Wachthuis
PRETORIA: POLLEY-ARKADE SE STORIE BEGIN BY ’N LEGENDARIESE HOTEL
Angie Kleijn

ABSTRACT (English)
This article traces the history of Polley Arcade and its origins in the Transvaal Hotel, once a landmark in Pretoria’s city centre. It recounts the evolution of the hotel from the early 1880s through its transformation into Polley’s Hotel and later the construction of the Wachthuis, headquarters of the South African Police. Central to the narrative is the hotel’s remarkable visitors’ book, containing more than 14,000 signatures—including those of Winston Churchill, Arthur Conan Doyle, British generals, Boer leaders, and a young American messenger—providing historians with invaluable insights into movements during the Anglo-Boer War. The article also highlights architect Norman Eaton’s innovative design of the Wachthuis and the eventual decline of Polley Arcade as urban dynamics shifted.
KEYWORDS
Polley Arcade; Transvaal Hotel; Polley’s Hotel; Pretoria history; Anglo-Boer War; visitors’ book; Winston Churchill; Norman Eaton; Wachthuis; South African Police; architectural heritage; urban decline; cultural landscape.
Pretoria: Polley-arkade se storie begin by ’n legendariese hotel
Angie Kleijn
Erkenning
Hierdie artikel het in die BRONBERGER van Maart 2026 verskyn en word met toestemming van Angie Kleijn en met dank in die Nongqai van Maart 2026 herpubliseer.
Wie onthou nog die glorietyd van Polley-arkade in Pretoria se middestad? Die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging het ’n galery daar gehad. Handelaars het gestrek van Maxi’s Fashions, Lilliputs speelgoedwinkel, Steglich Juweliers, Audiophile, mevrou Brodie se antiekwinkel, ’n restaurant, wat as Swobodas onthou word, en vele ander eiesoortige winkeltjies.
Die arkade is na Polley’s Hotel in Pretoriusstraat vernoem. Mnr Polley het die Transvaal Hotel ná bykans 40 jaar oorgeneem en herdoop. Die vroegste foto wat van die Transvaal Hotel gevind kon word dateer uit die Eerste Vryheidsoorlog (20 Desember 1880 tot 23 Maart 1881) en wys ’n eenvoudige grasdakgebou met ’n stoep.
Rekords in die nasionale argief wys dat ’n W Jahn die eerste eienaar van die Transvaal Hotel was. ’n Mnr SB Levy was die hoteleienaar toe die gebou in 1899 opgeknap en opgegradeer is. ’n Derde verdieping is net voor die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, bygevoeg. Die hotel was aan die suidekant van Pretoriusstraat, tussen St Andries en Markstraat (vandag se Thabo Sehume- en Paul Krugerstraat).
Besoekersboek
In ‘’n Buitengewone dokument uit die Anglo-Boereoorlog – die besoekersboek van die Transvaal Hotel in Pretoria’ skryf Fransjohan Pretorius dat die geskiedkundige waarde van dié hotel se besoekersboek onskatbaar is.
Ernst & Young se voorgangers, Ralph Craggs Rekenmeesters, was die ouditeure van die latere Polley’s Hotel. Louis van Breda van Ernst & Young in Pretoria het verduidelik dat die besoekersboek basies saam met die Transvaal Hotel se meubels gekom het. Dié boek is waarskynlik behou omdat Winston Churchill se handtekening daarin is.
Fransjohan Pretorius skryf dat dit nie net die handtekeninge van vooraanstaande mense soos Winston Churchill, sir Arthur Conan Doyle en Leo Amery bevat nie, maar ook dié van oorlogskorrespondente en Britse generaals, soos John Brocklehurst, Edward Brabant, Horace Smith-Dorrien en Herbert Plumer, en Boeregeneraals soos Christiaan de Wet, Louis Botha en Barry Hertzog, asook waarnemende president Schalk Burger van Transvaal.
Hy skryf dat die boek bykans ’n “Who’s Who” van die Anglo-Boereoorlog is en dat die verblyf van party besoekers in sommige gevalle met belangrike oomblikke in die oorlog verbind kan word. Dit stel geskiedkundiges in staat om die plek vas te stel waar ’n historiese figuur hom op ’n gegewe oomblik bevind het.
Seun
In ‘Seun reis halfpad om wêreld met boodskap vir Oom Paul’ in Die Bronberger van Maart 2019 het ons geskryf oor een so ’n handtekening in die besoekersboek. Die aand van 29 Mei 1900, kort voor die inname van Pretoria deur Brittanje, het president Paul Kruger sy huis vir die finale keer verlaat. Tog het hy, op dié van alle dae, tyd ingeruim om ’n 15-jarige seun van Amerika te sien.
