Henning van Aswegen
Intellegere, DIE BURO, Nongqai Skrywers & Boeke, Die Buro vir Staatsveiligheid (BSV).
DIE BURO
“Sedert die Buro se ontstaan in 1969 is van die personeel tydelik in Wachthuis gehuisves, maar ons vind ons uiteindelik tuis op die negende vloer van die Concillium-gebou. Ons afdeling was bekend as Afdeling F en verantwoordelik vir internasionale politiek. Piet de Wit, voorheen van Buitelandse Sake, was die afdelingshoof en Fanie Meyer, voorheen van Militêre Inligting (MI), die adjunk. Meeste van my nuwe kollegas was voorheen by MI of burgerlikes van “civi-straat”. Oorhoofs het Afdeling F onder die hoofdirektoraat Navorsing geressorteer, met Joe Fourie van Buitelandse Sake die Hoofdirekteur.”[i]

Die Buro: Genl. Lang Hendrik van den Bergh en die Buro vir Staatsveiligheid [BSV]
Dr. Willem Steenkamp, lid van die BSV, later diplomaat en ambassadeur, vertel dat sy ou Afdeling K se taakopdrag die evaluasie van etnografiese en politieke inligting ten opsigte van Suid-Afrika se Indiër- en kleurlingbevolking was, asook die Tuislande en alles met betrekking tot Suidwes-Afrika.[ii] Afdeling B was verantwoordelik vir die evaluasie van politieke aangeleenthede buite die Tuislande, dit wil sê, stedelike versetoptrede, soos byvoorbeeld die oorsake van die Soweto-onluste. Ingesluit by hulle taakopdrag was navorsing oor swart bewussynsorganisasies en studente-organisasies, maar nie beperk daartoe nie. Afdeling D het aandag gegee aan ekonomiese sake en tendense in die buiteland, met George Grewar as die afdelingshoof. Afdeling G het navorsing en evaluasie gedoen van militêre gebeure en ontwikkelinge buite die grense van Suid-Afrika, onder leiding van ’n voormalige vlootoffisier, Dirk Visser. Afdeling F se studie-onderwerp was politieke gebeure in die buiteland en die internasionale stategemeenskap, maar hulle het sterk op Afrika-aangeleentheide gekonsentreer.
‘n Geheime Begroting
Die werklike begroting van die BSV was geheim, ten spyte van syfers wat jaarliks deur die kantoor van die eerste minister uitgereik is. Ten spyte daarvan dat die parlement elke jaar die begroting van die Buro gemagtig het, is die detail en besonderhede daarvan nooit bekend gemaak nie. Daar kon dus nie akkurate afleidings gemaak word oor die werklike begroting van die Buro nie, alhoewel die openbare media dit geniet het om te spekuleer. Gedeeltes van die Buro se begroting is deur ander staatsdepartmente in hul begrotings gedra, byvoorbeeld die Departemente van Verdediging en Buitelandse Sake, albei lede van die intelligensiegemeenskap. Sommige mediaberigte, wat die gepubliseerde begroting van die BSV met ses of sewe vermenigvuldig het, was minder verkeerd as die res van die media.
Die eerste gebruik van politieke wetenskapmodelle vir die analise, vertolking en evaluasie van inligting
Politieke wetenskapmodelle is na die Soweto-onluste saakmakend toegepas om konsepsuele begripsraamwerke vir die verstaan van belangrike gebeure en gedrag. Die Intelligensiesiklus was byvoorbeeld nie gebruik vir die verstaan van gebeure en gedrag nie, maar wel om begrip vir die bedryf van intelligensie te verbeter. Die eerste voorbeeld van die toepassing van ’n behavioralistiese benadering is die Soweto-onluste van 1976, volgens dr. Willem Steenkamp, saam met Cor Bekker, Cobus de Kock, Cobus Schoeman en Dries van der Lith van die groep politieke wetenskaplikes wat deur die BSV aangestel is.
