CONCENTRATION CAMP DAY: WE REMEMBER JUNE 16, 1900! 
KONSENTRASIEKAMPDAG: ONS ONTHOU 16 JUNIE 1900!
Familiestories versamel en saamgestel deur HB “Hennie” Heymans
FAMILIESTORIE 1
OOM GIDEON HEYMANS SE VERHAAL
Oom Gideon is my Oupa HB Heymans se broer. My Oupa was saam met sy familie in die konsentrasiekampe. Ek haal aan uit Oom Gideon se herinneringe van die ontstaan van die Heymans-familie – HB Heymans.
Inleiding
My Oupagrootjie, Burger JF Heymans, wat tydens die Anglo-Boereoorlog te Bethlehem deur die Klaas-bende vermoor was.
“Hier moet ek terugkom na wat met my moeder Maria Heymans en kinders gebeur het na die moorde. Sy was aangeraai om met die nege kinders haar te gaan oorgee aan die genade van die Britse magte op Bethlehem, wat sy ook gedoen het”.
“Na ‘n verblyf van enige tyd op Bethlehem is sy saam met ander vroue en kinders op muilwaens gelaai, getrek deur agt muile elk, is hulle in die rigting van Reitz, maar meer na Bloukop se kant, en later gedraai om uiteindelik op Harrismith aan te kom en daar in ronde tente, konsentrasiekamp te beland”.
Boere-vroue en hul kinders afgeneem tydens hul aankoms by die Harrismith-konsentrasiekamp.
“Hier (te Harrismith) is ons jongste sustertjie dood en saam met talle ander kinders begrawe”.
Foto van die gemeenskaplike konsentrasiekampgraf te Harrismith – haar naam verskyn daar – links mnr Prinsloo die eienaar van die plaas te Kerkenberg – HBH
Oumagrootjie Maria Heymans met nege kinders in konsentrasiekamp gedurende 1900 – waarskynlik te Harrismith want ek sien die tente in die agtergrond. My Oupa sit voor regs – HBH.
“Na ‘n tydperk van sowat agt na twaalf maande is al die inwoners per spoor na Ladysmith, Natal, daar is die families in sink barakke gehuisves.”
“NGR Boer Refugees Leaving Harrismith” – Ek vermoed die vrouens en kinders word per spoor na Ladysmith Vervoer – HBH.
“Hierdie geboue had almal net een gemeenskaplike ingang, die nommer van ons kwartiere was No 55. Ek het nog in my besit ‘n portret van die tentekamp op Harrismith sowel as een van die sinkgebou No 55. In Ladysmith was die behandeling volgens my moeder baie redelik. Hier was daar selfs Sondagskole en ander geriewe, kos was baie goed voorsien ʼn die kamp was genoem Tinton, na die Engelse uitspraak “Tin Town”. In hierdie kamp het ons gebly tot in die begin van 1903 toe ons per trein terug vervoer is Vrystaat toe, sover as die teenswoordige Aberfeldy stasie aan die Elandsrivier tussen Harrismith en Kestell. Van hier is ons weer per ossewaens vervoer na ons afgebrande woning op Kromspruit, ongeveer 65 myl, maar weens die gemengde spanne trekdiere, koeie, verse en miskien ‘n paar osse, het die tog besonder stadig gegaan en kon [die tog] maklik drie weke geduur het.. Daar bestaan ‘n foto van die Heymans gesin wat in ‘n konsentrasiekamp, met tente in die agtergrond, geneem is. Kyk ook keersy van foto”.
“By die aankoms op Kromspruit was die enigste lewende dier ‘n hond; daar was geen vee, pluimvee of graan van enige soort nie. Honger het ons in die gesig gestaar maar familiebetrekkinge het ons familie laat haal en ons het op Witklip in ‘n klein perdestal wat bietjie gerepareer was, ingetrek. My ma het op een of ander wyse ‘n perdekar en perde geleen om hulp te gaan vra by ‘n bekende, toe hulle met halfgeleerde perde ‘n ongeluk kry en die kar omgooi oor ‘n groot miershoop. Toe sy uitval breek sy haar been en vir die res van haar lewe was ‘n kreupel invalide”.
