Tom Volschenk
TOM VOLSCHENK SE FIETSRIT RHODESIË TOE
Carl Volschenk
My Pa (Tom Volschenk) se fietsrit Rhodesië toe.
(Geskryf deur Carl Volschenk, voormalige offisier in die SAPD)
Ek skryf hierdie storie hoofsaaklik met die ondersteuning van ‘n paar koerantuitknipsels en ander dokumente wat behoue gebly het. Verder maak ek staat op my geheue. Die storie is na my beste wete so akkuraat as moontlik. My Pa is reeds in 1998 oorlede. Ek wens ek het beter geluister, meer vrae gevra en kon beter onthou. Dis onvermydelik dat dele daarvan verlore geraak het. Ek was ten tye van hierdie verhaal 8 jaar oud .
Die storie speel af in 1973, 52 jaar terug. Die laaste van ons vier kinders was pas gebore. Ons was woonagtig op Eshowe aan die Natalse Noordkus. My Pa was werksaam by die Departement van Bosbou se streekkantoor in Eshowe. Hy was lief vir visvang. Een van sy beste hengel-vriende was speurder-sersant Quinton Wilmot, Eshowe speurtak, en ‘n ander een was Dirk Bosman, sy baas se seun. My pa se studies in Publieke Administrasie was voltooi of amper klaar, en hy het waarskynlik verveeld begin raak. Dirk was besig om te studeer (Landbou).
Een aand om ‘n braai, waar alle goeie idees ontstaan, en waarskynlik met behulp van sterker inspirasie, kom die gedagte op om Rhodesië te besoek. Dit was my Pa se droom om die Wankie (Hwange) wildtuin te besoek. Maar hulle het nie geld daarvoor gehad nie. My Pa reken toe dat hulle nie veel nodig sal hê as hulle met fietse ry nie. My Pa was 30 en Dirk Bosman was 20 jaar oud.
Op 20 April 1973, sterf vyf swart lede van die Suid Afrikaanse Polisie in Rhodesië in die Vic-Falls omgewing tydens ‘n terroriste aanval (en in nog ‘n insident daarna op 29 Augustus 1973). Heel waarskynlik het dit ‘n gesprekspunt geraak tussen my Pa en Quinton Wilmot. Dit word toe ook bekend dat daar (op daardie stadium) geen of weinig pensioen of doodsvoordele vir die oorlede lede se weduwees en afhanklikes was. My pa sien ‘n geleentheid om sy beplande fiets toer na Rhodesië toe te laat realiseer, en so begin die beplanning. Die idee ontstaan om die rit tydens ‘n fonds-insamelings veldtog te doen (twee vlieë met een klap). My pa het in Louis Trichardt groot geword en nou saam met die plaaslik volk gewerk by die Timbadola Saagmeule. Hy kon ook Venda praat. Ek glo dat die lot van die gestorwe lede se afhanklikes hom geraak het.
My ma het aan die werk gespring en hand geskrewe versoeke vir donasies na elke liewe burgermeester in Suid Afrika wat sy kon opspoor gestuur. Party het bygedra, ander wat nie kon bydra nie het wel beleefd terug geantwoord. Intussen het hulle in die plaaslike gemeenskap hard gewerk om geld in te samel. Die plaaslike winkels het drie items bygedra wat hulle in ‘n “raffle” uitgegee het. Intekenare kon met ‘n 50c bydrae die afstand van Pretoria na Vic-Falls skat om in aanmerking vir die pryse te kom. Dieselfde winkels het ook hulle klere en ‘n bietjie rantsoene geborg. Die Burgermeester van Eshowe, raadslid Len Waters, het ingestem om die trustee vir die fonds te wees.