Wetenskaplike Modelle
’n Faktor in die frekwensie van aanwending van wetenskaplike modelle was uiteraard van welke kampus die nuwe aankomelinge gewerf is – prakties almal was vanaf Afrikaanse universiteite, waarvan die merendeel op daardie stadium nog erg konserwatief was met betrekking tot die insluit van moderne teorie in byvoorbeeld hulle Staatsleer-leerplanne: dit was godsdiensgedrewe filosofiese benaderings soos Herman Dooyeweerd se “soewereiniteit in eie kring” wat gedoseer is.[iii] Unisa, daarenteen, het sterk gefokus op dinge soos die behavioralistiese benadering onderliggend tot empiriese gedragstudies in die algemeen (soos onderskei van die meer normatiewe benadering van die godsdiensgedrewe filosofiese beskouings, ook op stelselteorie (David Easton), struktureel-funksionele analise (Almond & Powell) kubernetika en die belang van kommunikasie (Deutsch).[iv] Die ietwat gestadigde inslag wat moderne teoretiese modelle gedurende daardie era by instansies soos die BSV nog gevind het, was dus nie unieke “agterlikheid” nie, maar heeltemal in pas met die ontwikkeling van leerplanne by die konserwatiewe Afrikaanse universiteite. Daar was duidelik ’n honger aan die ontwikkel vir sulke hulpmiddels; om konsepsueel die sosiale fenomene te kan opklaar en begryp. Om hierdie verwikkelinge in die politiek sterk akademies-teoreties te fundeer, kon hierdie tipe waarheid dus aan die regering van die dag gestel word as ’n wetenskaplike bevinding en kon die regering se eie rol in die destabilisering van die politieke stelsel met dapperheid uitgewys word.
‘n Politieke Wetenskaplike Benadering
Die verwelkoming en toepassing van ’n wetenskaplike benadering tot politieke analise word geïllustreer deur die uitvoering van ’n kabinetsopdrag om dringend ’n betroubare analise te maak van gesindhede onder die destydse blanke kieserskorps van Suidwes-Afrika (SWA) rondom die moontlikheid van onafhanklikheid van Suid-Afrika. Die ondersoek moes uiteraard wetenskaplik-verantwoordbaar gedoen word en die oplossing was om die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) te betrek. Die DNV het saam met die RGN ’n toepaslike vraeboog ontwikkel, sowel as ’n metodiek om ewekansige geldigheid te verseker met betrekking tot die opnamemonster. Die DNV kon toe aanstons, met volle wetenskaplike fundering, die kabinet gerus stel dat die blanke bevolking van SWA nie besonders besorg was oor die moontlikheid om aan Suid-Afrika te ontkoppel nie (miskien omdat die gebeure in Soweto en elders hulle meer bekommerd gehad het oor Suid-Afrika se eie toekoms, as oor Suidwes-Afrika s’n). Die Sny en Plak-afdeling onder leiding van Ben Kruger was een van die Buro se gewildste afdelings, juis omdat hulle allerhande buitelandse tydskrifte soos Playboy in die hande gekry het waaruit hulle relevante artikels moes sny en dan aangestuur het na die afdelings (dit was voor die koms van die rekenaar). Geen lid was geregtig op ’n kopie nie, ten spyte van die Amerikaanse lessenaar se vurige betoog dat ’n volledige tydskrif hom beter in staat sou stel om die Amerikaanse kultuur en psige beter te verstaan. Daardie lessenaarbeampte is sterk gesteun deur sy kollegas!
Abstrak: DIE BURO
* In DIE BURO: Genl. Lang Hendrik van den Bergh en die Buro vir Staatsveiligheid, wat deur Imprimatur Uitgewers gepubliseer word, is daar ware Suid-Afrikaanse spioenasieverhale wat die waarde van agente en spioene illustreer (HUMINT), en ook die enorme skade wat hulle somtyds aanrig, onder die soeklig plaas. Die enigste werklike meetinstrument van die sukses van ’n spioenasiediens, is die mate waarop hy of sy die geskiedenis beïnvloed het, of nie. Die Buro vir Staatsveiligheid het ’n invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad en verdien om onthou te word. Indien enige van ons lesers oor relevante inligting oor die ontwikkeling van spioenasie in Suid-Afrika, beskik, word u hartlik uitgenooi om enige inligting en fotos aan intel@nongqai.org te stuur.
* Die artikelreeks Intelegere bevat 982 bronverwysings en voetnotas, wat op aanvraag van die skrywer bekom kan word. ‘n Verkorte weergawe van die verhaal van Dieter Felix Gerhardt en Ruth Johr verskyn in die boek Spioenmeesters, wat op Amazon verkrygbaar is.
* Bestellings vir DIE BURO kan by Imprimatur Uitgewers geplaas word. Whatsapp 082-344-5641 indien u meer inligting verlang.
[i] Persoonlike onderhoud met J.M.G. (Mike) Kȕhn deur die skrywer.
[i] J.M.G. Kȕhn aan die skrywer, 18 Augustus 2021.
[ii] Dr. Willem Steenkamp, voormalige lid van die BSV, NI aan die skrywer, 16 Desember 2022.
[iii] Dr. Wilem Steenkamp, voormalige ambassadeur en NI-lid, aan die skrywer. 26 Mei 2023.
[iv] Dr. Willem Steenkamp, ibid.
