HUMOR: SMITHIE EN SMITTIE IN DIE HOF
Genl-maj Chris Botha
‘… en dis juis teen daardie groot afdraende wat die spietkops almal gevang het. Voor die voet, lock stock en barrel …’
Smithie tuur diep in die vertes in terwyl hy hierdie storie vertel. Die ouderdom het hom ook maar al gevang, soos wat dit met die res van ons gedoen het. Sy rooi hare het ‘n hele paar grys spatsels in, en weerskante van die mondhoeke hang die kieste al so effe. Van sy bry sal hy seker nooit ontslae raak nie, en die onverskrokkenheid van sy lewensuitkyk lê steeds vlak in sy oë. Net soos in die ou dae toe ons drilinstrukteurs in die Polisiekollege in Pretoria-Wes was.
Daardie dae, om by ons voorkeur-kuierplek naby Maders se hotel uit te kom, het ons van die kollege af met Kerkstraat uitgery, stad se kant toe. Dan af tot by Boomstraat waar onse Kallie sy boks geslyp het, en dan net voor die Dieretuin, op die hoek, links gedraai en teen die opdraend uitgery. Dikwels het ons dan die stad se verkeersbeamptes sien sit, neffens die Dieretuin se heining, met hulle toutjies oor die pad. ‘Net spietkops sal ‘n stuk gereedskap gebruik wat gatsometer genoem word’ sou ons dan vir mekaar sê. Elke keer. En dan lag oor die wye verskeidenheid van moontlike gebruike van ‘n ding met die naam gatsometer. En nie al hierdie gebruike was vleiend nie. Want tussen ons, polisiemanne, en sommige individue onder die Pretoriase spietkops, was daar maar ‘n gespanne verhouding. Net soos tussen ons en sommige van Tuks se studente. Want ‘n student was mos maar soos ‘n bok, en ons het immers almal geweet wat vir ‘n ding ‘n bok was. Ons het nie juis klaargekom nie, veral nie op die rugbyveld nie. Ons en die verkeersbeamptes, onthou ek terwyl Smithie praat, het nooit klaargekom nie. Nêrens nie.
‘So ry ons daar uit, Smittie en ek’ (sê Smithie) ‘in sy Ford 20M wat hy met sy erfgeld van sy oupa gekoop het. En ons sien die spietkops met hulle toutjies, en ons sê vir mekaar om te onthou vir wanneer ons terugkom’.
Behalwe vir die klaarblyklike verhoudingsprobleme tussen polisiemanne en verkeersbeamptes in Pretoria, is hier iets wat ek net intussen ook moet uitklaar. Smithie was klein, taai, bevoeterd en van Engelse afkoms iewers in sy verlede, naam en van en al. Hy en sy broer het in ‘n Afrikaanse huis grootgeword maar aan die Natalse Noordkus, tydens hul grootwordjare, ook geleer om hulself te handhaaf in Engels en selfs in isiZulu. Smittie was ‘n heeltemal Afrikaanse boorling van Nelspruit vir wie Engels regtig ‘n vreemde verskynsel was, die onderdrukker se taal (is hy in sy huis geleer) wat hy gedwing was om as skoolvak te neem. Smittie was groot en sterk, ‘n Suid-Afrikaanse Bud Spencer of ‘n Obelix, afhangend van jou voorkeur. Op sy rustige manier en met sy onbreekbare voorkoms het hy hom gewoon geensins gesteur aan die gespartel en geskarrel van die mensdom rondom hom nie. En albei van hulle het nie van spietkoppe gehou nie. Want albei van hulle het van spoed gehou. Menige naweek het Smittie se 20M en Smithie se ratse Dodge Colt met mekaar gespeel op die paaie van ons land. Ook op die paaie binne Pretoria …
En ek sê vir Smittie’, sê Smithie, ‘as hulle ons vanaand voorkeer en ons het nogal ‘n paar doppe in, sluit hulle ons wragtig by Marabastad toe. Ons moet eerder maar met ‘n ompad terug Polkol toe’.
