ROR: Ops Savannah

Abstrak

Die kort mediaberig in Die Burger van 18 Desember 1975, waarin Minister P.W. Botha die verlenging van nasionale dienspligtiges se dienstyd en die opkoms van sekere burgermageenhede aankondig, het ’n kettingreaksie van logistieke, persoonlike en militêre gebeure ontketen. Hierdie vertelling fokus op die mobilisering van Regiment Oranjerivier (ROR) vir deelname aan Operasie Savannah, die administratiewe druk by die eenheid se hoofkwartier, en die ingrypende impak van die oproep op individue se gesinslewe, akademiese verpligtinge en beroepsroetes. Die verhaal illustreer die haastige, maar doeltreffende mobiliseringsproses van die Suid-Afrikaanse Weermag in ’n era sonder moderne kommunikasietegnologie, en bied ’n persoonlike blik op die spanning, onsekerheid en trots wat die voorbereiding en ontplooiing voorafgegaan het. Die uiteinde is ’n terugblik oor vyf dekades heen, met ’n kritiese vraag oor of ’n soortgelyke proses vandag met dieselfde spoed, akkuraatheid en professionaliteit uitgevoer sou kon word.

Sleutelwoorde

• Operasie Savannah

• Regiment Oranjerivier (ROR)

• Nasionale diensplig

• Burgermag

• Mobilisering

• Suid-Afrikaanse Weermag

• 1975–1976 grensoorlog

• Militêre geskiedenis

• Persoonlike herinneringe

• Logistieke voorbereiding

OPS SAVANNAH – ROR, TOE EN NOU 50 JAAR LATER – OCCULI ET AURIS

Prof HO de Waal

Destyds het ‘n kort beriggie in Die Burger van 18 Desember 1975 groot wiele aan die rol gesit.

Volgens die berig het mnr. P.W. Botha, die Minister van Verdediging, die vorige dag op Woensdag 17 Desember 1975 kortliks aangekondig dat die dienstydperk van ‘n beperkte getal nasionale dienspligtiges met ‘n maand tot 6 Februarie 1976 verleng word. Verder gaan ‘n paar burgermageenhede ook in 1976 opgeroep word om drie maande in die operasionele gebied diens te doen.

Niks vreemd aan die verklaring nie, behalwe dat verskeie berigte in die media reeds begin vermeld het dat soldate kort-kort in die operasionele gebied gesneuwel, gewond, of gevange geneem is.

Wel, soos die geluk dit wou hê was ons Regiment Oranjerivier (ROR), ‘n burgermag pantserkarregiment een van die “paar” gelukkiges wat opgeroep gaan word. Die nasionale dienspligtiges wat onder leiding van staandemaglede reeds van middel Oktober 1975 aan Operasie Savannah deelgeneem het, moes dringend afgelos word. Trouens, hulle moes reeds uitgeklaar het.

By die Kasteel, ROR se hoofkwartier was twee offisiere, ene Kapt. AP Stemmet en 2/Lt André Agenbag (rus salig), as ‘n voorspan vroeg in Desember 1975 druk besig om die lywige oproepinstruksies vir honderde ROR lede voor te berei, oor die land te pos, en die aansoeke om vrystelling wat inkom, te hanteer.

Daardie tyd het baie dinge nog gedurende Desember en Januarie in ons land gewerk.

Een offisier, André Agenbag het saam met my diensplig by die Pantserskool in Bloemfontein en daarna in Walvisbaai/Rooikop voltooi en was ook ‘n klasmaat by die Universiteit van Stellenbosch (US). Hierdie dinge het gebeur nog voor die dae van internet, selfone, en fakse. Hy vind egter by studentemaats uit waar ons by my skoonouers in die Langkloof kuier. Net voor Kersfees bel hy per landlyn met ‘n vroeë waarskuwing oor die dringende oproepinstruksie wat vir my in die pos op Stellenbosch wag.

Ons vakansie van net ‘n paar dae word daar kortgeknip. Inderhaas ry ons op Oukersdag terug en Saterdag 27 Desember 1975 gaan haal ek my dik koevert met die oproepinstruksies by die poskantoor op Stellenbosch.

Stel jou voor: my vrou was sewe maande swanger met ons eersteling, en ek was besig om voor te berei vir Honneurseksamens wat aan die einde Januarie 1976 geskryf sou word. Om alles te kroon is ons na Glen in die Vrystaat verplaas en sou in Februarie, na afloop van my eksamens, van Stellenbosch verhuis.

Baie dinge moes toe vinnig inskop. Met groot dank bemiddel my Professor tussen Kersfees en Nuwejaar vir ‘n spesiale vergunning van die US sodat drie vraestelle vir die Honneurseksamen binne die eerste dae van Januarie 1976 geskryf kan word; ons huisraad moes gepak en gelaai word om drie maande geberg en eers later na Glen vervoer te word; my swanger vrou moes weer by haar ouers in die Langkloof besorg word; en laatmiddag op 5 Januarie 1976 meld nimlike by Wingfield aan.

Die volgende dag begin ROR se reis per troepetrein van Kaapstad na De Brug buite Bloemfontein om by 3 Mobilisasiesentrum ons nuwe stelle nutria uitrusting te ontvang. Onthou, Suid-Afrika se eerste uitsending van beeldradio (eers later bekend as TV) het maar pas begin. Alles was baie geheimsinnig, maar die leierskorps het darem beperkte voorligting ontvang oor wat gaan gebeur.

En daar gaan ons verder noord na Grootfontein, Suidwes-Afrika en deur Oshivello; toe was dit nog net ‘n naam in die bosse oos van die Etosha panne. En nog verder noord ontvang ons die pantserkarre wat uit die noorde teruggekeer het. Die pantserkarre en hul jong bemannings het duidelik groot dinge beleef.

Binne dae het ROR se eskadronne verder noord beweeg en tot einde Maart 1976 met onderskeiding aan Ops Savannah deelgeneem. Baie trots. Wat ‘n ervaring.

Dit was toe. En nou na vyf dekades? Mens kan net wonder of dieselfde proses nou ook in so ‘n kort tydjie, professioneel, stiptelik, en suksesvol voltooi sou word?

Harde staal.