PAUL ELS: SA MILITARY WRITER
ELS GEE ’N STEM AAN VETERANE SE STRYD
Elize Parker. Rekord 25/06/2025
(Met vergunning van Rekord)
Paul J. Els skryf nie boeke om helde van soldate te maak nie. Hy skryf om die waarheid te bewaar. Sy werk is ‘n monument vir diegene wat nooit een gekry het nie. Dalk, in elke bladsy, vind ’n veteraan ’n bietjie van sy stem terug.
Tydens Paul J. Els se navorsing oor die Bosoorlog het hy baie teenkanting ondervind om iets daaroor te publiseer. Vir hom was dit nie aanvaarbaar nie en met die gedagte dat hierdie geskiedenis vir die nageslag bewaar moet word, het hy daaroor begin boeke publiseer.
Wanneer ’n mens met skrywer Paul J. Els gesels, hoor jy nie net die stories van die verlede nie: jy hoor die stem van ’n hele geslag soldate wie se stemme stil geword het, of dalk nooit eers gehoor is nie.
Vir Els is die geskiedenis van Suid-Afrika se militêre verlede nie net ’n versameling datums en plekke nie, maar lewende herinneringe, menslik, rou en dikwels pynlik en daarom des te meer werd om vas te lê.
“Toe ek in 1996 klaargemaak het met die Weermag na 32 jaar diens,” vertel Els, “het ek stories en foto’s gehad oor Spesiale Magte (Recce) waarin ek vir ’n paar jaar gedien het. Ek het begin uitkyk vir boeke oor die Weermag se dienende eenhede en gevind dat daar min boeke beskikbaar was behalwe oor die Burgermag en Kommando’s. Dit was vir my onaanvaarbaar.”
Paul J. Els, skrywer
Daar was ’n behoefte, nie net by homself nie, maar by ’n groter gemeenskap van veterane, dat die ware stories van die Bosoorlog vasgelê moes word.
Nie vir glorie of sensasie nie, maar omdat, soos hy dit stel, “ons geskiedenis vir ons nageslag bewaar moet word”.
Hierdie dryfkrag het gelei tot die publikasie van sy eerste boek in 2000 en vandag is daar reeds tientalle publikasies agter sy naam.
Els se boeke is nie net ’n lys van operasies of wapenstelsels nie.
Die boeke toon ook ’n sagter blik op soldate en hul lewens. Dit is juis hierin waar hul trefkrag lê.
Ten spyte van sy agtergrond in hoogs-geheime operasies in vyf Afrika-lande, weet hy watter stories vertel kan word en watter nie.
“Omdat ek ’n uiters geheime klaring gehad het, het dit my voorberei om nie na sekere gebeure te verwys of sekere manne se dade te gebruik nie.”
In sy boek, Ons was daar Sektor 10, kry ons ’n blik op die persoonlike verhale agter die uniforms.
Een persoonlike verhaal wat hy vertel, was toe hy ’n makker verloor het in die bos.
“Sy laaste woorde aan my die vorige aand was: ‘As die patroon jou naam op het, kan jy hom nie keer nie’. Daardie woorde bly by jou.”
Vir Els is die grootste wanopvatting oor die Bosoorlog en die soldate wat daaraan deelgeneem het, dat dit as “onnodig” of selfs “sinloos” afgemaak word.
Dis ’n persepsie wat hy daagliks moes regstel in sy rol by die Pro Patria Museum by Fort Schanskop, ’n bestemming waar besoekers gereeld erken hulle het nie werklik geweet waaroor die oorlog gegaan het nie.
Dis juis daardie onkunde, veral onder jonger generasies, wat hy teen wil veg met feite, stories en getuienisse.
“Hulle het ’n wanbegrip oor wat werklik gebeur het, en ek gee vir hulle die feite.”
Wanneer mens Els vra oor die kultuurverskille tussen die verskeie eenhede, byvoorbeeld die Recces teenoor die Valskermbataljon (Bats), is dit duidelik dat hy groot respek het vir die unieke uitdagings van elke eenheid.
“Daar is dalk 700 kandidate vir Recce-keuring, maar net 16 slaag. Dis ’n ander tipe mens, ja. Maar as jy nie daardie paal gehaal het nie en jy dien in ’n ander eenheid as stoorman, sjef, of drywer, maak jy jouself tuis. Jy bou jou trots daarop.”
Wat betref die proses om veterane se stories te bekom, erken Els dat dit nie altyd maklik is nie, veral toe hy begin het.
Hy verduidelik wanneer jy die benadering verander van “vertel my jou storie” na “vertel my wat in jou eenheid gebeur het,” begin die herinneringe stadig vloei.
Selfs al is die boeke nie altyd gefokus op individuele stories nie, weerspieël hulle ’n kollektiewe geskiedenis van ’n samehorigheid wat nie verdwyn het nie.
Skrywer Paul J. Els het gevoel die verhale van die vrouesoldate tydens die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë sowel as ander konflikte was nie goed geboekstaaf nie en het hom dit ten doel gestel om ook die verhale te vertel.
Tydens Paul J. Els se navorsing oor die Bosoorlog het hy baie teenkanting ondervind om iets daaroor te publiseer. Vir hom was dit nie aanvaarbaar nie en met die gedagte dat hierdie geskiedenis vir die nageslag bewaar moet word, het hy daaroor begin boeke publiseer.
Die gemeenskappe waarin oud-soldate hulself bevind, speel ook ’n belangrike rol in hoe hulle daardie geskiedenis dra.
In plekke soos Valhalla, naby militêre fasiliteite en strukture, is daar ’n sigbare samehorigheid en ’n geleentheid om makkers raak te loop, saam te onthou en te genees.
“Generaal Jannie Geldenhuys het jare gelede die SA Weermag Vereniging gestig om veterane bymekaar te bring. Dis ’n ware ondersteuningstelsel.”
Els se insig en empatie strek ook tot die minder bekende stories soos dié van vroue in uniform.
Hierdie boeke spruit uit ’n besef dat vroulike dienspligtiges, verpleegsters en selfs vrouesoldate van teenstanderbewegings, grotendeels afwesig is in die militêre geskiedskrywing van Suid-Afrika.
“Daardie vroue het strawwe opleiding ontvang. Hulle verdien ook die krediet vir hulle diens.”
Van boerevroue in die Anglo-Boereoorlog tot vrouesoldate in Angola: Els het ’n passie om dié verhale na die voorgrond te bring.
Wat wil hy hê moet jong Suid-Afrikaners leer uit sy skryfwerk?
“Dat hulle die waarheid moet weet. Wat ons deurgemaak het. Wat ons gedoen het vir hul voortbestaan. Hulle moet dit sien en hoor en dis hoekom ons die museum daarstel. Jy leer dit nie in skole nie.”
En die pad vorentoe? Els rus nie.
Sy komende publikasie, Genade van Bo – Lugvoorsiening, sal fokus op die amper onbekende rol wat lugvoorsiening gespeel het.
Dis ’n boek wat hy vergelyk met die Bybelse manna uit die hemel.
“Min mense weet van voorsiening van antibiotika aan die Antarktika-span per lug. Dit was soos lewensredding.”
Sy ander boek, die vierde in sy dames-reeks, gee ’n blik op vrouesoldate van weerstandsbewegings: hul verhale, hul opleiding, hul lyding.
Dis die ander kant van ’n oorlog wat nog steeds nie ten volle begryp word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
Sy boeke kan bestel word vanaf epos@groep7.co.za www.grieo7.co.za of persoonlik by hom bekom.
Ondersteun hom om ons geskiedenis te bewaar.