STASIEBEVELVOERDER: SAP ROBERTSON
SAP ROBERTSON: MY EERSTE STASIE AS STASIEBEVELVOERDER
Brig Fanie Bouwer
Die eerste keer dat ek van Robertson hoor, was ons laaste dag op offisierskursus toe een of ander generaal in die polisiekollege ons nuwe standplase aflees.
Ek onthou nog dat ek later een van my kollegas gevra het of hy weet waar dié plek is. Hy sê toe: “Man, daar 40 km’s anderkant Worcester in die Klein Karoo”. Terloops, Robertson, saam met Worcester en Stellenbosch is veral bekend vir die uitstekende wyne wat in die Boland geproduseer word.
Dit was in die middel 70’s en ek in my middel 20’s (Sien foto van daardie jaar hier onder).
Ek het gedink Hoofkantoor was ietwat laf om my stasiebevelvoerder op daardie stadium van my loopbaan te maak. Dit het my tot ‘n mate van my jongman-jeugjare ontneem (dalk wou ek nog te veel dans, kuier en partytjie hou. Lekker lag ek nou), maar later besef dit is maar hoe dit gebeur het met die skuif op die spreekwoordelike ‘skaakbord’ deur HK met die jaarlikse plasing van offisiere oral oor in die land.
Robertson is ‘n dorp wat ‘n minister van polisie opgelewer het in die 60’s, nl. mnr. SL Muller, ‘n prokureur van die prokureurspraktyk Muller, Baard en Conradie. (Sien foto onder waar hy by ‘n tafel sit met offisiere en ander lede agter hom).
Advokaat John Vorster (later Eerste Minister) is ná sy aanhouding in 1942 in Koffiefontein vir drie maande onder huisarres in Robertson geplaas. Sien ook sý foto.
Advokaat Vorster was vrygelaat onder die toesig van die stadsklerk, ene Gert van Rooyen. Van Rooyen moes permitte aan hom uitreik vir elke ‘uitstappie’.
Hy was, onder andere, van Robertson met só ‘n permit na Kaapstad om ‘n beroep te doen op die minister van justisie, Colin Steyn, namens OB-kamerade wat steeds onder slot en grendel was. Hy het ‘n koue ontvangs gekry. Steyn het ook gedreig dat indien Vorster Kaapstad sou verlaat, hy in hegtenis geneem sou word.
Advokaat Vorster het eenkeer in die Robertson polisieselle oornag vir een of ander misstap. In ‘n boek oor hom wat ek gelees het, is daar ‘n afbeelding van die prisoniers-eiendomkwitansie (PEK), of SAP 22, wat hy oor die jare bewaar het.
Robertson het so ‘n klein 4-vertek polisiestasie gehad toe ek daar aankom. (Sien foto). Agter dit was darem so ‘n opslaanvertrek (‘prefab’) wat deur die twee uniform ondersoekbeamptes gebruik was. Ons het nie speurders gehad nie. Lyfstraf was in hierdie vertrek toegedien. Ek was self lief om die rottang te swaai.
Die SB se staatshuis was net regs van die polisiestasie en kan nie op die foto gesien word nie. Dit het ‘n water-leibeurt gehad en het die water elke Vrydagoggend om 07:15 in die sementsloot aangekom. Ek het baiekeer die prisoniere wat deur die tronk verskaf is, gebruik om die water af te blok en in die onderskeie groentetuin-beddings af te keer. Die Waterwet is een van die lywigste wette wat daar is.
My kantoor was bitter klein, met net nog 1 stoel vir ‘n gas. Regs bo van my was ‘n waaier teen die muur vasgeskroef, wat nie veel gehelp het in daardie warm Karoo-hitte nie.
My 2de-in-bevel was adjudant-offisier Augustyn, ‘n man van in die 50’s al. Ek het hom ‘oom’ genoem – so ook die meeste van die ander senior sersante. Daar was ook konstabels van in hulle laat 40’s. Mahala-bevorderings was destyds nie aan die orde van die dag nie.
Soos reeds genoem het die stasie nie speurders gehad nie. Dit was so ‘n dubbeldoor-situasie – jy was stasiebevelvoerder én sommer takbevelvoerder ook. Dossiere het jy self nagesien en/of afgesluit. So was dit tydens my hele luitenants-dienstydperk daar.
Ek het onlangs by die nuwe polisiestasie (die storie hiervan is elders met die opskrif: “Ek onderhandel eerder vir ‘n nuwe polisiestasie”) daar aangedoen en gevind dat hulle deesdae ‘n sterk speurtak daar het. Die stasiebevelvoerder is ‘n vol kolonel.
(Foto van die nuwe polisiestasie, wat ons op my verjaarsdag op 13 Oktober 1978 amptelik geopen het, is ook onder te sien. Minister Jimmy Kruger en generaal Mike Geldenhuys was die eregaste. Ek dink Gawie Botha het die foto vir my geneem).
Ons Distrikskommandant was ene Lt.-Kolonel AP Van Dyk – later afgetree as ‘n generaal-majoor in 1996. Hy was een van daardie wat ek nie net as ‘n bekwame offisier ervaar het nie, maar ook as ‘n charismatiese leier. (Sien foto).
Ek is vanaf Stellenbosch na Robertson toe verplaas destyds, waar ek toe ook ‘n kaptein geword het. Ek is toe terug na die DK-kantore van Stellebosch verplaas as stafoffisier, waar ek ook ‘n ruk stasiebevelvoerder was.
Eers toé was ek dankbaar dat die polisie my op Robertson geplaas het, want daardie ervaring as jongman het mens geslyp vir die pad in jou offisiersloopbaan wat nog voorgelê het. Praktiese ervaring bly jou beste leermeester.