Barry – Thailand 5/2026

BRIEF UIT THAILAND

Lt Barry Taylor

Hier moet die polisie hulle wapens self koop, en soos met alles hier, is dit maar ’n korrupte spul.

My Duitse vriend, Klaus Held — hy bly so 25 km van my af op ’n plaas en is nou 87 — het ’n pistool, neem ek aan, nie ’n rewolwer nie, wat hy by iemand gekoop het. Wanneer en waar weet ek nie. Waarvoor hy dit nodig het, weet net die Here. Hy het vroeër ’n winkel in Berlyn besit voordat hy so 25 jaar gelede Thailand toe gekom het vir al die jong meisies.

Ek het hom al gesê hy moet die wapen in ’n rivier gooi, maar hy wil dit hou. Ek twyfel of hy weet watter kant van ’n wapen die voorkant is. As hulle ooit die wapen by hom kry, sal hy gedeporteer word. Die enigste gevaar waarin hy werklik is, is die olifante wat soms op die plaas inkom.

In die tien jaar wat ek hier is, het ek nog nie van ’n expat gehoor wat beroof, aangeval of vermoor is nie — behalwe in Pattaya, waar motorfietsbendes soos die Hells Angels eenkeer twee van hulle eie mense doodgemaak het oor ’n twis. Dit was nie Thais nie. Die Australiese polisie se kommentaar was dat hulle net twee kriminele minder het, en die verdagtes sit nou in Thai tronke.

Soos ek die koerante lees, is byna alle moorde hier oor vroumense of twis tussen mans oor vroumense en familie. Die soort sinnelose moorde soos in Suid‑Afrika het ek nog nie een van gelees nie. Gewoonlik word die verdagte binne ’n paar dae gevang, al vlug hy na omliggende lande of selfs China.

Hoe uitlewering hier werk, is eenvoudig: die polisie sê vir die betrokke land hulle soek die persoon, die land arresteer hom, en hy word op die grens oorhandig — altyd binne ’n week of twee. Hoe wettig dit is, weet ek nie, maar niemand kla nie. Korea werk dieselfde; uitlewering neem nie lank nie. Ek sou graag wou weet wat Suid‑Afrikaanse regters en “human rights”-wokes daarvan sou sê, waar uitlewering jare neem.

Kar‑kaping en moord lees ek nie van nie. As dit in Thailand gebeur, het ek nog nie daarvan gelees nie, en ek lees al die Engelse koerante hier.
As jy hier woon en nie betrokke raak in ’n twis oor iemand anders se meisie, vrou of familie nie, en jy pleeg nie roof of huisbraak nie, is jy veilig. In Pattaya, Phuket en Bangkok is daar wel gereeld messtekerye, meestal wanneer mense uit die klubs kom — altyd laat in die nag of vroegoggend. En as die klaer, half dood gesteek, nie ’n klag wil lê nie, gebeur daar ook niks.
Baie jare gelede, toe Jin nog enkel was en in die ou flenterhuis op die perseel gewoon het, het sy elke maand 9000 baht verdien — toe omtrent R1600. Sy het die geld in die huis weggesteek om alles te betaal. Die bank was 20 km ver, sy het geen vervoer gehad nie, en buitendien glo sy nie in ’n bank nie. Die huis was nooit gesluit nie.

Een aand toe sy by die huis kom, is haar hele salaris weg. Sy het gehuil snot en trane — hoe sou sy die maand oorleef? Sy het toe 9000 baht by haar pa geleen. Waarom die ouman altyd geld gehad het, weet ek nie. Sy het afgelei dat ’n man van Kambodja, wat op die lande naby die huis gewerk het, ingekom en dit gesteel het.
Tot vandag toe is ’n bank vir haar iets vreemd. Deesdae betaal baie van haar kliënte per telefoon, en sy het ’n debietkaart vir die ATM by CJ’s as sy ekstra geld wil trek. Sy is nie die enigste een wat so dink en werk nie — seker 80% of meer doen dieselfde. SARS is nie ’n gedagte in hulle lewens nie, en BTW of registrasie ook nie.

Net iets interessant: in Japan is die rentekoers so laag dat jy die bank rente betaal — 0.25% — om jou geld daar te hou, bo en behalwe gewone bankkoste. In Maleisië het ek ’n paar jaar gelede na ’n huislening gekyk: die bank betaal vir jou ’n klein jaarlikse rente as jy ’n lening neem, en jy betaal geen rente op die lening nie. Dit klink belaglik, maar dis waar. Kyk maar die rentekoerse in die VSA en Engeland.
In 2013 gaan ek saam met Marvin bank toe en wag in die kar. Hy kom na ’n paar minute uit en sê hy het net geld oorgeplaas na effektetrusts. Hy het 300 000 USD in ’n rekening gehad en oor twee jaar ’n volle 15 dollar rente gekry — hy wys my die strokie.

Jin se suster, wat ’n besigheid in Bangkok het, het nou en dan dorp toe gekom en haar pa na die Farmers Bank geneem om een of twee miljoen te leen teen sy eiendom, want die rentekoers is so laag. Dan koop sy twee lorries, betaal hulle binne ’n jaar of twee af, en so het sy aangehou. Nou gaan die grond op haar broer, die kolonel, se naam, en sy gaan voort om op sy naam te leen. Die familie het geen probleem daarmee nie.

Hier is eerlikheid nie eers ’n vraag nie — dit is vanselfsprekend. Ek weet nie eens hoeveel voertuie sy het nie. Haar huis in Bangkok is een van vele semiblokke — nie eers ’n fancy huis nie, geen tuin, net genoeg plek vir die Ford Everest om in te trek met ses duim tussen die SUV en die hek.

Die kultuur is totaal anders hier. Stres oor misdaad bestaan nie meer vir my nie. In 12 jaar se fietsry hier los ek my fiets net waar ek wil as ek in ’n winkel ingaan. Niemand kyk eers na my fiets nie. Dit het al ’n paar keer gebeur dat ek my fiets buite die winkel teen ’n paal laat staan het, met die kar huis toe is, en die volgende oggend staan my fiets en helmet nog daar — behalwe een keer toe my skoonsuster dit onder die afdak gesit het omdat dit gereën het.