se geselskap, nou geselskap hulle maar met die selfoon. Vervelig, dink ek. So ‘n eenrigting geselsery.

Maar soms, net soms, is daar diegene wat, soos ek, kom om die etetjie te geniet. Jy ken hulle sommer uit aan die manier waarop hulle die stoel uittrek en hulle sit kry. Glimlag op die gesig – nie breed nie, eintlik net ‘n oog-glimlag. En lees die hele spyskaart rustig deur, en bestel ‘n doodgewone koppie koffie en ‘n doodgewone brêkvis op ‘n doodgewone bord met ‘n mes-en-vurk wat in ‘n halwe papierservet toegedraai is.

En dan kom my brekvis. En ek smeer my roosterbroodjie en ek sit ‘n stukkie kraak-spek daarop en ek sit een van die saggebakte eiers bo-op sonder om die geel te breek. Want ek kan. En ek mag – want daar is nie ‘n oorloop-sous-strepie op my bord se rand nie. Ek Brêkvis!

*