SAP ROBERTSON
Ek onderhandel toe eerder vir ‘n nuwe polisiestasie
Deur Fanie Bouwer
In my eerste paar maande as stasiebevelvoerder op Robertson in 1977 as ‘n jong luitenant, besluit ek op ‘n dag dat die klein ou, verwaarloosde, polisiestasie in Hoop-straat op dié dorp net nie meer goed genoeg is nie. Of dalk nie gepas het by my status nie. (Hoe verwaand kan mens nie partykeer wees as jy jonk en ambisieus is nie?)
Ek besluit toe sommer in my (naïewe) voortvarendheid – want ek was nog jonk (in my middel twintigs) – om net daar en dan die plaaslike LV vir Worcester, wyle oom Piet Palm, daaroor te gaan spreek.
Verder het ek besluit om geen skriftelike verslag of daardie soort van ding eers aan die Distrikskommandant te stuur nie. Nee, ek was ‘n haastige man toe! Dinge moet eerder vinniger gebeur as later!
Oom Piet het toevallig op Robertson gewoon. Ek bel hom eendag en maak ‘n afspraak.
Hy het rustig na my pleidooi, wat ek vooraf mooi in my kop agter mekaar gehad het, geluister, en gesê dat hy beslis sal kyk wat hy kan doen.
Ek is daar van sy huis weg, so half onder die indruk dat ek hierdie lid van die Volksraad (soos hulle destyds genoem was) oortuig het, om iets positiefs vir sy dorp te doen. (Oom Piet het nie vreeslik baie in die Parlement gepraat nie. Ek kan wel onthou dat hy eendag so die moer in geraak het vir ‘n lid van die opposisie, wat die NP in ‘n toespraak gas gegee het, dat hy hom die volgende toe gesnou het: “Man, jy stink van die arrogansie!”).
Dit was nie baie lank nie toe ek ‘n boodskap ontvang dat ek moet regstaan vir ‘n besoek deur oom Piet Palm en die kommissaris van polisie, generaal Gert Prinsloo, in verband met die polisiestasie op die dorp.
Ek skrik toe eers so half en wonder of ek nie dalk net in die moeilikheid is by die kommissaris oor my direkte vertoë aan die LV vir ‘n nuwe polisiestasie nie?
Daardie dae was die voorgeskrewe riglyne, kanale en staande orders (die “polisie-Bybel”) as’t ware “wet”, en het persoonlike inisiatief en effense ompaaie, maar partykeer ernstige fronse op die hiërargie se voorkoppe veroorsaak. Soos die Engelse sê: “It was frowned upon”. Nee, jy kon eintlik in die moeilikheid beland het.
En ai, watter ongemaklike kultuur het nie destyds ook partykeer geheers nie. En waar almal amper is ‘n soort van ‘’ gelewe het: die stasiebevelvoerder was skrikkerig vir die distrikskommandant; die distrikskommandant was skrikkerig vir die afdelingskommissaris; die afdelingskommissaris was skrikkerig vir hoofkantoor, ensovoorts.
Maar, hoe dit ook al sy, op die afgespreekte dag kom oom Piet en die kommissaris toe daar aan. My vrou het lekker eetgoed gemaak en ons het die twee here heerlik getrakteer. En ook probeer beïndruk seker.
Hulle het toe die ou polisiestasie beloer en bekyk, en die kommissaris het so half aangedui dat die ou geboutjie, wat die Staat van ‘n plaaslike besigheidsman, Roelou Barry, gehuur het, nie te waffers is nie, maar andersins nie veel gesê nie.
Generaal Prinsloo het egter nie vir my baie entoesiasties voorgekom nie. Dié kommissaris, met sy spierwit (grys) hare, was maar ‘n stillerige ou kêrel en was nie baie spraaksaam nie. (Sy bynaam was Klaasvakie – HBH.) Hulle is later toe daar weg.
Ek het gedink dat daar seker maar niks van sal kom nie. Hoe verkeerd was ek nie.
Wat presies agter die skerms gebeur het, weet ek nie, maar seker so vyf maande later het hulle aan die nuwe polisiestasie, daar waar jy Robertson van Worcester se kant inkom, begin bou. Agter die skerms moes daar vreeslike druk en vir ‘n vale beplanning gedoen gewees het.
Minister Jimmy Kruger
Genl MCW Geldenhuys
Met minister Jimmy Kruger en generaal Mike Geldenhuys as eregaste het ons op 14 Oktober 1978 daardie jaar – op my verjaarsdag – die mooi, nuwe polisiestasie in daardie dorp, daar by Brandewynsdraai by die uitgang van die dorp, amptelik ingewy.
Mý verjaarsdag present – mý monument – dink ek partykeer so in die stilligheid as ek so aan daardie mooi polisiestasie dink.