Die volgende uitdaging was fiets(e). My pa het as kind nooit ‘n fiets besit nie, en waarskynlik nooit een gery nie. Borge vir fietse was daar nie. Weens sy betrokkenheid by die Departement van Bosbou was hy bewus van ‘n veldtog om die plant van bome te bevorder, wat kort tevore plaasgevind het. Dit was bekend as die “Ons Groen Erfenis” veldtog. ‘n Tandem fiets met ‘n raam agterop waarop ‘n boompie vasgesit was, is daarvoor gebruik. Twee persone het met die boompie van Kerkplein in Pretoria na Kaapstad gery en by elke dorp waar hulle aangedoen het, het die Burgermeester die boompie water gegee. Die boompie is toe in Kaapstad geplant, en die fiets het iewers in ‘n museum opgeeïndig. Op ‘n manier het hy dit reggekry om die fiets te bekom vir hulle toer Rhodesië toe. Die fiets is voor hulle vertrek per trein na Pretoria gestuur. As ‘n laaste gedagte het hulle ‘n spaarbussie voor op die fiets gesit vir donasies langs die pad.
Die span sou dan bestaan uit die twee ryers, my Pa en Dirk Bosman. Quinton Wilmot sou die ondersteunings voertuig bestuur. Hulle het wel bietjie geborgde rantsoene gehad, en sou sommer langs die pad iets maak om te eet. Alles moes in Quinton se Volkswagen 411 Variant inpas. Hulle het ook ‘n paar spaar fiets bande, binnebande, ‘n pomp en “patches” vir papwiele gekry. Quinton sou elke dag vooruit ry na hulle bestemming om slaap plek by die polisie stasie te reël. Hulle sou sommer in die stasies se selle slaap om uitgawes te beperk. Later kon hulle darem hier en daar geborgde verblyf kry. Die beplanning was om die 1200km in 10-12 dae te voltooi. Hulle sou nie op Sondae ry nie.

Van links na regs: Dirk Bosman, Air Vice Marshall HH Hawkins (Rhodesiese Ambassadeur), s/sers Quintin Willmot, Mr McTavish (Rhodesiese ministerie van Inligting en Toerisme), en dan my pa Tom Volschenk. Foto geneem op Kerkplein, Pretoria.
My ouers het per motor, saam met Quinton, sy vrou Bets en Dirk Bosman van Eshowe na Pretoria gereis. Die oggend van 4 Augustus 1973, voor hulle fiets rit sou begin, het hulle die fiets by Kerkplein vir die eerste keer gesien. Hulle het gou ‘n toetsrit om die plein gevat om te sien of hulle darem gaan regkom, en wie voor of agter sou sit. Die Rhodesiese Ambassadeur in Suid Afrika, Air Vice Marshal HH Hawkins en ander hooggeplaastes het hulle afgesien, en lede van die media het foto’s geneem en onderhoude gevoer. Artikels verskyn in The Star, Die Hoofstad en die Pretoria News. ‘n Verteenwoordiger van die Rhodesiese Ministerie van Inligting en Toerisme, mnr KB McTavish, het ‘n verwelkomings geleentheid in Bulawayo belowe, sowel as televisie, radio en koerant dekking.

Middagete iewers in die Naboomspruit omgewing.
Volgens koerant uitknipsels was die plan om ten minste Potgietersrus op dag een te haal, en dan op 16 Augustus 1973 by Vic-Falls te wees. Aan die einde van dag een het hulle egter net Warmbad gehaal (83 km). Dit moet in ag geneem word dat hulle geen oefening voor die tyd gehad het nie. (Die Zululand Times berig egter op 9 Augustus 1973 dat “both men, looking extremely fit,..”) Die laaste 7km oor die Springbok vlakte moes hulle die fiets stoot (die Zululand Times haal die rede aan as “due to a very sore posterior”). Quinton het vooruit gery om skaapvel te gaan soek om oor die sitplekke te trek. Dag twee het hulle net gevat tot in Potgietersrus. Naby Naboomspruit het hulle ontbyt langs die pad gemaak. Die laaste deel van hierdie skof het hulle in die donker afgelê. Quinton wat vooruit gery het, het slaapplek gereël. Toe hulle die vlakte by Moorddrift vat was dit alreeds donker. Iewers loop hulle ‘n swart man op n fiets raak wat al geselsend uitvra na hulle avontuur. Sy fiets het ‘n “dinamo-liggie” op gehad en hulle oortuig hom om voor te ry vir bietjie lig. Hulle fiets het darem ratte gehad. Nuut en gevorderd vir daai tyd en onbekend aan die arme siel. Hulle besluit dis tyd vir ’n bietjie sports. Stadig maar seker tel hulle spoed op en gaan deur die ratte en die arme siel trap al harder om by te bly. Op ‘n stadium kan hy nie meer die pas byhou nie, en skreeu uitasem vir hulle: “baas, baas, f@k julle” en verdwyn op ‘n grondpad.