James Francis Smith, boodskapper nommer 1531 vir die Amerikaanse Distrik Telegraafmaatskappy (ADT), het op 11 April vanaf Philadelphia vertrek om ’n boodskap van aanmoediging in die middel van ’n oorlog af te lewer. Hy het dié afstand afgelê sonder om te weet hoe klein venstertjie in tyd hy sou hê om die president te kon sien.
Die Transvaal Hotel se besoekersboek, wat meer as 14 000 handtekeninge bevat van mense wat die hotel van 2 Mei 1900 tot 26 Oktober 1902 besoek het, wys James se jeugdige handtekening op 28 Mei 1900 saam met dié van sy volwasse begeleiers.
Die Transvaal Hotel het tot 1920 dié naam gedra en het Polley’s Hotel geword toe mnr Polley die hotel in 1920 oorgeneem het. Polley’s Hotel is in 1950 gesloop en die Wachthuis, hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse polisiedienste, is daar gebou. Die arkade was ’n voetgangersroete met winkels aan weerskante onder die kantore.
Wachthuis
Die Wachthuis is deur Norman Eaton ontwerp en Polley-arkade is met duisende handgesnyde marmer mosaïekteëltjies versier. Norman het gesê dat hy die idee gekry het by die dekoratiewe elemente in Mapoggers se krale, wat hy in sy jeug besoek het. Die marmer was oorskietstukkies uit ’n plaaslike klipmesselaar se werf.
In ‘Dagbreek en Sondagnuus’ van 13 April 1958 is daar berig dat die Polisie-voorsieningsfonds aan die argitek, Norman Eaton, vrye teuels gegee het om ’n gebou in die plek van die ou Polley’s Hotel te ontwerp.
’n Gebou het begin vorm aanneem en die berig lui dat Pretoria “hangende winkels” kry. “Dié ultra-moderne nuwe gebou, met ’n hele reeks nuwighede wat nog nie in Suid-Afrika gesien is nie, verrys teen ’n koste van ’n halfmiljoen pond in die hoofstad.”
“Een van die eienaardigste effekte word bereik deur die massiewe pilare nie aan die tussenvloere te laat raak nie, met die gevolg dat dit lyk of die vloere in die lug hang en ’n mens feitlik dwarsdeur die gebou kyk.”
Die berig het verwys na die pilare en vloere wat met mosaïek versier is en noem dat die winkels op die grondverdieping met glas van mekaar geskei is. “Die geheel lyk van buite soos ’n boekrak waardeur pilare loop. Aan die Schoemanstraat-kant word ’n aantal verdiepings opgerig wat die boekrak-glaskas nog verder voer. Ook kantore sal van mekaar geskei word deur glasmure.” Die berig sluit af deur te sê dat die personeel van die Polisie-hoofkwartier hulle intrek sal neem sodra dié gedeelte van die gebou voltooi is.
Norman
Vandag word Norman onthou vir die styl waarin hy verskeie Afrika-tradisies in bouwerk opgeneem het, veral vir die dekoratiewe elemente merkbaar in die Zimbabwe-ruïnes.
Norman Musgrave Eaton is op 11 Oktober 1902 in Pretoria gebore. Hy het die eerste keer ’n prys gewen toe hy nog maar ’n eerstejaar-argitektuurstudent was. So het hy aanhou kompetisies wen en in 1929 is die Baker-beurs, wat hom na die Britse Skool in Rome gestuur het, aan hom toegeken.
Ná toere deur Europa het Norman hom in 1933 in Pretoria gevestig en sy eie argiteksfirma oopgemaak. Oor die jare het hy verskeie vennootskappe met ander argitekte aangegaan en het groot kommissies ontvang.
In 1960 het Norman die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eremedalje vir argitektuur ontvang. Hy is op 19 Julie 1966 in ’n motorongeluk in Pretoria dood. Die goue medalje van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte is ná sy dood in 1967 aan hom toegeken.
Vandag
In ‘Heritage and cultural landscapes’ skryf Pahlvi Jairam dat Polley-arkade vandag een van die bekendste voorbeelde is van ruimte wat oor die jare in ’n toestand van agteruitgang en ontkoppeling van sy oorspronklike doel verval het.
Pahlvi skryf dat daar in die 1980’s ’n reeks aanvalle op die Suid-Afrikaanse Weermag se militêre intelligensie-hoofkwartiere in Pretoria en lugmag-hoofkwartiere was. In die lig van dié dreigende gevaar en in ’n poging om hulle dokumente veilig te hou het die Polisiedienste, wat hulle kantore in die Wachthuis gehad het, besluit om hulle argief vanaf die boonste vlakke na die grondvloerwinkels in die arkade te skuif. Dit het beteken dat die ruimte nie meer ’n lewendige, besige openbare deurloop was nie, maar in ’n dooie slagaar in die stad ontaard het.

