COMPARISON OF RURAL COURTS WITH THOSE IN THE CITIES
Vergelykende Ervarings: Plattelandse en Stedelike Howe
Brig Fanie Bouwer
‘n Aanklaer se vergelyking van die Transkeise howe met die van Johannesburg
Ek wil hiermee ‘n vergelykende ervaring beskryf van aanklaerswerk in plattelandse en stedelike howe.
Ek gaan verwys na my ervaring in etlike Transkeise howe en dit vergelyk met die vinnige tempo van die Johannesburgse howe waar ek vir 4 weke aangekla het.
In Transkei het ek permanent aangekla in Idutywa – nou Dutywa – en dan in verskeie howe reg oor Transkei soos waar die speurders of die Distrikspeuroffisier (DSO) só versoek het – veral nadat ek die aanklaerkursus by die departement van Justisie se opleidingskool deurloop het in 1972.
Ek het vreeslik gehou van die rondreisende aanklaerswerk. So het ek meeste speurders ontmoet en ook die onderskeie magistrate se hofmaniere beleef. En ook by hulle geleer van die reg as sulks.
Ek weet van geen ander polisieman of aanklaer wat hierdie ervaring gehad het nie.
Ek het my verbeel dat die inwoners van Transkei lief was vir hofsake, want die hofsale was gewoonlik vol gesit. Hulle het met busse – daar was toe nog nie minibus-taxis nie – vanaf die lokasies (later genoem ‘Aministrative Areas’) daar aangekom. En baie ook te perd.
Hulle het eers vroeg buite die hof – ‘inkundla kamantyi’ – rond gesit en gesels – ‘n soort van gewillige sosiale en geselsbyeenkoms. Ek dink nuus van elders in die distrik was só aan mekaar oorgedra.
Later het dié mense jou oor die tyd leer ken en as jy aangestap kom, het hulle gegroet met ‘n “Molo, Umtshutshisi’, wat direk vertaal beteken ‘Môre Aanklaer’.
Een ding wat ek kan onthou, is dat daardie wêreld se mense bykans nooit skuldig gepleit het nie. Tot vandag weet ek nie wat die verduideliking daarvoor is nie. So, ‘n aanklaer moes maar elke keer ál die getuienis aanbied. Dit was vir my ‘n frustrerende situasie gewees.
Johannesburgse howe
As aanklaers in opleiding het ons 4 sake per persoon gekry per dag, wat seker so 80 sake vir die maand was, per individu. Ons was 4 aanklaers per hof.
My onthou is dat die vervolging in hierdie howe glad en professioneel bestuur was. En met spoed – so vinnig soos wors deur ‘n worsmasjien te druk, as’t ware. Ek onthou hoe min en onnodige uitstel van sake daar was. Hierdie kultuur het intussen drasties ten slegte verander.
Ons het in die maand elkeen ‘n beurt gekry om vir ‘n volle dag in die Verkeershof aan te kla.
Die spoed en die interessante verskonings van die aangeklaagdes in hierdie hof, was vir my ‘n belewenis, met ‘n ervare Landdros wat geweet hoe om dinge buitengewoon vinnig te laat vloei. Hy het die vermoë gehad om ‘n aangeklaagde vinnig te vertel om nie sý tyd, en die van die hof, te mors nie. Of om eerder sy pleit van onskuldig na skuldig te verander.
Ek het mý beurt in hierdie hof baie geniet. Ek en die Landdros het ook om een of ander rede baie goed gekliek.
Die interessante ding van hierdie hof, was dat die permanente aanklaer ‘n baie vriendelike, aantreklike jong vrou was wat sulke kort rokkies gedra het. My kollegas kon nie wag vir hulle beurt om in dié hof te verskyn nie.
Die gevolge van die howe van stad se ervaring
Om hierna weer met die baie rustiger Transkei se howe te doen te kry, was dit asof jy meer gemaklik, met meer kalmte en selfvertroue jou hoftaak verrig het.
En, onthou, ons was ook meer geleer van die toepassing van die Strafproseswet in ‘n hof; ander gemeenregtelike beginsels; hoe om jouself voor te berei; die kuns (‘trieks’) van kruisondervraging en, ten laaste, hoe om die Landdros toe te spreek en op te som en te argumenteer oor hoekom jy dink jý – die Staat – die saak bo redelike twyfel bewys het.