“Die gesin is toe weer per ossewa na Bethlehem vervoer waar daar toe nog ‘n militêre geneesheer, Dr John Hunter[1], was en kon die res van ons, behalwe my oudste suster Bellie, skool toe gaan. By ons aankoms op Bethlehem het ons by ‘n afgebrande huis gekom en weer moes ‘n buitegebou gerepareer word met populierhout en verbrande sinkplate om tydelik onder beskerming te wees totdat my ma die helfte van die erf kon verkoop om die woonhuis te herstel. In hierdie huis het die familie gewoon van 1904 tot 1914 toe my ma weer die ander helfte verkoop het aan die Munisipaliteit en is die huidige stadshuis daarop gebou”.
FAMILIESTORIE 2
‘n Staaltjie oor my Ouma destyds ‘n nooi SJG Faure, van die plaas Waterval-Wes, Kroonstad-distrik naby Steynsrus.
Die Prinsloo-opstal te Waterval-Wes soos dit gelyk het in gedurende 2002 – foto deur Ric Searle
Daar word vertel my Ouma Faure (dogter van Abraham Faure – toe nog ‘n Kaapse burger uit Stellenbosch) loop en speel op die plaas rond buite die opstal. Die oorspronklike plaas behoort aan haar Oupa “Dik-Willem” Prinsloo.
Die Britse troepe kom op die plaas aan en een gaps turksvye en gooi dit voor in sy hemp. Sy lag. Die soldaat gee instruksies dat hulle moet inpak hulle gaan konsentrasiekamp toe. Sy kon Engels praat en vertel toe dat haar Ouers en haar baba-sussie siek in die bed is. Die soldaat wat praat is adamant. Sy vertel hom toe dis verskriklik om jou huis te verloor, hy sal dit self eendag ervaar en voel hoe dit is.
Hulle is toe met die siek mense na Heuningspruit-konsentrasiekamp. My Oupagrootjie Abraham Faure en die dogtertjie is oorlede. Ek kon ter plaatse nie die grafte opspoor nie maar wel ander grafte op die plaas Waterval-Wes.
Na die tweede wêreldoorlog verskyn daar ‘n storie in die Outspan (‘n Vrystaatse tydskrif) of ander tydskrif, ‘n storie van ‘n Britse lugaanvalwagter (“air raid warden”). Hy vertel in die artikel hy was ‘n soldaat tydens die Anglo-Boere-oorlog in die Vrystaat en vertel die storie van sy ontmoeting met die dogtertjie op die plaas. Hy vertel voorts dat hy een nag aan diens was en toe hy die volgende oggend by sy woonplek kom, is plat gebombardeer. Hy onthou toe haar woorde en besef nou hoe sy moes gevoel het.
- Ek kon nooit die artikel opspoor nie.
FAMILIESTORIE 3
My Oupagrootjie en sy broer het voor die Anglo-Boereoorlog soos tipiese Boere met Voortrekkerbloed die plaas in die Vrystaat agtergelaat en in Griekwastad en elders wes begin boer. My Oumagrootjie wou nie daar bly nie en hulle is terug na Bethlehem.
Toors Heymans
Ek het familienavorsing gedoen en in aanraking gekom met sy afstammelinge. Ek het toe op uitnodiging by die familie in die Kalahari gaan kennis maak. Ek was op die plaas van Johannes Lodewikus Pretorius “Toors” Heymans en ons het familie uitgelê. Hy was my Vader se kleinneef. Hy en ek het ook gery en familie opgespoor te Black Rock en Vryburg.
