Vrystaatstories, in Nongqai Skrywers & Boeke

Kinders moet Kaalvoet Loop

Henning van Aswegen, in Vrystaatstories Twee, Naledi-uitgewers (Naledi.com)

‘I do not agree with what you have to say, but I’ll defend to the death your right to say it.’ (Je ne suis pas d’accord avec ce que vous dites, mais je defendrai jusqu’a la mort, votre droit de la dire). Voltaire – (Francois-Marie Arouet)(1694-1777).

My ma, die joernalis Babs van Aswegen (Renè en Lindi se ouma), het elke kind in Aberdeenstraat, Virginia geken. Elke ma en pa, tannie, oom, elke hond, kat, blaar en blom.  Sy was die beste netwerker in die Vrystaat, ‘n mensliewende mens met ‘n groot hart en meer geduld as Job se Ouma. Ek ken haar vandat ek in 1955 gebore is, en het haar nooit haar humeur sien verloor nie – ‘n beleefde, statige dame van min woorde en baie dade. Babs en my pa Kobus (‘n boekemens, lid van Alan Paton se Liberale Party, vrydenker en sitkamerfilosoof) het my langsamerhand geleer dat daar regte, en verkeerde maniere is om dinge in die lewe te doen. By hulle het ek nooit pakslae gekry nie (in die koshuis wel), net ‘n vraende kyk wanneer ek my meëdoonloos met stompsinnige dinge besig gehou het. Soos ‘n kind doen.

Maar hoe leer jy jou kind om te onderskei tussen reg en verkeerd, om te help met stoele wegpak nà Kinderkrans, om Chomsky en Uris se boeke te lees in plaas van Mein Kampf of Karl Marx se Das Kapital? Of moet ons juis ons kinders aanmoedig, soos my pa Kobus met my gemaak het, om Leon Uris, Gore Vidal, Herman Wouk, Adolf Hitler, Marx en Engels, Leipoldt, FA Venter, Langenhoven, David Ben-Gurion en skrywers uit ander kulture te lees. ‘Jy is in standerd agt, oud genoeg om ordentlike boeke te lees.’ Lees!, anders gaan jy nooit verstaan hoe die wêreld werk nie. ‘Read, or remain stupid forever,’ was een van sy gunsteling-uitdrukkings.

My pa se kulturele agitasie en my eie hardkoppigheid laat my op sestienjarige ouderdom by Goudveld Hoërskool in die moeilikheid beland toe ek weier om ‘n Eed van Getrouheid te teken. Onvergeefbaar in die ongenaakbaar-konserwatiewe middel-Vrystaat en die rede vir een onderwyser om my onnadenkend ‘n klein kommunis noem – ‘n brandende etiket wat vir die res van my skoolloopbaan om my nek hang. Die Goutie-skoolkoerant wat ons (ek en net een onderwyseres) begin het, word na een uitgawe deur die Fasciste Ludick en Joubert doodgedruk, so ook die Skaakklub met sy drie lede. Lyfstraf was daardie jare algemeen in ons skool en koshuis, maar gelukkig het Joubert en Ludick my vir die res van my skoolloopbaan net tot vuil kyke en stoïsisme gevonnis.

Elke ouer se wens vir hul kind is om min of meer ‘n geletterde, gebalanseerde grootmens te word; sonder om in die tronk te beland, op veertien jaar betraand te bieg dat sy ‘n baba verwag, of op sestien tydens ‘n laat aand met hoërskoolvriende dwelms gebruik (‘net om te voel hoe voel dit, ma’). Of om nà matriek vir jare doelloos deur die lewe rond te dwaal. ‘Ek vat net ‘n gaapjaar, pa. Ek belowe ek sal dan verder swot, volgende jaar.

Kinders moet kaalvoet loop, speel en swem en boomklim, maar ook lees en ondervind en ondersoek en ontdek sodat hulle darem een of ander verwysingsraamwerk het om ‘n lewens- en wêreldbeskouing mee te vorm. Hoe doen jy dit as jy niks weet nie, òf dink kennis kom uit Google of ‘n XBOX?

Ouers in Suid-Afrika het die moelikste taak van almal. Die land is nà apartheid in ‘n politieke gemors van korrupsie, wanbestuur, morele verval en misdaad. Elke ouer wat op die beste toekoms vir hul spruite en nageslag hoop, se ergste nagmerrie. Hoe bly ‘n kind kultuurvas, normaal, gebalanseerd, ingelig en toegerus om die toekoms aan te pak sonder om rigting te verloor? Een van die min wat weet hoe om geld te maak, om selfversorgend te wees? Hoe gaan hy of sy weet wie CJ Langenhoven was, Danie Theron, Barry Hertzog, DF Malan en Eugene Marais, Herman Charles Bosman of Frederik van Zyl Slabbert?  Vra jy vandag se Afrikaansprekende kinders wie AG Visser, Uys Krige, Adam Smal, SV Petersen, Opperman, Totius, Boerneef of Eitemal was, dink hulle jy het ‘n skroef los. Hoe Afrikaners van 1899-1902 vir hulle land moes veg, en dit toe verloor het. Hoe om sinvol in ‘n land met ‘n Swart meerderheid en Blanke minderheid produktief te bestaan, sonder om kwaad en opstandig te word en dan tasse te pak om onthuts Australië toe te emigreer. Op soek na iets beter?

Die sleutel lê in die opvoeding van jou eie kind. Skole en kerke en portuurgroepe speel ‘n marginale rol as dit kom by metodes om jou kind vir die toekoms voor te berei.  Dit is jou verantwoordelikheid om te voorkom dat jou kind Amerikaanse aktrise-stompsinnighede uit Huisgenoot by ‘n ambassade-kelkie kwytraak, en nog nooit ‘n pragtige gedig van NP van Wyk Louw of Joan Hambidge of Daniël Hugo gelees het nie. Afrikaners is nie net plesierig nie, ons is ook oningelig, polities naïef, kultureel bekrompe en dwergies wanner dit by ons kinders en nageslag se lewens- en wêreldbeskouing kom. My filosofiese helde is baie: Uilspieël, Inspekteur Clouseau, Don Quixote, Jean-Jacques R, Hegel, Kant, Kierkegaard, miskien Paulo Coelho. Virginia Volkskool en Goudveld en PUK en UNISA het dit nie vir my geleer nie, ek moes self uitvind.

‘n Afrikaanse ouer vra my noudie-annerdag wie Langenhoven was? Ek moes vir my ‘n koppie boeretroos gaan maak om te herstel. Ek wou hom eers antwoord dat Langenhoven vleuel speel vir Vrystaat, want daarvan weet hy baie, maar byt my tong net betyds. “My volk gaan te gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis,” treur Jean Jacques Rousseau in ‘Madeleine.’

Dieselfde ding gebeur hier aan die Suidpunt van Afrika, Jean Jacques. Ons volk is maar niks meer as ‘n stam nie, en ons gaan ten gronde omdat ons Frengels praat en nie lees nie. En wat meer is JJ, Aristoteles (ja hy, wat aan die voete van Sokrates grootgeword het), stem met my saam.

*