NATIONAL ASSEMBLY: NATIONAL COUNCIL OF PROVINCES
‘N ONAANGENAME ERVARING BY DIE NASIONALE RAAD VAN PROVINSIES (NRVP)Brig Fanie Bouwer (SAP – Afgetree)
Ek dink dit was iewers in die begin van 1996 toe dié parlementêre instelling ons gevra het om verslag te doen oor enkele misdaadkwessies in die Wes-Kaap, onder andere ook PAGAD, wat vir ons ‘n kopseer was op daardie spesifieke tyd.
Dit was alreeds die tyd toe ons aanbiedings in Engels moes doen. En as jy nie kon nie, moes jy wegbly.
So terloops, ek het daardie tyd gewonder oor die noodsaaklikheid van hierdie instelling – die NRVP? Maar dit is ‘n storie vir ‘n anderdag.
Ons was sewe senior offisiere van die polisie se provinsiale hoofkantoor in Kaapstad wat die aanbiedings moes doen, wat daardie dag in die Ou Parlementsgebou sou plaasvind.
Sommer van meet af so teen ongeveer 10:00 takel sekere van die parlementslede daar aanwesig ons oor die feit dat ons groep nie die demografie van die bevolking verteenwoordig nie. Onsself het natuur niks met die toevallige kleurdemografie te doene gehad nie.
Uit die sewe van ons, was ses wit – ek ingesluit – en een bruin offisier.
Die verdeling was bloot toevallig as gevolg van die offisiere se onderskeie portefeuljes. Ekself moes die PAGAD-kwessie hanteer.
So terloops: Die aanstelling van swart en bruin offisiere het tot so 2000 taamlik geleidelik gebeur.
Ons kleurdemografie, as ek dit só kan stel, het later ‘n vreeslike “issue” vir sekere van die parlementslede geword, soveel so dat ons ‘n vyandighede teenoor ons begin aanvoel het.
Wat ek spesifiek onthou van dié dag, was dat bruin offisier tussen ons na sy aanbieding so effe weg van ons gaan sit het. Ek het vir baie jare daarna gewonder watter ‘boodskap’ hy daarmee wou uitstuur?
Hoe dit ook al sy; die skeiding van die demografie van die bevolking wou hulle hê! Rekenkundige skeiding seker – of die nuwe getalle-apartheid, wat nou in SA vir die nuwe bewindhebbers ‘n politieke of ideologiese dogma geword het!
Dit was ‘n lang en ietwat ongemaklike sessie gewees, want ons het eers so teen 4-uur die middag verdaag. En heeltyd wat ons daar was, kon van hulle nie hulle vyandiggesindheid teenoor ons wegsteek nie. En vir my met my korterige lont, was dit ‘n moeilike paar ure gewees.
Die kos wat die NRVP tydens middagete laat voorsit het, was van die beste. Daar is nie afgeskeep nie. Terwyl ek eet en die kos op die tafels aanskou, dink ek dat dit deesdae sommer lekker gaan met die ouens op die “gravy train”. Sulke hope, prima-kos het ek nog nooit te siene gehad nie – ryk en lekker. Ek het net toebroodjies voorheen geken.
Tydens die ete breek het ek op wyle Dr. HF Verwoerd se sitplek gaan sit en so terug gedink aan die dag in 1966 by die koshuis op Ugie, toe ek in standerd 9 was, en van sy dood by mevrou Williamson (onderwyseres) verneem het.
En my probeer voorstel wat daardie dag alles op hierdie presiese plek gebeur het.
Ewenwel, later die middag ná ons aanbiedinge stap ons so teen 4-uur terug na ons kantore (die Thomas Boydell-gebou net agter Kaapstad polisiestasie) wat nie vêr van die parlement is nie. Toe ons daar aankom, stel ek voor dat, aangesien ons so ‘n slegte dag daar in die NRVP gehad het, die beste wat ons nou kan doen is om maar ‘n bier te gaan drink in die offisiersklub.
Wat my egter getref het van my kollegas, was dat behalwe dat van hulle sommer net behoorlik vies was, hulle ook so half getraumatiseer en moerig was deur die ervaring daar in die NRVP. Dit het my ook getref dat elkeen toe ‘n verskoning aanbied het oor hoekom hulle dadelik moés huis toe gaan.