
NASIONALE INTELLIGENSIE EN GEWELDPLEGING
Johan Mostert 2 April 2025
Abstract
Mr Johan Mostert emphasises that the NIS never took part in covert operations resulting in the death of persons. NIS did not co-operate with the SADF’s CCB nor with Vlakplaas of the SAP (SB). No assassinations were committed by NIS
Keywords
- NIS
- CCB / BSB
- Covert action
- Death Squads
- Dr Niel Barnard
- Dulcie September
- KIK
- Olaf Palme
- Third Force
- Trewits
In ‘n nabetragting oor die lewe van Niël Barnard, eertydse direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensiediens (NI) wat onlangs oorlede is, word onder andere beweer dat hy verantwoordelik was vir verskeie onderduimse aktiwiteite gedurende die apartheidsjare. Die artikel deur Michael Schmidt het verskyn in BL Premium van 16 Januarie 2025. Daarin verskyn verskeie onakkuraathede wat algemeen gangbaar is en regstelling verdien.
Die artikel stel dit dat “the Third Force plan became a reality when the military Barnacle and security police “Vlakplaas” death-squad entities were combined with NIS, military intelligence and other elements to form the notorious Civil Co-operation Bureau (CCB)”.
Daar is duidelik baie verwarring oor die sogenaamde Third Force. Toe die moontlikheid van ‘n Derde Mag die eerste keer te berde gebring is in die veiligheidsomgewing, was die doel daarvan om ‘n eenheid op die been te bring om massa-opstande, -optogte en -byeenkomste, te hanteer. Daar was persone in die veiligheidsgemeenskap wat gemeen het dat die Polisie te hardhandig was met die hantering van sulke voorvalle en nie die nodige sofistikasie aan die dag gelê het om te voorkom dat voorvalle van onrus en onlus eskaleer nie. Lede van die Weermag het die Franse gendarmerie as model voorgehou. Die Polisie het dit egter sterk teengestaan en mettertyd het die voorstel in die sand van die burokrasie verdwyn.
Dat NI op enige manier betrokke was by die CCB (BSB) of enige ander moordbende is totaal onwaar. NI, en Barnard by name, was sterk gekant teen die onwettige doodmaak van mense. Geen wetgewing, selfs nie eens die maatreëls van die noodtoestande, het magtiging daartoe verleen nie. NI was wel bereid om die Weermag van hulp te wees deur die verskaffing van inligting vir optrede teen militêre teikens buite die landsgrense (oorgrensoperasies). Wetgewing het dit nie aan bande gelê nie.
Barnard was in beginsel gekant teen die loods van wat in die intelligensiewêreld bekend staan as koverte uitvoerende aksie (“executive action”). Dit sou ‘n oorskryding van NI se mandaat wees wat bepaal dat NI slegs inligting moet insamel en vertolk (benewens die teen-inligtingsmandaat). Die wet het geen uitvoeringsmandaat aan NI gegee nie. Barnard se opdrag was dan ook aan die opleidingsafdeling van NI om hierdie benadering by opleidingsmateriaal in te sluit.
NI se weiering om aan koverte uitvoerende aksies deel te neem waar die doodmaak van mense ter sprake is, is nie bloot weens die wetlike beperking nie, maar ook omdat, sou so ‘n operasie misluk, dit die integriteit van die intelligensieproduk sou kompromitteer. Indien so ‘n operasie misluk, wat baie maklik kan gebeur, en NI se betrokkenheid kom op die lappe, kan daar met reg gevra word na die goeie oordeel van die Diens. Hoe kan sy intelligensie dan vertrou word?
Die ander probleem met betrokkenheid by uitvoeringsoperasies, is dat wanneer so ‘n operasie misluk en daar nabetragting gehou moet word, die intelligensiediens se objektiwiteit in gedrang kom. Die gevaar bestaan dat die intelligensie-operateurs sal probeer om, weens hulle betrokkenheid by die beplanning en uitvoering, die optrede te rasionaliseer in plaas daarvan om dit objektief te beoordeel.
Die artikel is korrek wanneer dit stel dat Barnard ampshalwe die voorsitter van die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) was. Die doel van die KIK was bloot om intelligensie-aktiwiteite te koördineer. Geen gesamentlike operasionele optrede is deur die KIK bespreek of beplan nie. Oorvleueling in die bedryf van intelligensie het soms plaasgevind en dit was die taak van die KIK om dit uit te stryk. Vir dié doel is verskeie subkomitees geskep.
Een van die sub-komitees van die KIK was die Teenrewolusionêre Intelligensie Taakspan (Trewits). Hierdie komitee het by tye byeen gekom om inligting uit te ruil oor verdagte persone wat moontlik betrokke kon wees by terreur. Geen beplanning van enige aard het daar plaasgevind nie. Aanvanklik het die Waarheids- en Versoeningskomitee (WVK) se navorsers op die KIK se Trewits afgepeil, maar toe ontdek dat die Trewits waarna hulle gesoek het, by die Polisie gestel was en dat dít die komitee was waarin hulle belang gestel het. NI het geen insae gehad in die werking van daardie eenheid nie.
Die artikel meld verder: “Ultra-secretly, the NIS under Barnard ran its own units with death-squad functions”. Hierdie is ‘n algehele onwaarheid. Daar was nie sprake van so ‘n eenheid in NI nie. Nie ‘n enkele persoon wat al hierdie bewering gemaak het, het al ooit na vore gekom met ‘n enkele konkrete bewys wat daarop dui dat NI hierby betrokke was nie.
Daar word verder in die artikel gemeld dat Dr. Anthony Turton verwys het na “a deep cover offensive unit” wat “deep-cover operations” sou uitvoer. NI se hoofdirektoraat “K” word in hierdie verband genoem. “K” was bloot die koverte insamelingsbeen van NI wat met besondere sukses inligting in veral die buiteland ingesamel het. Dit was immers die lynfunksionele verantwoordelikheid wat by wet aan NI opgedra is. Koverte uitvoerende aksie, waaronder moord, was nie deel van “K” se opdrag nie. Turton se verwysing na “offensiewe” operasies slaan daarop dat persone in sleutel-posisies in organisasies van intelligensie-belang doelbewus geteiken is vir aktiewe rekrutering deur NI as agente-in-plek (soos onderskei dus van hulle bloot passief onder observasie hou). Turton self benadruk dit dan ook deurentyd dat “K” juis nie by enige geweld teen teikens betrokke wou raak nie en eerder ‘n operasie wat so ‘n risiko sou kon meebring, gekanselleer het. NI se hoofdirektoraat “K” het uitvoerig by die WVK aan die orde gekom en geen bewys is gevind van onregmatige handelinge nie.
Verder word ook sonder bewys verwys na sluipmoorde en word die aanvalle op die Sweedse premier Olaf Palme en die ANC verteenwoordiger in Parys, Dulcie September, goedsmoeds op NI se rekening geplaas. Dit moet benadruk word, NI het geen sluipmoorde beplan of uitgevoer nie.
(Mnr Mostert was die laaste hoof van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad)