‘Se gat, sê Smittie, rustig, in sy diep stem. Eers leer ons hulle ‘n les’.
En Smithie vertel vir my dat dit toe is waar die moeilikheid begin het. Soos wat hulle twee teen die opdraend opry, flikker Smittie die 20M se ligte – die erkende manier in daardie tyd om die ou wat van voor af kom te waarsku teen spietkops wat spoed meet.
Die eerste of tweede motoris wat sò gewaarsku word, flikker terug om aan te dui dat hy die boodskap gekry het. Van daar af egter, soos wat die ouens die aanhoudende geflikker sien, reageer hulle nie. Dus kan die spietkops nie sien dat die aankomende motoris gewaarsku is nie. Dan lag almal in die motors, op die vooruitsig dat die spietkops die gatsometer sal nagaan om te kyk of die ding dalk gebreek het, en in elk geval in die algemeen verstom sou staan en kopkrap oor die afname in wetsoortredende motoriste.
Dus ry Smittie en Smithie op boontoe, al lig-flikkerend. Dan draai hulle om en ry binne die spoedgrens terug, verby die verkeersbeamptes, draai by die Dieretuin om en ry weer terug op teen die bult, al flikkerend. Hulle doen dit ‘n hele paar kere. Op die bokant van een van die op-ritte, sien hulle ‘n verkeersbeampte wat op sy BMW motorfiets van voor af gery kom, en dan stop. Dit pla hulle egter nie. Hulle draai om, ry binne die spoedgrens teen die bult af, draai om en ry lig-flikkerend terug boontoe soos hulle nou al gewoond is. Maar bo is daar nie slegs meer een spietkop op ‘n motorfiets nie. Daar is etlike spietkoppe op motorfietse, drie motors in die kleure van die verkeersdepartement en een groot BMW motor. Op die enjinkap van die groot BMW sit die assistent-adjunk-verkeershoof, in vol uniform, lourierkranse en epoulette van goud, net waar jy kyk. Bekend daarvoor dat hy nie toegeneë was tot polisiemanne nie (maar, na bewering, wel tot polisievroue …). Die derde-in-bevel van die ganse munisipale spietkopbevolking sit op sy duur spietkopkar se enjinkap, smalend gelukkig oor sy vangs.
En Smittie en Smithie word gearresteer. Vir regsverydeling. Alles boek-korrek gedoen, Regtersreëlswaarskuwing en al …
Hul motor word geskut en hulle twee word afgevoer na die Spesiale Verkeershof wat 24 uur per dag sit, 7 dae per week.
‘Gelukkig’, sê Smithie, ‘is die landdros ‘n voormalige polisieman. Ons ken mekaar van die rugby af. Hy het steeds vir Polisie gespeel wat moontlik was as gevolg van die Dienspligstelsel se vereistes. Ons het mekaar al baie raakgedrink. Ons verkeershof-landdros-vriend het ‘n bekommerde uitdrukking op sy gesig. Agter in die hof sit die assistent-adjunk-verkeershoof, ‘n tevrede uitdrukking op sy gesig’.
Ek kan my indink: hier staan twee jong polisiemanne, instrukteurs van die Polisiekollege, en hulle word aangekla daarvan dat hulle ‘n stok in die speke van die strafregsplegingstelsel gesteek het. Dis ‘n baie ernstige aanklag teen mense wat die reg moet uitvoer en die wet moet toepas. ‘n Skuldigbevinding in ‘n geregshof, soos wat hierdie verkeershof inderdaad was, sou beteken dat die polisie ‘n raad van ondersoek byeen sou moes roep – om te bepaal of hierdie twee manne uit die polisie afgedank sou moes word. G’n wonder Smithie en Smittie se landdros-drinkebroer was bekommerd nie.