Foto van die fiets en voertuig: was na alle waarskynlikheid voor Louis Trichardt polisiestasie.
Op 9 Augustus 1973 berig die Zululand Times dat hulle voor skedule is. By Louis Trichardt het hulle ‘n groot “send-off” deur plaaslike polisie lede gekry. Van hier af begin hulle redelik vorder, vanaf Louis Trichardt is die rit oor die Zoutpansberg ‘n groot uitdaging. Die afdraande aan ander kant het amper hulle einde beteken. Die fiets tel op n stadium so spoed op dat hulle ‘n voertuig van agter af verbysteek. Die remme was nie opgewasse vir hulle gewig en spoed nie. Hulle word gereeld gestop deur nuuskierige mense en vir bydraes vir die spaarblikkie. Die res van die rit na Beitbrug grenspos toe verloop sonder enige insidente. Volgens een berig het hulle die grens die 8ste Augustus 1974 om 4nm oorgesteek.
Nadat hulle die grens by Beitbrug oorsteek besef hulle dat die res van die rit gevaarlik kan raak. Die eerste teken was padtekens wat gewaarsku het: “Beware of the elephants!” Eers dink hulle dis ‘n grap, totdat hulle die eerste olifant teëkom. Die realiteit was dat Rhodesië in ‘n oorlog gewikkel was. Op ‘n stadium naby Lupane verdwaal hulle op ‘n grondpad op soek na die polisie basis waar hulle sou oornag. ‘n Polisie patrollie spoor hulle op en lig hulle in dat hulle op ‘n baie gevaarlike pad was waar landmyne daagliks geplant word. Daardie aand daag die hele kontrei op en een helse partytjie breek uit. Later die aand skiet hulle leë drank bottels met FN’ gewere uit. Die volgende dag ry hulle met n enorme babbelas verder. (Die koerant haal my pa aan: “Our heads were just about splitting the next day”).
In Bulawayo berig The Chronicle op 11 Augustus 1973 oor hulle aankoms (maw hulle was die 10de reeds in Bulawayo). Hulle bly in ‘n geborgde hotel kamer waar hulle op nasionale televisie verskyn. Een koerant haal Dirk Bosman aan dat dit nogal vreemd was om hulleself op televisie te sien. Hulle word veral geprys vir hulle bydrae tot gesonde verhouding tussen die wit en swart bevolking, iets wat ook die volgende jaar, 1974, in Suid Afrika in die media verkondig word.
