WESTERN-CAPE PROVINCIAL CABINET & SAPS
ONDERONSIE MET OUDPREMIER HERNUS KRIEL TYDENS SY KABINETSVERGADERING
Brig Fanie Bouwer
Ons is eendag gevra om ‘n voorlegging aan die Wes-Kaapse provinsiale kabinet oor een of ander aangeleentheid te doen.
Ons was ongeveer vyf offisiere daarby betrokke. En ons is almal saam na die kabinetsvergadering.
Toe ons by die vertrek instap, sit Premier Hernus Kriel by die koppenent daar aan die anderkant van die lang tafel. Al die kabinetslede sit aan weerskante daarvan.
Ons het net ingestap en, sonder om ons welkom te heet, haak Kriel af en sê: “Het júlle nie wérk om te dóén nie?” So asof hy wou klem lê op elke woord. ‘Ekskuus my’, sê ek vir myself so in die stilligheid – wat gat hier aan?”
Behalwe die sarkasme in Kriel se stem, staan ons almal daar half uit die veld geslaan oor sy vraag, want ons is dan immers daar om ‘n aanbieding te doen en die minste wat ons verwag, is om darem verwelkom te word. Gewone boeremaniere.
Wat ‘n konsternasie op die stasie was dit nie! Ek wonder toe nog so in die stilligheid of die minister van Polisie (Gerald Morkel) nie dalk vergeet het om Kriel vooraf daarvan in te lig nie?
Om ‘n lang storie kort te maak: Kriel se beswaar – hoor ons mettertyd – was dat dit nie nodig was dat vyf van ons na die aanbieding hoef te gekom het nie. Seker ‘n goeie punt, maar dit was voordat hy ons rede daarvoor aangehoor het.
Maar ons offisiere is toe so die donner in, dat ons sommer almal wil loop. Maar sulke drama sou natuurlik reperkussies gehad het – in die media en binne die SAPD.
Uiteindelik, na so ‘n kort, intense, fluisterende onderhandeling sessie tussen ons, dink ek was dit toe net ek en oudgeneraal-majoor Jeremy Veary wat agter gebly het om die aanbieding te doen. Dit was nogal ‘n penarie, omdat ons nie als geweet het wat die res van ons kollegas te sê gehad het nie. Ons het darem ‘n redelike idee gehad.
Ek het ook gesien dat die polisieminister, Gerald Morkel (in die Wes-Kaap was hulle ministers genoem i.p.v. LUR’e), soos elders, wat net langs Kriel gesit het, met sy hand op sy (eie) bors, vir Kriel so ‘n paar driftige woorde toevoeg. Ek kon ongelukkig nie presies hoor wat hy vir hom gesê het nie.
Ek en Veary het die aanbieding gedoen, seker maar toe met ‘n ietwat van ‘n stille woede wat mens nie kon wys nie.
Wat egter rêrig op ons indruk gemaak het, was dat Morkel die volgende dag aan elkeen van die vyf polisie-offisiere ‘n persoonlike brief per hand laat aflewer het waarin hy ons om verskoning vra oor die gebeure in die kabinetskamer die vorige dag.
Hierdie mooi gebaar van die gewoonweg diplomatiese Morkel, het darem gehelp om ons kwade gevoelens effe te temper.