So vertel Toors vir my die storie van die een of ander Heymans-grootmoeder. Die man was op kommando. Sy was ‘n grand tannie. Eendag kom die voorman en vertel vir haar die Engelse is op die plaas. Sy het toe vir die voorman gesê laat die offisier inkom ek sal hom in die sitkamer ontvang.
Die offisier ‘n jong luitenant kom in die sitkamer en gee haar een kyk! Hy sê: “Mevrou u lyk net soos koningin Victoria! Ons kan nie u plaas afbrand nie!” Die luitenant is daar weg sonder om die plaas af te brand.
Koningin Victoria[2]
‘n Dag of twee later, daag die luitenant en die kolonel op die plaas aan. Weer wag mevrou vir die offisiere in die sitkamer. Die kolonel stem toe saam die ooreenkoms met koningin Victoria is juis. Die uiteinde is hulle het haar ‘n portret van koningin Victoria gegee sonder om die plaas af te brand.
Ek kan nie vir die waarheid instaan nie, maar dis ‘n mooi storie.
KOMMNETAAR: FAMILIESTORIES
Dit was ‘n verskriklike oorlog! Die koste was baie hoog; baie bloed is gestort – selfs vir Brittanje was die koste hoog!
Ek het die wêreld gesien, oral was ryk en arm mense. Ons Boere is verarm deur die Anglo-Boereoorlog en ons moes uit die as opstaan! Ons Boere het aan die werk gespring en onsself begin ophef. Ons oor-grootouers en grootouers het die twee voormalige republieke weer van nuuts af opgebou en ons het ons selfrespek herwin. Ons het geleer aan universiteite en briljante mense soos dr Hendrik van der Bijl en dr Chris Barnard opgelewer. Ons het skole en universiteite opgerig, ‘n gedugte polisiemag en weermag opgebou en selfs die atoombom ontwikkel. Ons het in mynbou ingegaan en Federale Mynbou tot stand gebring. Ons het SANLAM, SANTAM en Avbob gestig. Ons het spoorweë, lugdiens en hawens verbeter en uitgebou. Ons het gebou! Ons het alles veil gehad vir ons land.
Ouma Heymans het gesê die “Engelse” het ons geveg en toe na die oorlog trou hulle met ons. Toe kom die nuwe Suid-Afrika. Vandag is daar amper meer van my Engelssprekende Heymanse wat in die Verenigde Koninkryk, Amerika en Australië is, as in Suid-Afrika. Dis maar hoe die lewe is. Verskillende diaspora’s vind al eeue plaas.
As afstammeling van die Heymanse van Nederland – ek is die agste geslag – wil ek net noem dat ek geen wrok koester teen die Klaasbende en hul leier Grobler nie. Dit was oorlog.
(Konstabel Fourie van die OVSRDM te Bethlehem het die moordsaak so goed ondersoek dat sy ondersoekwerk nagespeur kon word – ons sal eersdaags ‘n artikel oor hom die lig laat sien.)
Ek koester ook geen wrok teen Brittanje nie – alles is maar in God se groot raadsplan en lotsbeskikking. Ons het ons kant in oorlog vir Suid-Afrika gebring.
- Dr John Hunter was geneesheer te Bethlehem van 1904 – 1926 [Bethlehem, 1952: p 69] en hy was distrikgeneesheer van 1904 –1915 en 1917 – 1926 en Spoorwegmediese Beampte [?]; 1912 – 1915 en 1917 –1926 [ kyk T.A.P. p 71]. ↑
- https://en.wikipedia.org/wiki/Queen_Victoria afgelaai op 16 Junie 2025. ↑
Hennie, baie dankie vir hierdie verhale van swaarkry, vernedering en weer opstaan en vooruit gaan.
Dit is net nog ‘n brokkie geskiedenis van ons Boere se lyding tydens die oorlog maar ook deursettingsvermoë om op te staan en vooruit te gaan.
Dankie oom Hennie ek het dit geniet!