Daar is min inligting en geen foto’s beskikbaar oor hulle aankoms by Victoria Valle. Volgens my berekeninge het hulle die laaste skof na die Valle die 13de Augustus 1973 voltooi, net 10 dae nadat hulle weggespring het, insluitende die Sondag-rusdae, en die media-dag in Bulawayo. Die koerant haal Dirk Bosman aan dat hulle soldate anderkant die grens kon sien, maar geamuseerd vermeld hy dat daar darem nie op hulle geskiet is nie. Die fiets word op ‘n militêre vragvliegtuig gelaai terug Suid Afrika toe, en my Pa se droom om Wankie te besoek word waar. Dit eindig egter katastrofies. Hulle kom op n klomp voertuie af wat saamdrom, en die mense deel hulle mee dat hulle leeus gesien het wat prooi platgetrek het, en net-net buite sig in die bos lê. Niemand kan iets sien nie. My Pa bied aan om die leeu te gaan “haal”, klim uit, gooi die leeu met n klip, en die leeu skraap hom. Terwyl hy kar toe hardloop laat val ‘n toeris sy rolprent kamera deur sy kar se venster op die teerpad soos hy koets vir die leeu. Hy gaan rapporteer dit by die kantoor en die drie word deur die polisie uit die wildtuin uit begelei (alhoewel een koerant berig dat hulle getrakteer was met ‘n drie dae besigtiging).
Terug in Suid Afrika word die bydraes van R1 000 aan die polisie bestuur oorhandig. Dit sluit in R40-00 wat hulle op die pad ingesamel het, en $27-00 wat in Rhodesië ontvang is. Daarna is dit op gepaste geleenthede aan die naasbestaandes van die afgestorwe lede uitbetaal. Verskeie media berigte volg. Op 21 Mei 1974 plaas die Volksblad ‘n artikel oor die finansiële bydraes wat aan ‘n afgestorwe lid se pa oorhandig is deur Lt Kol Herselman, Distrikskommandant van Bethlehem. Die Mafikeng Mail and Botswana Guardian berig op 7 Junie 1974 oor fondse wat oorhandig is. Die Natal Mercury berig op 15 Junie 1974. Ek beskik nog steeds oor polisie korrespondensie en bedankings briewe wat hulle ontvang het.
Tydens ‘n onderhoud vra ‘n verslaggewer vir Dirk of hulle enige opvolg avonture beplan. Hy deel die joernalis toe mee dat hulle volgende beplan om ‘n kruiwa oor Sanipas te stoot (om geld vir ‘n gestig in te vorder).
In vandag se moderne tyd is iets soos hierdie nie meer so ‘n uitdaging nie. Wat hulle egter vermag het is ongelooflik. Moderne tegnologie, gevorderde toerusting en internet tegnologie het nie daai tyd bestaan nie. Kommunikasie was beperk tot briewe, telekse en telefone. Fietsry het n professionele sport en selfs ‘n beroep geword. Gedurende die hele rit het die familie min kontak met hulle gehad. Quinton Wilmot se betrokkenheid as lid van die SAP was waarskynlik deurslaggewend in die meeste reëlings. R1 000 klink in vandag se tyd na min, maar in 1973 was dit ‘n klein fortuin.
Verskeie media publikasies berig deurgaans met lof vir die wyse waarop hulle pogings aangewend het om rasse verhoudings in Suid Afrika te bevorder. Op 19 Julie 1973 berig THE ZULULAND TIMES soos volg: “RACIAL CO-OPERATION: This is just another fine example of unselfish co-operation between the Whites and Blacks of this country. Here we have two young men really wanting to do something constructive to help their black neighbours.” Dit haal ook internasionale media nadat ‘n artikel in Nederland gepubliseer word in DE TYPHOON. Binne die Suid-Afrikaanse Polisie word hulle ook vir hulle finansiële bydrae en hulle bydra tot die handhawing van goeie verhoudings tussen Wit en Swart lede geloof.
In Julie 1997, 10 maande voor my Pa se ontydige afsterwe, doen ek saam het my Pa ‘n toer deur Zimbabwe. Ons besoek weer Hwange. Geriewe en infrastruktuur was erg verwaarloos en diens was hopeloos. Binne een uur nadat ons arriveer moet ons weer oppak aangesien geen bankkaart betalings gedoen kan word nie en ons nêrens kontant kon bekom nie. Die besoek aan Hwange bly weer maar net ‘n droom. Ons spandeer toe maar die tyd by Victoria Watervalle.
Die volgende historiese dokumente is ontvang:




