Nongqai Skrywers en Boeke Herman Toerien

Die donkie is (soms) ‘n wonnerlike ding!

Herman Toerien

Min mense wat al paaie met ‘n donkie gekruis het, het nie ‘n opinie nie. Dit kan baie positief wees, of baie (pynlik) negatief. By die skool waar my oudste seun, Nic,  plaasbestuurder (en faktotum) was, was daar ‘n donkie in ‘n kampie. Die donkie het aan een van die onderwysers behoort; al wat hy oorgehou het na die kwekery wat hy besit het, onderdeur is. Die donkie het as geselskap vir die besoekers aan die kwekery los op die perseel rondgeloop, en was hondmak.

Dit was my laaste nabye kennismaking met ‘n donkie. Of soos in die Nederlandse oorklanking van Shrek, na een “edel ezel” verwys word. Natuurlik word baie van die trefkrag sonder die Nederlandse uitspraak verloor.

Tussen Grootbrak en Glentana was ‘n plaas met die naam Eselsrus. (En kan sommige donkies darem‘n oordaad rus in hul daaglikse bestaan inpas). Dié naam het nie vreemd opgeval nie, maar toe word die plaas as vakansieplek vir onderwysers, oftewel lede van die SA Onderwysersunie, ontwikkel. En op slag het die naam van Eselsrus en onderwysers wat bietjie gaan voetjies hang, nie baie lekker in sommige mense se swemklere gaan sit nie. Vir baie ander wat herinneringe gekoester het uit die dae toe onnies nog oor die swaardmag beskik het, was die naam egter baie gepas.

Nietemin, die persepsie dat donkies nie veel grysstof tussen daai lang ore het nie, het ook nie lekker met die werklikheid gestrook nie. Seuns (en soms jong manne ook) beleef mos ‘n fase in hul lewe waar hulle ‘n onblusbare lus het om donkie te ry… al word daai lus binne ‘n minuut of wat geblus. Soos by ‘n Voortrekkerkamp langs die Eerste Rivier buite Stellenbosch toe die klonge op ‘n klomp donkies afkom wat so lui soos kan kom gestaan en rus het. Op die oog af ideaal om gery te word.

Maar watwou, soos ‘n donkie ‘n ridder kry, so skielik kry daai ridder ‘n aardige ontmoeting met moeder aarde. En daai donkies kry ook nog ‘n paar geniepsige skoppe in, waarvan nie een gelukkig getref het nie. Maar een ridder het sy storie geken, en bly sit. Die toe dat die donkie eselbriltjantheid aan die dag lê. Na die skoppende wegspring is die donkie sommer klaar op volspoed. Hy gooi ‘n paar esse, maar sy ruiter bly klou, en toe …los hy die draaie hardloop, en nael eguit al langs ‘n doringdraad af. Net ‘n paar sekondes, toe hang eers sy broek, toe sy swembroek wat hy onderaan gehad het, en toe van sy velle soos biltonge aan die draad. Die ruiter het dadelik laat los, maar nie voor hy goed verniel is nie, en hy boonop met die valslag teen ‘n hakiaboompie vasgeslinger is.

Hulle is net met die gevalle held in ‘n motor weg hospitaal toe, toe neem daai donkie afskeid. Hy balk soos net ‘n volbloeddonkie kan – hard en treurigheid op note. So asof hy verskriklik ontstel is oor wat sy ridder oorgekom is. Enige mens wat nog nie ‘n donkie se gebalk ken nie, moet keer om nie saam met daai “hartseer” donkie die trane uit te pak nie. Heel waarskynlik het daai donkie van Stellenbosch in sy taal eintlik geskaterlag oor hoe hy van sy ridder ontslae geraak het.

Die beste donkiestorie wat ek nog gehoor het, was by ‘n kollega by NI. (Dis dieselfde man wat so vertel het van hul ongewone vlug van Taiwan af terug Suid-Afrika toe).

Toe hy gaan studeer het, het hy aanvanklik mediese geswot, en later regte. In sy eerstejaar beplan hy en ‘n paar mede-studente hul deelname aan Tukkies se jooloptog, en hulle besluit op ‘n donkie as geselskap met die stappery.  Miskien het die ondervinding van Koos Meyer as student by Mates ‘n rol gespeel. Daar was ‘n soort karnaval op Coetzenburg en Koos die seremoniemonster. Van die studente het ‘n paar donkies gebring, en ‘n dragtige een, wat nes prinses Wilhelmina van Nederland swanger was, en word toe ook Wilhelmina gedoop. In ‘n stadium is ‘n paar studente met Wilhelmina agter ‘n skerm in, en kort-kort sê Koos: “Dit lyk my daar is fout met Wilhelmina.” Tot Wilhelmina naderhand saam met ‘n vulletjie uitkom. Van toe af het my pa-hulle wat daar was, altyd as ‘n meisie in die ander tyd beland, gesê dit lyk of daar fout met Wilhelmina was.

