BORDER DUTY: POLICE FAMILIES

1966 TOT 1989: GADES VAN DIE POLISIELEDE BETROKKE BY BOSOORLOG

Brig Fanie Bouwer

'n Foto wat persoon, klere, bril bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Ek skryf hier as ‘n persoon wat self in bg. tydperk in die sg. bosoorlog (alternatiewelik ook daarna verwys as ‘grensdiens’) betrokke was, beide op die Suid-Afrikaanse grense en in Ovamboland in Namibië

Daar was in die verlede baie geskryf oor die rol van lede tydens die twee-dekade-lange bosoorlog.

Die rol van hierdie lede se vroue wat in stilte, partykeer met angs, bekommernis, en partykeer selfs in woede die alleenheid moes hanteer, was maar egter min in die kollig.

Net so die posttraumatiese stresversteurings van enkele van hulle mans wat hulle meesal alleen hanteer het by terugkeer ná ‘n sg. ‘bostrip’, soos dit alombekend na verwys was. Ons het ewe onsimpatiek in ons onkunde na hierdie manne se toestand verwys deur te sê hulle het ‘bossies’ geraak.

Natuurlik het van die polisiemanne se vroue by die huis ook gemoedskommelings (‘mood swings’) gehad, wat die kinders in die huis meesal maar moes verduur.

Die stories van die vroue wat moes agterbly; wat moes aanhou en probeer verstaan en in die proses kop bo water moes hou, was in die algemeen werklik min vertel.

Daar is al daarna verwys as die stille oorlog agter die bosoorlog, sonder gevegte en bloed. Die polisielede het deur die bosoorlog gegaan en het enkeles letsel daarvan oorgehou. Maar die ander letsels van hulle vroue by die huis was nie veel oor gepraat nie. Die letsels op húlle gemoed, húlle lywe, het hulle meesal vir hulself gehou.

Daar is ook baie boeke oor die bosoorlog geskryf vir hulle mans, maar nie vir hulle wat by die huis moes bly nie.

Daardie jare was daar nie selfone, eposse en ‘whatsapps’ nie. Die kommunikasie tussen die vroue en polisiemans op die grense was meesal met gewone handgeskrewe briewe. Andersins moes die vroue maar alleen met angs, verlange, pyn en partykeer woede, cope.

Ek wil nou na die werklike praktyk verwys.

Het die SAP behoorlik omgesien na die lede se vroue wat by die huise agter gebly het?

Die antwoord is ja en nee. En waar daar wel na hulle welstand verneem is, was dit nie genoeg of selfs weer opgevolg nie. Hierby sluit ek in kapelane, distrikskommandante en stasie-/takbevelvoerders.

Dinge wat die vroue by die huis oorgekom het in die afwesigheid van hulle mans, en waaraan lg. self aan sou aandag gee, is wanneer die grassnyer of wasmasjien besluit het om ontydig die gees te gee. Of wanneer die garagedeur verseg om oop te maak as sy die kinders skool toe wil vat. Daar is talle ander voorbeelde.

Ek wil nou kortliks, so uit ‘n ander hoek na enkele voorbeelde verwys wat vroue beleef het.

Van hulle mans het terwyl hulle vir 3-maande in die bosoorlog bedrywig was, vrywillig aangebied om aan te bly vir nóg ‘n verdere 3-maande diens in die bosoorlog. Daar is sekere negatiewe afleidings wat mens hieruit kan maak – veral uit die oogpunt van die vrou wat alleen by die huis is.

Ek het twee offisiere geken wat dit ook gedoen het. Ekself het min begrip gehad vir sulke besluite.

Daar was ook enkele voorbeelde waar man en vrou, hy op die grens en sy by die huis, in buite-egtelike verhoudings betrokke geraak het. Dit was ook partykeer deel van die gevolge van die bosoorlog, wat ‘n negatief impak by die huis gehad het.

Daar was nooit inligtingsessies vir gesinne vóór die man en pa grens toe gegaan het nie. As ek nou so terugdink, vermoed ek die amptelike houding was dat ‘n polisielid se betrokkenheid by die bosoorlog maar net nóg een van sy pligte was.

Het polisiegesinne amptelike bystand en/of berading vanaf die staat (polisie) gekry ná terugkeer vanaf die bosoorlog? Nee, so-iets was nié in plek nie. Ek was ook nie bewus van enige amptelike beleid daaroor nie. Ekself, of my vrou, is nooit enige tipe van bystand of berading amptelik aangebied nie.

Ek moet egter tog byvoeg dat kapelaan-, sielkundige en maatskaplike dienste wel beskikbaar was sou ‘n lid dit versoek het, of as sy bevelvoerder dit nodig geag het.

Nominasies vir die bosoorlog na Ovamboland is in die laat 1980’s gestaak toe Namibië onafhanklik geraak het. Daarna het lede nog net op etlike plekke op die Suid-Afrikaanse grense spesiale dienste verrig om insypeling en aktiwiteite van die ANC se MK’s te voorkom. Terloops, die SAP se betrokkenheid by die destydse Rhodesiese bosoorlog het in 1975 ten einde geloop.

Ter afsluiting

Wat was die langdurige uitwerking op die mans, vroue en kinders as gevolg van die aanhoudende grensdienste? Verbasend bitter min eintlik. Wat onthou moet word, is dat die nominasies vir grensdienste in aanvaarbare intervalle plaas gevind het.

Dit alles bo gesê, beteken natuurlik nie dat ál die vrouens heeltyd by die huis in sak en as gesit het en nie al die ontberinge kon hanteer nie. Dit sou nie die waarheid wees nie.

Vroue is in die algemeen mense met sterk karakter en uithouvermoëns. So was die oorgrote meerderheid van ons vroue dan ook daardie tyd gewees.

Vanaf ons oud-bosvegters bring ek hulde aan hulle.

'n Foto wat teks bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.