Boonop pleit die manne onskuldig toe die klag van regsverydeling aan hulle gestel word. Die landdros se gesig verstrak nog meer. Die aanklaer, ‘n dienende beampte van die stad se verkeersafdeling, vryf sy hande genotvol. Hierdie is sy oomblik. Hoe moeilik gaan dit nou wees om te bewys dat hierdie twee manne, met ‘n uitgewysde een as bestuurder, in daardie spesifieke voertuig, daar gery het, op en af, en oortredende motoriste gewaarsku het teen die verkeerspolisie se spoed-lokval?
Die landdros vra sy verpligte vraag, oor die gronde vir die pleit van onskuldig. En Smithie antwoord, terwyl Smittie op spesifieke plekke in die betoog sy groot kop stadig op en af skud. Saamstemmend. Vreesaanjaend.
‘Edelagbare’, sê Smithie, ‘dit is gemene saak dat beskuldigde een en ek albei dienende polisiebeamptes is’.
Die aanklaer knik ook sy kop op en af, selfvoldaan, handevrywend en glimlaggend aan’t omkyk na sy derde-in-bevel-baas.
‘Dit is ook gemene saak, Edelagbare, dat ‘n polisiebeampte homself aan diens kan plaas wanneer hy sy pligte soos in die Polisiewet uiteengesit noodgedwonge moet uitvoer, al is hy nie amptelik aan diens in die area waar hy hom bevind nie’. (Op hierdie stadium lyk die landdros se gesig minder strak. Die aanklaer begin egter onrustig raak).
‘Daarby Edelagbare,’ argumenteer Smithie nou kragdadig ‘is dit ook gemene saak dat die voorkoming van misdaad een van die amptelike take is wat wetlik aan lede van die polisie opgedra is. Polisielede is verplig om hul wetlike opdragte uit te voer, teen die bedreiging van oneerlike ontslag indien hulle dit nalaat’. (Die landdros sit rustig terug, ‘n klein glimlag speel om sy mondhoeke. Die assistent-adjunk-verkeershoof raak bloupers in sy gesig, die aanklaer is wasbleek).
‘Edelagbare’, kom die doodslag van Smithie en kopknikkend-instemmende Smittie: ‘ons het misdaad voorkom, ons het ons werk gedoen, ons het nie enige wet of regulasie oortree nie, nie eens die munisipale bywette wat spoed beheer en waarvoor ons kollegas in die strafregsplegingstelsel op daardie toneel teenwoordig was nie. Inteendeel Edelagbare, ons het ons verkeerskollegas ondersteun teen die aakligheid van spoedoortredings in ons geliefde stad, op die beste manier wat ons moontlik kon. Deur te voorkom dat motoriste die spoedbeperkings in ons stad oortree’.
En Smithie vertel my dat hy, terwyl hy gehoor het hoe die landdros die klagte teen hulle as ongegrond op die rekord inpraat, omgekyk het en hom verkyk het aan die kundigheid waarmee die munisipale paramedici die assistant-adjunk-verkeershoof van die stad Pretoria met water lawe …
*Aangesien hierdie storie sy oorsprong in die vroeë 1970s het, gebruik ek die plekname en die regsverwysings van daardie tyd. Baby boomers sal dit alles herken, en hopelik speel daar ‘n glimlag om hul mondhoeke …
(Hartenbos; 12 Junie 2025)
Genl Botha – ek was eendag by ‘n deftige onthaal waar ek die SAP as distrikskommissaris verteenwoordig het. ‘n Dame nader my en vertel dat sy bietjie vinnig gery het toe ‘n patrolliewa aankom en vir haar waarsku van ‘n spoedlokval. My antwoord was: “Die SA Polisie doen so ook misdaadvoorkoming.” Dankie vir u storie.
Genugtig Chris! Ek en Mickey het gerol van die lag . Jy is n skitterende verteller en skrywer. Damn maar dit was “funny” ! Groetnis
Het nou lekker gelag ,op hulle voete gedink. Was kalm ,het die situasie opgesom en toe gegaan vir die kill