A Police Career of 40 Years: 1963 – 2003: Lt-Gen JH Ferreira

‘N POLISIE-LOOPBAAN VAN VEERTIG JAAR – 1963 – 2003

Lt.genl. J.H. Ferreira

In my lewe was ek nog net een maal werkloos.

Dit was in die tydperk nadat ek die skoolbanke vaarwel toegeroep het totdat my aansoek om indiensneming in die Suid-Afrikaanse Polisie goedgekeur is. Dit was ook die enigste keer in my lewe dat ek aansoek moes doen vir werk.

As ʼn jong man wat pas 18 jaar oud geword het, is ek op 20 Maart 1963 opgeroep om by Kaptein Jack Hurter se kantoor in die Maritime-gebou in Pretoriusstraat, Pretoria te gaan aanmeld.

Ek het in my beste langbroek, baadjie en das daar gerapporteer waar die kaptein my meegedeel het dat my aansoek om indiensneming in die Suid-Afrikaanse Polisie goedgekeur is. Hy het my na een van die lede verwys waar ek ʼn paar vorms moes invul, onder meer vir ʼn lewens- en uitkeerpolis. Daarna is ek weer voor die kaptein geparadeer. Ek moes op aandag voor hom staan. Nadat hy die Eed aan my voorgehou het, het hy my aangesê om my regterhand in die lug te steek en te sê: “So help my God.”

Nadat ek ingesweer is, het hy my gelukgewens en in die geledere van die Suid-Afrikaanse Polisie verwelkom. Hy het ook vir my meegedeel dat die polisie ʼn edele beroep is en dat ʼn polisieman daar is om die samelewing te dien. Hy het verder gesê dat ʼn beroep in die polisie vol avontuur is, maar dat daar ook slaggate en versoekings in my pad sal kom. Dit sal van myself afhang of ek daarin sal trap en of ek daaraan sal toegee. Hy het ook melding gemaak dat ʼn polisieman nie altyd onder toesig sal werk nie en dat dit van my eie integriteit sal afhang of ek die vertroue wat die staat, die polisie en die gemeenskap in my stel, waardig sal wees. As ek hierdie vertroue eerbiedig, sal my beroep geseën wees.

Hy het ook gesê dat die R65 per maand wat ek gaan verdien, dalk vir ʼn jong man wat pas uit die skool gekom het, na ʼn klomp geld klink, maar dat ek altyd versigtig te werk moet gaan hoe ek my geld bestuur. ʼn Polisieman kry nie baie geld nie, maar sy geld is geseën en hy behoort nooit honger te gaan slaap nie.

Nog dinge waarteen hy my gewaarsku het, was om my vriende reg te kies, om nooit gunste en geskenke by die publiek te aanvaar nie, en om elke lid van die publiek, of hy arm of ryk, wit of swart, eenvoudig of hooggeplaas is, met eerbied te behandel.

Ek was na die polisie-fotograaf geneem, waar hy ʼn foto vir my aanstellingsertifikaat geneem het. Daarna is my Magsnommer, nommer 42600 aan my toegeken. Van toe af het my naam tweede gekom. Ek het ʼn nommer word.

Nadat hy my van al die moets en moenies in die polisie vertel het, het hy ʼn roetevorm aan my oorhandig en aangesê om by die Brooklyn polisiestasie in Duxburyweg, Hillcrest, Pretoria te gaan aanmeld. Ek moes daar as ʼn student-konstabel in privaatklere werk totdat ek opgeroep word vir my basiese opleiding aan die Polisiekollege.

By die polisiestasie is ek voor die Stasiebevelvoerder, adjudant-offisier Jonker geparadeer. Hy het my eers goed deurgekyk en weer van voor af vertel wat hy van my verwag het.

Die eerste wat ek moes leer, is wat ʼn student-konstabel, konstabel, sersant en adjudant-offisier is, waar hulle in die struktuur inpas en dat ek my meerderes en die publiek altyd moes respekteer en opstaan as hulle met my praat.

Ek moes weet hoe die verskillende rangtekens lyk. As ʼn polisieman sterretjies op sy skouers begin dra het, moes ek weet dat dit ʼn offisier is, en as hy goue borduursel op sy pet begin dra het, moes ek weet dat dit ʼn grootkop is en dat mens, sover moontlik uit sy pad moes bly.

Ek is toe in gepos as aanklagtekantoor-reserwe en is op een van die vier aflossings geplaas, waar ek skofte sou werk. My direkte bevelvoerder was ʼn sersant Kleynhans, wat my sou moes oplei om diens in die aanklagkantoor te werk. Hy was ʼn regte streng oubaas, maar hy het my mooi geleer. Ek skat hy was toe al baie naby aan aftrede. Ek moes leer om al die registers in die aanklagkantoor foutloos op te teken, en moes later ook leer om verklarings van die publiek wat een of ander geringe misdaad kom rapporteer het, af te neem. As sit stil geraak het op die nagskof, het sersant Kleynhans hy my vertel van sy omswerwinge in die polisie, hoe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Noorde moes veg, en dat hy vir al sy opofferings maar slegs ʼn sersant geword het.

Volgens hom het hy genoeg ondervinding en kennis gehad dat hulle hom ten minste ‘n majoor kon maak. Ek kon dit nie verstaan nie, want hy was bekwaam en streng. Kaptein Hurter wat my ingesweer het, was nog redelik jonk en hy was al ʼn kaptein.

Ek het gou in die roetine van diens in die aanklagkantoor ingeskakel, en binne ʼn paar weke was ek al so vertroud met die werk dat ek al hoe meer verantwoordelike take begin kry, het.

Ek het verneem dat, as jy in die polisie wou vorder, daar periodieke bevorderingseksamens was waaraan jy kon deelneem om na drie jaar diens ʼn sersant te kon word en twee jaar later ʼn adjudant-offisier en na nog ‘n jaar ʼn luitenant. Die eksamens was volgens die manne baie moeilik en bitter min lede het die eksamen met die eerste probeerslag geslaag. Mens moes ook al die vakke gelyktydig slaag en die kandidate moes twee vakke op ʼn dag aflê.

Ek het vir nege maande as ʼn student of Brooklyn gewerk, en is in Januarie 1964 na die polisiekollege om my basiese opleiding te ontvang. Die nege maande was vir my baie aangenaam en ook leersaam. Toe ek by die kollege aangekom het, het ek al meer van polisiewerk geweet as baie van die instrukteurs.

Ek het toe al, heel aan die begin van my loopbaan, vir myself gesê dat ek nie vir ewig ʼn konstabel of ʼn sersant wou bly nie. Ek het vir myself ʼn doelwit gestel om so gou as moontlik ʼn sersant te word en om daarna elke moontlike geleentheid wat na my kant toe kom, aan te gryp. Ek wou eendag ʼn pet met goue borduursel dra en baie sterretjies op my skouers hê.

As ek vandag as tagtigjarige, na 22 jaar van pensioen terugkyk, het ek in die veertig jaar wat ek in die Mag was, baie dinge beleef ….. opleiding, eksamens, verplasings, bevorderings, verantwoordelikhede, “swaarkry met lekkerkry klaarkry” en ‘n beroep wat vir my net seën, guns en beloning ingehou het.

Johan Ferreira

Augustus 2025

–ooOOoo–