Om te Klub of om te Gilde? – Dit is die vraag
Piet du Toit
Ons dorp het ‘n boekwinkel. Nie ‘n skryfbehoefte winkel wat boeke ook verkoop nie. Ooknie ‘n boekewinkel waar jy baie geld betaal vir fênsie nuwe boeke van grootnaamskrywers en grênd toedraai-papier en mooi koevertjies met koopbewyse in nie. Nee. Ons het ‘n boekwinkel waar tweedegeleesde boeke én nuwe boeke en nuwerige boeke en koek en koffie verkoop word. En ons dorp se boekwinkel is langs die see en baie naby hoë berge. En ons boekwinkel het ‘n boekklub. Nie een soos die TV s’n waar daar nie berge óf ‘n see is nie. Ons s’n is ‘n Tussen-boeke-boekklub. Eintlik ook nie ‘n boekklub nie, want die “lede” van ons boekklub skryf nie almal boeke nie. So, eintlik is ons ‘n “skrywersklub” of as ons nou rêrig grênd wil wees, ‘n skrywersgilde. Ek hou dáárvan. Klink vernaam. “Ek is lid van ‘n skrywersgilde”. Ja! Ons dorp het ‘n skrywersgilde waarvan ek lid is! Dit klink reg.
Sunset – ‘n Tweedegeleesde boeke-ruilwinkel boekwinkel
Maar ons boekwinkel was eers bietjie soos ‘n tradisionele tweedegeleesde boeke-ruilwinkel van ouds wat so ‘n muwwerige plek was wat na klam papier en toeka se pine vloere ruik. Maar net bietjie so. Soos ou boekewinkels gewees, meen ek. Want in die ou tweedegeleesde boekwinkels was die mense wat jou gehelp het ook so bietjie muwwerig en klam en pine-erig. Nie óns boekwinkel nie. Ons boekwinkel waar ons skrywersgilde een keer ‘n maand bymekaarkom se eienaar/boekekenner/algemene hulpverlener is ‘n energieke aanvallige dame met ‘n uiters hulpvaardige personeel wat self ook skryf en koffie maak en saam met die skrywers oor alles en nog wat kan gesels.
En toe ruil sy mos die ou boekwinkel vir ‘n pragtige nuwe winkel wat reg langs die see is, en as jy by die venster uitkyk of voor die deur staan, sien jy die berge. En daars ‘n klavier. En daars koffie. En daars koek. En daars boeke. Nuwes en tweedegeleesdes. En daar’s ‘n skrywersgilde wat eenkeer per maand daar bymekaarkom en gesels oor skryf.
Skrywers en Digters
En die klomp skrywers het gehelp om die boekwinkel sowat ‘n halwe kilometer te verskuif. Nie die gebou met die pine vloere nie. Net die inhoud van boeke, koffie-maakgoed, kaste, kiste, rakke, breekgoed en messe en vurke.
Nou moet jy ook verstaan dat almal wat kan skryf nie noodwendig fiks en dra-gereed is nie. Nee. Hulle is skryfgereed. Groot verskil. Party wil gesien wees. Ander wil gehoor word. Sommige wil nie gesien óf gehoor word nie. Lengte verskil. Breedte verskil. Prioriteite verskil (behalwe as dit by skryf kom. – dis almal se prioriteit). Maar almal help. Of jy nou dra of aanmoedig of pak of in die pad staan, maak nie saak nie. Ons help.
Want óns is lede van die Sunset Books Skrywersgilde van die Strand!
Piet du Toit