Die oud-kollega se pa boer by Bapsfontein, en daar loop ‘n paar donkies. Dus ry hulle om een te gaan oplaai. Darem nie ‘n dragtige een nie want ‘n bevalling tydens die optog sou rampspoedig wees. Maar ‘n donkie wat heel rustig op ‘n plaas rondloop, en een wat gevang en agter op ‘n bakkie gelaai moet word, is nie net van verskillende spesies nie, sommer van verskillende families. Maar uiteindelik het hulle ‘n erg gevrekte donkie agterop die bakkie. Teen die tyd wat hy in Waterkloofrif afgelaai word, was Jasper, soos hy gedoop is, hondmak soos die studente hom gevryf het en allerlei lekkergoed gevoer het. Die volgende dag, toe hulle na die jooloptog toe moet vertrek, toe staan Jasper botstil. Hy verroer nie ‘n hoef nie. Sy ore hang, sy stert hang, sy oë op skrefies. Elke stukkie lekkerny wat hy die vorige dag nog so lekker gevreet het, kan hulle skaars by sy bek inkry, en as dit in is, neem dit ‘n ewigheid om gesluk te kry. En om die hele naweek en dalk nog ‘n paar dae, in die jooloptog te stap, is ook nie ‘n aantreklike gedagte nie.

Maar hulle is nie verniet mediese studente nie, en hulle spuit ta ‘n stywe dosis kafeïne in. Kollega was ‘n demonstratiewe  storieverteller en om te kon beleef hoe hy die uitslag van daai inspuiting vertel was ‘n voorreg soos min. Eers, beduie hy, skiet Jasper se ore regop, en hy wys met sy plat hande regop langs sy ore hoe dit gelyk het. Toe maak sy oë soos groot pierings, sy stert skiet reguit en staan penorent, hy blaas ‘n paar gelaaide winde agteruit, en ja, hy beduie van die bazooka onderaan.

Toe trippel Jasper soos ‘n resiesperd net voor hy die July windmakerig gaan kafdraf.

Maar toe hulle met Jasper by die jooloptog aansluit, loop dinge weer verkeerd. Die optoggangers verwelkom Jasper soos ‘n verlore broer, maar die spietkops wat die optog deur de strate moes begelei, voel heel anders oor de saak. Permitte en so aan. Hulle was mediese studente, (nog) nie regsstudente nie. Pleit help niks, Jasper moes huis toe geneem word. Lootjies word getrek, en die ongelukkige student wat hom huis toe moes neem word bepaal.

Sonder Jasper is die optog maar erg vervelig en nie lank nie, toe is hul voete seer en hul koppe warm. Maar die optog hou aan en aan. Later verwens hulle hul maat, wat teen daai tyd seker al heerlik in die swembad sit en aan ‘n Windhoekie of twee teug, en na Niel Diamond se jongste treffer luister.

Maar uiteindelik is hulle ook terug by die huis. In plaas van ‘n heerlik uitgeruste vriend wat lekker afgekoel is, loop hulle hulle vas in ‘n woedende mede-student. Hy is gaar gebrand, mank en heeltemal gedaan, en met enge verwysing oor hoe gelukkig hy sou wees om daai vervelige optog te kom vryspring, kry hy skielik genoeg energie opgediep om te wil vuisslaan.

Dit blyk die arme student was nog flink met Jasper onderweg huis toe, toe raak daai kafeïne  “op”. Eers gaan hang die ore, toe die stert, toe die res en oplaas gaan die oë toe. En onderkant Monumentpark “parkeer” Jasper botstil. En dis sommer nog ‘n stywe ent tot bo in Waterkloof-rif.

“En weet julle hoe moeilik sleep ‘n donkie wat staak teen so ‘n stywe heuwel uit?”

Die student loop erg kreupel. Blykbaar het hy iewers iets gelees van ‘n steeks donkie se stert te byt. Daai artikel het egter niks gesê van oppas as die donkie agterop skop nie. En dit was presies die laaste stukke moeite wat hy uit Jasper uitgekry het.

“Kyk net, daar staan hy nog net so geparkeer. My skeen was te seer om vir hom ‘n bak water te gaan soek, toe voer ek hom maar een van my Windhoekies. Jis, hy het dit vreeslik geniet – so pas eers die bottel uitgespoeg wat nou daar by hom lê.”

Met daardie kennis onder die blad was dit kinderspeletjies om Jasper weer “getrok” te kry om hom terug plaas toe te neem. Toe die bakkie met hom ry, balk hy luidrugtig. En ja, dit het regtig geklink of hy rêrig verskriklik hartseer was dat sy stadsverblyf nou iets van die verlede was.