’n Advertensie op bl 555 van die ‘South African Who’s Who (Social & Business), 1927-28, Ken Donaldson
Bron: artefacts.co.za via William Martinson

’n Poskaart van die Transvaal Hotel deur C Basson & Co
Bron: artefacts.co.za via Kathy Munro

Dié foto van die Transvaal Hotel is in 1899 geneem
Bron: artefacts.co.za via Dunston, Lola & Dunston, Tom. 1975:239

’n Skets van die Transvaal Hotel
Bron: artefacts.co.za via Dunston, Lola & Dunston, Tom. 1975:241

Dié advertensie wys dat W Jahn die eienaar van die Transvaal Hotel was
Bron: artefacts.co.za via Annelise Lange

Dié foto van die Transvaal Hotel is rondom 1881 geneem en het oorspronklik aan generaal Piet Cronjé, wat foto’s vir sy beplande sirkus-versameling in Amerika bymekaargemaak het, behoort
Bron: repository.up.ac.za; Richard Wade (Digitale versameling)

Die trappe na die onderste vlak in Polley-arkade
Bron: artefacts.co.za; fotograaf Jaap-Evert Abrahamse, 2013

Polley-arkade
Bron: artefacts.co.za; fotograaf Jaap-Evert Abrahamse, 2013

’n Etiket vir bagasie uit die 1930’s: “Pretoria Polley’s (Late Transvaal) Hotel”
Bron: hippostcard.com

’n Advertensie vir Polley’s Hotel
Bron: gibud.no

Dié foto van die Transvaal Hotel is rondom 1881 geneem en het oorspronklik aan generaal Piet Cronjé, wat foto’s vir sy beplande sirkus-versameling in Amerika bymekaargemaak het, behoort
Bron: repository.up.ac.za; Richard Wade (Digitale versameling)

Die eetsaal van Polley’s Transvaal Hotel
Bron: marylmartin.com

’n Wynglas met die kenteken van die Transvaal Hotel
Bron: worthpoint.com

Die kenteken van naderby
Bron: worthpoint.com

Die Transvaal Hotel se besoekersboek
Bron: F Pretorius, 2012

Die militêre begeleiding van die Kaapse Hoë Kommissaris, Sir Henry Loch, verlaat die Transvaal Hotel na samesprekings met president Kruger
Bron: Sammy Marks Archives

“In Search of our Own – The Forgotten Legacy of Norman Eaton” is ’n Open Window Filmkuns produksie met rolprentregisseurs Adriaan de la Rey en PJ Kotze
Bron: atterburytrust.org

Polley-arkade in die 1960’s
Bron: Time Traveller Adventures via Old Pretoria Group
