Tienie Cronje2

SO ONTHOU EK VIR GENERAAL TIENIE CRONJÉ

Johan Ferreira

Ons paaie het vir die eerste keer in 1986 gekruis toe ons saamgewerk het op die parlementêre personeel – hy op minister Adriaan Vlok se personeel en ek by die destydse kommissarisse, generaal Johann Coetzee en sy opvolger, generaal Hennie de Witt. Ek en Tienie was ewe oud, ofskoon hy al ‘n kolonel was en ek nog ‘n luitenant-kolonel.

Ek het en Tienie het dadelik ‘n goeie kollegiale verhouding opgebou en ons het lekker saamgewerk en ons beskeie deel gedoen om ‘n gesonde samewerking tussen die kantore van die ministerie en die Kommissaris se kantoor te bewerkstellig.

Die tyd wat ons daar gedien het, was letterlik toe die land aan die brand was met die onrus wat na die Soweto opstand en toe weer in 1984 uitgebreek het. Dit was tye van honderde memorandums wat tussen die twee kantore gestuur was. Ons moes kophou om te sorg dat die kommunikasie tussen die kantore vlot verloop.

Ek het vir Tienie leer ken as ‘n bekwame, standvastige offisier wat in alle opsigte tot eer van sy rang, die Suid-Afrikaanse Polisie en die Ministerie van Wet-en-Orde opgetree het. Hy het ‘n rustige, kalm geaardheid gehad en hy was bekend vir die pyp wat hy met groot genoeë gerook het.

Toe die graad BA (Pol) deur Unisa aangebied is, het hy dadelik die boeke nader getrek en was hy een van die eerste polisie-offisiere wat die graad verwerf het.

Ek is later met bevordering na Hoofkantoor verplaas, maar ons het dikwels nog bymekaar uitgekom. Toe hy later tot generaal-majoor bevorder en as bevelvoerder van die Afdeling Gevorderde Opleiding aangestel is, het ons weer saamgewerk. Ek het as ‘n brigadier onder sy bevel gedien.

Met die nuwe bedeling wat ons in die gesig gestaar het, het Tienie – weens sy gesondheid – besluit om met pensioen uit die Mag te tree.

Intussen het die lewe sy gang gegaan. Ons het af-en-toe met mekaar gesels, maar mekaar net een keer daarna raakgeloop toe die Generaalsklub se 25ste herdenking gevier is.

Ons eer sy nagedagtenis en dra ons innige meegevoel oor aan Annemarie en sy naasbestaandes.

Johan Ferreira

Pretoria

-ooOoo-